Die afvaart van die Meduhediete
33 En sien, toe die vyftig dae wat nog oorgebly het verstreke was, roep Meduhed, deur My geïnspireer, hulle almal byeen en rig `n vurige rede tot hulle, wat as volg lui: "Manne, vriende en broeders met al julle vroue, kinders, knegte en diensmeisies, wat nou eweneens volgens die wil van bo ons liewe broeders en susters is, kom almal hierheen na my toe en stel julle om die klein heuwel op volgens die bekende orde, sodat julle die aan my geopenbaarde nuwe wil van die allerhoogste God goed kan verneem!
[2] Want die Heer wil dat julle al die gereedskap versamel en daarvan moet julle in elke boot van elke soort `n gelyke aantal inlaai op die strooi wat vir julle tot rusplek gedien het. En as julle dit gedoen het en die goed van loof voorsiene takke met die nog oorblywende spykers op die hoeke bevestig het, bring dan eers die versamelde vrugte daarheen, genoeg vir die duur van `n minimum van dertig dae en lê dit versigtig onder die takke op die vyeblare! Laat die kamele en die esels agter as teken vir die Lamechiete, dat ons hier was en ook as teken dat ons al die dierlikes agterlaat en slegs die menslike en dus ook die Goddelike gered het. Lê om die gereedskap klein takkies tot één voet hoogte en bedek dit met julle dekbekleding en strooi mantels, en werp die dierevelle oor die gereedskap. En as dit alles presies volgens die deur my verkondigde goddelike voorskrif gedoen is, kom dan nog eenmaal by hierdie heuwel na my toe, sodat ek julle almal volgens die wil van bo verder gedragsreëls kan gee. Dan sal ons God gemeenskaplik dank en Hom plegtig prys vir Sy onmeetlike en onbegrensde goedheid en barmhartigheid.
[3] Gaan nou en doen vinnig wat aan julle deur my van bo aangeraai is, Amen."
[4] En sien, toe buig hulle hulleself almal na Meduhed, dank God in hulle harte vir hierdie aanwysing en gaan baie bereidwillig en vinnig aan met die opgelegde werk; en volgens julle tydsrekening was alles na sewe dae heeltemal in orde.
[5] En toe hulle nou alles op die vereiste manier voltooi het, kom hulle op die vroom versoek van Meduhed weer tesame by die heuwel en dank My aldaar voor sy aangesig vir die so vinnig en gelukkig volbringde arbeid.
[6] En toe Meduhed nou hulle volbringde arbeid gesien het en sien dat hulle net soos voorheen weer almal vrolik en met `n vroom hart om die heuwel versamel was, begin hy opnuut `n rede vir hulle te hou en sê:
[7] "Manne, vriende en broeders, vroue en susters, luister! Dit is die wil van die Heer, ons groot, almagtige God, dat julle in groepe van honderd-en-twintig elk in die vlotte sal klim en wel met veertig van die manlike en tagtig van die vroulike geslag en die kinders moet sit of lê op die velle, wat oor die werktuie gesprei is. Maar die vroue moet op die takke en dekbekleding en mantels gaan sit; julle manne moet om die vroue heen gaan staan, met julle gesigte in die rigting van die vlotte en kyk waarheen die wind waai, en julle sal slegs eenmaal per dag eet en wel teen die middel van die dag. Julle moet julle behoeftes, net soos die vroue en die kinders op die agterkant van die vlot in die water doen; maar daarby moet die een die ander vashou, sodat niemand in die water sal val nie. Die manne sal verder gedurende die hele tyd nie slaap nóg sit en nóg minder gaan lê nie; want die Heer sal julle ledemate versterk en julle oë oophou gedurende die tyd wat ons volgens Sy heilige Wil op die golwe van die groot water sal deurbring. Die vroue en die kinders sal nie self na die vrugte gryp nie, maar moet deemoedig hulle ete van die manne en vaders vra, sodat ons één volk word volgens die wil en die ewige, almagtige ordening van God en ons Sy welgevalle en uiteindelik Sy oneindige liefde en barmhartigheid waardig mag wees, want daar sal ook nie één haar op ons hoof aangeraak word sonder Sy heilige Wil nie!
[8] En as ons onsself dan almal in die Naam van die Heer in die vlotte sal bevind, moet die oudste in elke vlot gereedstaan om op `n uit die hemel gegewe teken, wat `n kragtige bliksemstraal sal wees, die tou deur middel van `n skerp mes dadelik deursny; daarop sal daar `n wind kom en die vlotte sal na die oop see dryf en dit ten aanskoue van Tatahar en sy moordlustige bende, wat die oomblik wanneer ons al so `n duisend manslengtes van die oewer verwyder sal wees, sal aankom.
[9] Dan sal julle sien dat hulle klippe in die water slinger; geeneen daarvan sal ons ooit meer bereik nie. Want die Regterhand van God sal ons vinnig uit die aangesig van die hiënas voer en sal ons na `n groot, ver land lei, wat dertig dae en dertig nagte van die vasteland verwyder is en wat homself byna in die middel van die groot water bevind en "Ihypon" heet (dit is: "`n veilige tuin"). En die land sal blywend vir ons wees, solank, volgens die wil van bo, die wêreld sal bly bestaan. Ons sal dit van ver af al daaraan herken, dat ons `n hoë, deur God se liefde in vlamme gehulde, brandende berg, sal aanskou.* Daar sal slegs één enkele toegang wees en selfs dit sal ver land inwaarts tussen nog twee van die brandende, hoë berge deurloop; maar aan die kuste sal dit voortdurend omspoel word deur die kragtigste stormgetye. En daarbo sal dit nog omgewe wees deur baie hoë berge, waarin geen tiers, nóg hiënas of leeus, bere nóg wolwe of slange woon nie, maar die berge sal meer lyk soos `n tot in die hemel omhoog reikende muur, wat nie maklik deur iemand bestyg sal kan word nie. *(Die vulkaan Fujinojama, 3780 m. op die eiland Hondo (Japan))
[10] Binne-in die land sal egter groot, uitgestrekte vlaktes wees, vol van die heerlikste en soetste vrugte en ook mooi, nuttige, mak diere, wat aan ons hulle melk sal gee as `n gesonde voedsel; en die grond sal smaak soos heuning en melk en sal sonder sand en stene wees en eetbaar soos `n goeie brood. En luister, so spreek die Heer: Op die hele aarde is daar nêrens meer `n land wat hiermee vergelyk kan word nie, so voortreflik is dit; dit sal nooit te warm, nóg te koud wees nie, want daar heers `n ewige lente!
[11] So sal die mense, wat daar volgens die wil van God lewe, nooit oud word nie en hulle sterwe sal `n sagte ontslaping wees; dan sal daar onsigbare wesens kom, wat so `n mens heimlik weer tot lewe wek en hom na God omhoog dra. En daar sal ook nie een stoffie agterbly, wat ooit aan die voete van so `n wederopgewekte sal vaskleef nie!
[12] Maar wie ooit in sy hart nie sal luister na die wil van God nie, die sal ook sterwe en sy liggaam sal nimmer herrys nie. En daar sal aardwurms in sy vlees kom en dit heeltemal met hare, huid en beendere verteer; en sy siel en sy gees word dan weer duisende jare lank tot fondament van die berge. Sy moet as vaste liggaam diensbaar wees in die duister bewussyn van haar ellende en haar volkome nietigheid, tot sy eindelik weer volgens die genadige Wil van bo in een of ander dier opgeneem sal word. Van daaruit moet sy haarself dan weer tree vir tree ellendig, stom en sonder spraak deur die hele dierewêreld heen werk om ten slotte weer eens die waardigheid van menswees te bereik. Hierop moet julle goed let; want julle sal dan baie duisende kere moet sterwe, eer julle wederom tot die lewe uit die liefde en die barmhartigheid van God sal kom! Oordink, wat die Heer julle hier laat sê!
[13] Julle sal julle vroue in die toekoms nooit voor julle veertigste jaar bevrug nie en dan slegs onder God se seën, wanneer dit nodig is om `n mens te verwek. En niemand sal meer as hoogstens twee tot drie vroue hê nie, want alles wat daar meer sou wees, sal julle deur God as `n groot sonde toegereken word en julle lewe op aarde van korte duur en van `n moeisame aard maak. Dit sal julle liefde tot God verswak en julle ten slotte van alle wysheid berowe, wat slegs `n toegif van God is aan diegene wat homself presies aan Sy gebooie hou.
[14] En ten slotte: En hier sal julle deurgaans ook niks as julle eiendom beskou nie, maar as die eiendom van God; en diegene wat sou beweer en sê: "Die grashalm is van my!", sal deur God oombliklik met blindheid bestraf word, sodat hy in die toekoms nie één vrug meer van die grond sal kan opraap nie, maar gedurende sy lewe sal moet leer om te bestaan van die liefde van God en van sy broeders.
[15] Die sondaars sal net soos `n dier niks anders eet as die gras van die aarde nie en die bitter loof van die skraal struike; deur die sonde het hulle hulleself hiertoe verlaag en solank hulle hulle sonde nie sal laat boet nie, moet hulle dit nie waag om iets anders te eet nie, indien hulle in die lewe wil bly. Dit geld in die besonder vir die ontugtiges en in die eerste plek vir die jong vroue wat hulleself uit wellus herhaaldelik sou wil laat bevrug; want so `n liggaam sal deur die Heer met die pes besoek word en hulle moet uitgestoot word tot aan die uiterste grense van die groot land, waar niks anders as gras en blare groei nie. Ten slotte sê die Heer, ons groot, almagtige God, dat julle mekaar moet liefhê en niemand moet ooit oor die ander oordeel nie, maar die swakkere moet na die sterkere gaan, sodat hy hom kan steun en hom in die lewe kan bystaan; die wysste moet egter almal dien en `n raadgewer vir sy broeders wees.
[16] Noudat julle die wil van God helder en duidelik verneem het, dank dan God vanuit julle hart met my en sê: Heer, almagtige, groot God, ons dank U met die vuur van ons swak harte, maak dit sterk, U groot, goeie, sterk, ewige God, sodat ons eens U oneindige gewydheid waardiger kan dank as in ons huidige oneindige swak toestand, en U kan loof en prys en ons daardeur eens, soos U ons so barmhartig soos dit is, dit ook werd sal wees om ook maar in die geringste soos U kinders kan lyk. Maar nou, o groot God, laat U wil geskied en laat ons die vlotte bestyg en lei ons almal slegs volgens U welgevalle! Amen."
[17] En sien, toe hulle die kort gebed geuiter het, verlaat hulle die plek met Meduhed en beklim die vlotte met `n blymoedige hart.
[18] En sien, alles wat Meduhed gesê het, het presies so gebeur. Met `n groot voorhoede jaag die deur die slang aangevoerde woedende hiëna- en tierbendes van Lameg die arme Meduhediete agterna; maar ewe vinnig dryf Ek die vlotte met My volkie van die oewer af weg, rustig en tog vinnig na die kuste van die groot land wat deur die groot waters omspoel word.
[19] Maar die Lamegiete laat Ek agtervolg deur `n steeds toenemende vloed van die see, wat tot aan die berge reik, waar hulle by duisende deur hiënas, tiers, leeus, bere, wolwe en slange aan stukke geskeur en verorber word; want die groep agtervolgers het bestaan uit seweduisend manlike en seweduisend vroulike koppe. En daarvan kom nie meer as sewe jong manne en sewe jong vroue na Hanoch terug nie en vertel wat daar gebeur het, en hulle bring die diere wat die Meduhediete agtergelaat het, ongeskonde terug. Hulle het wel vyf-en-dertig duisend kamele en eweveel esels getel en hulle dra dit aan Lameg oor en vertel hom alles wat hulle gesien het. Naamlik hoe `n fel bliksemstraal uit die wolkelose hemel tussen hulle en die vlugtelinge gekom het en hulle met groot snelheid oor die groot, onmeetlike water gedra het, wat homself daar aan die einde van die wêreld bevind. Maar toe het die water begin styg en het hulle daar tot hoog in die gebergte gedrywe. En daar het `n onvoorsiene skare bekende verskeurende diere hulle op hulle gestort, wat almal verskeur en opgevreet het, behalwe vir hulle. Hulle was self net gered deurdat hulle tussen die groot menigte kamele en esels ingevlug het. En Lameg sou eens goed daaroor moes nadink wat daar gebeur het; dit kom vir hulle voor asof daar anderkant die sterre `n groot Koning woon en die mense moet dit liewer nooit waag om met Hom die stryd aan te knoop nie. Dit sou vir hulle beter wees om Hom te aanbid en Hom vanweë Sy onbegryplike mag te vereer, omdat selfs die see, die winde, die bliksems en alle verskeurende diere Hom gehoorsaam, - dit het hulle met hulle eie oë gesien en hulle het `n magtige stem gehoor wat met donderende klank die diere beveel het en net soos `n groot storm vanuit die hoogtes van die sterre met die magtige elemente gespreek het.
[20] En sien, toe Lameg dit verneem het, rys daar woede op in sy innerlike en hy besluit om homself op My te wreek. Dit was `n gevolg daarvan dat die slang sy hart heeltemal in beslag geneem het. Daarom sê hy vir die jong manne wat teruggekom het: "Luister, julle onskuldiges! Ek wil genoegdoening hê van die Sterrekoning en `n duisendvoudige vergoeding vir die skade; gaan op die weg, omdat julle weet waar Hy te spreek is en gelas Hom om uit my naam te gee wat ek verlang! En as Hy weier, sê Hom dan dat Hy deur my vervloek sal word, en al sou Hy nou nog so groot en magtig wees, dan sal Hy deur my, soos my volk deur Sy diere, onder my hoongelag vir Sy volk op aarde aan stukke gekap en verskeur word. Want met al Sy winderige en verwaterde mag is Hy ten opsigte van my, die koning van die leeus, slegs `n swak lammetjie. Stig oral in die woude brande en steek alle berge aan, sodat al Sy diere gebrand word en Hy homself daarna aan die welvoorbereide dis kan sit en die vlees van die karkasse van die verbrande diere kan opeet; en as Hy hulle nie wil laat verbrand nie, dan hoef Hy slegs die vloedstroom daarna te lei, sodat Sy mag daarin verdrink!
[21] O, ek ken hierdie uit die lug bestaande Koning van verby alle sterre baie goed! Alles wat Hy doen, doen Hy uit angs vir my; want Hy ken my grootheid, mag en krag, wat Hom genoeg sorge verskaf en Hom uiteindelik heeltemal sal vernietig as Hy nie aan my geregtelike eis en aan al my wense tegemoet wil kom nie.
[22] Gaan nou en voer uit wat ek julle beveel het; neem manne saam, wat goed voorsien is van fakkels om in geval van `n moontlike weiering die berge aan die brand te steek!"
[23] Toe verwyder die jong manne hulle self en beraadslaag onder mekaar wat daar te doen staan. "Want", sê hulle vir mekaar, "as hy dan so magtig is, waarom gaan hy dan nie self nie? Want om dwaas te wees is makliker as om te veg en om in blinde woede te dreig is makliker as om dit uit te voer. Want wat hy gesê het, sou elkeen van ons ook kon gesê het, maar met welke nut? Hoe ver sy en ons hande reik, weet en sien elke mens; maar wie het ooit slegs één vinger van die Koning wat bo die sterre woon gesien, sodat hy dan daaraan Sy hele mag en krag sou kan afmeet? Lameg is slegs `n muggie ten opsigte van Tatahar en sy aanhang; en waar is hy en sy hele skare van aanhangers? Tans verteenwoordig ons sewe slegs sy hele sentrale krag en ons het die onbegryplike mag van die groot, onsigbare Koning wat verby die sterre woon gesien en het Sy rede gehoor, waarvan die krag so groot is, dat die hele aardbol gebewe het soos by iemand waar die ysige vors tot in murg en been deurgedring het.
[24] Daarom doen óns wat ons wil en gaan heen, en in plaas van `n dreigement sal ons Hom loof en Sy groot mag en krag prys; miskien neem Hy ons op, soos Hy Meduhed opgeneem het en vervolgens kan Lameg sy krag tuis meet en in die klippe byt van woede!
[25] Ons wil egter liewer so `n magtige, groot Koning dien, wat ons ook, net soos die skare van Meduhed, oor die golwe in veiligheid kan bring."
[26] En sien, hulle voer `n wys geneemde besluit uit, wat My goed geval; neem hulle vroue en hulle met vrugte swaar belaaide kamele en esels en vlug weg en toe hulle die water sien, rus hulle uit aan die oewer van die groot wêreldsee.
[27] Maar die een wat steeds die woord gevoer het, spreek nou weer: "Waar moet ons heen? Ons weet van niks; laat ons daarom tot die groot Koning bid of Hy ons in Sy diens sal neem en ons die plek van ons ware bestemming wil wys, omdat ons onsself waarskynlik slegs deur Sy geheime ingewing aan die kloue van Lameg ontwring het en ons vry hierheen kon begewe het.
[28] Daarom roep ek met my gehele verstand en my gehele gees, daar ons nog geen naam het nie, U, o groot, onsigbare Koning van alle mag en krag, vol eerbied aan: Neem in die eerste plek ons innige dank aan vir die redding uit die kake van die hiënas en uit die kloue van Lameg. En eweseer bid ek U, dat U ons nou ook wil lei volgens U wil na `n veilige plek, waar ons U dan ongehinderd wil dien; want ons weet dat U `n baie magtige Heer is en ken die volkome nietigheid van Lameg, wie se steunpilare ons moet wees, maar nie wil nie, omdat ons die groot mag van U heerlikheid gesien en deur en deur ondervind het, terwyl ons ook die, niksseggende, leë gepraat van die nou totaal magtelose Lameg gehoor het.
[29] Verhoor daarom ons gemeenskaplike bede en maak ons U wil bekend - of vernietig ons; want dit is beter om deur U vernietig te word, as om Lameg te dien!"
[30] En sien, toe hierdie sewe met hulle vroue nou hulle kort, maar baie opregte gebed beëindig het, steek daar `n klein stormpie op, wat van die berge kom en in die storm kom `n baie groot hiëna in dolle vaart na die klein geselskap aangespring, vol grimmigheid en so te sê in woede ontbrand, en bly voor hulle staan en bekyk hulle grondig een vir een, van kop tot toon, asof sy vir haarself die lekkerste happie uit die beangste en in die noute gedrewe geselskap wil uitsoek. En sien, juis toe almal `n toevlug in die water wil gaan soek, vermaan die spreker homself en sê met `n baie luide stem: "Luister na my! Ons bly staan waar ons staan, allerweë omgewe deur die onoorwinlike mag van die groot Koning en glo maar, ook wanneer Hy ons vernietig, dan nog sal Hy ons ook in die vernietiging bewaar; en wees nie so bang vir hierdie klein hiëna nie, omdat ons so gelukkig aan die moorddadige kloue van `n baie groter een ontkom het en wel des te meer, omdat ons in die vlakte is waar geen hiëna meer die mag het om `n mens aan te val en te verskeur nie. Want die groot, magtige Koning van verby die sterre het ons in die berge uit die tande van duisende verskeurende diere gered toe ons nog teen Hom was, nou is ons egter vir Hom, - waarom sou Hy ons dan nou wil vernietig?
[31] Glo my, Hy sal ons almal wel behoue laat bly! Kyk almal na my; ek sal in volle vertroue na die hiëna toe gaan en my hoof in haar bek steek! En as sy my iets aandoen, vlug dan na die water of waarheen julle maar wil; maar as julle sien dat ek my hoof weer heelhuids uit haar bek haal, val dan neer op die grond en dank die groot Koning, - want dan het Hy ons al baie naby genader!"
[32] En sien, hy doen ook dadelik wat hy sê, - gaan vol vertroue na die grimmige en skuimbekkende hiëna, wat haar kake wyd oop sper, sodat daar plek genoeg in was vir sy hele hoof.
[33] En sien, soos hy sy hoof daar ingesteek het, net so behou hy dit - sonder dat daar ook maar een haar krom getrek was, en haal sy hoof weer daaruit! Die hele geselskap verbaas hulleself baie en val meteens ter aarde neer en dank My, weliswaar nog op baie onbeholpe wyse, uit die grond van hulle hart.
[34] Toe hulle byna heeltemal uitgeput was deur hulle dank- en lofprysing, begin tot hulle groot verbasing die hiëna goed verstaanbare woorde met hulle te spreek en sê:
[35] "Julle verre nakomelinge van Kain en Hanoch, staan op en kyk my aan! Kyk na my grimmige en woedende gedaante! Ek is slegs `n verskeurende dier, bestem om die berge trou te bewaak en ook die daarop wonende groot kinders van God, wat julle in julle blindheid `n groot Koning noem; maar sê my eens of ek as dier ooit die wil van God oortree het! My lewe is stof en aarde; my tyd is slegs weinige jare, dae en slae van die hart; ek het niks te verwag nie; wat my dors na bloed my oplewer, is alles wat ek in my bestaan van die Skepper te verwag het; en as een van julle ooit gesien het, dat ek die wil van God se voorgeskrewe grense oorskry het, laat die een `n klip neem en slaan my dood!
[36] Maar julle aarsel, - nie omdat julle nie die moed daartoe sou hê nie, maar omdat my gehoorsaamheid ten opsigte van die wil van God julle verwondering wek! En sien, hoe `n verskeurende dier julle mense, wat `n ewige lewe te wagte staan, julle na die wil van God oor julle totale godvergetenheid en eweneens oor julle bestemming moet leer! Sien, geen verskeurende dier is so wild, dat hy deur honger gedrewe synsgelyke aangeval sou word om hom aan stukke te skeur en daarmee sy honger te stil nie! Slegs julle mense, wat ewig sal lewe, trek in hordes uit om julle broeders, nie uit nood nie, maar uit pure helse heerssug, te dood, met hulle bloed die aarde te bevlek en hulle vlees daarin te begrawe!
[37] O skaam julle, julle mense, wat die heersers van die wêreld moet wees! Waar is julle heerlikheid? Julle is veertien en ek slegs een en julle het voor my aangesig in doodsangste uitgestaan, - voor `n ongelukkige dier, wat volgens die wil van die groot God oorspronklik slegs bestem was om julle van diens te wees!
[38] Gaan saam in die woud en oortuig julle of maar een dier die ander domineer; en word hy twissiek en afgunstig, dan word hy meteens uit die gemeenskap gestoot omdat hy homself nie gedra ooreenkomstig die in ons innerlik werkende wil van God nie. En julle sal nooit sien dat een dier die ander dwing om vir hom op rooftogte te gaan om hom soos n klinkklare leegloper van voedsel te voorsien nie. Slegs as hy `n swak geworde dier is; dan sleep `n ander dier die een of andere buit na die gat en lê dit voor sy bek neer. En geen dier sal sy skerp en sterk tande in die nek en ingewande slaan voor die dier koud geword het en bedorwe en half vergaan nie; die goddelike wil in ons innerlike, leer ons dit en is daarvan verseker: sonder dat God dit wil, hef ook nie één dier sy kop omhoog nie!
[39] Ons ken onder mekaar geen ander eiendomsgrens as die natuurlike van ons liggaam nie; julle mense, wat God heeltemal vergeet het, verdeel die aarde en dan sê `n koning, `n vors of een van sy gunstelinge: "Dit gee ek jou vir `n klein skatting en dat aan die gunsteling en sy beter knegte vanweë hulle bereidwillige en flink vuiste! Al die orige volke kan julle as lasdier gebruik en hoef julle slegs soveel te gee, dat hulle ternouernood `n ellendige bietjie lewe behou om vir die leeglopers die baie hinderlike werk te kan verrig; en sou hulle weier, dan staan hulle ten eerste growwe mishandeling en ten tweede die dood te wagte!" Sou so `n slaaf homself dan wil inbeeld, dat hy ook as broeder van die koning of van `n vors of van andersins deur die koning benoemde groot heerser, dieselfde regte sou hê of sou moet hê, - sou hy dan nie onmiddellik vermoor word nie?! O sê my, waar op die hele wêreld bestaan daar nog iets meer gruweliker as julle mense?! Is `n slang, ek of `n leeu, `n tier, `n verskeurende wolf en `n grimmige beer, nie `n suiwer heilige engel vergeleke met julle mense nie? O, as ons liefde gegee was soos aan julle, hoe sou ons God nie bemin nie! Maar selfs sonder liefde bemin ons Hom deur ons nougesette gehoorsaamheid oneindig baie meer as julle, wat nie net Sy Liefde waaruit Hy julle geskape het, vergeet het nie, maar selfs vir Hom wat julle geskape het!
[40] Vra dit aan die klippe, vra dit aan die gras, vra dit aan die lug, vra dit aan die water, ja vra dit aan alles wat julle teëkom, maar nie aan die mense nie, - en alles sal aan julle die groot God verkondig en oor die oneindige wondere van Sy liefde vertel; maar julle vry mense, wat vir ewig in geluksaligheid moes lewe, kon julle Skepper, julle oneindige Weldoener heeltemal vergeet! - Geen wonder dat julle geen naam het nie; met welke naam sou julle benoem kan word? Duiwels ken God en vlug vir Hom; satans ken God ook, en haat Hom, omdat Hy God is en Heer oor hulle bestaan. Wie is julle eintlik, wat deur Sy oneindige liefde van duiwels en satans tot vry mense geword het en Hom geheel en al vergeet het en julleself in julle muggiekrag as gode aansien, terwyl julle mekaar met klippe en knuppels slaan en hol kliphope oprig, wat julle dan stede noem? Sien, soos julle is, is julle niks; `n grashalm is meer en een klou van `n hiëna is `n heiligdom vergeleke met baie van die talryke gebroedsel van dergelike mense wat julle in Hanoch agtergelaat het en wat is soos wat julle tot nou toe self was!
[41] Kortom, so wil die groot God dit hê: Voordat julle `n ander bestemming kry, moet julle sewentig dae lank by ons hiënas in onderrig gaan om by ons in die eerste plek menslikheid en naasteliefde te leer en om daardeur ook weer God te leer ken. En as julle dan weer julle gelykheid aan ons verskeurende, wilde diere erken het en deur ons stille en blinde gehoorsaamheid ook weer vir God leer ken het; eers dan sal die Heer van alle skepsele julle `n vreedsame woonplek deur ons laat aanwys.
[42] Volg my nou gewillig volgens die wil van God en sonder vrees - maar slegs in die vrees van God! Aan die bereidwillige sal geen kwaad geskied nie; die nie-bereidwillige en ongehoorsame, is dit ook nie werd om deur die tande van die hiënas verskeur te word nie, maar hy wag hier die lot van Lameg in, die Satan, die Satansvors!"
[43] En sien, toe volg al veertien persone `n grimmige hiëna na `n duister gat in die berge en leer daar, met My toelating, van die natuur van die diere, dat hulle gelyke regte het soos die mense, wat betref hulle naasteliefde en gehoorsaamheid en hulle leer sodoende ook weer om My te erken en heeltemal op My te vertrou. Hierdeur word vir hulle ook die groot onderskeid tussen die ware mensdom en die diere sigbaar en hulle leer terselfdertyd ook erken, hoe diep hulle vroeër onder die diere gesink het, - en dat almal deur My besondere barmhartigheid, wat hulle My wil in die wilde diere laat sien en dit in haar gehele volheid laat ondervind.
[44] (N.B. Meer as toe sou `n dergelike skool nou vir julle nodig wees! Want toentertyd was die mense as kinders van die wêreld sleg, vanweë die duisternis; maar nou is hulle boosaardig in die lig en die vors van die duisternis erken dat hy teenoor die sluheid van die kinders van die wêreld `n knoeier in boosaardigheid geword het en dit gaan met hulle al soos baie swak ouers, wat deur hulle kinders in allerlei insigte oortref word.)