Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die landing van die Meduhediete in Japan

34 Nou laat ons die klein geselskap agter in die skool van die skepsele en laat hulle wilde bessies, gras en wortels eet tot die bestemde tyd; maar ons sal ons na "Ihypon" begewe (teenswoordig "Japon" of ook wel "Japan") wat daar wag op die naderende Meduhediete en ons sal ons ook nog `n kort tydjie met hulle ophou.

[2] Deur die gunstige wind wat Ek veroorsaak en met klein omweë om `n kalm see te kan bevaar, het die Meduhediete na dertig dae en nagte dus gelukkig en welbehoudend onder luide gejubel, vrolikheid en lofprysinge van My Naam op die genoemde groot eiland geland en wel in die breë monding van een uit die binneland komende, kalm stromende rivier. Op die rug van hierdie rustige en taamlike breë rivier word hulle in hulle vlotte deur `n taamlike sterk, gedienstige wind tot in die binnenste van die land gedrywe.

[3] Toe hulle nou heeltemal tot in die middel gekom het, val Meduhed op sy knieë neer, heeltemal ontroer deur die wonderlike skoonheid van die land en dank My een uur lank uit die verstilde dieptes van sy hart en alle oë en ore was op hom gerig.

[4] En toe hy die gebed beëindig het, wat vir My welgevallig was en daarin ook My verdere wil aanskou het om die geredde volk voorspoed te bring, staan hy weer op en wag tot alle vlotte met mekaar een aaneengeslote geheel vorm.

[5] Toe dit alles langs die lae oewer volgens My wil gebeur het, gaan hy op My stille bevel na alle vlotte en vermaan die skare in volle liefde, om nie vroeër die land te betree nie, maar eers nadat almal drie uur lank die Heer in hulle harte bedank het vir hierdie oneindige barmhartigheid. En eers as die Heer in en voor hulle oë die geskenkte mooi land met `n sigbare teken sal seën, sal hy as eerste aan land gaan. Dan moet hulle eers hulle kinders aan land plaas en ten slotte self met die vroue die land betree; en daar moet hulle dan weer voor God op hulle knieë val en Sy gewydheid aanbid en Sy onbegrensde goedheid en oneindige liefde loof.

[6] En sien, toe hulle dit nou met groot vreugde in hulle hart gedoen het, rig hulle, op die roep van Meduhed, hulle oë omhoog, en sien dat `n ligte wolk die hele land omhul het. Ook sien hulle `n oorvloed van groot druppels een uur lank uit die wolk neerval. Toe sien hulle hoe hierdie wolk van seën homself weer verdeel en daaronder sien hulle `n klein reënboog brandend oplig, en hulle voel ook `n baie sagte wind uit die rigting van die môre waai, wat hulle by monde van Meduhed luid verkondig, dat Ek nou die land vir hulle geseën het, - waarop hulle in die reeds vermelde orde aan land gaan en dit wederom met groot vreugde in hulle harte doen, soos die wyse en vrome Meduhed hulle liefdevol aangeraai het. En toe dit nou gebeur het, roep Meduhed hulle almal na homself en hou `n kragtige rede, wat aldus so lui:

[7] "Manne, broeders, susters en ook julle kinders, wat my woord reeds begryp! Onthou almal goed, wat ek julle nou deur die groot barmhartigheid van God sal verkondig! Die grondslag van al ons denke en handel moet wees, dat ons nooit die heilige Wil van God uit die oog van ons hart verloor en wat ons altyd baie nougeset met dank en lofprysing vervul. Want alles wat van Hom afkomstig is, is groot, heilig en daarom ook van die grootste belang; al kom dit vir ons in ons klein wêreldse oë ook nog so klein voor, tog is dit van oneindige waarde omdat dit van God kom, wat nou ons allerenigste Heer is. En indien ons onsself heeltemal volgens Sy wil skik sou ons ook nog, soos ons almal belowe is, gelyk kan word aan Sy groot kinders wat julle leer ken het aan die voet van die rotswand bokant Hanoch.

[8] Sien, die Heer, ons groot God, wat ons allergewyde Vader wil wees, verlang dat ons ten eerste mekaar sal liefhê en wel sodanig sy naaste as broeder en suster sewe maal meer as homself. En iedereen moet streng wees oor homself en vriendelik en sag teenoor sy broeders en susters. Laat iemand nooit dink dat hy groter en meer werd is as die swakste onder julle broeders nie; want vir God geld daar niks anders as `n rein, deemoedige hart nie. Laat diegene aan wie die Heer ooit Sy barmhartigheid sal skenk, soos aan my, homself as die minste beskou en bereid wees, soos ek, om almal te dien en volgens die wil van God almal voor te gaan by die gee van `n goeie voorbeeld. Slegs kinders is deur hulle oorspronklike swakheid en die noodsaaklike opvoeding onvoorwaardelike gehoorsaamheid verskuldig aan hulle ouers; en as hulle in hulleself tot die erkenning van die wil van God sal kom, laat dan in plaas van die gehoorsaamheid, wat hulle dan slegs aan God verskuldig is, `n groot mate van kinderlike liefde en agting vir die ouers intree. Julle moet egter altyd volgens die wil van God julle oor te luister lê by die wysste onder julle en julle oog op hom rig om die raadsbesluite van God vir die algemene welsyn, asook vir elke individu, te ervaar; maar behoed julle daarvoor om ooit so `n wyse op die een of ander manier meer agting, liefde en verering te gee as `n ander een wat nog nie wys is nie, maar wat tog `n baie bereidwillige, liewe broeder is.

[9] En laat julle agting vir die wyse deur God se barmhartigheid uit niks anders bestaan as liefde tot God, liefde tot die naaste, die bereidwillige gehoorsaamheid aan die voorskrifte van God deur die deemoedige hart van `n wyse broeder.

[10] Laat daar nooit `n onwaarheid oor julle lippe kom nie; want die leuen is die grondslag van al die bose. Hou julle ver van al die leedvermaak oor die boetedoening van `n sondaar, maar laat julle liefde `n gevalle broeder weer op die been help.

[11] Die land behoort gedeeltelik aan almal, sonder onderskeid; laat die behoeftige neem om sy honger te stil, wat die bodem so ryklik sal voortbring en laat die sterke met plesier vir die swakkes oes.

[12] Maak die diere tot vriende, sodat hulle julle hulle warm melk nie sal weerhou nie.

[13] Laat elkeen homself skik na sy broeder en bereid wees om hom te dien, maar laat niemand ooit die ander beveel nie, maar julle moet mekaar in liefde tegemoet tree, sodat julle eendag kinders van die liefde van één Vader mag word.

[14] Hoewel die Heer altyd meer gee as wat vir die mens nodig is om in die lewe te bly, moet julle egter desondanks tog nie onmatig wees in allerlei genietinge nie, maar volgens die wil van God, vanweë julle gesondheid, matigheid betrag by alles wat julle doen en nuttig vind. Want so spreek die Heer: "Gesëend is `n korrekte maat en `n geregverdige doel; maar vervloek is hulle wat onmatigheid en verdoemend die doellose weë bewandel, want daarop sal slegs die hoerery en die ontug gaan en hulle sal daar die nag van die verderf en die ewige dood vind!" Versamel daarom die oorvloed van die seën en rig oral voorraadhuise op, maar nie van klip volgens die voorbeeld van Hanoch nie, maar van hout. Slaan daartoe vier glad afgewerkte stamme so in die grond, dat hulle keurig in `n vierkant twee manshoogte bo die grond uitsteek. Lê dan hierop oordwars (dwars) ook vier takke volgens die bouwyse wat reeds aan julle bekend is. Maak dan daar bo-oor `n raamwerk vir die dak en dek dit af met riet en gras. Maak dan ook tussen die vier uit die grond stekende houtpilare uit riet gevlegde wande, maar laat in elke wand `n opening, vier maal so groot as `n hoof van `n man en maak aan die môrekant ook `n deur, maar nie afgesluit nie, sodat elkeen volgens behoefte vrye toegang sal hê. Slaan nou tot op die helfte binne-in so `n voorraadhuis enkele kleiner pale in die grond, wat ongeveer `n halwe manslengte bo die grond uitsteek. Heg daarop dunner balkies; lê daar dan eweneens rietmatte op om daarop dan die oormaat van die seën vir julle broeders en ook vir julleself te lê. Versamel in die ander helfte droog geworde, lang gras en lê dit tot op kniehoogte op die grond as rusplek, sodat julle snags daarop kan slaap en julle vermoeide ledemate uitrus en julle ingewande homself kan verkwik.

[15] Lê julle werktuie en ander gereedskap onder die matte met voorrade. Niemand sal homself egter ooit `n dergelike huis toe-eien nie, maar laat één vir almal werk en almal vir één en dus almal vir almal, sodat daar niemand onder julle en al julle nakomelinge sal hongerly nie.

[16] Maak naby die berge wat nie rook of selfs brand, en wat julle van hier uit in die verte sien, mansdiep kuile; daar sal julle die reeds bekende broodgrond vind. Hiervan sal julle vir julle gesondheid ook ooreenkomstig die wil van God slegs met mate eet en nie daagliks nie, maar nou en dan as julle ontlasting te sag geword het.

[17] Verder sal julle in die berge, wat julle nou ook mag beklim as hulle nie brand nie, mooi, baie harde, gladde klippe vind; versamel hulle en bring dit tot voor julle wonings. Ten eerste moet julle die korrels van `n soort gras daarop maal, wat julle in groot hoeveelhede aan die oewers van die rivier sal aantref en van die meel moet julle met ietwat water deeg maak in `n vat; julle moet daartoe dan ook aan julle reeds `n bekende bakplek maak en daarop van die deeg `n gesonde brood bak. En ten tweede moet julle ook ietwat sagter klipplate neem, waarvan daar eweneens `n groot hoeveelheid aan die voet van die nie-brandende berge lê en hierop moet julle dit alles op die aan julle bekende wyse opteken, sodat selfs ons verre nageslagte die nou aan julle geopenbaarde wil van God sal verneem.

[18] Want luister! So spreek die Heer: "Solank julle en julle nakomelinge in hierdie gegewe ordening sal bly, so lank sal `n vreemde volk ook nooit die land kan benader en julle vrede versteur nie, en Ekself sal aan julle duisende mooi en nuttige dinge bekend maak en leer maak. Maar indien julle ooit uit My ordening sou tree en in julle godvergetenheid sou bly volhard en nie weer terstond tot My ordening sou terugkeer nie, dan sal Ek `n ander volk verwek en hulle hierheen lei en hulle sal julle onderwerp en tot slawe maak. Dan sal daar `n keiser kom, wat julle heiligdom sal vernietig en julle sal slaan en baie sal laat doodmaak en hy sal julle as esels voor die ploeg laat inspan en julle tugtig soos `n kameel. Hy sal homself alles toe-eien en sal julle honger laat ly en julle verbied om julle dors te les met die sap van vrugte, maar hy sal julle soos `n mak dier na die water dryf. En julle sal vir hom, net soos vir Hanoch, stede moet bou en hom en sy dienare goed voed, sodat hy kragtig sal word om julle te bestry en te dood.

[19] Dan sal julle vir julle arbeid geen vrugte en geen brood meer kry nie, maar dooie tekens as bewys van die hoeveelheid verrigte arbeid, vir welke tekens mense julle weinig te ete sal gee. Ja, as julle dan nog nie tot die ordening sal terugkeer nie, sal julle die keiser selfs `n vyfde deel van die moeisame verwerwing van tekens sonder vergoeding as `n belasting op die werk moet teruggee; dan sal dit die teken wees, dat julle selfs sal moet gaan vra om te mag werk en dan sal julle vir so `n vergunning die vermelde belasting moet betaal.

[20] En ek sê julle dat daar in die ganse land nie één plekkie meer sal wees, wat die keiser nie vir homself sal toe-eien nie. En dan sal hy die land soos leengoed onder sy gunstelinge en howelinge verdeel; maar julle sal hy tot veragte lyfeienes van die gunstelinge en die howelinge maak en hulle sal dan heers oor julle dood en lewe en julle gekookte gras en slegte wortels te ete gee, want hulle sal hulleself die beste vrugte toe-eien. En diegene wat homself dan aan so `n vrug sal vergryp, sal onmiddellik met die dood bestraf word.

[21] Dan sal die keiser julle mooiste vroue en dogters neem vir sy geilhede en die van sy gunstelinge en howelinge, maar julle sal julle seuns in die rivier werp en sy kinders in die plek daarvan moet voed, sodat hulle julle dan kan mishandel. Maar Ek sal julle jammerklagtes nie aanhoor nie, en tot aan die einde van die tye My ore sluit en dit sal met julle dan duisendmaal erger gaan as wat dit met julle in Hanoch se tyd gegaan het!"

[22] Neem ook van dit alles goed kennis en skryf dit op die genoemde sagte klippe.

[23] So sien julle dan, my liewe broeders, wat die wil van God is; doen daarom wat julle aangeraai is en julle kan maklik, ja nog duisend keer gemakliker `n selfstandige volk bly sonder om ook maar op enigerlei wyse julle regte te verloor. Word daarom vol liefde en barmhartigheid en hou julle ver van slegte eie gewin, dan sal julle bly wat julle is, `n volk van God. En nou ten slotte is dit die wil van God, dat julle die vlotte van die een kant van die rivier na die ander met mekaar sal verbind deur middel van stokke oor die vlotte heen en so `n brug oor die rivier maak, sodat ons ook die land aan die ander kant van die rivier kan betree en daarvan onbeperk gebruik kan maak.

[24] Val nou neer op julle aangesig en dank die Heer vir hierdie groot barmhartigheid, dat Hy ons tot ons aller welsyn onderrig het en Sy wil bekend gemaak het en sê saam met my:

[25] "O, U groot, bomatige goeie en heilige, almagtige God, ons dank U in die stof van ons nietigheid. Laat toe, dat ons met swak stemme uitgespreekte dank vanuit die diepte van ons boosheid tot U heilige ore deurdring en sien vol barmhartigheid in ons deemoedige en skugtere hart! O Heer, ons sien nie hoe leeg ons gemoed is nie; vervul ons daarom barmhartig met die warmte van U liefde en trek U barmhartigheid nooit terug van ons, arme kinders van die sonde nie! Laat ons, indien ons onsself ooit so mag vergeet dat ons teen U heilige Wil sou handel, in elke geval nie deur mense getugtig word nie, maar tugtig U ons volgens U regverdigheid en groot erbarming en verander ons in ons harte volgens U groot barmhartigheid, sodat ons eendag waardig mag word om ook maar in die geringste soos U kinders te lyk! En bly vir ons ons groot, heilige God en ons Heer, en word eendag ook ons liewe, heilige, allergewyde Vader! - O Heer, verhoor ons smekinge en hoor vol barmhartigheid ons swak bede! Amen."

[26] Gaan nou en bring alles volgens die raad en op die korrekte tyd ten uitvoer en oortuig julleself van alles, sodat julle tot die insig mag kom hoe waaragtig en getrou die Heer is! En as julle alles gedoen het en die Heer nie vergeet het voor en na elke arbeid, voor en na elke maal, voor en na slaaptyd, voor en na die opgaan en voor en na die ondergaan van die son - en baie in die besonder ook indien julle bymekaar slaap, moet julle voor en na die handeling oor alles die Heer vir Sy seën vra. Dan sal julle kinders van die lewe en die lig verwek, in die teenoorgestelde geval slegs kinders van die dood en die duisternis.

[27] Ek sal my hele lewe hier bly, in die buurt van die rivier waar ons aan land gegaan het; en diep in die wye grot op die mooi berg aan die oorkant van die rivier sal my woning en die van my kinders wees, sodat julle my te alle tye kan vind so dikwels as wat iemand dit op sy hart het. Die Heer gee my hierdie grot en die berg as eiendom uit liefde vir julle, sodat julle my altyd sal kan vind.

[28] Maar vir julle is die hele, groot, mooi land daar. Ek sal volgens die wil van God nog baie oud word en nog `n laat getuie van al julle goeie of slegte handelinge wees. En van al diegene wat nou hier in die lewe is, sal ek die allerlaaste wees en julle volg voor die aangesig van die Heer.

[29] Julle, my tien begeleiers, wat ook reeds wys geword het, sal die volk saamneem en lei en in wysheid die land verdeel en hulle leer wat hulle nodig het; en kom so dikwels as die maan vol is, na my toe om raad en om onderrig. Amen."

[30] En sien, toe Meduhed sy rede beëindig het, buig die hele volk voor hom en almal val nog een maal, sonder dat Meduhed dit beveel, op hulle aangesig en dank My vir `n dergelike heilsame leer. Hulle staan toe weer op en neem eerbiedig voedsel vir hulleself, lê hulleself toe op die grond en rus en bad van tyd tot tyd gedurende drie dae. Toe staan hulle op, neem die werktuie en voeg eers die brug aanmekaar en gaan daarna met die seën van Meduhed na hulle volgende bestemming na al die rigtings van die land en prys en loof My aanmekaar. En dit is maklik om te begryp dat baie van hulle wys geword het op die wyse van Meduhed; en so leef hulle ongeveer negentien honderd jaar as `n gelukkige volk, byna tot aan die tyd van Abraham en hulle was nie meegesleep deur die sondvloed van Noag nie.

[31] Maar later het hulle My stadigaan begin te vergeet, omdat Ek hulle tot die mees ontwikkelde en rykste volk op aarde gemaak het en hulle kry `n voorliefde vir allerlei houtsneewerk en verval daardeur volledig tot die duistere afgodery en allerhande hoerery.

[32] En nadat Ek dit gedurende seshonderd jaar lank deur die vingers gesien het en niemand en nogmaals niemand gesien het wat berou gehad het en nie ook maar die geringste aanstaltes maak om homself te bekeer en te verbeter nie, verwek Ek, waarmee Ek hulle reeds by monde van Meduhed laat dreig het, in die omgewing van die huidige Mongolië `n volk tot algemene gesel. Ek laat die volk deur `n engel, wat onsigbaar was, na Ihypon voer en maak vanuit die huidige China `n brug van eilande vir hulle. Verskillende eilande, wat in `n enigsins geboë lyn lê, getuig nog tot op hede van die feit dat die volk net soos die Israeliete oor die Rooi See, met droë voete en ook byna op dieselfde tydstip daar kon gekom het. By die geleentheid laat Ek toe deur die vuur van die aarde om Ihypon heen talle van die groter en kleiner eilande hulleself verhef en ontstaan as moontlike toevlugsoorde vir enkele van die baie wyse mense, wat daar in grotte gewoon het en My in stilte gedien het, totdat Ek hulle teruggeroep het van die wêreld af.

[33] In sulke grotte is ook nog, as getuienis van My liefde, dergelike beskrewe tafels, wat niemand nou weliswaar meer sal kan lees nie, baie minder nog as die Egiptiese hiërogliewe, wat niemand behalwe `n volledig wedergeborene sal kan lees nie, en waarvan af en toe iets geraai kan word deur `n swaar liggaamlike siek vrou, wie se siel slaap, en wat vir enkele oomblikke haar kindgees opwek.

[34] En so bevind is daar in die grot (wat vroeër of destyds die Meduhedgrot geheet het) ook nog die aan julle reeds bekende hooglied, asook nog sommige bekende werktuie; hierdie grot is nou ewenwel ontoeganklik, omdat dit op `n hoë berg is, wat Ek reeds later deur vuur en tot nou toe deur aanhoudende aardbewings laat bewerkstellig het.

[35] En so is die land nog tot vandag toe `n keiserryk, half mongools en half oer-ihyponies. Laat die ongelowige daarheen reis en homself oortuig; maar hy sal weinig baat daarby vind as hy nie die volledige wedergeboorte bereik het nie. En as iemand dit bereik het, dan sal hy nie net die hele oppervlak van die aarde nie, maar ook die diepte daarvan volledig met heldere verheerlikte blik aanskou.

[36] (Want alles wat Ek julle hier gee, is vir My kinders waar en getrou; want ek gee dit nie aan die wêreld nie, maar aan My swak kinders. Daarom moet hulle My Liefde en Wysheid en My woorde en My barmhartigheid nie met die maatstaf van die wêreld meet nie. Want Ek wil nie voor die wêreld skitter nie, maar slegs deur julle geliefd wees. Want Ek het genoeg sonne om voor die oë van die wêreld iets te laat skitter. Maar as julle met julle wêreldse geleerdheid aanmerkings het op My geskrif, wat dink julle wat Ek dan eens met julle wêreldse onsin sal doen? - Leer dit daarom van My; eers wanneer julle deur My onderrig is, sal julle sien en erken wie se voorskrifte hoër staan, - Myne of die van die wêreld. Want die wêreld het die woord in die sin, Ek het egter die sin in die woord, - daarom dwaal diegene wat nie na My op soek is nie, op `n ontsettende manier!)

[37] Voor Ek julle egter verder in My huishouding sal lei, wil Ek julle kortliks iets van My engel* sê, - veral vir diegene wat vanuit wêreldse motiewe in byna elke reël iets op die grammatika aan te merk het. Omdat hulle hart nie dubbelsinnig is daarby nie, moet hulle daar waar My swak geheimskrywer van My nuwe Woord êrens `n strepie te veel of te min gemaak het, as gevolg van sy ou gewoonte van onopmerksaamheid, dit volgens hulle insig aanvul. So ook dit wat ietwat verkeerd gespel is, soos die puntjie op die i; maar wie dit sou waag, om ook maar één woord te verplaas en of `n beter verklaring te soek of sonder noodsaak `n bepaalde oorbodige basis te soek, hom sal Ek met grimmige oë aankyk. Soek nie die woord in die sin nie, maar die sin in die woord, as julle tot die waarheid wil kom; want die waarheid is in die gees, maar die gees is nie in die waarheid nie; dit sou ook onmoontlik so kan wees, omdat die gees vry is en voorrang het op elke reël om waarheid uit homself te skep. Omdat julle dit selfs al van julle genies sê; waarom kyk julle dan vervolgens met baie kritiese oë na My Gees asof `n skoolleerling julle die een of ander slegte proefwerk ter verbetering sou gegee het?! - Daarom, as iemand meen dat My kleding nie deug vir hierdie wêreld nie, laat hy My maar tuis hou; maar dit sal vir elkeen verdiensteliker wees, om aan My geskrif `n aan haar ontnome reël toe te voeg as wêreldse kritiek, - want dit is baie saliger om te gee as om te neem! Begryp dit goed! Amen." *(Betreffende die gedig "Die Engel")


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205