|
Die Huishouding van God - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 71
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187. |
|
|
Sethlahem se verlange na die ware Wysheid
71 En luister, hierdie woorde het byna almal met stomheid geslaan; want hulle begryp die rede van Henog nou baie goed en dink by hulleself maar net na oor al die dwalinge waarmee hulle almal tot nou toe so heel behep was. En ook die oë van hulle kinders gaan wyd oop; hulle herken hulleself en My hoe langer hoe meer deur die in hulle ontwakende liefde. En eers nou begryp die hoofstamkinders, van Adam tot Jared, die woorde wat Henog in die grot gespreek het en hulle deurgrond die sin van die grot volledig. En Adam dink baie na oor die opgang van die son en begryp dit. Set staan egter op, rig sy blik na die hemel en dank My vir die groot geskenk; en almal wat aanwesig was, volg sy voorbeeld en in hulle hart loof en prys hulle My in `n hoë mate.
[2] Eén van die kinders van die middag, uit die lyn van Set en Enos, stap op Henog af, buig diep voor hom en sê: "Henog, sien, in die naam van almal staan ek hier voor jou; my naam is Sethlahem (dit beteken: `n Met wysheid hoogsbegaafde seun van Set").
[3] Ten eerste wil ek deur jou die hoogs verskuldigde dank betuig aan die heilige Gewer van `n dergelike groot barmhartigheid. "Want jy is die heel naaste aan die Heer en jy het Sy lewende woord; daarom is dit wel die mees geskikste dat jy die gebrekkigheid van ons swak dank vir so `n groot weldaad teenoor die Heer aanvul. Omdat ek die wysheid gekry het van die Heer, doen ek wat Sy my leer en kon ook nie meer doen nie, omdat my wysheid dit wat ek doen, toereikend vind. Maar wat jy ons geleer het toe jy gespreek het oor die lewe, was meer as alle wysheid van al die mense tesame; dit is die wortel van al die lewe en die ewige grond van alle wysheid. Ja, dit is God, wat jy hier verkondig! En sien, my wysheid reik nie sover om Hom die korrekte dank te betuig nie; doen jy in my plek wat gepas is! Die ander waarom ek jou egter wou spreek, is, dat jy my sou toestaan om by jou in die leer te gaan, sodat jy my die weg sou kan leer wat jy self gegaan het en waarby jy die lewe uit God so diepgaande ten deel geval het.
[4] O Henog, neem my hierdie dubbele vraag nie kwalik nie; want my wysheid sê my dat jy `n ware siener van God is. Want die liefde van die Allerhoogste het jou hart gevul en jou tong word aangeraak deur die vuur wat baie magtig aan die vinger van God ontspring. O, toon nou aan Sethlahem, hoe en wanneer jy dit ten deel geval het! Amen."
[5] Onmiddellik staan Henog op en sê: "Luister Sethlahem, waartoe die roem?! Het jy dan die wysheid ontvang om met haar na buite te tree om daarmee te roem wat nie die roem werd is nie, en weet jy nie om Hom te roem aan wie tog alleen alle roem toekom nie?! Of meen jy dat die lewe homself ook laat leer, soos `n dergelike wysheid wat jy met `n koue hart geleer het, sodat jy `n meester in die wysheid sou word?!
[6] O Sethlahem, Sethlahem, sien toe, dat jy nie verstik in jou ydele weetgierigheid nie!
[7] Hier sien jy `n vyeboom en daar `n boom vol met reeds halfryp pruime! Wat dink jy, as die pruimboom nou skool gaan by die vyeboom om van hom die kuns te leer om in plaas van pruime ook vye aan sy takke te dra net soos die vyeboom, - sal iets dergeliks wel ooit na behore kan gebeur?
[8] Seker, indien jou wysheid êrens tot enige nut strek, moet jy jou oombliklik oortuigend duidelik maak dat so-iets in der ewigheid nie moontlik sal wees nie!
[9] Maar as iemand ente met sade van `n vyeboom neem, dan die pruimboom aan alle kante snoei, die stompies van die takke splyt en vervolgens die ente daar insteek en hulle sorgvuldig met grond en hars toebind, sal die sap van die pruimboom baie spoedig in die vye-ente omgevorm word tot die lewe van die vyeboom. En so sal dan nie te lank daarna nie, op so `n veranderde pruimboom edele vye te voorskyn kom.
[10] Algaande leer jou wysheid jou om dit te doen; hoe is dit dan, dat jy jou nie ook geleer het om die Heer met al jou kragte lief te hê, sodat jy as vrug in plaas van pruime ook vye van die lewe kon voortgebring het?!
[11] Maar ek sê jou Sethlahem, sien, Adam het jou gesnoei, soos al jou kinders en broeders, Set het julle gesplyt en deur my het die Heer nou die ente van die ewige lewe in jou gestook; soek nou deur jou wedersydse werk van die liefde vars grond en hars en bevestig die lewe goed in jou deur die geloof, dan sal jy ook baie spoedig dit vind wat jy nou vrugteloos by my trag om te leer!
[12] Gaan nou en doen, dan sal jy lewe! Amen."
[13] Toe Sethlahem die woorde hoor, slaan hy homself op sy bors en sê: "O Henog, ek erken die groot waarheid in jou woorde, maar jy kan maklik praat omdat jy Haar al het; want die Heer het Haar uit Homself vir niks aan jou gegee, sonder dat jy daarvoor dieselfde hoef te gedoen het wat jy my nou opgedra het om te doen! O sien, in geborgenheid is die goeie rus en sonder onderpand is dit goed geneem; slegs so is dit nie by my nie! Al baie lank werk en worstel ek onophoudend vir dit wat jy sonder moeite ten deel geval het; maar dit is tevergeefs! Vir my is die hemel met klippe versper en dit sou makliker wees om in die aarde `n gat te grawe wat sou kan reik tot waar geen aarde meer is nie, as om ook maar een enkele doudruppeltjie lewe van die liefde van bo op te vang.
[14] Dit is regtig so, - gaan maar na die eerbiedwaardige vaders, sodat hulle vir jou oor my getuig! Is hulle deur hulle stand nie almal hoër as jy en daardeur natuurlik ook nader aan die Heer as wat jy is nie? Maar waarom bly die Heer ver van hulle en wandel met jou, hand in hand?
[15] O Henog, indien dit alles in jou nie as `n vrye, geensins verdiende saak van bo deur die heilige Vader aan jou gegee was nie, waarlik, dan sou jy tot op die oomblik spreek soos ek, klaend oor die geweldige sieledors en - honger!
[16] Of dink jy dat ek nie sou weet dat geen enkele boom iets aan `n ander kan leer nie? Wel, daarvoor sou ek jou woorde kan ontbeer; maar as ons dit aan ons kinders moet leer waaraan hulle behoefte het - soos: loop, spreek, werk -, om hulle daarmee die spoor van die allerhoogste God begryplik te kan toon, sê my, is ons dan meer ten opsigte van God, as wat ons kinders is ten opsigte van ons?! Ek glo, dat ons oneindigmaal minder is ten opsigte van Hom! Hoe sou en kon die weg dan anders as via die weg van die onderrig aan ons getoon word, soos dit by alle kinders die geval is?!
[17] O Henog, jy dink om maklik van my ontslae te raak, deur my op die broederliefde en die liefde van God te wys; maar dit sal nie so maklik gaan as wat jy dink om van my af te kom nie! Ek wil dit alles eers vooraf by jou sien, voordat ek dit sal aanneem!
[18] Maar in jou kort afskeep skyn nou juis nie die hoogste graad van naasteliefde opgesluit te lê nie; wanneer die naasteliefde egter `n newestraal van die liefde tot God is, dan weet ek nie waarvoor ek jou Godsliefde moet beskou nie!
[19] Pas maar op, dat jy miskien nie spoedig self alleen jou allernaaste word nie!
[20] Is dit korrek, dat iemand deur `n ander se woorde vererg word?! Sien, hoeseer jou eerste woorde my ook gestig het, soseer het jou huidige woord my ook vererg! Want ek weet goed dat jy `n siener van God is en dat jy die lewende woord het - as ek dit nie sou geweet het nie, sou ek nooit na jou toe gekom het om so `n dergelike heiligdom in jou te prys nie! Maar omdat jy my daaroor berispe, vra ek my tog af: Wie het jou opgedra om so iets op jou te neem en my daaroor te berispe?
[21] O sien, is dit nie aardig, om die hongerige, dorstige en wenende broer in God so kort af te wys nie!
[22] Geduld kom in die eerste plek en deemoed is die siel van die liefde! Henog, ek weet dat jy in beide `n meester is; waarom wys jy my tereg en skyn jy jou hart vir my gesluit te hê? Ek het jou tog geen leed aangedoen nie! Keer daarom om en wees vir my `n broeder in God in plaas van `n koue, droë wegwyser! Amen."
[23] Nadat Henog dit glimlaggend en met die grootste gelatenheid van Sethlahem gehoor het, staan hy weer op en antwoord as volg:
[24] "Sethlahem, kyk, as dit so sou wees soos wat jy blykens jou woorde meen, waarlik, dan sou jy my lankal wenend aan jou voete gesien het, maar dit is nie so nie!
[25] Omdat jy egter vanweë my onbegrepe woorde nie ten onregte vererg jou woning sal betree, kalmeer daarom jou hart en luister wat ek vir jou te sê het: Sethlahem, kyk in die blou verte en sê my van die gras, die plante, struike en bome van welke soort en klasse hulle is; is hulle net soos hier, of is hulle anders?
[26] Wat se gesteente, wat se grond en wat se bronne is dit; is hulle net soos hier, of is hulle anders? Deur welke lewende wesens word die ver land bewoon? Is daar miskien ook mense? En wat is dit wat hulle nou aan die doen is?
[27] Luister, Sethlahem, uit jou swygsaamheid merk ek op dat jy dit nie weet nie! Maar nou vra ek jou: Wat is die geskikste manier om aan dergelike kennis te kom?
[28] Gestel die geval dat ekself reeds daar was en alles daar self bekyk het. Maar dit sou so beskik wees dat die vaders my in jou aanwesigheid sou uitvra en ek hulle die blou vertes sou onthul. As jy dit egter sou hoor en niks sou weet omtrent die hoe, waarvandaan en waardeur, sê jy dan vir my: "Luister, wat jy my nou vertel het, geval my besonder goed! Ook sou ek graag oor die verre streke wil spreek soos jy; sien, ek wil daarom by jou in die leer gaan, sodat ek van jou kan leer om daaroor te praat!" Waarop ek jou dan weer sou antwoord: "Luister, so-iets laat homself nie deur `n innerlike sienswyse leer aan diegene wat na `n innerlike oortuiging streef nie, - en wat `n moeisame weg tot suiwere kennis sou dit wees en hoe onvrugbaar!
[29] Maar kyk daar, oor hierdie berg lei die kortste weg daarheen! Neem die moeite om daarheen te gaan en wees daarvan verseker dat jy in drie dae weer hier sal wees en dat jy, net soos ek, gesprekke vol waarheid daaroor sal kan voer, terwyl jy andersins in geen jare sou kan leer om dergelike gesprekke uit innerlike lewenskrag te voer nie!"
[30] Nou sou jy egter weer by my kom en sou jy my vanweë so `n kort, maar goeie raad vol waarheid, van `n gebrek aan liefde wil beskuldig! Gaan by jouself na hoe jyself `n dergelike beskuldiging van liefdeloosheid hou tot `n raad waarmee jy seker in drie dae dit kan bereik wat duisende jare jou anders wel nouliks sou kan gee?!
[31] Sien, daar het jy met al jou wysheid `n flinke slag in die lug geslaan!
[32] Die weg is vir jou getoon. Het jy nie die moed om dit alleen te bewandel nie, kom dan en vra my of ek jou as broeder met alle liefde sal begelei of nie; maar ek glo dat jy daarin moeilik `n grond tot `n klagte sal vind!
[33] Maar as ek volgens jou dwase verlange sou wil handel, sien, dan moes ek jou wel eerder vyandig gesind wees om in staat te wees, om in my verdorwenheid jou, my liewe, arme broeder in God en Adam, te bedrieg!
[34] Sien, die kennis sal vir ewiglik nie vir julle van nut wees vir die lewe nie; maar as jy volgens waarheid sal handel, sal jy die getuienis van die waarheid vind en dit sal die getuienis van die liefde wees - en die liefde het ewige lewe in God! Amen. Amen. Amen."
|
|
|
|
|