Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 175

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Sethlahem en die sewe morrende manne

175 En Sethlahem maak aanstaltes asof hy opnuut iets wou vra; maar ook nou was Abedam hom voor en sê:

[2] "Sethlahem, jy is nog nie sonder smet nie; want `n vraag vol twyfel beswaar jou hart en maak jou blind. Daarom wil jy en kan jy My woord nie begryp nie!

[3] Wat maak dit saak of dit wat jou broers beweer, waar of onwaar is? Want jy het immers ook nog niks waardeur jy die egtheid van jou skat aan wysheid sou kan waarborg nie!

[4] Maar wat is nou beter: Om die een fout met `n ander fout te wil verslaan, of innerlike die waardeloosheid van die eie fout te erken en dan vanweë die eendrag en liefde nie teen die fout van die broer in te gaan nie, waardeur dan die broer wat jy liefhet, as jy `n ware lig sal wees, jou graag sal volg omdat hy jou liefhet?!

[5] Indien jy egter as broer die foute van die ander een hardnekkig met jou eie fout teenstaan, waardeur hy homself dan boos maak, hoe sal hy jou dan volg as jy `n ware lig verkry het?!

[6] Sien, die liefde is die begin van alle Wysheid; maar die deemoed is `n magtige hefboom van die Liefde sowel as van die Wysheid! Indien jy deemoedig is, waarlik, geen mens sal jou wil teengaan nie; want daar waar die strydlustige geen verweer gewaar nie, lê hy spoedig self sy strydbyl tersyde, - en dit wat jy in jou het, sal niemand jou betwis nie! En so is die deemoed die grootste beskermer van alle wysheid en daarbo ook die beste skool vir alle wysheid, wie se saad die liefde is.

[7] Maar die hoogmoed is in alles lynreg die presiese teendeel, netsoos jou eie ervaring jou lankal voldoende geleer het.

[8] Gaan daarom nou daarheen en versoen jou eers met jou broers en lei hulle dan eers na My toe en ons sal dan sekerlik sien, watter deel van die kwaad swaarder weeg! Begryp dit! Amen.

[9] Na hierdie woorde begin daar by Sethlahem `n groot lig op te gaan, vandaar dat hy ook nie meer verder durf vra nie, maar hy buig tot op die grond voor Abedam en gaan dadelik na die sewe broers toe.

[10] Hy was buitengewoon aangedaan toe hy by hulle aankom. Hy wou baie graag dadelik begin praat; maar hy was onmoontlik nie daartoe in staat nie. Want die naderende besef van Diegene wat hom sulke lesse gegee het, het hom soseer aangegryp dat hy `n lang tyd nodig gehad het om iets oor sy lippe te kan bring.

[11] Omdat hy nagenoeg stom was te midde van die sewe, begin hulle bekommerd oor hom word; want hulle almal het andersins wel hoë agting vir hom gehad, vanweë sy wysheid. Hulle wou net nie hê dat hy iets nuuts ter tafel lê nie, maar hy moes vir hulle onwrikbaar by die ou dinge bly en daaroor profeteer soveel hy maar wou, - dan kon hy daarop reken om in hulle die mees oplettende toehoorders te hê. Maar sodra hy ook maar iets nuuts wou opdis, het hulle hulle ore onmiddellik van hom afgewend en hom ten slotte beveel om heeltemal te swyg, as hy niks beter te sê gehad het nie.

[12] Maar na sy lang swye staan hulle hom die eerste keer toe om ook iets nuuts na vore te bring, as hy homself dan beslis nie meer met die eerbiedwaardige ou dinge wou inlaat nie; ook beken die vroeëre spitsvondige spreker, dat dit hom spyt dat hy hom, Sethlahem, so bitter toegespreek het.

[13] En Sethlahem se hart word ligter. Sy longe haal weer vryer asem, hy voel weer in staat om te praat en begin met hulle te praat:

[14] "Broers, laat my hierdie een keer uitpraat! Ek wil niks aan julle opdring nie, iedereen kan in weerwil van my woorde by syne bly; maar hierdie keer versoek ek julle om geduld met my te hê en my van die begin tot die einde aan te hoor. As julle dit eenmaal gehoor het, dan mag julle daaroor oordeel netsoos julle wil! Luister dus:

[15] Ons hang weliswaar aan die oue, omdat dit oud is, maar staan daarby nie stil dat daar in die grond van die saak tog niks ouds bestaan nie. Ja, wanneer ons `n ding beskou, hoe dit naas ons gegroei en verouder het, dan kan ons weliswaar sê: Die ding is oud omdat dit saam met ons oud geword het!

[16] Maar selfs as ons op die manier oordeel, begaan ons `n geweldige vergissing; want indien ons werklik oud sou wees, dan sou ons daar immers nog netso moet uitsien soos wat ons vyfhonderd jaar gelede daaruit gesien het!

[17] Maar hoe het ons gedaante nie self sedertdien verander nie! Hoe kan `n mens dit egter oud noem wat van die werklike oue geen spoor meer in homself dra nie?!

[18] Ja, ons het in alles totaal verander! Waar is ons hare? Waar die meeste van ons tande? Hoe dikwels het ons vel al afgeskilfer? Ja, ek sou wil vra: Waar is ons stoere, kragtige liggame dan wel heen?

[19] Waar is die bome nou waarvan ons as kinders die vrugte geëet het? Waar is die skape, bokke en koeie wat ons in ons kinderjare van melk voorsien het?

[20] Ons eet nou die vrugte van heeltemal nuwe bome en drink die melk van nuwe diere en ons vind dit almal in orde omdat JaHWeH se ordening dit so bepaal het.

[21] As ons by `n waterbron gaan staan, - wie van ons kan dan beweer dat nie elke ontspringende druppel `n nuwe of tenminste `n hernude is nie?! En tog smaak hierdie voortdurende vernuwing vir ons buitengewoon goed!

[22] Het iemand van ons wel al `n ou reëndruppel ontdek?!

[23] En steeds as die nuwe reën kom, is ons bly vanweë ons akkers!

[24] Die nuwe graan is vir ons beter as die reeds muwwe oues. Ons sien verlangend uit na nuwe vrugte. Nuwe en jong mense, sowel manlike as vroulike, was vir ons nog altyd aangenamer gewees as die oue.

[25] Wie verheug homself nie meer oor die opnuut opkomende as oor die ondergaande son, wat al `n dag oud is, terwyl sy tog steeds dieselfde is nie?! Vir wie is die nuwe voorjaar nie aangenamer as die ou koue winter nie?!

[26] Sien, broers, omdat vir ons dus in alles wat ons ook maar aanskou, die nuwe of tenminste die jonge meer geval en vir ons ook meer waarde het as die ou, reeds lank vergane, en omdat ons almal `n sterk verlange het na die nuwe en, ook behalwe dit, het die Heer JaHWeH Sebaot of God, die ewige Skepper van die nuwe, alles steeds voor ons oë hernu, - hoe kan ons dan onredelik kla, indien daar, volgens die wil van JaHWeH Sebaot, `n klein verandering in die Sabbatoffer aangebring word?!

[27] Daarmee wil ek nie julle opvatting heeltemal te na kom nie, maar julle alleen gerusstel; want ook julle kan baie goeie redenasies van teengestelde aard hê, wat ek julle nooit sou wil betwis nie, omdat julle my reeds dikwels bewys het hoe skerp julle gees oordeel!

[28] Maar ek voeg laastens nog net `n versoek hieraan toe, naamlik dat julle nog `n keer met my na die altaar gaan en my daar help met die skerp beoordeling van die vreemdeling wat op julle wag. Want sien, Sy Woorde is so geweldig en so uitsonderlik deurdringend, dat ek heeltemal op die punt staan om Hom as JaHWeH Self te beskou!

[29] Ek sien dat hierdie uitspraak van my weliswaar vir julle lagwekkend sou kon wees, - maar ek sê vir julle, lag nie, maar ondersoek eers dit waaroor julle wil lag en my ou spreekwoord van "wie die laatste lag, lag die lekkerste", sal dan vir julle sekerlik nog beter verstaanbaar word!

[30] Wat sou julle van `n mens dink wat vir julle die mees verborge gedagte kan voorhou en van goddelike dinge kan spreek asof Hy van Homself praat?!

[31] Julle het julle kinders en al hulle nakomelinge laat weet en hoe dikwels reeds noukeurig bewys, dat slegs God die mees innerlike gedagtes van `n mens ken; maar vir elke mens is dit volslae onmoontlik.

[32] Ek het julle op die punt nooit teëgespreek nie; want ek het die volledige geldigheid van julle bewys altyd ingesien.

[33] Maar kom nou saam met my en oortuig julleself! En as julle Hom nie net so sal vind soos ek nie, dan kan julle my voor die hele volk uitlag en ek sal nie daaroor boos word nie!

[34] As julle wil, dan kan ons daarheen gaan! Amen."

[35] Die sewe kyk mekaar met groot oë aan en weet nie wat hulle van hierdie woorde moes dink nie.

[36] Die vroeëre spitsvondige spreker sê toe namens almal: "Waarom nie?! Sethlahem het ons al dikwels in allerlei sake aangevoer! Daaronder was dikwels baie dom dinge, maar ook netso dikwels baie wyse sake! Omdat ons dit van hom al gewoond is, kan ons hom seker ook hierdie keer die vreugde verskaf!

[37] Maar Sethlahem, verheug jou daaroor, wanneer jy ons moontlik weer `n nuwe dwaasheid vertoon! O hoe flink sal jy dan weer deur my onder hande geneem word!"

[38] En Sethlahem antwoord hom: "Broer Kisehel, kyk, dit is nie belangrik nie; maar ek glo, dat jy in jou geloof nog groter sal word as ek en alle ander!

39] Laat ons daarom maar gaan! Amen


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205