Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 185

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die wese van die lewe. Die beloftes van die Heer aan Ghemela

185 En Ghemela was met Abedam se antwoord op haar laaste, kort vraag totaal gerusgestel, het spoedig weer moed en vra Abedam:

[2] "O liefste JaHWeH, U Wie vol is van die allergrootste Barmhartigheid, Liefde en Medelye, - omdat ons reeds so oneindig veel barmhartigheid in U oë gevind het, waag ek dit uit die innigste liefde van my hart tot U, om U met nog `n vraag lastig te val! Ek weet goed dat U, o Allergewydste, deur elke besoedelde woord van my ontheilig word, vandaar dat ek ook altyd in U aanwesigheid so beskroomd word by die open van my onreine mond, dit dan die duidelike insig van my totale onwaardigheid en verfoeilikheid voor U my longe laat verkramp en daardeur my dan ook `n tyd lank die keel so dig toetrek dat ek nouliks in staat is om `n woord oor my lippe te kry; maar as ek dan weer dink hoe oneindig en onuitspreeklik goed, liefdevol en barmhartig U is, dan kry ek tog weer die moed om van U hoogs milde toestemming gebruik te maak.

[3] En daarom het ek nou weer soveel moed versamel om U te vra, of U my en ook alle ander, - as hulle miskien netsoos ek nog nie sou weet nie, wil sê en ons groot onverstand wil verhelder, wat nou eintlik die lewe is en hoe dit dan kom dat ons onsself daarvan totaal bewus word, dat ons weet en deur en deur ondervind dat ons bestaan en vry kan doen wat ons ook maar in vryheid wil.

[4] Maar ek is tog wel behep met allerlei dwaashede; en nou het ek deur my vraag seker ook die groot aantal voor U heilige oë aansienlik verryk!

[5] Ja, ja, ek lees al van U gesig af, dat ek `n hoogs dwase vraag gestel het! - Kan ek tog maar vinnig oor iets anders vra!

[6] O JaHWeH, is U nou kwaad oor my domheid? Want dan sou ek my vanweë die ontsettende skande in die diepste afgrond van die aarde wil versteek en my lewe lank my dwaasheid in die mees digte duisternis beween!

[7] Maar, o my Enige, bo alles Beminde JaHWeH, ek eis tog nie die lig van U nie, neem hierdie vraag slegs op as `n mees deemoedige versoek van my af en laat U bo alles heilige Wil alleen dit doen wat Hom behaag en ek sal alles met die grootste dankbaarheid vir U groot erbarming en onuitspreeklike, verheffende en allergrootste Vaderliefde in die diepste van my hart aanvaar!

[8] O vergeef my, Wie se Naam my hart, wat in alle liefde tot U ontvlam, nie meer waag om uit te spreek nie!"

[9] En Abedam word ontroerd en sê aan haar en aan almal:

[10] "Waarlik, Ek sê aan jou en aan julle almal: Soveel deemoed het Ek nog in geeneen van julle almal aangetref nie!

[11] Ghemela, hou jy dan werklik en waaragtig bo alles van My en ook heeltemal alleen van My?"

[12] En Ghemela begin te huil en antwoord Abedam snikkend: "O vurig Beminde, ewige Liefde Self! Hoe kan U my dit vra, U, Wie my geskep het en my so `n hart gegee het, wat niks anders as U alleen kan liefhê nie!

[13] O as dit moontlik was, sou ek immers wel duisend maal die dood self wil ondergaan uit liefde vir U, as dit nie andersins moontlik sou wees om U te toon hoe bo alles, alles, alles ek alleen vir U bemin nie! - Maar, wat sê ek: U sien tog my hart!"

[14] En Abedam buig Homself vooroor en hef Ghemela op wat voor Hom op die grond lê, ja Hy tel haar heeltemal omhoog op Sy regterarm en druk haar sigbaar heftig teen Sy heilige bors en sê toe aan haar:

[15] "O jy aanvallige, liefste, heerlike pêrel van My Liefde en Erbarming, waarlik, jou jong hart het meer liefde en lewe in haarself as die hele aarde! Wat jou nou te beurt val, het nog geen van die mees reine en wyse engele wedervaar nie!

[16] Ek wil jou vir alle tye seën! Sien, heerlike Ghemela, hoe Ek, jou Skepper, jou ewige, heilige Vader, jou nou aan My hart dra, wat die ewige fondament is van alles wat lewe en alles wat is van die hele oneindigheid, so sal eendag `n volledig op jou trekkende dogter uit jou bloed - luister - Myself, My, die ewige, oneindige God, die ewige lewe, die Almagtige Skepper van alle wesens van die atoom tot die mees verhewe Engelegees, My, die enigste Heer van alle mag en krag, onder haar hart dra!

[17] Jou sal Ek baie binnekort `n seun gee deur My Lameg: Hierdie seun sal jy Noag noem en hy sal `n redder van jou volk word.

[18] Maar hoe en wanneer dit sal geskied, sal jou toekomstige seun op die regte oomblik regstreeks van My ontvang, presies netsoos jy nou hierdie belofte van My erbarming ontvang het. Onthou dit goed en jy sal dan ook weldra verstaan en voldoende begryp wat die lewe is en hoe elke mens homself daarvan bewus word en dan tydens sy lewe vry kan doen wat hy wil!

[19] Let op, sodat jy voorlopig nie heeltemal sonder antwoord op jou vraag weer met jou voete op die aardbodem kom nie: Dit is vir jou onmoontlik om te begryp, wat die lewe aan en in Myself is; want hoe Ek ewig en oneindig die mees eintlike lewe Self is, sal ook die hoogste en diepsinnigste gerub nooit in staat wees om te begryp en te deurgrond nie. Maar wat die eintlike lewe in jou is, dit is niks anders as My asem in jou of wel My volkome ewebeeld in elke mens nie. Netsoos Ek My ewig en oneindig bevind in die steeds helderste bewussyn van die hoogs eie, mees volkome lewe, so het ook elke skepsel een, dit is vir jou ook absoluut onbegryplik, die kleinste deeltjie van My lewe in homself en leef volledig van daaruit en put daaruit wat hy nodig het.

[20] Nou is dit met alles wat lewe so gestel, dat dit sigself voortdurend kan vermeerder en groei deur My onophoudelike instromings; maar hoe meer die lewe groei, hoe meer volmaak blyk dit dan ook te wees.

[21] Maar die lewe word eers dan van homself bewus, wanneer dit met die vonkie liefde boonop ook `n vonkie barmhartigheidslig uit God bykry; met die lig besef die gegewe lewe sy eie persoonlikheid en word vrylik van homself bewus.

[22] As hierdie, homself bewuste lewe, dan nie net van homself nie, maar ook van sy ewige, heilige oorsprong in homself bewus word en Hom dank en eer, liefde en aanbidding skenk en die Wil van Diegene erken wat hom geskape het, dan eers word hy volkome vry en word dan deur hierdie erkenning deur die liefde, `n kind van die ewige Liefde en van die ewige lewe, deur watter lewe dit eers dan tot die mees duidelike bewussyn van homself sal en tot die lewende bewussyn van Diegene wat jou nou op Sy hande dra, sal verlang.

[23] Het julle dit almal goed verstaan, My Ghemela?"

[24] En Ghemela, totaal oorspoel van werklik die mees hemelse verrukking, antwoord Abedam:

[25] "O my heilige Vader, Allerhoogste Liefde, wie sou of kon U woord dan nie verstaan en begryp nie, in die besonder as `n mens boonop nog die onuitspreeklike barmhartigheid ondervind wat U my nou nog bewys, om deur U, o mees heilige Vader, op die hande gedra te word!

[26] Sien, so moet U Ghemela immers wel begryp wat U oneindige Vaderliefde vir haar verlig! Ek kan U daarvoor nie met my mond bedank nie; maar des te meer ontbrand my hart vir U!

[27] Maar luister, my Allerliefste JaHWeH, nou val `n baie treurige vraag my by!"

[28] En Abedam vra haar vinnig, asof Hy verras was: "Nou, wat dan, wat dan? Wat kan jou, My geliefde, heerlike Ghemela, terwyl jy op My arm sit, so plotseling en dan nog so treurig byval?

[29] Vertel dit maar baie vinnig vir My - wie weet, miskien vind Ek nog `n troos vir jou geestelike teer hartjie?!"

[30] En Ghemela glimlag ietwat verleë, speel met die weelderige lokke van Abedam en waag nie om met haar vraag vorendag te kom nie.

[31] Na `n ietwat langer wag en nadat sy nog `n keer deur Abedam aangemoedig was, bring sy eindelik met `n van liefde trillende stem, haar treurige vraag na vore:

[32] "O JaHWeH, uit sommige van U heilige woorde het ek nou afgelei dat U ons spoedig weer sal verlaat; en sien, aangesien ek U al oneindig met my hart bemin, hoe sal dit dan met arme ek gaan, wanneer ek U nie meer kan sien en ek U nie soos nou om my heen sal hê nie, U, My ewige Liefde?"

[33] En Abedam antwoord haar: "Luister, My heerlike, liefste Ghemela, enersyds is jou besorgdheid weliswaar nie ongegrond nie; want so kan Ek nie steeds by julle bly en dit sou ook vir niemand goed wees nie. Want wanneer Ek steeds so by julle sou bly, dan sou niemand tot die ware, selfstandige, vrye lewe kan kom nie, omdat die sonde al die wêreld onder `n harde slawerny gebring het en druk en dwang daarom tog al in Hoë mate op aarde teenwoordig is. Sou Ek nou, as die allerhoogste Oerkrag en oermag, so voortdurend sigbaar in julle midde vertoef, dan sou jy ook `n tweede vorm van dwang hê op aarde, sodat niemand homself ook maar in die geringste vry heen en weer of op en af sou kan beweeg nie.

[34] Indien julle oë My egter nie sien nie, maar - as iemand dit ernstig wil, netsoos jy dit nou wil en dit getrou altyd so wou hê - sy hart My des te beter en vertrouliker ken, dan is iedereen nogtans, ondanks die harde slawerny van die sonde, volkome vry. Hy kan hierdie slawerny vol veragting met sy voete vertrap en kan homself tot My wend, deur My in die liefde van sy hart te soek en homself vrylik met My te verbind, waarop hy dan dadelik volgens die mate van sy liefde deur My opgeneem word en volgens sy wil tot liefde behou en bewaar word; dit alles is dan eers die verkryging van die ewige lewe.

[35] Bedink egter, wie dit nog sou aandurf om iets te doen as hy My sou sien en My altyd, sy hele lewe lank, met sekerheid aan sy sy sou hê!

[36] Kyk maar om jou heen en slaan die mense gade wat weet dat Ek hier sigbaar aanwesig is! Wat doen hulle nou?

[37] Geeneen van hulle durf vry asemhaal nie, om maar te swyg van iets anders doen, hetsy goed of kwaad! En sien daarenteen die groot skare wat ons omring, wat geen vermoede het dat Ek hier sigbaar in julle midde is nie, hoe hulle hulleself opgewek beweeg en rondloop!

[38] Baie onder hulle glo dat Ek bo alle sterre is, andere weer dat Ek teenwoordig is in `n verbytrekkende sagte wind en nog ander het weer duisende menings, oor hoe ver Ek is.

[39] Sien, hulle almal ondervind nou geen dwang van My af nie en is daarom volledig vry, dit wat egter by julle almal nou nie die geval is nie, ofskoon jy in My aanwesigheid weliswaar ver is van die knegskap van sonde, - des te meer word julle deur My liefde aangetrek, vandaar dat jy nou niks anders kan as My bo alles lief te hê nie, dit wat egter ondanks die heilige reg van `n dergelike liefde tog `n dwang is, omdat jy voor My aangesig nie anders kan doen as om My so te bemin nie!

[40] Maar solank Ek sigbaar in julle midde is, kan niemand se huidige liefde hom as lewegewend toegereken word nie, maar dit kan eers gebeur wanneer Ek nie meer sigbaar in julle midde sal wandel nie, en ook ingeval iemand My bemin het voordat Ek sigbaar was!

[41] Sien, My heerlike, liefste Ghemela, ook jou huidige liefde tot My sou geen waarde hê as jy My nie vroeër ewe en baie keer selfs nog inniger as nou sou liefgehad het nie, omdat jy eintlik nie liefhet nie, maar alleen deur My versadig word met My liefde tot die ewige lewe!

[42] Maar ongeag dit alles, of juis goed daarop agtend, kan jy nogtans jou treurige vraag totaal in die wind los; want jou liefde het haar werk reeds van oudsher vrywillig gedoen, deurdat jy ter wille van My, baie gestry het met die wêreld, omdat jy so buitengewoon mooi gevorm is soos wat voor jou nog geeneen van jou geslag was nie.

[43] As gevolg van hierdie voortdurende stryd van jou, kan My sigbaarheid en selfs My aanraking jou geen skade berokken nie en wel so, dat Ek daarom ook alleen aan jou dinge kon laat sien, waarvan die aanblik baie, wat nie netsoos jy reeds vantevore die see van liefde bevogtig het nie, sou sterf.

[44] En ook van My baie dikwels sigbaar wees, sal jy vir ewig geen nadeel ondervind nie; want jy is reeds aan My gebonde. En netsoos Ek jou nou sigbaar op My hande dra, so sal Ek jou ook onsigbaar op die hande van My liefde dra, en telkens, wanneer Ek My aan jou sal laat sien, sal jy My steeds vir jou so sien dra. Wees daarom maar opgewek en bly in jou hart; want van nou af aan sal jy My in ewigheid nimmer mis nie!

[45] Sien, My heerlike, teer en baie geliefde Ghemela, dink jy dan dat Ek jou dalk sou kan mis?!

[46] O sien, jy het nou vir My hart net so onontbeerlik geword soos Ek vir joune; jy kan jou daarom dus troos dat Ek jou nie, netsoos dit jou toeskyn, sal verlaat nie.

[47] My heerlike, allerliefste Ghemela, laat daarom netsoos Ek jou reeds gesê het, jou treurige vraag ook maar onbekommerd en sorgeloos in die wind wegwaai! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205