Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 41

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die benoeming van Henog tot prediker

41 En toe Adam nou hierdie, deur My besondere toelating, rede beëindig het, word sy innerlike weer, ter wille van sy sieleheil, afgesluit. Set, Enos en Henog verwonder hulleself buitengewoon. Hulle kon die diepere sin van hierdie woorde nie begryp nie en vra aan Adam wat hy daarmee wou gesê het.

[2] Hy kyk hulle verbaas aan en weet nouliks dat hy oor iets gespreek het en vra daarenteen aan hulle, wat hy dan eintlik gesê het.

[3] Set sê daarop: "O vader, sien, jy het ons jou wonderbaarlike wording vanaf die aanvang van alle wesenlikheid onthul en ons die onbegryplike leiding van die ewige Liefde getoon. Ons begryp dit nie en wil jou om `n nadere uitleg vra; vergewe ons daarom die misstap van ons nuuskierigheid! Wie sou ook nie stomverbaas wees oor sulke dinge nie, wat so pas vanuit jou mond tot ons ore deurgedring het?!"

[4] Adam kom orent en sê opgewonde: "As julle wonderbaarlike dinge verneem het, dink dan daaraan, dat hulle van die Heer afstam en nie vanuit my voortgekom het nie, en dan weet julle ook Wie dank en eer toekom!

[5] Daarom, loof die Heer, omdat Hy die hoogste Liefde en Wysheid in alle gewydheid Self is en bedink dat `n mens aan ander mense niks kan gee as wat hy tevore van die liefde van die Heer ontvang het nie, omdat Hy die enigste Gewer van alle goeie gawes is! As ek julle iets goeds gegee het, dan het nie ek nie, maar het die Heer dit aan julle gegee. Ontbreek dit by julle aan lig, kyk omhoog na die lig van die hemel en dan sal julle immers baie maklik erken waar die lig van die ligte onophoudelik uitstroom; want waar iemand `n geskenk gegee word, daar is die groot, heilige Gewer ook nie ver weg nie. Daarom soek Hom en julle sal Hom ook wel vind en begrip vir Sy barmhartigheid sal nie agterweë bly nie!

[6] Neem dit goed ter harte; want Adam, julle aller vader, verkondig julle nou, soos hy al voorheen gedoen het, die ontwikkelingsgang van die skepping (dit beteken die oorgang van die ontstaan van Lucifer tot Adam) uit die neerdalende groot barmhartigheid van die ewige, bo alles heilige en goeie Vader! Daar die heilige Liefdevolle Sy deel gedoen het, doen julle dan ook julle deel wat van julle gevra word en wees gehoorsaam in alle dinge! Amen."

[7] En sien, toe buig hulle voor Adam, gaan heen en bespreek onderweg wat daar gedoen moet word. En Henog, die jongste van hulle almal, wat tog al vanweë sy besondere vroomheid `n verkondiger van My Naam was, neem die woord en sê vir sy vaders:

[8] "Vaders! Adam, ons aller aardse vader, het woorde vol wysheid en in `n diep sin gespreek. Ons begryp dit nie; want hy spreek en weet nie dat hy so gespreek het nie. Want as hy as mens gespreek het, sou ons as mense hom dan nie kon begryp nie? Maar omdat hy, weliswaar op menslike wyse, uit die Naam van God met die tong van die gees oor dinge gespreek het wat `n getuienis was van die liefde in en uit God; kon ons vleeslike wese niks begryp van al dit wat goddelik en van die gees van die liefde is nie.

[9] Daar dit egter nou gesê word vanuit die gees van die liefde volgens JaHWeH se heilige raadsbesluit, moes dit gesê word ter verheerliking van die allergewyde Naam. Deur ons kortsigtigheid begryp ons dit immers nie; maar daar is Eén, wat dit begryp en hierdie Een is die ewige liefde van die Heer; uit Haar het alles wat bestaan voortgekom en dus ook ons liefde tot Haar. En so voel ek dat iemand, indien hy sy liefde keer op keer as deel van sy wese sou laat deurstroom met die ewige liefde uit God en in God, dergelike woorde van wysheid sou begryp; want die liefde is die wortel van alle wysheid en daar is geen ander wysheid as slegs in die liefde tot die liefde in God nie.

[10] Vandaar, o vaders, het ons ons wortels uit God; laat ons, deur dit te doen, wortel skiet tot in alle dele van ons lewe en my ondervinding sê my luid en duidelik, dat ons uit die barmhartigheidsmeer van die ewige liefde nog baie meer en baie groot dinge aangebied sal word, wat nog groter, dieper en meer verhewe sal wees as dit wat Adam aan ons vertel het. Uit Adam en Eva is ons gebore: daarom het ons baie vlees, maar weinig begrip vanuit die hart. Maar as daar eens mense uit die rein liefde van God sou kan gebore word, sal ons verstandigheid vir hulle tot speelgoed word."

[11] En sien, hierdie kort leerryke woorde geval Set en Enos baie goed, selfs so, dat Enos homself tot Set wend en sê: "Vader Set, Henog het `n danige rede vol geheime betekenisse uitgespreek, dat dit vir my soos `n vuurstroom deur murg en been gaan en my hart huiwer van die geheime wysheid van die goddelike liefde in hom.

[12] Luister, vader, sy innerlike gevoel is waar, omdat daaruit sy gehele wese in die suiwerste liefde en vol deemoed spreek; daarom sal hy voortaan vir elkeen `n leraar in die geheime wysheid van die ewige liefde wees vir al ons broeders en kinders. Want ofskoon die Heer elkeen die liefde en die begrip van die hart as suiwer geskenk uit Homself gee, is dit andersyds tog ook oorduidelik dat nie elkeen van ons `n ewe groot las kan dra nie en die een het meer krag in sy voete, die ander in sy hande, `n ander in sy bors, `n ander in sy rug en weer `n ander in sy innerlike organe en die een in dit en die ander in dat. Ook het weliswaar elkeen `n menslike gesig en tog sien nie een net so daaruit soos die ander nie. En daarmee bedoel ek dan ook: Henog het groot mag en krag in sy hart en niemand sal daarin na hom lyk nie; want mense kan nie soveel liefde hê as wat mens wil nie, maar soveel as wat die Heer hom geskenk het. Aan elkeen het Hy weliswaar liefde gegee, maar wat dit betref is hulle nie almal gelyk nie; daarom moet ook die insig verskil, sodat die een broeder die ander nodig sal hê, waardeur alles dan weer in ewewig gebring word, wat die Heer so vol wysheid verskillend laat ontstaan het.

[13] En jy, Henog, wat nou my woorde wel goed sou begryp het, sê my eers, is dit nie so nie, of kan of moet of mag dit anders wees? Jou hart is sterk en jou verstand stel myne ver in die skadu; daarom spreek en leer ons die korrekte weg van die Heer en toon ons almal Sy onbegryplike stappe en leer ons hoe die regverdige, allergewyde Naam van die Heer na behore geloof en geprys moet word, soos dit homself betaam vir ons kinders van Sy ewige liefde en daardeur kinders van ons ou vader! Amen."

[14] En sien, toe die vrome Henog sulke waardige en verhewe woorde uit die mond van Enos verneem het, vra hy beide vaders: "Is dit vir `n swak kind eintlik wel gepas om vir diegene te preek van wie hy nog so baie te leer het?"

[15] Maar Set en Enos gaan daarteen in en sê: "Beste Henog, weet jy dan nie wat Adam ons dikwels geleer het nie?! Die vaders het slegs met die seën van die Heer in die liggame van hulle kinders wonings vir ons jonger broeders verwek; maar omdat ons verwekkers van die liggaam is en nie eweneens van die liefde nie, wat `n lewende gees vanuit die liefde van God is, is ons in die liefde immers niks anders as suiwer broeders en susters onder mekaar nie en is sodoende baie meer kinders van een en dieselfde allergewyde Vader in die hemele van die hoogte, wat `n ewige woonplek is van die gewydheid van God, wat `n ware Vader van ons almal is. Predik daarom maar verder vanuit jou liefde en wees daarvan verseker: Ons sal met die barmhartigheid van God die tong van die broeder en die van die kind goed onderskei; want indien iemand die liefde predik, spreek hy as `n broeder uit die hart van die ewige Liefde en sy woord sal wees soos `n opgaande son, waarvan die lig met haar warmte die newels uit die donker vore van die aarde verjaag. Diegene wat egter slegs sou predik vanuit die aan hom verleende wysheid, sy leer sou soos die lig van die middagson wees, waarvan die lig nie meer verwarm nie, maar slegs geweldig en onverdraaglik brand en mens vir die uiterste fel strale graag sou wil vlug na die diepste skaduwee uit vrees vir sulke brandende strale!

[16] Maar jy, Henog, het `n groot bron van liefde en nie van die naakte wysheid in jou; laat daarom jou goddelike môreson oor ons, jou broeders in God, opgaan!"

[17] En Henog antwoord: "Liewe vaders, as dit so is, terwyl my gevoel vanuit God dit ook vir my sê dat dit so is, dan het julle heeltemal korrek gespreek; maar één ding het julle vergeet en dit is van groot belang en lui as volg: Elkeen kan ter ere van God spreek en handel soos hyself wens; maar in Sy Naam mag slegs diegene predik wat dit van bo gegee word. Vir my is dit egter deur julle gegee, maar nog nie van bo nie; daarom predik ek slegs vir julle. Maar as dit my ook van bo gegee word, eers dan kan en mag ek vir alle broeders oor die groot krag van die Naam van die ewige Liefde preek. Maar wat die betaamlikheid van die prys van die groot Naam betref, weet julle liewe vaders immers tog al welke prys en welke lof die Heer die aangenaamste is en julle weet ook, dat woorde of gebare of gedagtes of sekere seremoniële gebruike so goed as niks voorstel en dat slegs liefde en gehoorsaamheid die mees welgevallige offer is wat ons mense in staat is om aan Hom te bring! Hy, wat ons aller God en Vader is, weet presies wat Hy met ons wil doen; laat daarom altyd Sy heilige Wil geskied! Amen."

[18] "Ja," sê Set, "liewe Henog, ook hierdie toespraak was vol van wysheid vanuit die oneindige liefde van die Heer en lyk soos `n mooi môre, wat in jou opgaan en ons rimpels sag verlig. Sien, Henog, alle waarheid is `n lig wat uitgaan van die sagte vlam van die ewige Liefde en die allermooiste, heerlikste lig is die ware oggendson van die hart; ja, dit is die enigste lig en buite die lig is daar geen lig en selfs die lig van die son is slegs `n swak weerkaatsing van die heerlike, enige lig van die ewige Liefde. Sien, die lig skyn so sag in jou hart; dit verkwik ons altyd en verwarm ons harte met groot gedagtes, wat die heilige Vader waardig is. Ja, as jy spreek, kom dit vir my voor asof ek geluide hoor uit `n wêreld wat eens vir ons verre nakomelinge soos `n groot stroom van lig uit die ewige môre van God sal opgaan; - sien, so verkwik jy ons harte deur die stem van jou hart. Swyg daarom nie, maar spreek en laat jou hart die vrye loop neem en toon ons wat ek en Enos wens!"

[19] En toe Henog dit hoor, kyk hy op na die hemel en spreek as volg saggies in sy hart tot My: "Heilige Vader, sien barmhartig neer op my, U swak kind! Sien, ek sou moet gee, maar het niks anders as my liefde tot U nie! O Vader, sien, ons is almal stowwerige wurms voor U, U almagtige, ewige, heilige Vader! Daar is niks goeds aan ons as slegs ons liefde vir U, wat vooraf uit U in ons gekom het. Laat ons U deur hierdie liefde in ons, o goeie, heilige Vader, met al ons kragte buitensporig liefhê! Want hoe kan ek, swakkeling, spreek, as my liefde tot U altyd my tong verlam, - daarom kan ek ook, soos U weet, U nog loof nog prys, omdat die liefde tot U my tong verlam.

[20] O Vader, sien daarom barmhartig op my neer, `n stowwerige wurm, en maak my tong los, indien dit U heilige Wil is, sodat ek voor die aangesig van my vaders, broeders en kinders in staat kan wees om te spreek ter verheerliking van U Naam! U weet dat Enos, Kenan, Mahalaleël en my vader Jared altyd die groot heerlikheid van U allergewyde Naam gepredik het; o laat my daarom geen onwaardige seun van my vrome vaders wees nie!"

[21] En sien, toe Henog nou so `n stil gebed in sy liefhebbende hart gespreek het, wat `n waaragtige gebed was wat vir My slegs daarom al aangenaam was en ewig aangenaam sal bly, omdat dit `n opregte gebed was, laat Ek meteens `n engel na die aarde afdaal om daar sy broeder Henog te versterk en ek laat hom sy tong heeltemal losmaak. En nadat dit gebeur het, sien, toe skep Henog moed vir homself vanuit sy liefde en spreek as volg:

[22] "O liewe vaders en lieflinge van God, sien, die liefde tot God het my gedurende `n kort tydjie blind, doof en stom gemaak; die Heer het my in my liefde aangesien en Sy onmeetlike liefde het my versterk en my gebinde tong losgemaak. Sien, dit alles het die ewige Liefde nou net gedoen. Nou eers kan en mag ek spreek; verneem daarom die lofprysing tot die heilige Vader.

[23] Sien, die Heer, wat vol liefde is, wil dat die mens Hom uit al sy kragte liefhê; want daar bestaan nêrens anders `n mag of krag as slegs in God nie. En so is alle krag in die mens slegs `n krag van die liefde uit God en hierdie krag is ons in ons hart gelê, en hierdie krag is niks anders as die Liefde self nie. Omdat ons nou die liefde het, mag ons dit nie hou nie, maar haar aan Hom offer, wat haar vanuit Sy barmhartigheid op `n wonderbaarlike wyse so oorvloedig in ons hart gelê het.

[24] Sien, ons het niks wat ons aan die Heer sou kon gee, wat ons nie alreeds van Hom ontvang het nie en welke vreugde sou ons Hom verskaf, ook al sou ons in staat wees om Hom die hele aarde, ja die gehele wêreld te gee?! Hy sou vir ons sê: "Kinders, daar het Ek nimmer behoefte aan nie; want as Ek plesier sou wou hê in wêrelde, dan kon Ek daar op elke oomblik tallose miljarde vir Myself skep en Ek sou vir die ewigheid van die ewighede voldoende ruimte daarvoor hê. Maar Ek het geen vreugde aan julle offers nie, wat uit materie vir My gemaak is, wat `n huis van die dood is; Ek verheug My slegs oor `n boetvaardige, berouvolle hart wat My liefhet. Dit is geheel en al `n vrye geskenk van My; en dit is julle volledige eiendom. As julle wil, kan julle dit aan My teruggee en Ek sal daar intrek met My barmhartigheid, en julle sal dan ewig met die barmhartigheid in My ewige liefde lewe en alle dinge sal so helder word soos `n druppel water. As julle egter self in julle hart gaan woon en dan die deur vir My toegrendel, sodat Ek nie binne-in kan kom wanneer Ek dit wil nie, dan sal julle baie spoedig die lewensbrood wat in julle is, verteer het; en omdat Ek as enigste Gewer van die lewensbrood met My lewegewende gawe nie meer binnegelaat word nie, sal die ewige dood ook weldra die onvermydelike gevolg van die eieliefde en die selfsug in julle word!

[25] Want sien", sê die Heer verder, "Ek skep geen vreugde om te neem nie, maar My grootste saligheid bestaan heeltemal net daaruit om voortdurend te gee! Wie wil ontvang, laat hom altyd gewillig neem as Ek hom gee en laat sy hart homself vul met My barmhartigheid, sodat My volle liefde eendag haar intrek daar sal neem; want wie se hart nie heeltemal met My liefde vervul word nie, sal nooit die lewe in homself proe nie, maar die dood sal hom geheel en al gevange neem. Want nou is dit die tyd, dat Ek vooraf aan elkeen die barmhartigheid gee en dan eers, vanaf die groot tyd van die tye, die liefde uit My; maar daarna sal die liefde die eerste wees en diegene wat die liefde nie sal hê nie, sal geen deel hê aan die lig van die barmhartigheid nie, maar dan sal die lig van die wêreld hom tot in die afgrond veroordeel!"

[26] En sien, liewe vaders en begryp my woorde goed en luister goed na wat die Heer nog verder spreek, Sy woorde lui aldus: "Luister, kinders van My erbarming, My barmhartigheid is `n groot skat en daar is op aarde niks wat daarmee vergelyk nie. My barmhartigheid is `n goeie lig vanuit My heilige hoogte, soos die liefde `n goeie spys van die lewe is. Wie My barmhartigheid nie ontvang het nie, die kan nie glo dat Ek Hy is uit Wie die lewe ewig stroom nie; maar wie dit nie geglo het nie, is gelyk aan die diere en sal geoordeel word, waar hy gaan en staan. Maar as daar iemand sou wees wat My in sy liefde mag erken, oor hom sal strome van barmhartigheid uitgegiet word en so iemand het dan reeds vroeër `n aandeel aan dit, wat eens in die groot tyd van die tye die mense van die aarde, wat van goeie wil is, sal kry.

[27] Daarom glo, sodat julle eens tot liefde en daardeur tot lewe kan kom, en bemin My in julle gees en laat al die werke van julle hande en julle wil, getuig van die lewe in julle en laat julle tong julle sê dat julle kinders van God is. Ek sal die mense oordeel volgens hulle geloof; maar My kinders sal Ek egter in My liefde lei en die lig van My wysheid sal vir julle word tot `n ewige ligbaken van die mees salige lewe in My, julle liefdevolle, mees heilige Vader, nou en in alle ewighede van die ewighede! Amen."

[28] O liewe vaders, het julle dit gehoor, wat die Heer gespreek het?" En Set antwoord: "Ja, geliefde Henog, ons het dit baie goed gehoor; maar dit gaan met ons nie soveel beter as by die vertellinge van Adam nie, want ons almal het weliswaar die barmhartigheid, maar te min liefde!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205