Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die verklaring van Adam oor sy swakte

44 En toe Set dit hoor, begin sy oë oopgaan, net soos die oë van die ander; want hulle begryp nou almal goed wat Henog daarmee wou sê en hulle was tevrede daarmee, omdat hulle ingesien het dat Henog sulke dinge, wat vir hulle almal so geheel en al onbegryplik was, begryp het. En met `n eenvoudige hart prys en loof hulle My innig, omdat Ek vir hulle heil soveel wysheid aan `n mens verleen het en hulle dinge uit die hoogte en uit die diepte getoon het, en omdat Ek vir die geestelike welsyn van diegene, wat My met ware liefde soek, die verborge sal onthul.

[2] (N.B. Baie en groter dinge is nou ook al aan julle gegee; maar daar het nog niemand eg in sy hart na My toe gekom om My te loof en in ware liefde te prys en om homself bomatig te verheug oor die groot en nou so ryklik neerstromende barmhartigheid nie. En niemand hunker heimlik na die inwyding van die kneg, wat `n werktuig van My barmhartigheid moet wees, vir nouliks meer loon as om My in ware liefde te dien nie, soos wat elkeen van julle sou moes doen. Ek het ten aanskoue van die wêreld vir julle slegs één tot dwaas gewek, sodat julle tot groot eer verhewe sou mag word voor die engele en hierdie een is My swak, arme kneg (J.Lorber). Hy is `n dwaas, wat vroegtydig van die platteland na julle toe gekom het en hy het `n lang tyd onder julle verkeer en niemand het gewaargeword dat hy `n dwaas vir die wêreld is nie. Maar die dwaas soek My en Ek het My deur hom laat vind en het hom voor julle oë opgewek, sodat hy `n lasdier vir julle sou word en nuwe brood uit die hemele vir julle sou bring. Dit is waaragtige brood, omdat dit liefde gee en liefde eis. Maar as die lasdier homself op Sion op `n moeilike weg bevind, gaan dan na hom toe en neem gretig die brood uit sy mandjie; maar julle bekommer julle weinig oor sy voete, terwyl hy merendeels, ter wille van julle, tot aan die enkels in die taai leem vassit! Ek sê egter vir julle, indien die brood en die water van die lewe vir julle goed smaak, laat die goedmoedige lasdier dan nie in die steek nie! Laat diegene wat daartoe in staat is, sy voete uit die drek bevry, sonder dat die wêreld dit merk; want anders sal, met verloop van tyd, as hy by julle sal bly, sy voete uit angs so swak word, dat hy nouliks in staat sal wees om die brood vir julle te dra, tensy Ekself hom daarvan sal bevry, maar dan sal Ek hom ook lei waarheen Ek wil. Ek sal hom dan egter nooit by julle laat nie; want Ek het weliswaar nog baie kinders, maar daar is weiniges onder hulle wat homself as dwaas sou laat gebruik. Want dit is beter en gemakliker om van die brood te eet wanneer dit reeds voorberei is; maar dit is moeiliker om homself uit liefde teen `n geringe loon as lasdier voor die ploeg te laat span. Bedink dit goed en loof en prys My deur gehoorsaam te wees! Wie van julle iets daaraan sal doen, sal nooit `n stuiwer verloor nie en dit sal vir hom ter gelegener tyd tydelik en ewig vergoed word; maar die kneg sal aan diegene wat dit sou wil doen, sê waarin sy voete vassit. Amen.)

[3] Nadat almal My een uur lank geloof en geprys het, staan Set weer op, laat die ander ook opstaan en sê vir hulle: "Kinders, ons Henog het met die sigbare barmhartigheid van bo swaar laste van ons gekwelde harte gedra en dit met krag in `n onpeilbare diepte van verrukking en saligheid geslinger; God, ons allergewyde, beste Vader, Hom daarvoor ewig geloof en geprys! Maar omdat ter wille van ons so-iets aan Henog gegee was, as gevolg van sy uitmuntende deemoed voor God en vir die broeders - en wat hy ontvang het, het hy ons almal, sonder om iets weg te laat, getrou weergegee - as ons dan nou met `n vrolike gemoed God, ons heilige Vader, loof en prys, dan glo ek dat ons derhalwe nie vir Henog in ons liefde en vreugde moet vergeet nie! Want omdat hy `n liefling van God geword het, sou hy dan ook nie dit vir ons wees nie?!

[4] Ofskoon ons goed weet dat dit wat hy alles vir ons sê, van bo kom, glo ek tog, terwyl ons agting moet hê vir die plek, wat ons aller vader Adam en moeder Eva nou inneem, dat dit nog meer gepas sou wees, om die mond waardeur God Self tot ons harte gespreek het, nie buite beskouing te laat nie.

[5] O kinders, laat ons tog Henog in ons middel opneem en hom nie meer die maer aarde laat bewerk nie, omdat sy vir hom `n harde hap oplewer, maar omdat God, ons allergewyde Vader, hom in Sy oneindige liefde barmhartig tot bewerker van ons aan liefdeskortende harte gemaak het, laat ons dan vir hom die aarde bewerk deur ons baie ander seuns en dogters, wat weliswaar almal kragtige ledemate, maar daarteenoor des te swakker harte het.

[6] Jy, liewe Henog, moet dan ook gewillig en dankbaar aanneem wat jou vadere jou uit groot dankbaarheid, lof en prysing tot God sou wil gee, sodat jy altyd tyd sal hê om volgens die heilige Wil van God al ons harte ywerig te bewerk.

[7] En nou kinders, volg my na my woning en laat ons in die Naam van ons heilige Vader die inwendige mens met spys en drank versterk en miskien wil ons liewe Henog ons dan weer iets vertel oor die liefde. Amen."

[8] En toe Set dit vir sy kinders aanbeveel het, gaan hulle dadelik na Set se woning, wat in die nabyheid van Adam se woning opgesit was. En toe hulle daar aankom, buig almal voor die woning van Adam en toe eers voor die woning van Set en hulle besoek daarna vir `n kort rukkie die aartsvader en aartsmoeder en laat hulleself vir die maaltyd deur Adam seën, iets wat daagliks by die aanwesiges gebeur, maar vir hulle wat van ver kom, word `n meer algemene vry seën uitgespreek. Nadat hulle dit gedoen het en hulleself vol eerbied en warm van dankbaarheid wou verwyder, sien, toe sê Adam ontroerd met `n reeds erg trillende, hartroerende stem:

[9] "Liewe kinders en jy, my geliefde Abel-Set! Ek, julle vader Adam, het julle nou geseën en julle gaan heen om julle ledemate met spys en drank te versterk, en dat julle dit doen is immers tereg en wel gedoen; maar sien, ek is al baie oud en het swak geword, net soos moeder Eva, en ek kan nie meer werk nie. Al my ledemate weier diens; julle weet dat ek nog altyd gewerk het en nie wou gehad het dat iemand vir my moet werk nie, ten einde daarmee aan elkeen `n goeie voorbeeld te gee.

[10] Maar vandag gaan dit nie meer nie. Toe julle almal nie in staat was om te werk nie, het ek, julle vader gewerk, met die barmhartige hulp van ons groot, heilige Vader vir julle almal; maar nou is ek nie meer daartoe in staat nie!

[11] Kinders, ek het honger en dors; en as julle julleself versadig het, gedenk dan ook julle ou vader en moeder met `n klein versterkinkie en gee my ook ietwat te eet en te drink, en sorg voortaan vir ons! En wat julle vir ons, julle ouers, doen, doen dit uit liefde, sodat die deur julle aangereikte happie nie hard en bitter sal wees nie, maar dit vir julle oud en swak geworde ouers goed sal smaak; want julle sal hierdie klein las nie lank meer hoef te dra nie, omdat ek, julle swak vader, wat julle altyd seën, sekerlik nie lank meer in die midde van julle in hierdie woning sal woon nie, maar dit vir ewig sal verlaat en `n ander woning betrek, dieselfde waarin Abel ingetrek het. Sorg daarom met vreugde vir my, julle ou, swak vader en eweneens vir julle moeder, solank ons nog in julle midde verkeer; want na enkele jare, wat spoedig verstreke sal wees, sal julle treurend na hom soek, wat julle nou in sy onbeholpe swakte om spys en drank vra, - maar sy woning sal nooit êrens op die wye wêreld te vinde wees nie. Nou, liewe kinders, gaan in die naam van God, begelei deur my seën en versterk die inwendige mens; maar vergeet julle ou, swak, hongerige vader en eweneens ou, swak moeder nie! Amen."

[12] Toe hierdie opregte kinders die woorde van Adam hoor, word hulle gevoelige harte so geroer, dat almal hardop gaan ween en `n lang tyd nie in staat was om hulleself te herstel nie. Eindelik staan Set op en sê uitermate ontroerd:

[13] "Vader! Kinders! Solank die aarde draai en die hemel met sy sterre die maan en die son omspan, is daar deur die mond van `n mens nog nooit so `n heilige woord uitgespreek as wat ek, na Adam julle aller vader, nou sal uiter nie. Ek sê: Eerder sal alle sterre uit die hemel val en die son en die maan vir ewig hulle lig ontneem word; alle seë, mere en riviere tot op die laaste druppel verdroog en die hele aarde `n kaal klip word: Ja, dit alles sal eerder gebeur as dat die begeerte ooit by ons sal opkom om een hap in die mond te steek, aleer ons vader Adam en ons moeder Eva op elke oomblik van die dag toereikend versadig is nie!

[14] O vader en moeder, julle weet immers tog van vroeër hoe baie ek my altyd verheug het, wanneer julle in die dae, toe julle nog kragtig was, iets van my wou aanneem; maar hoeveel groter is my vreugde noudat julle ons versorging nodig het, sodat die barmhartige geleentheid homself tog nog aan my voordoen om met die allergrootste liefde ook maar die aller geringste deel van my oorgrote skuld te delg en, o vader en moeder, aan julle die kleinste deel van julle groot weldade af te laat! O vader en moeder, neem dit barmhartig op en bly seënend onder ons tot aan die einde van die tye!

[15] En julle, Enos en Kenan, roep hulle na my woning en kry dadelik die beste spyse en versterkende drank uit en sê vir my vrou Jeha, julle moeder, dat haar vader Adam en haar moeder Eva honger en dors het en bring haar hier, sodat ook sy kan belowe wat ek in die aangesig van God so pas gewyd gesweer het! Gaan nou en kom dadelik terug! Amen. Amen. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205