Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 31

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die landverhuising onder leiding van Meduhed

31 En sien, voor hulle uiteen gaan, nadat hulle op hulle geboortegrond aangekom het, rig Meduhed `n kort woordjie tot hulle en sê: "Broeders, luister baie goed na my; want wat ek julle nou sal sê, is van die grootste belang. Julle het die man op die vooruitstekende punt van die rotswand in die hoë gebergte gesien en die donderende klank van sy kragtige stem gehoor en ten slotte ook nog bemerk dat `n groot lig hom omhul het, sodat ons van angs gehuiwer het en daarna ons voete so deur groot vrees voortgeskry het, dat ons oor heinings en stegies gespring het en ons hier op ons welbekende geboortegrond aangekom het.

[2] Julle het hom aan ons welbekende duisendvoudige hiëna hoor vermeld; julle het ook sy waarskuwing gehoor oor die sewe-en-sewentigvoudige wraakneming en het ten slotte ook almal sy ongehoorde strafrede oor die vuursuile verneem.

[3] Oordeel nou self wat daar in sulke omstandighede te doen is. Laat ons hom in die lewe, dan sal hy spoedig met ons almal dieselfde doen wat hy sonder skroom met sy broers gedoen het; maar laat ons `n geregtelike wraak oor hom kom, dan word ons van bo gewreek met vuur, sewe-en-sewentig keer. Dus het ons nou tussen hamer en aambeeld te staan gekom; of ons nou die een of die ander doen, daar wag vir ons altyd `n gewisse dood. - My raad lui nou as volg:

[4] Om die skrikwekkende geheim – as`t ware `n doodsgeheim - te begrawe diep binne-in ons, neem ons dan ons vroue en kinders en verlaat vervolgens in die middel van die nag in alle stilte die gruwelike land en trek in die rigting van die môre, (die ooste) waar ons al dikwels `n lae gebergte gesien het en trek daaroor heen; dan sal dit wel blyk of daar êrens nog `n land sonder hierdie misdadigheid bestaan. En ook al sou dit aan die einde van die wêreld lê, dan glo ek nog dat dit beter is om daar rustig te lewe en op `n hoë leeftyd in te slaap, as om hier in voortdurende onrus - óf die aarde met ons eie bloed te deurdrenk óf om tot as verbrand te word.

[5] Want die reus op die rots het ook gespreek: "Let nie op Hanoch nie, maar op julleself en op God, wat `n getroue Redder is van diegene wat altyd na Hom opsien, sowel in vreugde asook in nood!" En die laaste het by ons nou sekerlik sy hoogtepunt bereik.

[6] Daarom, broeders, in wie soos by my, die geregtigheid brand, vertrou op die God waaroor die groot man op die berg kragtig vir ons getuig het en laat ons dit eerder vandag nog as môre doen, omdat dit anders miskien wel eens te laat sou kon wees; skep daarom moed, vertrou op God en die môre sal ons eers in die verre gebergte die son begroet. Staan op en gaan haal julle families en al julle besittings, soos vrugte en diere en in drieduisend oomblikke kry ons mekaar weer hier, goed voorsien van knuppels, Amen!”

[7] En sien, Amen, spreek die skare ook en in twee uur was alles gereed vir die reis, dit was omstreeks die tweede uur na middernag. En toe Meduhed nou al die vaders getel het en sien dat hulle voltallig was, dank hy God en vlug aan die spits van die groot volgende menigte, wat uit tienduisend manlike en twintigduisend vroulike persone en uit eweveel kamele en groot esels bestaan het.

[8] En toe die son opkom, het hulle alreeds die verre laaggebergte bereik, wat stellig nie sonder My besondere hulp sou kon gebeur het nie, omdat die gebergte hemelsbreed dertig uur deurgaans verwyderd gelê het.

[9] Hier bewei hulle twee uur lank hulle diere, rus uit en eet van die meegeneemde vrugte en dank God op bevel van Meduhed vir die wonderbaarlike redding. Maar Meduhed gaan, opgewek deur sy gees en begelei deur tien man, verder en val voor die aangesig van sy tien begeleiers op die aarde neer, ontsteek in liefde tot God en sien in die lig van sy liefde baie boosheid in sy hart. Hy begin daarop te huil en te weeklaag van berou oor sy groot skuld.

[10] En toe Ek sien dat hy dit ernstig met My bedoel; skryf Ek in duidelik leesbare vurige letters die volgende woorde in sy hart: "Meduhed, staan op in die aangesig van My groot barmhartigheid! - Jy is gered met al diegene wat, deur julle liefdevolle sorg in beweging gesit, julle tot hier gevolg het. Maar hier kan en mag julle nie lank vertoef nie, nog minder bly, - soos julle sien loop die smal dal in die rigting van die mere en die klein stroompie stroom eweneens daarheen, loop jy daarom ook met die skare sewentig dae lank in die rigting vorentoe en as julle dan by `n onoorsienbare groot water sal kom, rus dan sewentig dae lank daar uit. En kom dan weer na My toe in julle harte, soos vandag, dan sal Ek julle die weg wys hoe julle oor die water moet gaan om in `n ver, groot land te kom, waar julle sonder bloedvergieting veilig sal wees teen die wreedheid van Lameg, die broedermoordenaar. En indien julle honger mag kry, eet dan van alle vrugte wat julle onderweg in groot hoeveelhede sal aantref en drink die goeie water van die stroom, wat tot aan die groot water julle wegwyser sal wees en gedenk julle almal soos vandag, julle groot, bo alle wesens verhewe God en gedenk dat Ek `n volk op aarde het, waarvoor Ek `n heilige, liefdevolle Vader is!

[11] En bedink, dat toe hierdie aarde soos `n doudruppel uit My groot Vaderhart en pragtige son as traan van erbarming uit My alsiende oog gevloei het, toe was julle ook nog My kinders! Trag daarom om soos `n klein skare deur liefde te word wat julle eens was, nog voor die aarde `n ontugtige geslag gedra het en sedert die groot son gebrand het uit My barmhartigheid! - Maar nou moet julle op die weg gaan en verder trek in My Naam! Amen."

[12] En sien, Meduhed spreek hierdie woorde hardop uit teenoor die groot menigte en hy was diep ontroer en die skare met hom, en vinnig staan hulle op en handel presies volgens My geopenbaarde wil.

[13] En sien nou, toe Meduhed na `n reis van sewentig dae aangekom het by die oewer van die groot water op aarde, wat reeds aan hom genoem was, wat julle vandag die "Stille Oseaan" noem, en dit aan die kuste geelagtig maar deels ook op die dieper plekke, oor breë bane heeltemal blou oplig deur die vermenging van die kleure van die bodem, van die ryklike voorhande synde kopersout en wat homself daarin die brekende strale van die son weerkaats; slaan hy met sy skare `n kamp op in `n streek wat oorvloedig belaai was met goeie vrugte, presies op die plek waar Ek hulle wou hê.

[14] En omdat Meduhed - en ook almal wat hom gevolg het - sien dat Ek `n goeie Gids was, buig hy voor die skare sy hoof diep vooroor na die aarde en dank My uit die grond van sy hart, en uit die menigte het almal tog min of meer sy goeie voorbeeld gevolg, waaraan Ek `n welbehae gehad het.

[15] En sien, toe Meduhed nou sy danksegging voleindig het, in sy hart diep geroer deur My groot barmhartigheid, en hy opstaan en die met dank vervulde menigte oorsien wat nog lê, begin hy te ween van vreugde oor My groot erbarming, wat soveel lewens gered het en aan hulle, wat reeds so lank in groot, harde slawerny geleef het, die goue vryheid teruggegee het in so `n ryke en veilige rusplek wat onder My hoë beskerming gestaan het.

[16] En toe die menigte spoedig daarna versterk en ook baie opgewek weer opgestaan het, bestyg Meduhed `n klein heuweltjie, ongeveer sewe klafters hoog of nog noukeuriger, sewe manshoogte bo die wye vlakte en hou van daar af `n uitvoerige en lang toespraak, wat hom in sy hart van bo gegee was. En hy voeg nie één woord daaraan toe nie, nog laat hy één woord weg en was sodoende `n egte prediker in My Naam vir die lig en liefde behoewende skare. Die woorde van sy uitvoerige en lang rede lui soos volg:

[17] "Broeders, kyk na my en luister met oop ore en harte na die woorde wat ek nou op innerlike bevel van God sal spreek en julle moet geduldig luister, want dit is van groot belang!

[18] Luister: God, die Allerhoogste, het ons op wonderbaarlike wyse uit die moorddadige hande van Lameg bevry en het ons behou en hiernatoe gelei tot aan die einde van die wêreld, want julle almal sien die einde van die aarde en die begin van die groot waters. Kyk na die mooi en heerlike land, wat as`t ware vanuit die hoë hemele op aarde neergedaal het en dit sou seker `n groot vreugde vir elkeen van ons wees om vir goed hier te kan en te mag woon. Maar die wil van bo, vanaf die hoogtes van God, lui nie so nie; ons mag slegs sewentig dae hier bly, want in hierdie tyd sal `n wreedaardige leër van Lameg, met Tatahar aan die hoof, goed weet waar om ons te vind. En wee diegene wat in sy wrede hande sal val; hy sal hom verskeur soos wat `n tier `n lam verskeur!

[19] Daarom het die Heer in Sy barmhartigheid my `n plek getoon waarheen ons sal gaan. Daar sal ons gereedskap vind gelyk aan wat al gegee is aan Sy groot kinders wat op die groot hoogtes van die aarde woon, sodat ons tewens daardeur sal besef dat Hy ook ónse Vader wil wees en sal word, as ons bereid sal wees om ons gewillig te onderwerp aan Sy uitermatige groot liefde, wat tot hiertoe so voortreflik vir ons gesorg het, soos ooit ook maar die beste vaderhart vir sy kinders sou kan sorg, selfs al sou ons van alles in die allergrootste oorvloed besit het.

[20] Daar sal ons die gereedskap neem en dit gebruik om lang bome te vel, wat van die bas en alle takke ontdoen is en hulle dan aan vier sye bewerk, sodat hulle so glad word soos `n rustige watervlakte. En daar moet tienduisend stamme van die mooiste en die beste kwaliteit, wat maar min blare het, goed verwerk word. Elkeen van die so goed verwerkte stamme moet tien manslengtes lank en één breed wees; dan moet dertig stamme eers deur middel van spykers, wat ook in groot hoeveelhede by die gereedskap aangetref sal word, vas aanmekaar verbind word. En as so `n bodem dan voltooi sal wees, dan moet aan die sykante drie stamme in die lengterigting bo mekaar bevestig word en in die breedte steeds twee bo-op mekaar; en dan moet die binnekant met hars en pik van die struike, wat intussen deur die vroue en die kinders in groot hoeveelhede versamel moet word, goed verdig word.

[21] En hierdie nuwe strukture moet ons langs die oewer oprig, en op die laaste dag moet ons orals `n groot, van groen loof voorsiene tak op elke hoek van die struktuur bevestig, as teken van die behaalde oorwinning deur die groot barmhartigheid van bo. Wat daar verder nog te doen staan, daarop wag ons tot op die laaste dag, volgens die groot belofte wat tot my gekom het toe ons ons oë nog in groot vrees en angs op Hanoch se oordeel gehou het; en dit doen ons met almal as broeders verenig, omdat ons geen vors het nie, aan wie ons die ten hemel skreiende skatting moet afdra. Afgesien van ons groot God, wat `n Heer is van alle mag en krag, ewig oneindig, en wat ook `n magtige en regverdige Heer is oor alle meesters, waar hulle hulleself nou en in alle toekomstige tye van die tye ook onregmatig op die hele aarde mag bevind, as daders van gruwelike dade en moorde op hulle broeders. Onse God, wat `n Vader vir ons wil wees, is ons liefde en onvoorwaardelike gehoorsaamheid verskuldig; wie homself daarteen sou wil verset, sal nie deur sy broeders met roede en knuppels getugtig word nie, maar God Self sal hom straf deur Sy barmhartigheid van hom te weerhou.

[22] Nou weet julle eerstehands alles wat daar op die oomblik nodig is; kom daarom bymekaar, verkwik julle met spys en drank, dank die Heer en begin dan vinnig met julle opgedrae, groot werk. Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205