Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 36

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die Herinnering aan Adam se ongehoorsaamheid en die Barmhartigheid van God

36 En sien, toe die wolf nou - let wel, `n wolf sê Ek, - op wonderbaarlike wyse sy rede vol wysheid vanuit My voltooi het, spring hy vrolik na buite en daar staan opeens `n groot beer asof uit die hemel geval, soos julle plegtig te sê het, voor die in hulleself gekeerde, berouvolle geselskap en hy kyk hulle met `n verwarde, rustelose blik aan asof hy daarmee wil aangee dat hulle gemoed net soos sy blik nog verward en rusteloos was. Hierdeur word hulle gemoedstoestand goed gekenmerk. Die beer open eindelik ook sy bek en begin volgens My wil vir hulle te spreek met ernstige en waardige, baie versterkende woorde. Hy sê naamlik:

[2] "Wat is God, wat is julle en wie is ek? Nadat God, die Ewige, Heilige, Almagtige, vanuit Homself hierdie sigbare, onein­dige wêreld met al sy sonne, aardeplanete, mane, seë, berge, dale en groot vlaktes deur middel van Sy almagtige, lewende woord gemaak het en daar op allerlei soort gewasse, soos gras, kruie, struike en bome volgens Sy wyse ordening die een na die ander geskep het en ietwat later eweneens in dieselfde ordening, geleidelik aan elke denkbare soort diere, en Hy gesien het dat dit alles in ooreenstemming met Sy gewydheid goed was, spreek Sy Liefde in Homself tot God in die middel van Sy oneindige, almagtige gewydheid:

[3] Alles is nou goed voorberei; laat Ons daarom ook die mens maak van die fynste leem van die aarde, as `n volkome uit My volgens My liefde en eweneens volgens My barmhartigheid; sodat Ons geken en geloof sal mag word deur `n selfstandige lewe buite Ons; en sodat alle skepsele eendag in en deur hierdie mens verlos mag word om daardeur weer tot die vrye bewussyn van hulle doelmatige bestaan uit My te kan raak!"

[4] En sien, wat besluit was, word ook dadelik volledig uitgevoer. Nou staan daar na enkele oomblikke die vrye ewige mens in al sy heerlike majesteit, toegerus met alle oneindige volmaaktheid, voortreflike eienskappe en nog groter vermoëns om nog oneindiger volkomenhede van gelykwording met sy oer heilige oorsprong te bereik, en wel om die ewebeeld te word van sy groot God vanuit en in alle geestelike sfere van wyding.

[5] Hy het die mag om met die hele skepping te spreek en daar was geen son so hoog of so ver weg, wat sy kragtigste, vraende stem nie kon verstaan het nie; ook sou selfs die allerhoogste engelgees dit nie gewaag het om die groot vraer en spreker `n antwoord skuldig te bly nie.

[6] En God, wat Self sigbaar was vir Sy liefling, spreek met hom soos `n broeder tot die ander en sê: "Kyk My aan, My geliefde Adam! (Want hierdie eerste mens het nou nog so geheet.) Nie om jou te toets nie, maar om jou volkome vry te maak en jou gevolglik aan My `n gelyke mag te gee en één met My te word, gee Ek jou slegs vir `n baie kort tydjie `n gemaklike, kort gebod; hieraan moet jy jou gedurende die hele tyd hou, tot Ek spoedig na jou sal terugkeer. As jy dit getrou gehou het, dan sal Ek by jou bly en dan sal jy saam met My, asof ons één is, alles besit.

[7] Alles moet hulleself volgens jou mag voeg; maar sien daar op geringe afstand `n boom staan, belaai met mooi vrugte; dit het Ek om `n baie wyse rede nog nie geseën nie! Daarom mag jy intussen nie van die soet sap van die appels proe nie; want op die dag, dat jy daarvan sal eet vóór My terugkeer en seën, sal jy sondig, jouself ten gronde rig en swak, kragteloos, blind, doof en sterflik maak! O, My geliefde Adam, oordink goed die woorde van jou liefdevolle Skepper en bederf nie My reeds sover gevorderde, groot werk van My Liefde en Wysheid nie!

[8] Want nou hang dit nie meer van My en van My almag af nie, maar enkel en alleen van jou, kragtens die deur My aan jou nadruklike verleende vryheid van wil.

[9] Jy kan nou behoudend bly of ten gronde gaan! Hou jou daarom aan die gemaklike gebod en word dan `n tweede elohim uit My en in My!"

[10] En sien, nouliks sewemaal wissel die dag homself af met sy begeleidster, wat sonder lig is, of tot sy eie groot skade vergeet ook hierdie eerste, deur God so hoog geplaaste en heeltemal vrygestelde mens willens en wetens vir God, omdat hy deur die wellustige, verderflike aanskouing van sy tweede ek, swak, doof en blind geword het. En hy word uit boosaardigheid ongehoorsaam aan so `n gemaklike en deur die allerhoogste liefde gegewe gebod van sy mees goeie en heilige Skepper.

[11] Daarop ontbrand die Ewige, die Heilige, in toorn en verwoes die hele sigbare skepping voor die aangesig van die berouvolle boosdoener. Ook nie één klip die grootte van `n appel het gespaar gebly nie en ook geen dier, wat ook reeds duisende jare voor die ondankbare mens gekom het en vervul van dankbaarheid oor die nog skraal vlaktes van die aarde geloop het. Toe gaan alles heeltemal ten gronde in die oneindige see van die goddelike toornvuur.

[12] Voor God was niks meer gewyd nie; skuldig of onskuldig, dit was vir die groot toorn om`t ewe. Bo en in alle oneindige ruimtes roep Sy donderende, magtige stem op verskriklike wyse al die geskapenes ewige vernietiging toe. Die wêrelde begin te bewe, maak hulleself los van hulle fondamente en die brokstukke vlieg huilend en bitter weeklaend voor die vertoornde aangesig van God weg van die een oneindigheid na die ander.

[13] Maar nou gebeur daar iets, wat geen engel in alle ewigheid ooit sal kan begryp nie: terwyl Hy, die Heilige, in Sy toorn met Sy regterhand alles vernietig vanweë die heiligskennis deur die sonde van die groot boosdoener, beskerm tegelykertyd Sy eweneens heilige linkerhand die wenende sondaar! En slegs een klein traantjie van die sondaar val in die so meedoënloos van toorn, gloeiende oog van God en sien, alle toorn het verdwyn, en reeds lag `n nuwe skepping in en uit alle eindelose ruimtes die ongehoorsame mens toe, en op die aarde en op alle wêrelde was daar weer `n vrolike gewemel van tallose skepsele ten dienste van die ongehoorsame mens.

[14] Soos hy voor die sonde was, bly hy daarna nog byna dertig jaar lank begenadig in sy onbepaalbare mag en krag; hy val weer, omdat hy in `n roes van wellus hoogmoediglik sy liefdevolle Skepper vergeet het. Die Skepper dryf hom (dit wil sê: hom op Sy hande draend) die paradys uit, terwyl op `n ander plek die woestyn moes opbloei onder die voetstap van die groot sondaar.

[15] Die broedermoordenaar Kain straf Hy met `n uitermatige vrugbare stuk land, omdat hy geween het oor sy wandaad, en Hy bevry hom bowendien nog uit die kloue van sy seun Hanoch en skenk hom die see en al die land daarin; dieselfde tref Meduhed en sy groot volk; en nou openbaar Sy oneindige liefde homself weer opnuut aan julle en Hy het Sy hart nie eers afgesluit vir die baie groot misdadiger Lameg nie!

[16] O, sien julle onwaardige mense, welke oneindige liefde God vir julle het en ondanks al julle onuitspreeklike sondes nog altyd het!

[17] Luister hoe Sy stem deur my Sy barmhartigheid aan julle verkondig! Kyk, daar in die rigting van die middag lê `n groot, goed voorbereide land vir julle gereed; sien, hoe Hy julle aan Sy groot, liefdevolle hart onsigbaar beskerm teen ons geregverdigde toorn!

[18] En luister, straks, as ek die aan my opgedraagde toespraak aan julle sal voltooi het en julle wenend sal neerkniel voor Sy liefde, sal Hy julle deur `n engel sigbaar opneem en saggies in die mooi, reeds aangeduide land begelei.

[19] O mense, dink daaroor na wat God is, wat julle is en kan en moet wees deur Sy oneindige liefde; maar dink daar in julle deur God verleende barmhartigheid ook oor na, wie en wat ons arme veragte diere is en omvat dan onbaatsugtig alle skepsele net soos Hy met Sy liefde wat nie slegs julle en ons Skepper is nie, maar ook `n ware Vader wil wees en dit eintlik al baie lank is en was. Nog voordat die wêreld en ons gemaak was - en bedink: Ook ons stom en spraaklose wesens het vreugde aan die lewe. Laat daarom in julle liefde uit God eens op die groot dag wat kom, ook ons `n nuwe lig aanskou van die vrye lewe uit God, waarin al die geskapenes sal lewe en ewig sal bestaan!

[20] Kniel nou neer voor God, julle heilige Vader, en ween berouvolle trane van ware liefde; laat julle dan lofprysend optel deur die sagte hand van die almagtige Skepper, wat nou ook julle liefdevolle Vader is, en julle deur Sy seënende regterhand na die aangeduide land gelei word en word daar tot `n volk. Hoe dit moet gebeur, sal Sy eie, heilige mond julle nog uitgebreid leer via die lippe van `n groot broederengel! Amen."

[21] En sien, toe die beer nou sy rede beëindig het, verdwyn hy vinnig uit die gesig en op dieselfde oomblik staan daar `n engel in sy plek, geklee in `n verligtende gewaad en hierdie engel was die vroom Abel, wat eintlik al onsigbaar deur die siel van die diere gespreek het. (Dit is eintlik altyd die geval, dat, so dikwels bepaalde voorwerpe uit die natuur deur die mond van `n siener of profeet gaan spreek, daar `n engel die dinge in die siel van die siener en profeet spreek en dit dan met ooreenkomstige natuurlike woorde dit self opskryf of, wat makliker is, dadelik in bondige taal uitspreek. Uiteraard begryp slegs die siener en profeet dit, daarom is die een moeiliker en die ander makliker, dit is die rede dat selfs die apostels al, net soos alle vroeëre sieners en profete, meer gespreek as opgeskryf het.)

[22] Dus toe hierdie veertien mense van beide geslagte die engel duidelik kon waarneem, begin hy uit My op sagte wyse die woord tot hulle te rig en hy sê, en dit is getrou en waar:

[23] "Kinders van Kain, van my broer wat in die mag van die bose was, wat nog leef en in sy liggaam sal voortlewe deur alle periodes van die bestaan van die aarde heen tot aan die einde van alle tye, onbereikbaar vir alle sterflinge tot aan die spoedige einde van alle boosheid, wanneer die Almagtige, na die groot tyd van die tye, deur `n klein siener aan die verre nakomelinge groot dinge sal verkondig en uitvoerig gewag sal maak van julle slegte stamvader (wat werklik gebeur en al gebeur het). Oordink goed, wat ek julle hier sal sê en bekendmaak volgens die allergewyde Wil van God, van die almagtige, ewige Skepper, wat eweneens die mees liefdevolle Vader is van alle engele en vaders en mense! Julle het die baie kosbare woorde verneem uit die bekke van die verskeurende diere wat God deur middel van my gekalmeer het en in staat gestel het om te spreek voor julle, wat meer verdorwe was as al hierdie diere deur die groot boosaardigheid van die slang van Hanoch en nou vernaamlik deur Lameg, wat `n groot bedrywer van gruweldade geword het. Die hele skepping het nou `n vreeslike afsku van hom en op sy skouers rus reeds oordele van God, soos wêrelde so swaar, en hulle hou noulettend die byna heeltemal gevulde beker van wandade bo die sterre in die oog.

[24] Omdat julle dus die jongstes was en dit nog is, en teen julle ietwat beter neiging in, julle noodgedwonge moes aansluit by die slangleër van Tatahar, het die onmeetlike liefde van God homself oor julle ontferm en het julle eers die oneindige misdadigheid van Lameg, die godloënaar, in sy hoogste hovaardige heerssug geleer ken. Toe lei Hy julle op wonderbaarlike wyse in `n kort tydjie hierheen oor `n so lang afstand, wat, as `n mens met normale snelheid sou loop, nouliks in honderd-en-twintig dae afgelê sou kon word. Hy het julle vantevore gered uit die dodelike kloue van die wilde diere, waarin die godvergete Tatahar sy regverdige oordeel gevind het en toon julle toe deur die dood, die dood van julleself. Ek is reeds sedert lankal geheel en al lewend, en die liefde van God het my nou na julle toe gestuur om julle uit die slaap van die dood te wek en om julle die lewe in deemoed en in onafgebroke vrywillige gehoorsaamheid aan die allergewyde Wil van God te toon en om julle na `n land te lei, wat die ewige liefde van God goed vir julle voorberei het. En as julle julleself in alle deemoed in die liefde tot Hom heeltemal sal leer ken het, dan eers sal julle deur die daarmee gepaardgaande barmhartigheid, ook die ware, heilige, groot waarde van die lewe in julleself erken en eers daardeur ook die allergewyde en die allergrootste in die ewige liefde van die heilige, almagtige Skepper van alle dinge en mees liefdevolle Vader van alle engele en mense, nie net van hierdie aarde nie, maar van nog tallose ander wêrelde, waarvan julle tot nou toe nog nooit ook maar enige vermoedes gehad het nie; want om dit te weet is slegs aan die kinders en die engele van God gegee.

[25] Maar eens sal wêrelde hulleself buig voor hierdie aarde, omdat haar lig groter sal word as die van alle hemele, want eens sal God se gewydheid alle volkere verlig wat van goeie wil sal wees. En as julle getrou sal bly in deemoed en in vrywillige gehoorsaamheid jeens die allergewyde wil van die ewige, groot Vader, sal die lig ook tot julle deurdring en julle geheel en al lewend maak; maar indien julle jul ooit bo die ander sou verhef, sal die mees heldere en allergewyde lig, uitgaande van die diepste innerlike van God, slegs tot julle kom as `n lig van die mees ver verwyderde ster van die skepping, tydens die donkerste nag op aarde.

[26] Sien, die nakomelinge van Hanoch sal vanweë hulle hoogmoed spoedig met hulle hoofde tot aan die uitspansel reik en as duistere, bose misdadigers met hulle snode, blinde en dowe koppigheid, daarheen stoot presies op die plek waar die groot houer, wat al byna heeltemal vol is met allerlei soorte gruweldade, baie wankelrig staan. Die groot houer sal dan, gevul met sonde en die verskriklikste oordeel van God, op die aarde neerstort; dan sal alle bedrywers van die bose in die modderstrome van hoerery en misdaad verdrink en verstik en hulle sal `n baie groot aantal van die kinders van God saamsleep, omdat hulle hulleself in hulle hart deur die dogters van die slang gevange sal laat neem en met hulle die skandelikste hoerery sal bedryf en kinders verwek van die toorn en van die vloek van God, wat kinders van die hel en suigelinge van die draak genoem sal word en daar sal nie meer as agt mense gespaar word nie.

[27] Voordat dit alles ewenwel sal gebeur, sal die Heer driehonderd jaar lank leraars en profete laat kom, wat hulle sal waarsku teen Sy oordele en boetedoening, sal predik ter vergewing van hulle sondes en volledige verandering van hulle dodelike skynlewe in die duisternis van die hel. Hulle sal die weg van die ware lewe uit God se oneindige barmhartige liefde en barmhartigheid aan hulle toon en hulle sal hulle op wonderbaarlike wyse, selfs tot in klein dingetjies, die aard van die komende groot oordeel van God laat sien.

[28] Dan sal dit gebeur dat die bose gebroedsel die leraars en profete sal gryp en hulle deels doodmaak en die ander deel met hulle slangarms sal omslinger en hulle saamtrek in die poel van hulle hoerery en hulle sal bederwe en hulle gees doodmaak en hulle bowendien nog tot moordenaars van hulle eie kinders maak. (N.B. Soos nou by julle in julle, vir My buitengewone welgevallige vindingryke tye!)

[29] Dan sal God die laaste leraar, genaamd Mahal, `n broer van die enigste opregte seun, wat Noag sal heet, dit beteken "die opregte seun"; op eie versoek nog die gruwellikste stede besoek en daar preek. Met hom sal dit sleg gaan en hy sal self tot kwaad verval, God ten slotte verlaat en in die poel ten gronde gaan.

[30] Dan eers sal die genoemde houer, vol van sonde en oordeel, breek en belaai met alle denkbare vervloekinge op die aarde geslinger word en dit vanuit haar sentrum op alle bose plekke laat ontbrand. Slegs ter wille van die weinige regverdiges sal die barmhartige liefde van God dan die geweldige sluise van die hemel open en hoogopgaande vloedgolwe selfs oor die hoogste berge laat stroom om die hellevuur te kalmeer en om die kinders te behou en te reinig, en die aarde self, om volgens die wil van God `n beter geslag te dra.

[31] Julle sal ewenwel nóg deur vuur nóg deur die vloed geteister word, indien julle, in deemoedige gehoorsaamheid, die wil van God wat nou aan julle geopenbaar is, in ag sal neem. Dit lui vol liefde as volg:

[32] Laat julle eerste gedagte aan God, Sy wil, Sy liefde en barmhartigheid wees; en as die dag homself in die van sterre flonkerende arms van die nag sal begewe en as die laaste straal van God se mooi son sag sal wegsterwe bo die wydse vlaktes van die aarde, dan moet julle jul met hierdie ondersoekende verligtende gedagtes van julle onsterflike gees in die geseënde rus van julle liggaam begewe.

[33] Julle moet julle geen sorge maak oor die voeding van die liggaam nie; want waar die Heer `n land op aarde geseën het, daar hoef die bewoners nooit honger te ly nie, solank hulle strewe daarop gerig sal wees om slegs die heilige, alle seënende wil van die ewige, groot Vader steeds voor oë hê en in die hart te hou. Want die mense is geskape, sodat hulle God en Sy heilige Wil sal erken, en daarvolgens sal lewe en in woord en daad die allergewyde Naam van die groot, ewige God loof en prys!

[34] En as julle dit in alle deemoed en vrywillige gehoorsaamheid uit die suiwerste, onbaatsugtige liefde vir God sal doen, sal Hy ook altyd bereid wees om julle Sy heilige Wil vol barmhartigheid mee te deel, deels indirek deur die sprekende natuur, maar deels ook regstreeks deur Sy eie lewende woord, wat helder sal klink in julle harte.

[35] As julle gedurende `n beproewing deur `n skynbare genoegdoening ook maar een dag lank nalaat om dit te doen, sal die hart wat God kon vergeet het, eers met opregte droefheid beswaar word en dit sal sewe dae lank stom wees soos `n dooie boom. En net soos die bodem van die aarde onder die voetstap van die volgsame, die edelste vrugte sal laat uitloop, laat dra, rypword en dit tot aan sy mond bring, net so sal die aarde ook onder die voetstap van die ongehoorsame tot `n woesteny word en niks anders dra as stof, klippe, dorings en distels en giftige bessies nie.

[36] Want die oneindige Liefde en Wysheid van God gee elkeen syne. Die vrome, volgsame kinders gee Hy brood, heuning, melk, soet vrugte vir liggaam en gees, maar aan die ongehoorsame, hoogmoedige gebroedsel van die slang gee Hy klippe, stof, dorings en distels en giftige bessies vir gees en liggaam, sodat die bose gebroedsel sal verderwe en waar moontlik, die dooie gees behou sal word om langsamerhand weer lewend te word in die oneindige barmhartige liefde van die enige, groot, ewige, allergewyde Vader van alles wat is.

[37] Sien, julle is almal gelyk; sowel manne as vroue. Julle vroue moet egter julle skaamdele, asook julle hele liggaam goed bedek en vernaamlik julle hoof, sodat die man nie deur julle wellustige aard tot ontug geprikkel sal word nie. Soos die vry geslag van die voëls deur die groot, geheime begeerte van die verleidelike oë van die slang in die dodelike gevangenskap van haar giftige kake gelok word; want julle vroue is die naaste kinders van die slang en is vol van haar gif. Wees daarom voor alles netso ingetoë soos die byekoningin, wat dit nie waag om haarself aan die son bloot te stel nie, maar vol sorg dag en nag oor die selle van haar onskuldige kinders kruip; julle moet ook so wees en julle manne in alles gehoorsaam, vir sover die allergewyde Wil van God dit vereis. Maar as `n man - waaroor nie gespreek hoef te word nie - julle teen die allergewyde Wil van God tot iets sou wil indwing, moet dit ook aan julle toegestaan wees, om julle hoofde vir die man te ontbloot en hom op `n liefderike wyse aan sy van God uitgaande pligte te herinner. En as julle dit almal so noukeurig sal uitvoer, sal die Heer julle met groot barmhartigheid oorlaai en julle sal ewig en onsterflik in oneindige skoonheid `n ware lus vir die oog van die ewige, heilige Vader wees.

[38] Aan julle manne word geen ander wet gegee as die mees heilige Wil van die allerhoogste God nie, wat homself altyd aan julle sal openbaar; maar vir wie van julle hier ooit in sy hart geen ag daarop sou slaan nie, sal die heilige mond van God en ook die van die natuur homself geleidelik afsluit. Dan sal aan hom, omdat hy homself van God af na buite gekeer het, ook `n uiterlike wet gegee word, wat hom tot slaaf van die sonde en kneg van die hel sal maak, as hy nie terstond sy hart sal oopbreek, dit in deemoedige gehoorsaamheid sal reinig en dit dan weer smekend en lank biddend in vrees en liefde voor God sal bring nie; sodat Hy dit weer sou wou seën en wy met Sy allergewyde Wil. -(N.B. Dit moet vir julle ook `n goeie aanwysing wees hoe en waarom julle na die wedergeboorte moet strewe!)

[39] Staan nou op en trek hierdie klere aan - wat deur die kinders van God vir julle gemaak is, - hierdie vir die manne en die vir die vroue, - sodat julle jul hiermee ook in die drag van die kleding volgens die geslag sedelik, kuis en fatsoenlik kan onderskei. Bly ver van alle prag en hoogmoed; die kleed moet julle slegs bedek en julle liggaam in koel nagte teen die koue beskerm en julle geestelik na God voer in die warmte van die ewige liefde, sagmoedigheid en gehoorsaamheid.

[40] En hier moet ook elkeen van julle `n blinddoek neem en voor sy oë laat bind, sodat niemand duiselig sal word deur die afgronde waaroor ek julle sal lei nie; en as ons onsself op die bestemde plek bevind, moet julle die lig van julle oë weer die vrye loop laat neem en daar verheug julle nuwe verblyfplek aanskou, kosbaar ingerig deur die baie groot liefde van die mees goeie en heilige Vader. Daar sal julle jul met die geseënde kos van die aarde verkwik en uit die hande eet van twee reeds wagtende groot kinders van God, wat julle aldaar sal vind, `n man en `n vrou, ter ewige versterking van die lewe van julle gees. Volg my nou volgens die allergewyde Wil van God! Amen."

[41] En sien, so lei My geliefde Abel hulle sewe dae en nagte lank vinnig na die bestemde plek oor `n meer as dertig dae lange trajek en dit sonder rus en sonder voedsel; want gedurende die tyd was hulle My gaste en vlieg, - soos julle sal sê, - die gebraaide voëls in die mond, dit wil sê: Ek voed hulle intussen geestelik; die gees versterk egter die siel en die siel maak die liggaam kragtig; en sodoende kon hulle dit met My ware hemelse kos baie goed tot aan die einde uithou.

[42] En toe hulle dan heeltemal behoue op die bestemde plek aangekom het, verskyn beide die wagtende kinders van God, of kinders van My liefde meteens, Ahujel en sy vrou Aza ("seun van die hemel" en sy vrou as "stilswyend regverdige verlange"). Hulle was kleinkinders van die kinders van Adam, vóór Set en hulle neem die blinddoeke van die oë af en verwelkom hulle op die allervriendelikste manier. Die veertien kleintjies verbaas hulleself geweldig oor die twee groot kinders van My liefde, wat die korrekte grootte vir `n mens het, naamlik ses-honderd-ses-en-sestig duim vir die man en ses-en-sestig duim minder vir die vrou, terwyl die grootte van die gereddenes nouliks sestig duim was.

[43] En noudat hulle weer heeltemal oor die gebruik van hulle oë en ore kon beskik, begin die engel weer te spreek en sê: "Kinders, hier is die plek van julle bestemming en beskou beide hierdie groot kinders van God as julle deur God gegewe ouers en volg hulle in alles; want dit is die wil van God, wat ek in my eerste toespraak vir julle moes verswyg!

[44] Hulle sal altyd bevestigend sê wat God in julle harte sal spreek en hulle sal julle steeds wakker skud as julle gees deur slaap oorweldig mag word, en hulle sal julle baie nuttige dinge leer, sowel liggaamlik as geestelik, waar julle baie baat by sal vind. En julle sal mekaar geslagtelik nie vooraf beken, totdat hulle, wat nou julle ouers is, julle volgens die heilige Wil van God sal seën nie. En as julle dan ook geseënd is, hou julle dan ver van alle hoerery, maar laat die kuisheid soos `n maagdepalm op julle voorhoofde pryk en laat tweedrag, woede, afguns, gierigheid en ontug nooit die heilige verwekking van julle kinders ontwy nie, maar matigheid in alles en die liefde tot God bo alles sal julle stelreël wees. As julle dit sal doen, sal julle liggaamlike lewe lank duur en julle afskeid van die aarde sal julle lei in die groot lig van die oneindige barmhartigheid van die ewige, heilige Vader, waar julle dan op die ware loon wag van `n ewige lewe in die breë skoot van die heilige, liefdevolle Vader in die hoë hemel, ver verby die sterre en eendag, ag eendag, in Sy liefdevolle hart self sal vertoef.

[45] Dog daaroor sal julle ouers julle van naderby inlig. Hulle is goed deur God onderrig en het my lesse, wat aan julle gegee is, nie nodig nie! – God se liefde seën julle en mag Sy barmhartigheid julle verlig en wy en julle tot die lewe voer! Amen. Amen. Amen."

[46] En sien, dit was die stigting van Sina of Sjina (China), welke land teen die sondvloed gespaar gebly het en oor die geheel geneem tot vandag toe nog baie kere beter is as ander lande op aarde, op enige dwase verslegtende toestande na, wat eers later by die aanraking met ander mense van die slegte wêreld daar ingevoer is. Laat `n nie-wedergeborene dit nooit waag om My evangelie daar te predik nie! Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205