|
Die Huishouding van God - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 50
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187. |
|
|
Henog se oggendoordenking
50 Toe Henog die hardop uitgespreekte oggendgebed beëindig het, staan Adam baie verheug op en loof en prys My Naam en dank My innig vir die gawe van die gehoor, wat geskik is om so-iets heerliks te hoor en vir die lig van die oë, wat so baie geskik is om die groot wonderwerke van My erbarming te aanskou en vir `n stem, wat in staat is om baie besonne woorde van lof te uiter en al die meer as onbegryplike en oneindige verhewenheid van die groot, heilige God, soveel as vir die klein menslike hart maar moontlik te begryp is, nader te bring. En so bedank hy My vir al die orige sintuie; want hy het baie goed ingesien dat die gawe en die voortdurende instandhouding daarvan `n baie groot weldaad uit die vrygewige hand van My liefde is.
[2] En toe hy hierdie herhaalde oordenking van sy lofprysing en dank, wat hy andersins ook daagliks verrig het, beëindig het, wend hy homself nogmaals tot Henog, wat dit intussen ook in stilte in sy hart gedoen het en sê:
[3] "Henog, jy, uitverkore tong van God se ewige liefde, sien, ek het jou "Abel" genoem; maar ek het aan jou `n onreg begaan en was ondankbaar teenoor God! Want kyk, Abel was weliswaar my eerste geseënde seun wat God my gegee het en hy was gevolglik `n liefling van my hart en `n getroue werktuig in God se hand; aan my gegee om my te red. Maar jou het die Heer nou op my latere leeftyd soos `n versterkende salf na my toe gestuur, sodat die wond in my hart, deur Kain geslaan, in my laaste jare geheel sou kon word. Want as jy nou slegs Abel se siel en gees gehul in Henog se liggaam sou wees, dan sou jy wees wat Abel was en sou julle gelyk gewees het aan my liewe Set, wat die Heer vir my in die plek van Abel gegee het; maar jou het die Heer vanuit Sy liefde opgewek en Hy het hierdie liefde in Jared se saad gelê, sodat julle `n rein vrug van liefde sou word om daarna al julle vaders en broeders die sagte weg van die liefde te wys, en ook om aan te toon dat die liefde meer is as al ons wysheid wat tot `n val kan kom, terwyl die liefde weet om berge en rotse uit die slyk van die see te maak.
[4] O Henog, my liewe Henog, kom hier aan my vaderbors en laat ek jou liefhê en jou oorvloedig seën, sodat jou seën toereikend sal wees tot aan die einde van alle tye! Want jy het nou my reeds baie verharde hart met balsem oorgiet, sodat dit nou weer so week begin word het soos dit eens was, toe die Heer vir die eerste maal my liewe helpster na my toe gelei het; en in my gedagtes ontvou `n roosstruik met baie takke en ek sien boaan `n knop - o Henog, `n knop! - en hierdie nog geslote knop skitter sterker as die son op die middaguur! Maar nie verder daaroor nie; kyk, dit alles het jy nou bewerkstellig!
[5] Daarom is jy nóg Abel nóg Set, maar jy is `n rein lewe van die liefde uit God deur Jared se saad en jy het `n eie lewe, wat die dood nooit sal onderkry nie. Deel daarom aan almal uit van jou oorvloed, sodat hulle ook sal erken dat nie die wysheid nie, maar slegs die liefde die ware ewige lewe uit God is; want nou eers sien ek self in, dat ek slegs in die liefde in ewigheid nie te vernietig sal wees nie. Want al ons wysheid sal en moet voor God tot niet gemaak word; maar die liefde, die klein liefde sal eens grootgemaak word deur God, omdat Hyself suiwer liefde is.
[6] O Henog, as die son sal opgaan, help my dan op die goeie weg en spreek, Amen."
[7] En toe Adam dit uitgespreek het, druk hy Henog nog een maal aan sy vaderbors, seën hom nog een keer en dra hom toe op om te gaan sien of Set en sy kinders nog in hulle hutte slaap, en ook om na te gaan hoe die stand van die sterre was en of die son reeds haar opgang nader en hoe dit daar in die dale uitsien, of hulle newelig of sonder newel was en uit welke rigting die wind kom, of die hemel heeltemal helder of met klein wolkies bedek was en of daar baie dou op die gras lê.
[8] En as hy dit alles goed in homself opgeneem het, moet hy weer terugkeer en hom teen die tyd van die glorieryke opgang van die oggendson getrou oor alles inlig.
[9] En sien, Henog dank Adam eerbiedig en gaan doen dadelik wat Adam hom opgedra het.
[10] Dit was volgens julle tydsberekening na vier, toe Henog uit Adam se heilige woning tree. En toe hy aldus buite kom, sien, toe beskou hy sy hart en dink in stilte:
[11] "O U ewige, groot, heilige Vader, vol van die onbegryplikste, mees reine, allerhoogste liefde! Hoe klein is die heilige woning van Adam, ons aartsvader, tog nie ten opsigte van U onmeetlike bouwerk nie! Hoe klein en afgesonderd vonkel dit origens as wêrelde soos groot vurige sterre in U groot huis en tog is hulle oneindig in aantal en ook het die huis geen mure nie, maar almal swewe in U barmhartigheid en hang stewig aan U liefde, en daar is geen ander krag as die van U wat hulle langs die eindelose kringlope van ver bane kan lei nie.
[12] O, U heilige Vader, hoe groot, kragtig en goed is U en hoe heerlik moet U in U lig wees as U nag al so groot, mooi en heerlik is!
[13] O, U my goeie, heilige Vader, maak my noue bors wyer, sodat ek U met volle teue kan bemin; want alles wat my oog nou sien, is te mooi en te oorweldigend! Hoe heerlik rys die toppe van die hoë seders omhoog in die vrye, flou skemering, in sag bewegende lug en beweeg hulle takke en lote asof hulle die sterre lieflik toewink! Dan kom daar weer `n asemtog van U: Hulle bemerk U heilige nabyheid en buig terstond hulle omhoog gehewe hoofde na die aarde. Maar spoedig verhef hulle hulleself opnuut, aangetrokke deur die groot, allergewyde mag van U liefde en jubel ruisend in die vrye hoogte vir U `n onnaspeurbare, diepsinnige lof toe. O, hoe groot en verhewe moet die lofuiting wees, dat ek nie eens in staat is om te vermoed wat se heilige offer deur U geskape natuur aan U, die verhewe Skepper, gebring word nie! Onophoudelik loof die aarde U, die gras, die plante, struike, kruie en al die mooi sterre; slegs die mens kan te midde van sulke heilige offers slaap!
[14] U, O bowenal goeie, heilige Vader, ek wil nooit ophou om U te loof nie; en elke bewegende stoffie sal my daartoe aanspoor, dat ek nooit sal nalaat om U steeds meer te loof nie!
[15] Want U het my immers `n hart gevul met liefde en vroomheid gegee, en daarom wil ek dan ook altyd bly wees oor U so oneindige groot goedheid en altyd hardop jubel voor U, my God, dat U so vol liefde en barmhartigheid is, ten opsigte van elkeen wat vreugde skep in U allergewyde Naam.
[16] O blyheid, blyheid, mooiste metgeselle van die liefde, hoe soet smaak jy vir die hart wat volgens die wil van die heilige Vader pols!
[17] O, hoe goed is dit om bly te wees, omdat die allergewyde Vader `n groot lofprysing, sowel van die oneindigheid as van `n doudruppel wat deur die sagte asemtog van die môreson verwaai word, vol barmhartigheid aanneem!
[18] O Vader! Sien barmhartig neer op my swak hart en erken die nietige stoffie van my loftuiting en laat my armsalige getjirp, wat miskien nog swakker is as die sagte gezoem van `n deur die nag bedwelmde onbeduidende muggie, onder die magtige weerklinkende dankliedere van U sonne!
[19] O U, my groot, heilige, mees liefdevolle Vader, Heer en God, neem my verwarde stameling barmhartig op en laat my nou die wil van aartsvader Adam getrou uitvoer! Amen."
|
|
|
|
|