In die Adamsgrot
56 Toe Henog sy kort toespraak uitgespreek het, sien, toe spring Set van vreugde op, omarm vir Henog en sê: "O vader Adam, hoe is die woord van die Liefde tog nie kort op die ligte pad van Haar Wysheid nie en tog so duidelik, kragtig, vol lewe en doeltreffend.
[2] As die trae verstand van die mens moeisaam alle sterre tel, al twyfelend en moeisaam die paaie van die winde naspeur, na die trek van die wolke staan en kyk, die slapende newels in die dale wil opskrik uit hulle seënryke rus, die doudruppels gewigtig laat ondersoek en die gras, die plante, die struike en alle bome haas dwaas en onsinnig sou vra hoe hulle moontlik gedurende die nag gerus het, om eindelik na al hierdie sinlose inligting `n eweneens onbelangrike oordeel te vel, waaruit mens dan aangaande die komende oes desnoods al raaiende en met halwe sekerheid meen om tot die gevolgtrekking te moet kom of dit goed, middelmatig of sleg sal uitval, en waarby dit alles bowendien altyd nog berus op `n langdurige oorleg, - dan is `n dergelike uitleg van Henog immers suiwer uit die hemel afkomstig en dit ontslaan ons van al die verdere heeltemal sinnelose en waardelose waarnemings, waaraan, volgens my insig, nou net so veel waarde geheg kan word as aan die tyd wat honderd jaar gelede reeds verstryk het sonder om `n spoor agter te laat.
[3] O liewe Henog, gaan voort om met die tekens van die lewe aan ons uit te lê en ek is daarvan oortuig, dat `n dergelike uitleg van die tekens oneindig maal nuttiger sal wees as wanneer ons in staat sou wees om tweegesprekke te voer met alle sterre, sonne en mane. Maar niks sou begryp van wat tog die oorsaak van al ons opwinding is en wat al ons gevoelens en ondervindinge ons sê nie, en op welke manier die ewige liefde Haarself byvoorbeeld in ons uiter en ons Haar herken, en deur Haar die ewige lewe in onsself.
[4] O kinders, dit staan oneindig baie hoër as al die oesvelde en vrugtebome, waarby ons, ondanks al ons waarnemings en verwagtinge gedurende die voorsabbat, tog nie in staat is om ook maar één appel of welke ander vrug dan ook voort te bring en waarby die Heer, ondanks al ons onnodige sorg, tog slegs dit doen wat ooreenkom met Sy Liefde, Wysheid en Gewydheid!
[5] O Henog, spreek en lê maar steeds uit, sodat ons onbuigsaam geworde hout en ons lote na die woorde van Kenan spoedig seënryke vrugte van die ewige, onverganklike lewe kan dra! Amen."
[6] En daarop verhef Adam homself en sê: "Amen, wees geseënd, my geliefde Abel-Set en laat veral Henog se lewende tong geseënd wees en laat al my kinders wat `n goeie en vroom hart het, geseënd wees!
[7] Maar laat ons nou gaan en al ons werkende kinders besoek en hulle die Sabbat wat môre te hou is, aankondig, en dit wat hulle dan verwag kan van die in so `n hoë mate geseënde tong van ons liewe, wyse en vrome Henog gehoor word!
[8] Mag die Heer al ons skredes teen ongemak behoed! Amen."
[9] Hierna staan almal op en met Eva aan die sy van Set en Adam naas Henog, tree hulle gemoedelik uit die woning. Die kinders buig almal voor die ou woonplek van hulle vader en laat hom toe om aan Henog se sy voor te loop; hierna volg Set met Eva en daarna ten slotte die res van die aanwesige kinders van die hoofstam.
[10] Toe hulle nou die rigting van die môre inslaan en reeds `n taamlike groot afstand afgelê het, kom hulle by `n grot aan, waaruit `n baie suiwer fontein vloei en hierdie grot was bekend onder die naam "Adamsrus" en die fontein onder die naam "Eva se tranespruit". Daar stop Adam altyd om uit te rus; en so word daar ook hierdie keer `n bespreking gehou.
[11] Die grot was baie ruim, so ruim selfs, dat daar maklik twintigduisend mense gehuisves kon word; maar die belangrikste van hierdie grot was die volgende seldsaamheid. Hy was naamlik ten eerste honderd manslengtes hoog en was eintlik meer as `n tonnel deur `n berg as `n egte grot. Die deurgang was daarom so besonder beroemd, omdat hy in die rigting van die môre uit `n groot groen en geel, kegelvormige bergkristal bestaan het. In die middel daarvan was `n hoog opspuitende fontein, waarin die lig van die son deur verskillende gekleurde kristalprismas in duisende kleurskakeringe weerkaats word.
[12] Hoewel die lig, alhoewel minder sterk, ook op verskeie ander punte deurdring en hierdie taamlike lang tonnel pragtig mooi verlig, was die reeds vermelde middelpunt, met die sproeiende fontein, egter tog die wonderlik bekoorlikste en heerlikste deel van hierdie deurgang, wat alles wat tot nou toe aan julle bekend is, hemelsbreed oortref.
[13] Sien, daarom was hierdie deurgaande grot `n lieflingsplek van Adam en dit was, uitgesonderd die kinders van die hoofstam, selde aan die ander toegestaan om deur hierdie grot te gaan, - ewenwel nie uit `n soort afguns nie, maar slegs uit vrees, dat `n lig ontvlambare gemoed tot die aanbidding van so `n wonderoord gevoer sou word.
[14] Toe hierdie hoofgroep nou hulleself in die middel van die grot bevind, waarom die breë, ronde goue waterbekke heen `n aantal goedgevormde, veelkleurige blokke van edel kristal gelê het, waarvan één "die goue vaderstoel" geheet het, gaan Adam `n rukkie sit en dus kon die res ook sy voorbeeld volg; slegs Henog het naas Adam bly staan.
[15] Toe Adam dit merk, sê hy vir hom: "Liewe Henog, waarom doen jy nie wat ek en die ander doen nie? Kyk, aan my regterkant is `n egte gerieflike blok van groen kristal; gaan sit daarop en rus saam met my en die res ietwat uit!"
[16] En Henog doen dadelik wat Adam wens, maar sê: "O vader Adam, kyk, omdat jy my toestaan om op die steen van Set uit te rus, kan ek dit wel doen, omdat jou woord hoër staan as die woord van al die orige vaders; maar indien ek sonder jou verlof daarop gaan sit het, sien, dan was ek baie vermetel gewees en sou ek dit sekerlik verdien het om deur Set en al die ander vaders met toornige blikke aangekyk te word! O liewe vaders, vergeef my dat ek dit durf doen; want ek wil steeds gehoorsaam handel ten opsigte van al die vaders en daar sal nooit iets deur my gedoen word, wat ooit tot gevolg sou kan hê dat ek nie julle liefde werd is nie! Amen."
[17 En Set staan op en sê, terwyl hy homself na Henog wend: "O my geliefde, alte deemoedige, beskeie Henog, weet jy dan nie dat jy alreeds die mooi middelpunt van ons liefde geword het nie? Kyk, kyk, jy sou seker vir jouself `n sitplek in my hoof kan maak; want in ons harte het jy dit reeds lankal gedoen, - en die hoof is nie voortrefliker as die hart nie!
[18] Daar ons jou reeds lankal ons liefde en ons lewe tot woonplek gee, waarom sou ons ons dan bekommer oor `n koue steen waarop jy gaan sit? Wees maar volkome gerusgestel daaroor! Maar sien, ek en sekerlik ook al die ander hou hulleself met iets anders besig: Kyk nou eens na hierdie heerlike plek! Liewe Henog, laat jou geseënde tong hier ongehinderd die vrye loop neem! Amen."
[19] Toe Adam en die origes hierdie vroom wens van Set gehoor het, sien, toe word Henog dadelik van alle kante bestorm om vanuit sy hart iets liefdevol en verhewe oor hierdie tonnel te sê.
[20] En die so sagaardige, gehoorsame Henog laat homself, net soos andersins, ook nie vir die tweede keer vra nie, maar staan dadelik op, buig voor die vaders en begin die hierna volgende gedenkwaardige woorde tot hulle te rig:
[21] "O liewe vaders, op hierdie rusplek van Adam word ek uitgenooi om te spreek, sonder om te weet wat ek eintlik sal sê en waaroor ek sal spreek! O liewe vaders, tot nou toe was dit nog altyd die gewoonte dat, indien iemand iets van die ander te wete wil kom, hy die draer van die geheim tog op sy minste met `n vraag lastig val, waardeur hy die ander te kenne gee dat hy nog van sy kant iets nie weet nie.
[22] Maar ek moet nou spreek sonder dat iets bepaald van my gevra word!
[23] Dit is so; want dan is my tong vry en kan dit uitspreek wat my oog in gloeiende tekens in my hart baie duidelik gegriffel sien staan! En hierdie tekens is lewende penstreke van die ewige liefde en wat haarself oor alles erbarmende barmhartigheid van die ewige, heilige Vader in my; en daarom wil ek nou eens van hieruit spreek en `n onsterflike gesprek voer vanuit my en julle God, vanuit my heilige Vader, wat vol is van liefde en vanuit julle heilige Vader, wat vol is van liefde, barmhartigheid en algehele erbarming!
[24] O liewe vaders, hierdie grot is `n getroue beeld van die menslike hart, soos dit homself aan God voorhou! Waarheen ons ons oë ookal rig, ons kan geen enkele punt ontdek waardeur geen skynsel kom nie, behalwe die bodem wat ons dra.
[25] Kyk net omhoog na die deur duisendkleurige liggies helder verligte top van die bergkristal; dan sien ons hoe heerlik korrek die mooi lig hierdie lewendige, hoog opspringende fontein wondermooi belig en tot lewe wek!
[26] Wie sou in staat wees om die prag te beskrywe wat duisendvoudig in `n oomblik verander en reeds die oog van die kyker verras omdat elke neervallende druppel soos `n ster lyk, wat stoutmoedig hemelwaarts streef en dan, as straf vir sy vermetelheid, nog nagloeiend weer teruggeslinger word.
[27] Ja, as ons ons oë na die môre keer, dan skyn uit die breë gang vir ons `n groen lig tegemoet; kyk ons in die rigting van waar ons gekom het, dan skyn uit die gang ons `n geel en ten slotte `n heeltemal bloedrooi lig ons tegemoet; en so verras steeds weer `n ander lig ons oog, waarheen ons ons ook maar wend!
[28] Wanneer ons dan versadig is van verwondering, sê ons deur die groot heerlikheid ten diepste geroer: "O grote God, wat `n verhewe skoonheid en `n bo alles uitstygende heerlikheid wat deur U gemaak is, Heer! Ons eerbiedig U werk en U seën ons daarvoor met `n suiwer salige genoegdoening, - want vir ons het U dit immers gemaak en daarom verheug ons ons daaroor in `n hoë mate en wil U vir altyd daarvoor loof, prys en dank dat U sulke heerlike dinge gemaak het vir ons, wat U in U groot erbarming waardig bevind om U kinders genoem te word."
[29] O liewe vaders, dat ons so-iets doen is korrek en redelik; maar indien ons slegs `n weinig in ons hart wil inkeer en daaraan vra of die groot Boumeester van hierdie verhewe dinge uit Sy oneindige Liefde en Wysheid, juis hierdie verhewe wonderlike dinge slegs tot vermaak van ons sinne gemaak het, of dat Hy daarin miskien ander dinge vir ons verborge hou, wat ons vervolgens moet soek en vind ter ware verheerliking van Sy heilige Naam, - o vaders, dit is `n ander vraag!
[30] Sien, slegs één son laat haar wit strale val oor die kam van die berg, wat uit edel bergkristal bestaan; maar wat se uitwerking het die een lig van die son nie in hierdie grot nie!
[31] O laat ons eens omhoog kyk! Wie sou die tallose vorms kan oorsien, wat by elke rustelose oogopslag reeds tot die oneindige verveelvoudig word, - en tog is dit alles die werking van een en dieselfde lig!
[32] O vaders, sien, die Heer het hier vir ons wel `n baie groot gedenkteken geplaas!
[33] Ons, in ons aardse bestaan, is hierdie grot, met `n ingang vanuit die aand en `n uitgang in die rigting van die ewige môre. In die middel is ons soos ons is in die volheid van die aardse lewe en gaan vanuit die aand as kinders die barmhartigheid en erbarming binne en sien niks anders as slegs maar die middelpunt van die lewe voor ons nie, sonder om te bedink dat hierdie lewensgrot nie gesluit is nie, maar dat daar wel deeglik vir ons almal `n teenoorliggende uitgang in die rigting van die môre oopgehou word.
[34] O liewe vaders, die lieflike vlammetjie van die ewige liefde is ook `n eenvoudige lig! Die gesigsvermoë van ons siel is hierdie verhewe top. Die fontein kom ooreen met ons gees, wat voortdurend omhoog streef na die lig, maar wat aanhoudend teruggewys word met die leerstelling:
[35] "Waarom streef jy, onmagtige, na omhoog?! Daar is geen weg voor jou nie, maar bly of keer terug in die goue bekke van jou deemoedige gehoorsame liefde! Bekyk jouself daar in die beproewende misleiding van die lig van jou siel en wees altyd bereid om die spruitjie in die rigting van die môre te volg; eers daar sal die magtige strale van die barmhartigheidson jou omvat en jou in die volste vryheid van jou lewe soos vurige wolkies daarheen optrek, vanwaar jy gekom het!"
[36] O liewe vaders! Omdat ons reeds vroeër in die woning oor die tekens nagedink het, kan ook hierdie uitleg daartoe gereken word! Amen."