|
Die Huishouding van God - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 38
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187. |
|
|
Die Familie van Lameg
38 Julle kan jul baie maklik voorstel, dat Hanoch en ook die orige tien stede deur dergelike geweldige landverhuisings in één jaar in `n hoë mate ontvolk was. Daarby het Lameg ook nog sy getroue aanhang verloor en het sy mag, wat hom so na aan die hart gelê het, so goed as van nul en gener waarde geword.
[2] As julle hierdie omstandighede nou voor oë sal hou, sal julle sonder baie moeite weldra maklik insien dat Lameg tydens sy regering, ten minste gedurende `n periode van dertig jaar, noodgedwonge `n toontjie laer moes sing, sodat die volk homself weer aan sy wil onderwerp en vir hom begin te werk, sodat hy en syne ten minste sorgloos soos `n vark en soos `n lui os sou kon swelg.
[3] Hy het twee vroue, naamlik Ada en Zilla (dit beteken: "die wel oorwoë deug in blymoedigheid" en "die stille oorgawe en verdraagsaamheid"). Ada het twee seuns gehad, naamlik Jabal (vader van die bewoners van die industriële gebied rondom die voet van die berg) en Jubal (musikant, uitvinder van die herdersfluit en die viool, `n instrument wat lyk soos die van julle, maar dit was gemaak uit één stuk hout, wat hy moeisaam met klippe, steek- en slypwerktuie vervaardig het).
[4] Maar Zilla het een seun, te wete Thubal-Kain, wat ook `n suster gehad het, Naëhme. Met My barmhartige toestemming word hy `n meester in die metaalbewerking en Naëhme tem wilde diere en verskaf daardeur haar broer en sy helpers toegang tot die ertsberge. Haar hele liggaam was buitengewoon mooi en sy het `n buitengewone deemoedige, maar ook `n moedige siel gehad en in haar oë het `n groot krag gelê, sodat onder haar blik harde klippe tot was geword het en die harde tande van die diere het geword soos die dons van `n duif.
[5] Sien, dat was Lameg se familie, wat, saam met enkele dienare wat by hom oorgebly het en sommige kamermeisies en waardelose byvroue, saam ongeveer dertig mense, almal baie hard moes werk om ietwat te ete te hê en die ontblote lyf te bedek. Soos reeds gesê, het dit goed dertig jaar geduur, totdat die volk, meer as gevolg van goeie uitvindinge en nie terwille van Lameg nie, weer na Hanoch begin te trek het om daar nuttige metaalware te koop, wat as`t ware op die basis van ruil gebeur het. Ook reis mense uit die tien ander stede daarheen om Jubal se musiek te hoor, wat hulle harte week maak en weer gunstig stem ten opsigte van Lameg; ook lok die groot skoonheid van Naëhme alle harte naby, - en hy wat Naëhme nie te sien kry nie, was beskou om ongelukkig te wees en hy het dae lank daaroor geween en gehuil.
[6] Sodat julle kan insien hoe so-iets moontlik kon wees, wil Ek vir julle `n klein beskrywing van haar gestalte hieraan toevoeg. Naëhme is te vergelyk met die figuur wat as die gemalin van `n smid en as godin van die skoonheid onder die besondere naam "Venus" in die gryse oudheid van die swarte heidendom skuilhou. Naas Sara en Rachel, het so `n mooi gestalte soos die van Naëhme, nooit meer in lewende lywe die aarde betree nie. Haar lengte was vyf voet, volgens julle maat. Haar hare was swarter as steenkool, haar voorhoof was wit soos vars gevalde sneeu en naby die oë sag rooi gekleur. Haar oë was groot en volkome hemelsblou, die pupil vurig swart, die ooglede fris en sag net soos die donker wenkbroue. Haar neus was reguit en het haarself verloor in die sagte, teer neusvleuels, waaronder die twee openinge met hulle sagte afgeronde vorm `n lieflike aanblik bied. Haar mond was die grootte van `n oog en haar sagte gewelfde lippe lê elke roos die swye op. Haar wange, van die mooiste, vrolik glimlaggende volkome gevorm, was soos deur die sagste en teerste roserooi, liggies getint en hulle kleur was soos `n met sneeu bedekte roos, waar die sneeu as`t ware die laaste liefdestraal van hierdie koningsblom sy glansende wit oppervlak `n syagtige glans verleen. Ook haar ken was van `n vorm waarvan daar geen tweede op aarde was nie. Haar hals was nóg te lank, nóg te kort, maar reg, glad en rond, sonder ook maar die geringste gebrek. Die begin van haar bors onderskei haarself slegs van haar hals deur `n tere, weelderige, vinnig rysende verheffing en was net soos die skouers en die nek in volmaakte korrekte verhouding. Haar boesem het meer daaruit gesien soos `n eteriese, teer wit lewegewende welwing, as iets vleeslik, aan wie verhewe weelderige sagte rondinge twee helder, jong rose skyn te ontluik. Haar arms was so vol, mollig en sag, dat julle julle daarvan ook nie die geringste voorstelling kan maak nie; want sulke arms kom slegs in die hemel voor. En naas hierdie fraai verhoudinge was haar hele liggaam ook oortrek met die eteriese sagtheid en teerheid van die glansende wit van die sneeu.
[7] Naëhme het nou die vrou van haar broer geword, wat by haar sewe seuns verwek, wat baie lomp en vormloos daaruit gesien het en wat baie ooreenkoms getoon het met julle sogenaamde trolle. Die oorsaak daarvan was, dat Naëhme haarself volgens die wil van haar vader moes laat gebruik; vanweë sy heerssug, te dikwels vir ontugtige doeleindes, want daardeur het al die mansvolk weer aan Lameg onderdanig geword. Alle oë was nou op Naëhme en alle ore op die hebsugtige bevele van Lameg gerig; want Naëhme het tot in haar tagtigste jaar `n voorwerp van menslike bewondering gebly, binne welke periode die bevolking weer baie gegroei het en Lameg op al sy wenke gedien het. Toe Lameg nou sien hoe magtig hy weer geword het, word hy ook steeds strenger en harder en voer op gruwelike wyse selfs die reeds vroeëre vermelde doodstraf in vir diegene wat weerspannig was.
[8] Op My bevel word, juis ten tye van Naëhme, die eerste goeie bode deur die kinders van Adam uit die berge na die diepte van Hanoch gestuur om My Naam aldaar te verkondig, en wel aan die hof van Lameg self. En sien, Lameg neem die bode goed op; die bode was `n nasaat van Adam, afstammend van die kindskinders van Adam via Set en het Hored ("die gedugte") geheet, hy was groot en wys en het nóg vrou, nóg kind besit. En toe Lameg nou volgens die lering van Hored in homself keer, bewys hy hierdie bode `n groot eer deur sy hele vroulike hof byeen te laat kom en die bode te versoek om vir homself die mooiste vrou uit te kies. En sien, toe laat Hored, teen My wil, sy blik val op die vrou van Thubal-Kain en sy moes op lewe en dood gehoorsaam aan die bevel van Lameg.
[9] Want ofskoon Naëhme destyds al byna tagtig jaar was, was sy nogtans so mooi, dat tot vandag toe `n agtienjarige, buitengewoon weelderige jong vrou vir haar in die nag sou moes wegkruip. Thubal-Kain was in elk geval van oudsher af, aan ontrou gewoond; daarom het hierdie voorval hom ook nie soseer ter harte geval nie en dit des te minder omdat Hored hom die versekering gegee het dat die wilde diere hom ten eerste nie meer sou kon bedreig nie, as gevolg van die wapens en sy metaalbekleding, en ten tweede sou hy hom verskeie sterk helpers besorg vanaf die berge, wat hom teen alles sou beskerm en hom die ware kuns sou toon om van die verwerking van metale tot allerlei nuttige voorwerpe te maak.
[10] Thubal-Kain was ook volkome tevrede daarmee en so was die saak op skandelike wyse gereël. Hored verlaat Hanoch en keer weer met sy vrou na die berge terug.
[11] Maar wat die hulpkragte betref, dit het by `n belofte gebly; want Hored het nie meer met sy vrou na sy mense teruggegaan nie, maar het `n eensame verblyfplek uitgesoek, om deur niemand beny te word vanweë sy geluk nie.
[12] Maar Thubal-Kain was deur die bedrog genoodsaak om sy halfbroer Jabal, `n seun van Ada, te oorreed om saam met hom te werk, om aan die voet van die berge werkplekke te bou, dit as bewaker van die smeltery te bewoon en as sodanig bekend te laat word.
[13] Hulle vestig op die wyse `n volledige metaalindustrie en maak honderde deels nuttige, deels ook fyn, sierlike, glansende voorwerpe, wat vir vrugte geruil kon word en gretig aftrek vind. Ja, uit byna alle stede, asook uit die orige streke van die groot land reis mense na die ystersmelterye, wat goed bekend gestaan het, en koop daar gebruiksvoorwerpe en ook luukse artikels. Baie het Thubal-Kain aangehang en laat hulle seuns by hom leer, waardeur die fabrieksbevolking in `n kort tydjie soveel aangroei, dat selfs Lameg daarvan bang geword het.
[14] Want hy dink by homself: "Wat wil ek hê, wat moet ek doen? Die misdaad wat ek teen my broers begaan het, druk soos `n swaar las op my bors. Die groot gedugte een uit die berge, wat my tweede skoonseun geword het, het my misdryf aan my voorgehou; en hy het my beveel om hierdie gruweldaad aan die volk bekend te maak. Maar as ek dit doen, is ek nie seker van my lewe nie; maar doen ek dit nie, dan het ek God en Sy groot kinders uit die berge teen my en hulle sal my, die ongehoorsame, vernietig."
[15] En sien, `n kragtigste stem spreek in sy bors: "Maak dit aan julle vroue bekend en sê vir hulle: Julle vroue van Lameg, luister na wat ek te sê het en neem goed kennis van wat ek sê: Ek het `n man doodgeslaan wat my `n wond oplewer het en ek het `n jongeling doodgeslaan wat my gekwes het; - Kain sal sewemaal gewreek word, maar Lameg sewe-en-sewentig maal!" (En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Zilla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan `n man dood wat my wond en `n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe-en-sewentig maal.)
[16] En sien, dit vind Lameg goed; hy doen dadelik wat die stem hom beveel het. Maar toe sy vroue dit verneem het, ontstel dit hulle so hewig, dat hulle van toe af stom bly en het dit daarom ook aan niemand meegedeel nie. Na enige tyd verlaat hulle hom heimlik en gaan na hulle seuns in die smelterye. Voordat hulle dit egter bereik het, word hulle deur twee bergbewoners tot stilstand gebring; hulle kry weer hulle spraak terug en word saamgeneem na die heilige hoogtes van die berge.
[17] Nouliks het hulle in die berge aangekom of hulle vra dadelik na Naëhme. Maar die leidsmanne deel hulle mee dat Hored uit ontrou en afguns uit hulle gesigskring verdwyn het en dat dit hulle nie gegee was om te sien waar hy homself soos `n wurm versteek het nie; en indien hulle hulleself deur hulle wil laat seën, sou hulle (die leidsmanne) hulle (die vroue) tot vrou neem. Want Ada was honderd-en-tien en Zilla slegs honderd jaar oud en beide was nog steeds van `n besondere skoonheid en sien daaruit asof hulle in die huidige tyd, indien goed versorg, eers in hulle vier-en-twintigste lewensjaar was.
[18] Daarop laat hulle hulleself seën en word hulle vroue en reis met hulle manne na die verblyfplek van Adam, wat al nege-honderd-en-twintig jaar oud was, om ook deur hom geseën te word.
[19] Toe Adam hulle in die oog kry, spreek hy met `n ontroerde stem: "Luister, seuns van die kinders van my kinders, ek ken my gehele nakomelingskap wat onder my seën leef volgens die seën van ewige liefde van Abel; maar hierdie twee vroue ken ek nie! Waar kom hulle vandaan?" En beide antwoord: "Hulle is Lameg se verstote vroue, wat deur sy onmenslikheid verdrywe was."
[20] En Adam sê: "Waaroor spreek julle? Ek ken die seun van Metusalag en hy is slegs eenhonderd-ses-en-twintig jaar oud en het nog nooit `n vrou leer ken nie!* Waaroor spreek julle? Vervloek is die leuen en die mond wat haar uitspreek, en die tong wat onwaarheid spreek in die aangesig van God! Daarom, by die vloek van Kain, van die moordenaar, spreek, - waar kom die vroue vandaan?" *(N.B. van 25 Junie 1841: "Hier dui die eenhonderd-ses-en-twintig jaar nie op die leeftyd nie, maar gee slegs `n toestand aan waarin die mens nog nie tot die korrekte verhouding gekom het nie, d.w.s. honderd vir God, tien vir die broeder en die naaste en één vir homself! As julle dus kan reken, reken dan en julle sal agterkom wanneer die mens geskik is om wedergebore te word. Lameg het nog geen vrou leer ken nie, omdat hy in die gees nog nie op die trap gestaan het, wat gestel is tot grondsteen van die ewige ordening nie. Ans. W. H. (Anselm W. Hütten-brenner) is eers honderdsewe-en-dertig jaar oud; - daar moet van die sewe en van die drie nog soveel afval. Amen. Dit sê Ek, julle Vader. Amen. Amen. Amen." -Metusalag was toentertyd tweehonderd-drie-en-dertig en Lameg ses-en-veertig jaar oud. Vgl. Hoofstuk110: vers 7! Die Hollandse uitgewer.)
[21] "Wees nie boos nie, vader Adam! Ook uit die skoot van Kain het in die vervloekte diepte `n Lameg ontstaan; hy het twee broers vermoor. In die vervloeking was hierdie vroue godvrugtig; daarom het die Heer ons gewek om die verlorenes te red. Wees nie boos nie, Vader, omdat ons volgens die Wil van bo handel, maar seën wat die Heer gered het!"
[22] En sien, Adam word ontroerd en sê: "Wat die Heer gered het; dit is al geseënd en dan sou my seën slegs `n vergryp wees, - maar gaan in vrede! Wat God behaag, hoe sou dit my kan mishaag?! - Bewaar daarom die skatte van die ewige liefde en erbarming! Amen."
|
|
|
|
|