Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 139

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Lameg se groot liefde vir Emmanuel

139 Na hierdie verklaring van Emmanuel dank, deur die grootste liefde gegryp, alle kinders tesame met die deur wroeging verteerde Adam, die Abba in Emmanuel en almal rig nou hulle blik op Hom en kon maar nie genoeg daarvan kry nie, hoewel Hy aan sy vorige Asmahael-gestalte geen haar verander het nie. En elkeen, selfs Henog nie uitgesonder nie, sê, vervul van groot vreugde by hulleself: "Daar is Hy dan, van Wie al so dikwels gesê was dat Hy God die ewige is, die oneindige magtige, die Skepper van hemel en aarde en alle dinge op haar en dat alleen Hy die ware Vader is van alle mense en vervul van die grootste liefde en erbarming vir hulle en oorvloeiend van die mooiste hoë, oneindige wysheid!

[2] As Hy dit wil, vergaan ons en alle dinge dan nie oombliklik nie, asof dit nooit daar was nie?!

[3] En hierdie almagtige God is nou in ons midde, die oneindige, die ewige God! So waaragtig is Emmanuel nou!"

[4] "Ja, ja," sê die jonge Lameg hardop aan Methusalag: "Hy is dit baie beslis; ek sou op die oomblik kan vergaan van liefde! Want Hy sien tog onbegryplik lief, mild, sag, goed en daarby tog so vol groot erns daaruit!

[5] O vader! As ek dit sou durf, dan sou ek nou voor Hom wil neerval en Hom dan uit louter liefde so teen my aandruk en Hom my hele lewe lank nie meer loslaat nie, dat ek daarna sou kan en wil sterf!

[6] Dink jy vader, dat as ek so-iets sou doen, dit dan `n sonde sou wees of op sy minste `n growwe onhebbelikheid?

[7] Ag, kyk hoe Hy Homself nou net met die een en dan weer met die ander so buitengewoon liefdevol onderhou! O hoe is Hy tog nie oneindig liefdevol nie!

[8] Nee, vader Methusalag, nou hou ek dit nie meer uit nie; ek moet, ek moet na Hom toe!

[9] Sien, Hy help vir Henog om, selfs die klippe wat ons so pas hierheen gebring het, op die mooiste manier saam te voeg!

[10] O vader, kyk, kyk: Hy, wat eertyds deur sy magtige woord hemel en aarde en alle dinge daarop geskape het, Hy - o wat `n aanblik! - Hy help nou vir Henog om die klein offeraltaar te bou!

[11] O God, my God, my liewe Vader, hoe buitengewoon goed is U nie; watter goeie Vader is U tog!

[12] O, durf ek tog maar! Maar Hy kom my tog te gewyd voor! Ja, gewyd is Hy, uitsonderlik gewyd! Maar my liefde is te sterk om my vanweë sy gewydheid nou nog langer van Hom af gehou te word!

[13] Wie weet hoe Iank Hy nog by ons sal bly; daarom moedig daarop aan!"

[14] Met hierdie woorde wou Lameg ook na Emmanuel toe hardloop; maar Methusalag hou hom teë deur hom aan sy kleed vas te gryp en sê met sagte stem aan hom:

[15] "Wat doen jy, ontembare Jonge! Bedink tog net wie Emmanuel is! My hart is tog immers ook vervul met brandende liefde vir Hom! Maar `n mens moet God nie so liefhê soos `n mens sy gelyke liefhet nie; maar met die allergrootste hoogagting, alleen biddend in die stilte van sy hart, moet `n mens God bemin, - maar nie op so `n onbedwingbare manier nie!

[16] Het jy dalk nie gehoor hoe Hy Self gesê het dat Hy alleen na die hart kyk en na niks anders nie?! Doen dan ook dit wat volgens sy eie wil die regte ding is en vergeet nie die groot, heilige agting nie, wat ons almal, naas die grootste, innerlike liefde, aan God verskuldig is, ja vir ewig verskuldig is! Amen!"

[17] En Lameg antwoord Methusalag: "Vader, jy mag die Amen nog duisend keer agtermekaar uitspreek, maar dit help nagenoeg niks om die liefde vir Asmahael in my te stil nie! Lameg, jou seun, was nog nooit ongehoorsaam gewees nie, maar hierdie keer sal hy sy gehoorsaamheid opsê en hy sal sy liefde nooit temper nie, maar doen wat sy hart hom ingee; want waarlik, vir slegs `n blik van liefde van Emmanuel verkoop ek duisend vaders netsoos jy!

[18] Laat my daarom begaan en hou my nie teë op weg na my God en jou God en na my Vader en jou Vader nie! - En nou sê ek; Amen!"

[19] En dadelik ruk Lameg homself los en met `n groot haas hardloop hy weg en gaan na Emmanuel toe.

[20] Maar toe hy baie naby aan Emmanuel kom, maak Emmanuel asof Hy Lameg nie opmerk nie. En angs, vermeng met die grootste liefde, gryp Lameg aan, sodat hy tog nie die moed het om Emmanuel aan te raak nie en hy begin by homself te dink of dit tog miskien `n fout was om sy vader Methusalag nie te gehoorsaam nie.

[21] Maar opnuut dink hy: "Die liefde, die suiwere, opregte, sonder enige eiebelang in die hart tot God opbloeiende en geweldig sterk geworde liefde, is sy nie vry en hoër en meer gewyd en meer, veel meer as alle menslike opvattinge en die daaruit voortkomende eise nie?!

[22] Ja, sy moet meer wees, ja oneindig meer, omdat die voorwerp wat sy omvat, ook oneindig maal meer is as alle mense en menslike vaders op hierdie hele wêreld! Daarom ...

[23] Met hierdie woorde kyk Emmanuel om en Lameg verstom, wenend van liefde.

[24] Maar met groot sagmoedigheid vra Emmanuel aan Lameg: "My geliefde Lameg, wat skeel nou, dat jy nou daar staan en huil?"

[25] En verras antwoord Lameg: "O Emmanuel, Abba, hoe kan U dit vir my vra, - U, aan wie die mees verborge gedagte reeds `n ewigheid daarvoor bekend is, nog voordat dit deur een van die geskapenes bedink was!

[26] O Emmanuel Abba! U wat die behoefte van al die gras, van elke sonstoffie ken, U sal tog immers ook die groot, soete nood van my hart sekerlik nie oor die hoof sien nie! O Emmanuel Abba! Vergeef my, indien my bandelose liefde tot U, U sou mishaag!"

[27] En daarop sê Emmanuel aan Lameg: "My geliefde Lameg, sien, jou vader is treurig terwille van jou ongehoorsaamheid! Sê my net, is dit korrek om jou vader te krenk?"

[28] En Lameg antwoord: "O Emmanuel Abba, ek sou sê: Vervloek is die kind wat sy vader enige leed aandoen! En netsoos U weet, het ek hierdie vloek nooit verdien nie; maar nou, omdat U, ons ware, ewige, heilige Vader in ons midde is, laat my hart haarself nie meer beteuel deur die te magtige, vrye liefde tot U nie en so word ek vanuit my bo alles uitstygende heilige liefde tot U, vir die eerste maal ongehoorsaam aan my vader en dit wel in die sekere hoop dat U my hierdie fout nie te hoog sal aanreken nie en dit weer by my vader sal goedmaak!"

[29] En Emmanuel sê wederom aan Lameg: "Lameg! Wat sal jy nou doen, wanneer Ek jou hierdie fout tog baie hoog sou aanreken, selfs sodat jy daarom verstoot sou bly van My en My liefde en barmhartigheid?"

[30] En Lameg word daarop treurig en antwoord op `n weemoedige toon: "O Emmanuel! Slegs U alleen sien en kan regverdig en korrek beoordeel hoe dit daar in ons harte uitsien! Ek kon gefaal het; maar ek is blind en sien my fout nie in nie – is dit dan dat ek uit liefde tot U, netsoos ek dit nou oorduidelik ondergaan, nie alleen my aardse vader Methusalag nie, maar, netsoos gesê, duisend vaders tesame met die hele wêreld sou wil verlaat!

[31] U kan my ook bestraf; dan sal my liefde vir U tog in haar krag in my nie vergaan voordat ekself voor U sal vergaan nie, heilige Vader!

[32] O Emmanuel, sien, ek begeer immers niks anders van U, as dat U Uself deur my sou wil laat bemin nie! U het Henog vir sy liefde onsterflik gemaak. Sien, ek verlang nie `n dergelike barmhartigheid van U nie en is dit ook nie werd nie; laat my daarom sterwe, - maar tog so dat ek U al sterwend mag bemin.

[33] O Emmanuel, vergeef my my woorde, omdat ek niks daaraan kan doen dat my nog lewende hart my tong dwing om so-iets te sê nie! U heilige wil geskied! Amen."

[34] Hier word Emmanuel bewoë en sy gesig begin straal soos die son, sodat almal teen die aarde val; en nou slaan Hy sy oë op na die hemel en sê:

[35] "O liefde, suiwer, heilige, ewige liefde, jy het oorwin en ewig sal jy die oorwinnares bly! Hemel, son, aarde, julle sal vergaan en daar sal geen spoor meer van julle oorbly nie, ja alle majesteit, prag en heerlikheid sal vergaan; maar jy, heilige liefde, jy sal bestaan en nimmer vergaan nie!

[36] Staan op, Lameg, jy het gewen; ja Ek sê vir jou, jy het `n groot oorwinning behaal! Sien, vir My, jou God en Vader, het jy oorwin! Nou eers besit jy My, nou mag en kan jy My vanuit al jou kragte liefhê; want jy het met jou vader en met My oor My geworstel en terwille van My liefde wou jy sterwe en vergaan. Sien, nou is Ek jou pand van oorwinning; omarm My nou soveel as jy maar wil!"

[37] Nou omklem Lameg Emmanuel se voete en sê: "O Emmanuel Abba! Laat my nou sterwe, want my liefde is beloon; want my hart verlang niks anders as dit nie. U heilige wil geskied! Amen."

[38] En Emmanuel tel Lameg op en druk hom aan sy heilige Vaderhart en sê: "Lameg, dink jy dat jy sou kon sterwe, terwyl jy My soseer liefhet?! Waarlik, hemel en aarde sal vergaan, maar `n dergelike liefde, nooit as te nimmer nie; want dit is die ewige, onverganklike lewe, indien iemand My so bemin soos wat jy doen!

[39] Vir jou seën Ek nou, sodat Henog en almal kan sien, hoe getrou Ek in al My beloftes is.

[40] Eendag sal Ek vir jou `n seun gee; en hy sal `n redder van die volk word en die diere wat hy sal aansien, sal verskoon bly van My toorn; en hy sal die altaar, wat Henog nou vir My gebou het, weer vir My oprig.

[41] Maar omdat jy uit liefde vir My wou sterwe, sien, dieselfde sal Ek eendag uit liefde vir jou geslag doen en vir alle skepsele, sodat hulle almal gewen sal word vir die ewige lewe!

[42] O jy, My Lameg; jy bly nou by My en Ek by jou vir ewig! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205