Die vrese van God en die liefde tot God
158 En die hoë Abedam antwoord die bekende Abedam op sy kort verontskuldiging vir sy vrees:
[2] "Jy het weliswaar volgens waarheid gespreek, maar onder ons moet Ek jou dan tog `n kleine teenwerping maak. Sien, as die ligte onweer `n werk van My mag sou wees, hoe sou die wêreld dan nou wel daar voorstaan?! Ja, Ek sê vir jou en ook vir julle, waaraan sou die hele skepping toe wees?!
[3] Wil jy egter `n werk van My mag sien, kyk dan na die hele oneindige skepping, hoe alles gegrondves is en op sy eie wyse as `n geheel bestaan en as geheel tog slegs weer `n deel is van die oneindige geheel, - en hoe niks van die aarde, niks van die son, niks van die maan, ja niks van alle sterre verwyder kan word as alleen dit wat nie te weeg is nie, naamlik `n baie spaarsame lig! Sien, dit is werke van My mag!
[4] Meen jy dan miskien dat My mag `n mag van verderf of `n mag van vernietiging sou wees?!
[5] Waarlik, met so `n denkbeeld oor My mag sou juis nooit iets deur `n dergelike mag van My selfs geskape gewees het nie!
[6] Maar omdat My mag geen mag van vernietiging en verderf is nie, maar `n mag van onophoudelike voortbringing en instandhouding van die voortgebringde, is dit immers ook `n mag van die ewige ordening.
[7] Vertel my nou maar, omdat dit so en onmoontlik anders met My mag gesteld is, waar skuil die vrees in jou!
[8] Of dink jy dalk dat die onweer `n mindere werk van My liefde is as `n rustige, heldere dag?!
[9] Ek sê vir julle: `n Rustige, heldere dag lyk soos `n liefhebbende eggenoot wat met sy vrou rustig in sy woning sit. Weliswaar het hy sy vrou nog voortdurend lief, ja hy bemin haar getrou, - maar wat `n verskil is daar tussen sy liefde en die liefde van `n jonge vryer!
[10] As die vrou aan haar man sê: "Wil jy nie vir my na buite gaan om `n paar pere te pluk van die nabystaande boom, of wat se ander ryp vrug dan ook nie? Want ek het lus en verlang waarlik daarna!"
[11] Die man sal homself agter sy oor krap en ten slotte ietwat onwillig sê: "Maar my liewe vrou, dit is maar drie treë na buite; laat my tog `n bietjie rus! As jy so daarna verlang, kan jy tog immers self gaan haal waarvoor jy lus is!? - Kyk, sê My of dit nie so is nie?!
[12] Maar wanneer die tedere maagd aan haar gloeiende aanbidder sou sê: "Jy kan my hand en my hart kry; maar as `n ware teken van jou liefde moet jy van hier af honderd dae ver reis en van daar `n kosbare, seldsame geskenk van groot waarde vir my saambring!",
[13] Sal die aanbidder met so `n uitdruklike wens van sy vurig beminde maagd net so optree soos wat die eggenoot in die woning teenoor sy vrou optree?!
[14] O nee, sê Ek vir julle, - hy sal haar daarenteen antwoord: "O meisie, nie net honderd dae ver nie, maar as jy dit wil, sal ek graag, om jou te behaag, wel tot aan die einde van die wêreld reis en daar alle skatte van die wêreld versamel en dit dan in jou sagte skoot lê!" - Sê My, is dit nie so nie?!
[15] Bekyk die rustige, heldere dag in die woning en dan daarteenoor die onstuimige nag van liefde in die bors van die jonge aanbidder! Wat `n verskil is daar nie tussen die twee soorte liefde nie!
[16] Wanneer hierdie onstuimige nag nou vanuit My teenoor julle, My kinders, lyk soos die liefde van die jonge aanbidder, - wil jy dan, Abedam, hierna nog beweer dat dit `n vreeswekkende werk van My is wat vir jou so `n verskriklik voorkomende mag is?"
[17] En die bekende Abedam antwoord: "O Heer, my hoë, beste liefdevolle naamgenoot, sien, nou het daar weer `n groot gedeelte van my domheid tot niet gegaan! My ewige dank daarvoor aan U!
[18] Maar ek glo dat daar desondanks by my tog nog `n aansienlike deel van my dwaasheid in `n hinderlaag verborge moet lê, omdat ek my nog steeds nie heeltemal teen my vrees kan verweer nie.
[19] Omdat U, hoë naamgenoot, Uself al soveel van my laat wegval het, wat U barmhartiglik van my weggeneem het, neem dan ook nog hierdie domheid van my af en berg dit êrens weg, waar dit U maar behaag!"
[20] En Abedam, die hoë, antwoord hom: "Sien, nou het jy jouself goed uitgedruk! Ja waarlik, baie moes Ek van julle sluk en die sak waarin julle tallose dwaashede gestop word, heet My lankmoedigheid en My groot geduld!
[21] Maar Ek sê vir jou dat niemand teveel op hierdie sak moet vertrou nie; want dit sou tog eens kan gebeur dat dit sou skeur! En as dat sou gebeur, wee die aarde en haar bewoners!
[22] Is julle twee ook nou nog bang, Henog en Lameg?" En Henog antwoord: "O Abba, helaas moet ek U vraag met ja beantwoord; maar ek dink: Netsoos alle kinders vervul is met angs en vrees, is ek dit ook! Maar dit vind ek juis; want sou U vaderlike goedheid nie liefdevol die regte dosis angs en vrees aan die swakheid van die kind toegevoeg het nie, wat sou daar dan wel van die swak kind, wat homself ten onregte sterk waan, gebeur?! Wie sou hom kon lei en wie sou hom kon opvoed?!
[23] So is die vrees egter reeds die belangrikste lerares van die kind! sy was in die begin by my en moet dit ook verder bly; want ek weet maar al te goed dat juis in die vrees van die swakke, U hoogste liefde heers.
[24] Sy is die getrouste bewaker van die kleine; daarom moet sy ook vir ewig myne bly, netsoos sy dadelik al, vanaf die begin, vir my die groot liefdegawe van U, die goeie, heilige Vader, was en dit ewig sal bly!
[25] Deur U erbarming weet en voel ek baie lewendig in my, dat deur U behulpsame sorg en liefderyke barmhartigheid my geen leed kan en mag oorkom nie; maar tog vrees ek sulke buitengewone voorvalle en wel omdat ek U bo alles liefhet.
[26] Sien, waar liefde is, is ook vrees; maar waar geen vrees is nie, daar is ook geen liefde nie!"
[27] En Abedam antwoord hom: "Henog, jy het waar gespreek! Wie het jou geleer om so te spreek?
[28] Ja, dit is waar, in die vrees van die swakke is Ek teenwoordig! Wie die Vader liefhet, vrees God; maar niemand kan die Vader sonder godvresendheid bemin nie.
[29] Daarom is godvresendheid gelyk aan liefde vir God en kan die een nie bestaan sonder die ander nie; maar tog moet daar opgemerk word dat die liefde hoër staan as die vrees. En aldus is slegs in die liefde lewe, maar nie in die vrees nie. In die vrees skuil die dood, maar geen lewe nie. Daarom moet iedereen ten slotte sy vrees deur die liefde laat gevange neem, dan sal hy lewe in die Vader, want Hy alleen is `n Heer van al wat lewe. Begryp dit goed!"
[30] Maar Lameg vra aan Abedam: "Kan U my nie net vinnig sê of ek wel in erns vrees nie?
[31] Kyk, alles sien wel baie verskriklik angsaanjaend daaruit en al die voortdurend toenemende gehuil en gekraak en gedonder, die onheilspellende geraas, gebruis en woede vervul iemand se hart so onwillekeurig met groot, ja met stygende angs, - en hoewel dit alles in my omgaan, weet ek tog nie verseker of dit wel op kinderagtige vrees of miskien op `n ander, wat vir my tot nou toe nog `n onbekende gemoedsaandoening is, dui nie! O Abba, lê dit vir my uit, indien dit U heilige wil is! Amen."
[32] En terwyl Abedam hom buitengewoon vriendelik aankyk, antwoord Hy hom: "Lameg, Ek het die indruk dat jy deur die bome nie die bos kan sien nie! Hoe kan `n mens aan iemand vra of vrees sy eie hart oorweldig het, as `n mens se hele liggaam van louter angs bewe?!
[33] Kyk watter onbevreesde woorde net kort gelede jou mond ontsnap het! Waar is nou jou groot moed en waar is die onwankelbare vertroue?! En tog het nog geeneen, van die deur jou uitgesproke verskrikkinge, plaasgevind nie! Ons staan nog almal op die nog voldoende vaste aarde. Sy is nog nie verwoes nie; die see het nog nie verdamp nie; daar het nog geen hael so groot soos die wêreld op die aarde geval nie; ook is nog geen enkele berg deur die vlammende orkane weggedra nie en bo ons hoofde het nog geen vlamme ineen gewerwel nie; en tog staan jy naas my en tril asof `n hewige koorsaanval jou ineens aangegryp het!
[34] Wat sou daar dan wel met jou gebeur as Ek, om jou te beproef, dit alles laat gebeur wat jy My voorheen so onverskrokke moedig beskryf het?!
[35] Neem dus ook hier goeie nota van: Dit is beter om net soos Henog in `n toestand van vrees te bly as om in die vuur van die liefde teveel te belowe. Dit is om te ewe wat iemand in die vuur van die liefde of uit louter van doofheid en blindheid vervulde vrees sê; want alle dergelike beloftes word nie gehou nie, omdat `n dergelike oorspanne toestand nooit blywend kan wees nie.
[36] Hoe die liefdevuur op sigself verander, kan jy immers aan die egtelike liefde sien, wat `n afgekoelde vuur is wat die bloed in die hart nooit meer laat kook nie, maar slegs teder en saggies verwarm en so laat lewe!
[37] En hoe lank die vrees aanhou en die belofte in haar, kan jy ook reeds by die swakke kinders sien, wat hulleself uit angs aan die deur hulle beloofde beterskap gehou het solank hulle vader met `n somber gesig teen hulle tekere gaan; as hulle gesigte ewenwel weer opgeklaar het, dan het die vrees ook verdwyn, - maar met die angs, ook al die beloftes in haar!
[38] As jy nou volmaak wil wees, dan moet daar steeds drie dele vrees en sewe dele liefde in jou wees; en daarby sal jy by al jou gebede ook ten slotte dit toevoeg: "Vader, laat geen versoekinge oor my swakte kom nie, maar bevry my van al die kwade, beide geestelik, asook liggaamlik!" En so sal jy op die regte wyse bid; want die versoeking is nie goed vir die vrye mens nie, omdat sy ten eerste die liggaam dood en ten tweede die gees verlam.
[39] Jy is weliswaar gelukkig omdat jy die vrees met liefde oorwin het - ook net in die tyd van die versoeking - en toe die versoeking kom, laat jy die liefde nie vaar nie, maar jy laat jou sterker liefde tot My deur jou vrees aandryf, - maar in die toekoms sal slegs diegene gelukkig wees wat met steeds gegronder vrees vir God in die liefde tot die ander sal ontwaak! En so sal die eerste plig van die mense teenoor God `n vrywillige gehoorsaamheid wees, wat egter `n vrug van die korrekte godvresendheid is. Eers in hierdie gehoorsaamheid sal die mense dan opnuut as kinders van God gebore word en hulle sal die mees liefdevolle, heilige Vader in hulle herken en dan aanskou.
[40] Die vrees is die saad van die liefde; maar netsoos geen vrug sonder saad tevoorskyn sal kom nie, netso min sal daar ook sonder die regte godvresendheid ooit enige ware liefde tevoorskyn kom nie.
[41] Netsoos wat die saad in die aarde verrot en die lewende kiem van die liefde voortbring, wat dan opgroei en lewende vrugte bring, netso sal ook die liefde, hierdie heilige kiem van die ewige lewe, uit die vrees voortkom. Die vrees, die oue, sal vergaan; maar juis uit die vergaan in die goeie aarde van My liefde vir julle, sal `n verbasingwekkende vrug oprys, `n boom van die lewe, onder wie se takke dan selfs die bewoners van die hemel hulle wonings sal bou. Neem goeie kennis daarvan!
[42] Maar vir eers nie verder nie! Want sien, Adam het opgestaan en begin met angstige skrede op ons afkom; want ook hy begin vermoed dat hy hulp by My kan verwag. Swyg daarom in sy teenwoordigheid! Amen."