|
Die Huishouding van God - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 54
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187. |
|
|
Henog se woorde oor die ware dank en lofprysing
54 En dus staan beide op, keer die môre die rug toe en daal die berg af, aan die voet waarvan Set reeds vol verlange op hulle wag. En toe hulle daar aankom, werp Set homself voor Adam neer; hy gee hom die oggendseën en beduie aan hom om van die grond af op te staan en hulle na die woning te begelei.
[2] Toe hulle na `n kort tydjie daar aankom, gaan Adam en Henog dadelik na binne, waar moeder Eva alreeds besorg op hulle wag. Maar Set haas homself onmiddellik na sy woning en gee sy vrou te kenne om die voorbereide oggendmaal vinnig na die woning van Adam te bring. Hy en Enos, Kenan, Mahalaleël en die baie verheugde Jared loof eers My Naam en begewe hulleself vervolgens vol eerbied na Adam se woning om hom die verskuldigde môregroet te bring en hulle dank vir die seën te betuig. Toe hulle daarop vol eerbied Adam se woonplek betree en aan hulle verpligtinge wil voldoen, gebied Adam hulle om `n rukkie te wag, totdat Henog die gebed vir die ontbyt, waarmee hy juis wou begin, sou beëindig het. En toe hulle hierdie wens verneem het, swyg hulle, tree ietwat terug en terwyl hulle hulle oë, ore en hart op die woorde uit die mond van Henog gevestig het, begin hy getrou die volgende klein gebed tot My te rig. Hy sê:
[3] "Grote, liefdevolle, heilige Vader, bied barmhartiglik U heilige oor om te luister na my swak mond en verneem die armsalige gekerm van `n bestofde, aardse wurm op die dag van die ewige erbarming van U oneindige liefde. Want dit het U behaag om ons aartsvader Adam en uit hom die aartsmoeder Eva aan die stof van die aarde te onttrek en daarna in beide die geseënde voortplantingskrag te lê. Uit dié oorvloed het ons almal voortgekom en uit die saad van die liefde nog `n talryke nageslag. Na ons sal tot aan die einde van alle tye tallose geslagte ons opvolg, - wat U, o beste, allergewyde Vader, uit U ewige liefde geneem het, sodat ons siel deur die liefde van U Gees tot `n lewende ewebeeld van U in Haar sou mag word! O, die dank, lof en lofprysing vir `n dergelike barmhartigheid en erbarming; ons is nie in staat om die omvang daarvan te vermoed en te besef dat dit U wens was om so diep neer te daal en dit wat ewig nie was nie, te gebied om te ontstaan en te bestaan, om in alle vryheid onsself en U te leer ken en U verhewenheid te sien en onsself te verbaas oor die werk van U groot mag en heerlikheid nie!
[4] Sien, ons is hier in die teenwoordigheid van Adam, U verhewe eersteling en `n goeie, verfrissende lafenis vir die liggaam bevind homself reeds voor ons! O heilige, beste Vader, seën ons en seën hierdie verfrissende lafenis, sodat dit ons tot die lewe in U liefde en nooit meer tot die dood van U toorn mag strek nie en laat deur U barmhartigheid ons almal in gedagte wees wat U oneindige liefde op hierdie voorsabbat aan ons almal en vir ons almal, vir oneindig groots gedoen het!
[5] O laat ons goed bedink, dat dit slegs U Liefde was, wat die aartsvader aan die stof van die aarde laat ontstaan het en dat die groot Hand van U Liefde hom tot U ewebeeld gevorm het en ons almal op so `n wonderlike wyse volkome uit hom laat voortkom het, soos hy uit U voortgekom het. O, daarom wil ek U my lewe lank loof, U dank en prys; wil U tog my onmagtige geroep barmhartig aanvaar, ofskoon dit nie waardig is om U hart te benader nie; U hele skepping waag dit nie om U hart aan te sien nie! O Heer, seën ons en hierdie lafenis; want ons hele bestaan is vir ewig `n seën vanuit U! Amen."
[6] En toe Henog die gebed uitgespreek het, buig al die vaders voor Adam en verrig hulle pligte, waar reeds vroeër oor gespreek was. Adam seën hulle daarvoor en sê: "Liewe kinders, bly `n tydjie by my, totdat ek, Eva en die liewe, vrome Henog ons met die gawe van God versterk sal hê! Daarna sal ek julle terstond my wil en dit wat ons vanoggend gesien het te kenne gee en uitlê; maar gaan nou sit en oordink Henog se oggendwyding! Amen."
[7] En sien, hulle neem plaas en doen in stilte wat Adam hulle aangeraai het; en dadelik nadat die oggendmaal gebruik was, staan Adam op, slaan roerend sy oë op na My en in sy hart dank hy My, en Eva met Henog aan haar sy, doen dieselfde.
[8] Nadat Adam sy danksegging beëindig het, wend hy homself tot Henog en sê: "Liewe Henog, sien, spreek nou ook in die aangesig van al jou vaders duidelik verder oor dit wat deur jou gesê is voordat ons begin het om ons te laaf, sodat jou werk daardeur voor God en voor ons, jou vaders, `n geheel sal word! Amen."
[9] En dadelik staan Henog verheug op, dank Adam om hom daaraan te herinner en begin weer om die volgende weinige, maar nietemin veelbetekenende woorde tot almal te rig en sê:
[10] "O dierbare vaders, wat sou makliker kan wees, as om vir elke gawe van God sonder ophou die kinderlikste dank te betuig en wel met so `n luide stem, dat son, maan en alle sterre van skaamte daaroor sou wil bewe?! Maar ons vra onsself af of die groot Heer wel daarmee gediend sou wees, as ons Hom, verblind deur ons hoogmoed, in `n sekere sin sou wil aantoon met wat vir `n magtige en geweldige uitwerking Sy liefde in ons bors homself onderskei!
[11] O vaders, daaraan het die groot, heilige Vader in die hemel geen behoefte nie; want Hy weet die allerbeste wat Hy in ons gelê het, want alle werke lê oop voor Hom! Slegs in ons deemoedige swakte beteken ons iets vir Hom, sodat Hy ons in Sy liefde aansien; maar voor die oë van Sy gewydheid is ons krag `n blinde dwaasheid.
[12] Is Hy immers nie Self al ons krag nie?! Waarom moet ons onsself dan daarop beroem wat nie van ons is nie, maar van Die Een wat dit aan ons vanuit Sy groot erbarming gegee het, sodat ons self Sy eiendom sal word!
[13] Indien ons egter steeds met luide, kragtigste stem Hom ons lof en ons dank sou wil toeroep, sou dit dan nie klink asof ons onsself voor die aangesig van God loof en dank, sodat ons met Sy eiendom in ons voor Hom staan en spog om ten slotte onsself daarvan te oortuig dat ons in staat is om vanuit onsself iets vir Hom te doen?!
[14] Sien, maar indien iemand met `n groot stem (wat beteken: Met verhewe woorde) spreek, asof dit uit homself kom, dan is hierdie stem nie syne nie, maar dit is dan `n stem van die Heer deur die mens; hoe sou ons dan in ons blindheid kan wil dat nie ons nie, maar die Heer Homself sou loof, prys en dank, terwyl Hy ons daardeur slegs barmhartig aangee wat ons in ons swakte verplig is om te doen, sodat ons waardig bevind mag word om voortaan `n geregtelike versterking van Hom te ontvang?!
[15] O sien, sodat ons in staat sal wees om die Heer waardig te loof, prys en dank, doen ons dit in ons swakte in alle deemoed; dan sal Hy ons in Sy erbarming aansien en sal ons altyd opnuut deur Sy oneindige liefde versterk word! Amen."
[16] Toe Adam, saam met die ander, hierdie woorde gehoor het, wend hy homself terstond tot Henog en vra hom: "Maar liewe Henog, wat is dit tog, waaroor jy so pas gespreek het? As ek dit nie begryp nie, hoe kan my kinders dit dan begryp, ter wille van wie ek jou eintlik versoek het om te spreek?! Want vir sover ek uit jou woorde begryp gaan dit daarom, dat ons die Heer nie op hierdie manier moet loof, nóg prys of dank nie; want elkeen van ons en alles aan ons is van God en het uit Hom voortgekom!
[17] As iemand dus die Heer sou wil loof, prys en dank, dan sou hy immers dadelik moet swyg, omdat hy daaraan en daardeur herinner word, dat die Heer in ons, as synde Sy werk, Homself sou loof, prys en dank!
[18] Sien, alles aan ons is God se mag en krag en ons is geheel en al Sy werk en lewende dele uit Hom! Sien, dan sou dus immers al ons verrigtinge niks as `n ydele vermetelheid teenoor God wees, indien ons sou dink dat ons dit self doen, terwyl tog slegs God dit doen, omdat niks aan ons van ons is nie, maar enkel en slegs van God is!
[19] O Henog, wat jy sê, moet jy ons duideliker uitlê, anders gaan ons almal weens ons twyfel ten gronde!"
[20] Toe Henog van die misverstand gewaar word, slaan hy homself op sy bors en sê: "O liewe vaders, hoe kan julle so verbaas wees daaroor?! Niemand is tog in staat om die hout van die boom te eet omdat dit te hard is en tog kom die soet vrug voort uit die hout, wat op sigself nie te eet is nie! Maar as ons die vrug nuttig, dan dank ons tog vir die vrug en nie vir die boom nie, waaraan die vrug vir ons berei word!
[21] Maar stel julle nou voor dat ons die hout van die boom sou wees en daar sou aan ons, net soos aan hierdie boom, `n vrug gegee word; omdat die boom ewenwel geskape is om vrugte te dra, - wie moet nou aan die Heer dank betuig, die boom of die vrug?
[22] Die vrug is immers `n liefdesgeskenk van die Heer, wat die Heer geen dank kan en mag bring nie; dit kan slegs die boom doen, omdat hy onder `n vrye wet staan - ofskoon uit dieselfde vrug voortgekom - en wel daarom, omdat aan hom verder in `n ononderbroke opeenvolging die krag van bo gegee is om `n lewende vrug voort te bring en uit hierdie weer tallose soortgelykes!
[23] Wat se verskil is daar nou tussen die plante, as ons `n loot van die boom neem en dit in die aarde plant en `n boom kom daaruit voort, - of ons neem die vrug, lê dit in die aarde en dit word eweneens weer `n boom?!
[24] Sien, ons is die lote en die saad is God se seën. As ons dan insien dat ons nie die vrug en die saad, maar slegs lote en struike is en dat ons graag met die vrug en die saad geseën wil word, is immers die verhewe stem in ons die gegewe vrug en die saad van God, wat homself nie sal loof, prys en dank nie, omdat hulle dit is waarvoor gedank moet word; maar ons is gelyk aan die boom en die lote, en moet daarom loof, prys en dank in dit wat ons is, egter nie in dit wat ons ontvang nie, en dan altyd vir dit wat ons ontvang, sodat ons volledig vry mag word voor God en daardeur beantwoord aan Sy heilige doel. Amen."
|
|
|
|
|