Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 80

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die goue reël van die profeteskole

80 Nadat Adam hierdie troostende woorde van Henog gehoor het, kom daar dadelik blydskap in sy hart en hy verdra sy toenemende uitputting met groot berusting en laat homself verder deur Henog begelei.

[2] En so kom die stoet, ofskoon enigsins moeisaam, maar nietemin tog taamlik vinnig vooruit. Op die hele weg, wat byna `n halfuur geduur het, word geen woord gewissel nie; maar in stilte bid elkeen in sy hart tot My vir versterking en die behoud van Adam. Veral Henog was vol onwankelbare vertroue en in sy liefde vir My voel hy baie goed aan dat Ek sy onversetlike vertroue in My erbarming en barmhartigheid gewis en seker nie tot skande sou maak nie.

[3] Maar hoewel die origes ook insae gehad het dat niks vir My onmoontlik was nie, twyfel hulle tog aan My wil, omdat hulle in hulle hart nog nie die voortreflike vrye kuns geleer het om op die onwrikbare weë van die suiwerste liefde te reken en op My ewige, bo alles onuitspreeklike trou te reken nie, - `n kuns wat My goeie Henog reeds baie goed beheers het, vandaar dat hy dan ook altyd volkome seker daarvan was dat dit wat hy in sy geregverdige liefde van My verwag, ook onvermydelik sou volg.

[4] Vandaar dat hy ook nooit treurig was nie en niemand iets geweet het as iets onaangenaams hom oorkom het nie. Want voortdurend het sy oog op My hart gerus en sodoende bespeur hy in die verborge leiding van My liefde baie goed hoe sy deur elke, hoe vreemdlykende middel weet om die kinders altyd so volmaak te lei wat vir die verkryging van die ewige lewe die beste was. Ja, hy het so ver in sy liefde vir My gegaan, dat hy selfs daarop gereken het en met die grootste sekerheid vasgestel, hoe, wanneer, waar en waartoe iets tevoorskyn sou kom en met welke afloop. En sodoende was hy in `n sekere sin ook die eerste profeet op aarde en grondvester van die sogenaamde profeteskole wat tot by My neerdaling as mens in stand gehou was, wat maar net daaruit bestaan het dat hulle leerlinge nagenoeg reeds vanaf hulle geboorte in My liefde opgevoed was. Die wêreld was aan hulle afgeskilder as `n vaste grond vir My liefde, as `n skoolgebou, waarin al die mense uit eie beweging deur `n kort afsondering van My in hulle innerlike lewe `n groot verlange na My moet kry. Die bekoring van die buitewêreld is daar slegs vanweë die versoeking, sodat die mense hulleself uit hulleself op My liefde sal rig. En sodra iemand geen genoegdoening meer aan die wêreld sal belewe nie, maar slegs aan die steeds groeiende verlange na My, dan sal sy innerlike oog en oor terstond ontsluit word en hy sal, hoewel nog in sy sterflike en eweseer tot verleiding verlokkende liggaam, dadelik weer die heilige Vader hoor en nou en dan te siene kry.

[5] Die gees van die ewige liefde sal hom dan vervul; hy sal die toekoms, die hede en die verlede oral sien en die naderende dood van sy liggaam sal hom met `n onuitspreeklike salige vreugde vervul, omdat hy dan eers glashelder sal begin insien dat die dood van die liggaam geen dood is nie; maar `n volledige ontwaking tot die ewige lewe.

[6] Dit en nog baie meer wat met My liefde in noue verband staan, was die eintlike essensie van die profeteskool, waarvan, soos reeds opgemerk, Henog volgens My wil die stigter was.

[7] Die gulde reël wat uit My ontvang was, is steeds die grondslag en die innerlike fondament van alle profeteskole en lui:

[8] Jy is nie in staat om te glo dat daar `n God bestaan, as jy Hom nie reeds vooraf uit al die krag van `n kinderlike hart liefgehad het nie. Wie sê: "Ek glo aan `n God!" maar Hom nie kan liefhê nie, hy is `n dooie leuenaar en het nie die lewe nie; want God is die ewige lewe Self, - Sy liefde is die lewe. Hoe kan iemand die lewe anders begryp as deur die lewe self?! Omdat slegs die liefde die lewe is, soos dit in God ewig uit Homself is en eweso in die mens deur God se erbarming, hoe kan die mens dan sê dat hy aan `n God sou glo, terwyl hy dit in sy liefdelose toestand tog duisendvoudig verloën? Dit is geen lewe nie, maar slegs `n sekere beweeglikheid van die deur God geskape natuur, wat tot die opneem van die lewe van liefde uit God dien.

[9] Die bewegende liggaam is nog geen mens nie, maar is slegs gemaak om tot draer van `n mens te dien, kragtens die daarin ingeblaasde lewe - die siel; maar neem hierdie beliggaamde siel die lewe van die liefde uit God nie in homself op nie, dan is hy dood, ondanks alle beweeglikheid en bruikbaarheid van haar sintuie.

[10] Dit was dus die gulde reël. Dat daarnaas en daaruit met verloop van tyd nog ander ontstaan het, is netso natuurlik as wat dit natuurlik is dat uit die oorspronklike liefde, wat haarself by die volkere hoe langer hoe meer slegs in die "glo" verloor het, die tien gebooie en alle profete voortgekom het en uit hulle uiteindelik weer deur My die suiwerste liefde tot My ontstaan het en daaruit die liefde tot die naaste.

[11] So het ook die streng, die wêreldversakende lewenswyse tot aan die tyd van die ontvang van die lewensgees van die liefde uit hierdie reël voortgekom, waarby die verdere aardse bestaan dan vanaf hierdie tyd haarself volgens die innerlike vryheid ontplooi het, met as gevolg dat ook elke profeet dan daarvolgens geleef, gewandel en gehandel het.

[12] So was dit dus met die profeteskole gestel, wat, soos reeds opgemerk, in Henog hulle grondlegger gevind het en hy het met vader Adam nou ook al gelukkig by die kinders van die aand aangekom.

[13 Maar hoe was hulle nie almal verbaas toe die vroeër so moeggeworde Adam aan Henog se sy, opeens weer oor al sy krag beskik het nie!

[14] Adam was buite homself van vreugde en dank My onder baie vreugdetrane vir hierdie plotselinge versterking en sê ten slotte vir Henog en al die res:

[15] "O Henog! O kinders! Hoe is ons God tog `n bomatige heerlike God nie! Hoe goed, hoe liefdevol en vol erbarming! Hy, wat geen lyding ken, ewemin `n onvolkomenheid, Hy, die heilige, oneindige, ewige, bowenal magtige God, kan uit Sy eindelose volkomenheid tog onvolkome wesens skep. Nie omdat Hy nie in staat sou wees om hulle volmaak te skep nie - laat so `n gedagte altyd ver van ons wees, - maar juis om, kragtens Sy eindelose Wysheid by die onvolkome geskapenes, uit baie Sy innerlike diepte van barmhartigheid en liefde, Sy vaderlike liefde steeds hoe langer hoe meer te laat toeneem van ewigheid tot ewigheid om hulle daarmee te toon dat Hy die enige waaragtige Vader van alle mense en geeste is.

[16] O Henog, o kinders, eers nou sien ek dit volkome in! Hoe sou ek dan, indien ek nie uitgeput geraak het nie, die onuitspreeklike weldaad van die versterking ooit kon ervaar?!

[17] Die heilige Vader het my erg swak en vermoeid laat word om my daardeur des te ontvankliker vir Sy onuitspreeklike liefde te maak! O, die mees goeie Vader, hoe goed moet Hy wel teenoor diegene wees wat nie ten opsigte van Hom gesondig het nie, indien Hy reeds teenoor my, terwyl ek tog `n groot sondaar is, omdat ek voor Sy aangesig gesondig het, so bomatig goed, genadig en barmhartig is!

[18] O juig, julle armes; want julle is arm om des te meer te ontvang! Juig, julle swakkes; want julle is swak om des te meer krag te verkry! Juig, julle treurendes; want julle is treurig om des te meer vreugde te ontvang! Juig, julle hongeriges en dorstiges; want julle is honger en dors om des te meer versadig te raak! Juig, selfs julle blinde geeste; sien, die Heer het die nag gemaak sodat hulle behoefte kry aan die dag! Wie sou ooit oordag behoefte ondervind aan die dag, indien die Heer die nag nie voor die dag sou gestel het nie! O dood, as jy nie dood sou wees nie, sou jy ook moet juig; want vanweë jouself het jy nie uit die ewige ordening voortgekom nie! Wie weet, laat die Heer jou daarom ontstaan, sodat eens miskien uit jou die allerhoogste lewe sal ontstaan!

[19 Waarlik, waarlik, waar die Heer gee, daar gee Hy as Vader ooreenkomstig sy oneindige liefde; maar oorgelukkig is diegene van wie die Heer iets sal neem, want hulle sal dit oneindigvoudig weer terugkry uit die hand van die ewige Vader!

[20] O Henog, o kinders! Ek, julle vader Adam, is oorgelukkig omdat die Heer my nou so `n groot barmhartigheid laat ervaar het, wat groter is as my hele lewe!

[21] Jy, liewe Henog, is in hoë mate geseënd; jou saad sal nie uitsterwe tot aan die einde van alle tye en jou naam sal aan die einde van die tye die volkere so naby kom asof jy in die midde van hulle was! In die verre toekoms sal sprekers van die Heer jou liefde tot die Vader roem en hulleself na jou rig.

[22] Soos jy nog nooit laat merk het nie, hoe sterk jy die heilige Vader toegedaan is; want ek het daardeur versterk geword, omdat jy so onmeetlik vas met ons Vader verbonde is!

[23] Aan U, my groot God, Heer en Vader, alle prysing, alle roem, alle eer, alle dank en alle lof; want slegs U is waardig om dit van ons te ontvang!

[24] Kinders, loof alleen die Heer, want Hy is welwillend, liefdevol en boweal barmhartig en barmhartig!

[25] Henog, sien, die onuitspreeklike gevoel van dankbaarheid in my teenoor God verlam byna my tong, sodat ek nouliks meer kan spreek! Daarom, omdat ons reeds by die kinders van die aand aangekom het, tref met Asmahael maatreëls om hulle te laat weet dat ons hier met ongeduld op hulle wag en dat hulle hulleself hierheen moet begewe om die seën en die heilige aankondiging van die Sabbat op die dag van môre te ontvang; al die ander sal hulle eers hier ervaar en sien! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205