|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 87
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die tempeldienare se redes vir hulle houding teenoor die Heer
87 Na ietwat nadenke sê `n oudste: “Hoë Romeine en ons gesaghebbers, julle het groot gelyk dat julle ons `n reeds lank verdiende verwyt maak; want ons Judeërs bevind ons al sedert baie lank by die suiwerste fontein en wil nie daaruit drink nie! Maar wie se skuld is dit? Kyk, as iemand `n skat het, dan waardeer hy hom nie soseer as die een wat hom nie het nie en hom eers op die een of ander manier met moeite moet verwerf, as hy hom wil besit! As ons van vreemde profete en wyses hoor, dan verlang ons gretig na hulle wysheid; maar ons slaan geen ag op die eie profete en wyses nie, omdat ons hulle van hulle geboorte af ken en dan by hulle optrede sê: “Waar het hy die wysheid en die wonderbaarlike daadkrag vandaan gekry?” Kort en goed, die mens, en in die besonder ons, reeds oud geworde Judeërs, het lui en onverskillig geword teenoor alles wat onder ons as nuut na vore tree, al is dit ook hoe buitengewoon; want ons vertroue en sappige lewe verafsku alle ekstra moeite en arbeid en enkel en alleen om die rede sit ons onsself af van alles wat ons in ons rus en behaaglikheid, wat van ouds af `n gewoonte was, steur.
[2] Ons sien ons verkeerde houding self baie goed en duidelik in, maar ons kan ons tog nie bevry van `n sekere woede teenoor die een wat ons steur nie. Wie se skuld is dit? Kyk, ons ou en al sedert lank nie meer versteurde gewoontes! Hoe indringender so `n verskyning, wat ons behaaglike rus versteur, nou optree, des te meer steurend werk dit ook op ons in en prikkel ons tot verset.
[3] Julle Romeine is meesters van `n groot en magtig ryk en julle voel julle baie behaaglik wanneer daar vrede in die hele ryk heers; maar as julle uit een of ander deel van die ryk berig kry dat die volk daar teen julle opstaan, dan vra julle ook nie of die volk miskien met die volste menslike reg, vanweë te swaar laste, teen julle opgestaan het nie, maar julle stuur vinnig `n magtige leër daarheen en tugtig die opgestane volk sonder enige barmhartigheid en sonder om te oorweeg of die volk geregtig of onwettig opgestaan het. En waarom doen julle dit? Omdat die opstandige volk julle slegs `n bietjie uit julle behaaglike rus wakker geskud het. Julle ken die volk en vra julle in julle vergadering dan ook af: “Maar hoe het die volk dit in die kop gekry om teen ons in opstand te kom?” en sê vervolgens: “Wag maar, volkie, julle sal duur vir julle moed en waansin boet!” Waarom sê julle dan nie na allerlei wyse oorweginge: “Die klein volkie het weliswaar teen ons opgestaan, maar laat ons vredesbodes en ook vrederegters daarheen stuur; wat die rede moet ondersoek en ook goed aandui of die volk `n duidelike aantoonbare en goeie reg daartoe gehad het!” Nee, dit doen julle nie, ook al sou julle hoor dat selfs `n god hom aan die hoof van die in die noute geraakte en daarom opgestane volk sou gestel het, maar julle stuur onmiddellik `n leër en oorval die volk sonder enige verskoning; en as julle miskien selfs enkele kere deur die volk verslaan sou word, dan is die hel by julle eers goed los, ook as julle baie goed sou insien dat die volk die volste reg gehad het om teen julle op te staan. Kortom, die volk het nou eenmaal julle behaaglike rus versteur en daarom sit julle alles op om hulle te tugtig, soos ook gesê, as selfs `n god uit Sy goedheid, wysheid en erbarming die volk tot `n oorwonne opstand teen julle sou aangesit het!
[4] Kyk, so vra die mens by bepaalde geleenthede nie na waarheid en reg nie, maar tree in sy blinde toorn en woede op teen die een wat hom in sy vermeende reg gesteur het, alhoewel hy by homself ook goed insien dat hy reeds sedert lank in alle opsigte ten onregte en ter wille van sy behaaglike rus altyd maar net leuens en bedrog as skild gehad het!
[5] Dit is nou ook by die meeste tempeldienare die geval. Vir hulleself sien hulle wel in dat hulle houding teen die wet van Moses en teen die volk al vir `n lang tyd onwaar is en dat die groot Heer uit Nasaret volkome gelyk het; maar Hy steur hulle in hulle aardse behaaglike rus, en daarom haat hulle Hom en sou hulle Hom om dieselfde redes ten gronde wil rig, soos ook iemand wat in `n soete sluimer lê, `n lastige vlieg, wat hom in sy behaaglike rus steur, probeer vang en verdelg.
[6] Jy, hoë Romein, kan dan inderdaad vra: “Maar het die tempeldienare dan heeltemal geen geloof meer in God en Sy woord uit die mond van die profete nie?” Daarop kan ek julle uit my persoonlike ervaring van baie jare sê dat daar in die hele land van die Judeërs waarskynlik geen leek onder die Judeërs te vinde is, wat minder geloof het as `n tempeldienaar nie, veral wanneer hy al oud geword het. Die jonges glo dalk nog wel enigsins in `n outoriteit; maar wanneer hulle geleidelik aan agterkom dat die eerstes en die oues, die Skrifgeleerde en hoër geplaastes glad geen geloof het nie, dan verloor hulle ook alle geloof. Hulle werp hulle heimlik in die arms van die Griekse wysgere, geniet van die tydelike lewe so goed as hulle maar kan, en die ou JaHWeH en Moses en die profete is vir hulle niks anders as uithangborde nie, wat maar net daartoe dien om deur die aan hulle heilige reglemente en seremonies groot skatte te vergader, waarmee hulle hulle goeie lewetjies steeds maar kan verbeter.
[7] So het die tempeldienare dit eenmaal baie goed gereël en weet ook steeds om alles uit die weg te ruim wat hulle in enige opsig belemmer; en wat hulle altyd gedoen het, dit doen hulle nog en sal hulle altyd doen, solank hulle bestaan.
[8] Dit is, hoë Romein, baie duidelik die redes waarom die tempeldienare nou ook so fel ten stryde trek teen hierdie Nasarener, wat ons, wat nou hier is, egter volgens die volle waarheid as die beloofde Messias beskou. Hulle sê: “Laat ons hom eers gryp en doodmaak, dan sal dit wel blyk of hy die beloofde Messias is, of daar `n God bestaan, en of alle profete geen bedrieërs van mense was nie!”
[9] Dat die hele tempel nou so dink en ook so wil handel, daaraan kan ons werklik niks doen nie, en solank ons ook `n funksie in die tempel beklee, kan ons vir die feit dat hulle daar so onsinnig te kere gaan, weinig of niks uitrig nie; - dit is al heelwat gedoen as ons so nou en dan `n matigende invloed kan hê. Ek het op jou aandrang nou getrou en waaragtig gespreek, en, hoë Romein, daaroor kan jy nou jou oordeel uitspreek!”
|
|
|
|
|