|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 198
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die Heer en die Arabiese rowers
198 Oor ons heuwel loop egter ook `n voetpad vanaf `n hoër gebergte, waar Arabiere woon; hulle gebruik dit om na Essea te gaan en vandaar ook verder. Hierdie Arabiere leef egter vir die grootste deel van `n soort rowery. Sedert `n lang tyd het hulle al `n soort reg, waarvolgens hulle van die reisigers `n skatting mag eis en as `n reisiger nie goedskiks aan die eis voldoen nie, word hy ook geweld aangedoen.
[2] Toe ons die taferele van die oggend so argeloos bekyk, kom daar van die gebergte ongeveer twintig van die voorgenoemde Berg-Arabiere langs die voetpad na ons toe, bly staan, en vra ons op `n nie al te vriendelike toon of ons al die gebruiklike skatting aan iemand van hulle stam betaal het.
[3] Ek sê: “Tot nou toe nog nie en ons sal dit ook nie nou of later doen nie, en wel om die volgende redes: ten eerste dra ons nooit geld of ander aardse skatte by ons nie, - ten tweede het julle nie die reg om van ons of ook van ander vreemdelinge `n skatting te verlang nie! Want daar staan geskrywe: “Jy sal jou naaste nie aandoen, waarvan jy nie wil dat hy dit vir jou sou aandoen nie!” - en ten slotte is ons baie magtige wesens, wat dergelike onbeskaamde afpersers wegstuur en in staat is om hulle op gevoelige wyse te tugtig. Daarom gee Ek julle die raad om dadelik te verdwyn en van geen enkele reisiger `n skatting te verlang nie, behalwe deur dit vir hulle te vra. As julle gevolg gee aan wat Ek julle nou aanraai, dan sal julle goed daaraan doen; in die ander geval sal dit met julle sleg gaan!”
[4] Toe die Arabiere dit van My hoor, staan enkeles van hulle verstom en sê: “Dit gebeur maar selde dat vreemdelinge, wat ons goed bewapen voor hulle sien staan, ons met dergelike woorde tegemoet tree! En hierdie dertien manne sou dit beslis ook nie gedoen het, as hulle nie op een of ander buitengewone geheime krag kon reken nie! Dit sal dus vir ons gerade wees om ons nie verder met hierdie mense in te laat nie!”
[5] Die een helfte was dit daarmee eens; maar die ander sê: “Ja, as ons onsself altyd deur dergelike dreigemente laat afskrik, kan ons ons ou reg wel dadelik opgee en tot bedel oorgaan. As hierdie vreemdelinge inderdaad geen geld of ander skatte by hulle dra nie, is hulle sonder meer vry; maar as hulle tog iets by hulle het, sal hulle ons ook die verlangde skatting moet betaal. Laat ons hulle dus ondersoek en kyk of hulle hier heeltemal sonder enige geld of ander skatte is!”
[6] Hierop kom hulle baie naby My staan, en één van hulle probeer My ook met sy hand aan te raak. Sodra hy egter My kleed aanraak, skiet daar vuur uit die aarde en sy hand verbrand. Toe skrik al die ander so dat hulle dadelik voor My neerval en My om barmhartigheid smeek.
[7] Maar Ek sê: “Ek het julle vooraf gesê wat diegene te wagte sou wees wat ons geweld sou aandoen! Eén van julle het dit probeer en het sy loon reeds ontvang; as julle ander ook dieselfde loon wil ontvang, doen ons dan ook geweld aan!”
[8] Almal skreeu: “O nee, o nee, dit sal ons nooit doen nie, nie aan julle, op god lykende wesens, en ook nooit meer aan iemand anders nie, en ons sal ons hou by wat U ons aangeraai het; maar laat ons nou in vrede verder gaan en laat ons geen kwaad meer oorkom nie!”
[9] Daarop antwoord Ek: “Staan dan op en sê ook vir julle metgeselle wat Ek vir julle gesê het!”
[10] Die een wie se hand verbrand was, huil egter van pyn en smeek My om die pyn van hom af weg te neem; want hy glo dat Ek dit ook kon doen.
[11] Maar Ek sê: “Dit kan Ek verseker; maar omdat jy die ergste van jou bende is, moet jy nou ook die loon dra wat jy al lankal verdien het! Maar wanneer jy jou lewe ooit volledig sal verbeter, sal jou pyn ook ophou. Benede in Essea sal jy egter `n fontein vind; gaan daarheen en druk jou hand in die water, dan sal jou pyn versag word!”
[12] Daarop staan hierdie Berg-Arabiere op en haas hulle na Essea. Die een met die verbrande hand haas hom nog die meeste om vinnig by die fontein te kom, wat juis voor die herberg was waar ons gebly het, en hy vra die wagter van die fontein om water daaruit te skep. Hy gee hom vir `n klein vergoeding `n groot bak met suiwer water, waar hy sy hand dadelik insteek; onmiddellik voel hy hoe die ondraaglike pyn aansienlik verminder, en hy prys My omdat Ek sy pyn versag het.
[13] Daar kom nou enkele mense uit die herberg, wat van die Arabiere gehoor het wat hulle op die heuwel oorgekom het. Sodoende verneem die gaste van die herberg waar Ek vroeg in die oggend heengegaan het; en almal, saam met die herbergier, gaan dan ook dadelik die heuwel op, en by My aangekom, het hulle uiting gegee aan hulle groot vreugde omdat hulle My teruggevind het. Die owerste van die Essene vertel My wat hy alles met die Arabier met die verbrande hand bespreek het en sê My ook hoe hy My geprys het omdat sy pyn deur die water van die fontein versag was.
[14] Maar Ek sê: “Kyk, dit was `n baie goeie les vir die bevoorregte rowers van hierdie streek, waar `n vreemdeling nouliks daaroor kon trek, sonder om van `n derde van sy besit beroof te word! Hulle sal nou ook aan hulle kornuite, wat langs die verskillende weë op vreemdelinge loer om hulle `n skatting op te lê en hulle vervolgens in ruim mate onbarmhartig af te neem, meedeel wat hulle hier oorgekom het; die metgeselle sal seker ook van hulle besigheid afsien en die vreemdelinge nie meer so lastig val soos dit sedert `n lang tyd die geval is nie.
[15] Julle moet in die vervolg ook daarvoor sorg dat die ou misbruik aan bande gelê word. Want na My sal dit onder die mense net so moet word soos dit in die tyd van die eerste mense op aarde was: hulle moet as ware broeders vry kan rondwandel op die land wat hulle s`n is en moet mekaar oral met ware liefde tegemoet tree en in noodgevalle volgens vermoë ondersteun; maar om mekaar oor en weer deur allerlei beperkinge die regmatige vryheid te ontsê, is nie hemels nie, maar dinge van die hel! Hoe meer beperkinge daar in die geregverdigde vryheid van reis deur hebsugtige en heerssugtige mense sal voorkom, soveel meer hel en minder hemel sal daar onder die mense heers.
[16] Maar wie rem die korrekte vryheid van reis van die mens wat vir die hoër ontwikkeling van die siel so noodsaaklik is? In die eerste plek die sogenaamde maghebbers, wie se mag uit baie huurlinge bestaan. Hulle staan ryk mense weliswaar toe om te reis, maar verlang `n afkoopsom daarvoor en gee hom dan `n kaart waarmee hy `n bepaalde tyd mag reis, waarna hy `n nuwe moet koop as hy nog langer wil rondreis. In hierdie tyd is dit helaas nie anders moontlik nie, omdat die blinde mense hulle al lankal volledig van God afgekeer het en dus ook van alles wat van die hemele is, en hulle in die slawerny van sonde en hel begewe het. - Maar soos dit nou ook is, moet dit nie onder die goeie mense bly nie.
[17] Die tweede en nog hardnekkiger groep van mense wat die korrekte vryheid van reis van die mens beperk is die verskillende priesters, heidense en Judese, waar die laastes in hierdie tyd volledig gelykstaan met die heidene. Vir hulle is die vryheid van reis van hulle gelowiges `n gruwel, omdat die mens, deur te reis, te veel ervaringe sou opdoen en nie meer sou glo in die bedrieëry in hulle eie land, wat op die duur `n slegte invloed sou hê op die inkomste van hierdie volksbedrieërs en wêreldse leeglopers.
[18] Maar om die vryheid van reis van die mens soveel moontlik in te perk, verleen die genoemde priesters, met stilswyende instemming van die huidige wêreldregeerders, vir `n bepaalde vergoeding aan sommige ruwe mense die bevoegdheid om reisigers aan te hou, om `n sodanige skatting van hulle te verlang dat die verder reis hulle, oftewel sterk bemoeilik of wel heeltemal onmoontlik word.
[19] En kyk, dit is dan reeds die volmaakte hel onder die mens! Want daardeur ontstaan daar dikwels die mees woeste gevegte en moord en doodslag. Omdat die reisigers al vooraf goed geweet het wat hulle op die een of die ander weg, of in `n bepaalde streek kan oorkom, reis hulle met groot aantalle tegelyk in karavane en bied hulle hardnekkig weerstand teen sulke rowers, wat veral in hierdie streek sterk verteenwoordig is. Die gevolge van dergelike gevegte ken julle maar al te goed en dit is daarom gladnie nodig om dit van naderby te beskryf nie. Glo julle dalk dat so iets in God se wil besluit kon gewees het?
[20] Weliswaar sou die mense ten slotte almal begin te reis, as die vryheid van reis geen wyse beperkinge sou ken nie en dan sou die verbouing van die aardbodem, wat noodsaaklik is vir die fisiese lewe van die mens, groot skade ondervind. Maar kyk, daarvoor word wel deur God gesorg, wat die mens, net soos by die bye, verskillende talente gegee het!”
|
|
|
|
|