|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 197
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Oor die hou van feesdae. Vrae en bedenkinge van die leerlinge met betrekking tot die Essene
197 Toe die oggend aanbreek, was Ek met die twaalf alweer op die been en sê vir Petrus: “Wat dink julle: aangesien dit vandag die dag vóór die Sabbat is, waar die ou Judeërs wat hier in hierdie plek woon, groot belang aan heg - moet Ek vandag werk tot heil van die mens of sal ons hierdie dag die werk laat rus?”
[2] Petrus sê: “Heer, hoe kan Ek as swak, sondige mens U hierin raad gee? Want U alleen weet die beste wat waar is! Maar die son het nog nie opgegaan nie, en U kan met U wil nou alles verrig, voordat die son hierdie plek sal verlig; en om die ou Judeërs nie te vererg nie kan ons vervolgens hierdie voorsabbat hou tot die son heeltemal ondergegaan het. Hierdie dag verbied egter nie om te spreek en te onderrig nie, alhoewel die Judeërs baie waarde aan hierdie dag heg, omdat hulle glo dat dit die geboortedag van Moses is.”
[3] Ek sê: “Dit is nou waarom Ek nou met julle praat en Ek vra dan ook aan julle of julle self enige belang heg aan die dag van Moses?”
[4] Petrus sê: “Heer, ons heg belang aan die leer van Moses, maar nie aan sy dag nie; dit is immers tog nie bewys of dit wel die dag van die groot profeet is nie!”
[5] Ek sê: “Weliswaar is hierdie dag wel die van die profeet, maar dit moet ons nie in die minste verhinder om vandag soveel moontlik besig te wees nie, om die ou droomuitlêers uit hulle waan te wek en hulle hulle dwaashede duidelik te maak. Laat ons nou weer na buite gaan, terwyl al die ander nog rus, dan sal ons sien wat daar vandag alles te doen is!”
[6] Daarmee was die leerlinge tevrede en ons begewe ons dadelik na buite, `n heuwel op, vanwaar mens maklik vir Essea en die uitgestrekte mure en kastele van die Essene kon oorsien. Vanaf die heuwel sien mens ook die weë wat van baie kante na Essea lei, en op die meeste daarvan sien `n mens baie mense wat na hierdie plek trek, waar hulle hulp soek. En so kom daar al gou baie volk hierdie plek binne; maar ons herberg word vir ons vry gehou .
[7] Ons kyk `n rukkie hoe die mense naderkom, en dit skyn vir die leerlinge dat die mense maar baie langsaam vooruit kom.
[8] En die leerlinge Simon en Jakobus die oudste* sê: “Heer, met `n dergelike tempo het hierdie mense van daar tot Jerusalem sewe tot agt volle dae nodig, terwyl ons tot hier, ingesluit die oponthoud onderweg, maar twee dae nodig gehad het. Hoe kon ons eintlik so vinnig hierheen gekom het, terwyl ander mense, wat hulle bowendien nog deur verskillende lasdiere laat dra, opvallend meer tyd daarvoor nodig het? Was ons dalk so nou en dan deur onsigbare magte gedra?” *(Hiermee word Jakobus, seun van Zebedeus bedoel. Jakobus, seun van Alfeus, word “die kleintjie” genoem).
[9] Ek sê: “Dit kon by ons op die eensame, lang padgedeeltes baie goed die geval gewees het, soos dit ook die geval was toe ons die uitgestrekte gebied aan die Eufraat en die boonste deel van Sirië deurgetrek het; want met die gewone manier van loop sou ons vir die reis baie meer tyd nodig gehad het. Wanneer julle later in My Naam sal reis, sal julle julleself ook met groter snelheid kan voortbeweeg oor verlate, uitgestrekte gebiede op aarde, waar geen dorpe en geen mense woon nie.”
[10] Hierop vra Andreas: “Heer, wanneer ek die mense wat hier al sedert enkele dae bly, omdat hulle hulp soek, sou kan optel saam met al hierdie nuwe toestromende mense, dan sou dit wel enkele duisende kan wees! As U ooreenkomstig U liefde en erbarming elkeen sal help wat hulp by U soek, sal ons hier baie dae druk besig wees; want volgens my ervaring stroom daar byna elke dag soveel mense hierheen om hulp te soek. Wat dit betref, sal die Essene ook moeilik te help wees; want hulle het `n wêreldwye bekendheid gekry, wat nou maar moeilik op één slag uitgeroei sal word.”
[11] Ek sê: “Jy dink en spreek nou nog soos `n gewone mens! Het jy dan nie gehoor wat Ek die owerste van die Essene gister beloof het nie? Toe Ek julle vir My die wêreld ingestuur het, het Ek julle almal tog ook die mag gegee om siekes te genees, bose geeste uit te drywe en die arm mense die evangelie te verkondig - en julle het julle van die waarheid van die mag, wat julle van My ontvang het, herhaalde kere daadwerklik kon oortuig, omdat julle, deur in My Naam julle hande op te lê, alle siektes kon genees, behalwe die maansieke jongman, vanweë gebrek aan die regte geloof.
[12] As Ek julle nou so `n mag kon verleen het, sal Ek dit dan nie ook aan die Essene kan gee nie, omdat hulle hulleself immers in alle erns voorgeneem het om op aarde `n hemel kasteel, vry van alle wêreldse belange, vir My te bou? En as hulle so `n mag van My sal ontvang - en in feite al ontvang het - sal hulle ook hulle ou wêreldwye reputasie nie hoef uit te roei nie, maar moet dit wel in `n ander en waaragtige lig plaas; daarom sal ons ook nie lank hier hoef te bly om al die baie hulpsoekende mense – as`t ware elkeen afsonderlik - te help nie. Hulle sal ook deur My gehelp word, deurdat die Essene hulle in My Naam altyd sal kan help. Kyk, julle maak julle bekommerd oor niks!
[13] Laat daar by hierdie geleentheid nou maar baie hierheen kom, sodat hulle op hoogte raak van die nuwe en ware instelling van hierdie plek! Via hulle sal dit dan weldra maklik wyd en syd in die ware lig bekend word, en dit sal heeltemal nie nodig wees om van hieruit bodes na alle windstreke te stuur, wat die mens met hulle verkeerde insigte van hulle ou bygeloof sou moet bevry nie. Wanneer dit nou so en nie anders daarmee gestel is, hoef ons onsself glad geen sorge te maak oor die baie mense wat hierheen trek nie.”
[14] Hierop sê Petrus: “Heer, wat U nou gesê het, is duidelik, en ons is almal ten seerste daarvan oortuig dat dit in volle waarheid so sal gaan! Maar hoe sal dit gaan met die opwek van die baie dooie kinders en ander mense? Want as hulle nie opgewek word nie, sal die Essene tog nog in hulle ou nood verkeer; maar as hulle opgewek word, waartoe U natuurlik in staat is, dan sal daar weldra nog meer mense met hulle dooies hierheen kom en hierdie Essene, wat nou bekeerd is, dwing om hulle dooies weer op te wek. - Hoe sal dit nou voorkom kan word?”
[15] Ek sê: “Ook daarvoor sal gesorg word, en julle hoef geen besorgdheid daaroor te hê of te bekommer nie! Maar dit is goed dat hierdie plek so afgesonderd van ander plekke lê; daarom kan hier ook baie gedoen word, waarvoor ander plekke in hierdie tyd nie geskik sou gewees het nie. En daarom sal ook dit, maar vir die laaste keer, met die dooies gedoen kan word. Hoe en op watter manier, dit weet Ek goed en julle hoef julle dan ook nie daaroor druk te maak nie!”
[16] Daarmee was My ou leerlinge dan ook tevrede; slegs Judas Iskariot wil nog iets opmerk.
[17] Maar ons Thomas val hom dadelik in die rede en sê: “Die Heer het gespreek en daarna moet ons eers spreek wanneer Hy dit vir ons vra, anders moet ons maar net swyg en luister!”
[18] Judas Iskariot sê: “Waarom spreek die ander dan, wat Hy tog ook nie gevra het nie?”
[19] Thomas sê: “Dit gaan ons albei weer niks aan nie; want ons kan nie weet of hulle nie innerlik deur die Heer daartoe uitgenooi was nie. Want in die aanwesigheid van die Heer gebeur daar niks heeltemal sonder Sy wil nie, aangesien Hy ook die Heer van ons gedagtes, wense en begeertes is en vir altyd sal bly. Maar dit sal nie goed gaan met die een wat geen ag slaan op die stem en die wil van die Heer in sy eie hart nie, as hy dit wel hoor, maar hom nie daarvolgens rig nie. So dink ek daaroor, maar ook dit het die Heer in my hart gelê; want ons mense kan vanuit ons eie wysheid niks dink en sê wat werklik goed is nie.”
[20] Daarop sê Judas Iskariot niks meer nie en kyk saam met ons na die taamlik kaal omgewing, wat egter deur die toestroom van talryke mense nou tog baie lewendig was en daarom, soos op `n helder oggend, steeds baie verkwikkend was om te sien.
|
|
|
|
|