Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die dankbaarheid van die Romeine teenoor Maria van Magdala

50 Terwyl ons onsself daar op die heuwel nog `n tyd lank vermaak, sien ons almal vir Maria van Magdala wat na die herberg van Lasarus kom, en sy begin ook onmiddellik by sy dienare na My te vra. Hulle sê haar egter dat sy moes wag tot Ek sou terugkeer; toe sy ons egter al baie duidelik opmerk op die heuwel, laat sy haar nie teëhou nie en loop haastig na ons toe.

[2] Toe sy naby die plek kom waar ons was, gaan Agricola haar tegemoet, groet haar vriendelik en neem haar vervolgens saam na ons, waar sy ook baie vriendelik deur die ander Romeine begroet word.

[3] Maria van Magdala sê egter: “Ek weet werklik nie op grond waarvan my hier so `n eer te beurt val nie! Ek is maar `n sondares en verdien om deur alle mense diep verag te word; maar dat Ek ook enige eer waardig sou wees, en veral die van hoë menere soos u, dit gaan my verstand te bowe. Ek het maar net hierheen gekom om alleen die Heer van my lewe te dank, omdat Hy My van die bose geeste van die vlees verlos het; maar ek het nie hierheen gekom om My so te laat eer nie!”

[4] Agricola sê: “Luister, liewe Maria van Magdala! Ons almal, wat uit Rome hierheen gekom het, is baie aan jou te danke; want as jy ons nie die aand, ongeveer agt dae gelede, die weg hierheen gewys het en ons ook nie hierheen gebring het nie, het ons miskien gladnie die ewige onskatbare seën gehad om die Heer van al die lewe en al sy persoonlikhede te leer ken nie, Hom as die enige ware God te erken en bo alles te leer liefhê. Kyk, dit is dan ook die enigste rede waarom ons jou so dankbaar is en voortaan ook sal bly; verwonder jou nou dus nie al te veel daaroor dat ons jou so vriendelik tegemoet kom nie! Want ons ag dit ons plig, omdat jy ons so `n onskatbare groot seën besorg het.

[5] Ons het naamlik `n goeie staatswet, waarvolgens die een wat deur `n ander mens `n groot en ware seën verkry het, die mens sy lewe lank in hoë mate dankbaar bly in houding, woorde en dade, ook wanneer die mens deur wie se toedoen `n ander so `n groot seën te beurt geval het, nie weet dat hy sy medemens seën besorg het nie. Die dankbaarheid strek ook uit na die nageslag van die mens wat die oorsaak van die seën was.

[6] Wat is egter alle materiële aardse besittings wat `n mens deur toedoen van `n ander kan verkry, vergeleke met die suiwer geestelike besittings wat ons hier ontvang het? Hierdeur het ons die enige ware God en deur Hom onsself, wat verlore was, en die ware lewe van ons siele gevind, en dit is oneindig baie meer as wanneer jy ons alle skatte van die wêreld besorg het. En daarom is ons jou, omdat jy die vernaamste veroorsaakster daarvan was, ook vir altyd groot dank verskuldig.

[7] As jy arm sou wees aan aardse besit, sou ons jou koninklik beloon het; maar aangesien jy tog al baie ryklik voorsien is van die goedere van hierdie aarde, kan ons ons dankbaarheid op geen ander wyse teenoor jou uitdruk as met ons vriendelike, welgemeende en ongeveinsde woorde nie, soos dit ook in ons hart opgekom het, en jy sal `n dergelike dankbaarheid, wat ons aan jou verplig is, tog nie van die hand wys nie?”  

[8] Nou sê Maria van Magdala, eweneens op vriendelike toon: “Dit is weliswaar baie mooi en vriendelik van u edele Romeine dat u My dankbaar wil wees en bly vir die feit dat ek u toevallig - werklik onopsetlik – so `n oneindige groot seën, wat maklik te begryp is, besorg het, maar nietemin kom my om die rede geen dank en eer toe nie; want dit was alles die wil van die Heer en ek self was slegs Sy stom en blinde instrument. En dus is u ook alleen die Heer alle dank en eer verskuldig!” 

[9] Agricola sê nogmaals: “O liewe, lieflike Maria van Magdala! Ons weet ook goed dat ons alles alleen aan Hom te danke het; maar ons het nou so gedink: as ons die Heer so waaragtig en volledig moontlik ons dankbaarheid wil bewys vir die eindelose groot barmhartigheid, wat Hy ons nou so buitengewoon oorvloedig bewys het, dan mag ons tog nie minagtend neerkyk op die instrument waarmee Hy ons tot ons heiliging bedien het nie, maar moet dit vanweë die Heer eweneens eer. En slegs in die opsig eer ons jou dan ook, afgesien van die vraag of jy vir die baie groot lewensgeluk van ons `n siende dan wel slegs `n blinde instrument in die almagtige hand van die Heer was, en ek is van mening dat daarmee ook in die toekoms rekening gehou sal moet word. Want as mens die instrument van die Heer nie met `n dankbare hart sou wil begroet nie, hoe sou dit dan wees met die ware naasteliefde, wat ons immers volgens die leer van die Heer selfs ons vyande verskuldig is en sekerlik nog meer aan diegene deur wie die Heer ons sulke groot barmhartigheidsgawes laat toekom?

[10] Kyk, ons baie lieflike en onvergeetlike vriendin, daarin het ek gelyk en ek laat my dit deur niemand betwis nie; en nou wel die minste deur jou, wat die Heer uitverkies het tot ons begeleide seënbringer en wat ons daarom eer en ware liefde verskuldig is! Gun My dus wat my goeie reg is!”

[11] Maria van Magdala sê: “Ja, ja, in die opsig het u, hoë Heer, heeltemal gelyk, maar self sal ek die Heer, my enigste liefde, vir altyd loof, roem en prys, omdat Hy my, `n groot sondares, tot `n blinde en stom instrument gemaak het! Want as ek geweet het dat Hy hier bo was, het ek u nie hierheen gebring nie; want ek, `n te groot sondares, sou self nie gewaag het om naby die Heer te kom nie, aangesien ek van die waarheid van Sy leer en van Sy heilige goddelike Wese maar al te diep oortuig is en ook insien dat `n sondares, soos ook ek was, dit nooit werd kan wees of word om Sy baie heilige persoon te nader nie.

[12] Maar ten eerste het ek nie geweet dat die Heer hom hier ophou met sy troue leerlinge nie; Ek het egter wel geweet dat hierdie herberg een van die beste van baie in Jerusalem is. En omdat dit gewoonlik deur vreemdelinge besoek word, het ek u hierheen gebring, toe u my in `n straat van die stad aangehou het en na `n goeie herberg gevra het; daarom dien ek menslikergewys slegs aanspraak te maak op u dank, wat u, met my as gids, na `n goeie herberg gebring het. Maar vir die feit dat u hier die hoogste barmhartigheid van die Heer ontvang het, kom my werklik geen enkele dank toe nie, aangesien dit onmoontlik my bedoeling kon gewees het om dit hier aan u te besorg; Ek kon immers self geen vermoede daarvan gehad het dat u hier `n dergelike barmhartigheid sou ontvang nie. Gee daarom alle dank en alle eer alleen aan die Heer, en dink dus nie aan my nie, wat ek u selfs dringend versoek!”

[13] Hierop sê Ek: “Luister, My Maria! Jy het nou baie goed en waar gespreek en het volkome gelyk waar dit jou betref; maar ook die Romeine het gelyk waar dit hulle betref. Deurdat jy My alleen alle eer en alle dank gee, toon jy dat jy volkome vervul is van die ware gees van deemoed, om watter rede ook alle sonde vir jou vergewe is; maar ook die Romeine laat sien dat hulle deurdring is van die regte gees van naasteliefde, en begaan derhalwe geen sonde teenoor My as hulle jou in dankbare herinnering bewaar, ook al was jy slegs `n blinde instrument van My liefde en My wil.

[14] Maar Ek sê nou by hierdie geleentheid vir julle almal: julle moet weliswaar geen dank en eer soek by die mens aan wie julle in My Naam iets goeds gedoen het nie, soos wat Ekself dit ook nie soek by die mense nie, omdat Hy, wat in My woon, My allerhoogste eer is; maar as die mense julle vir die hoogste lewensweldade wat in My Naam bewys is, tot skande sal maak en met ondank sal bejeën, dan sal Ek hulle dit so aanreken asof hulle dit aan Myself gedoen het! Want wie die egte leerling, wat Ek opgewek het, nie eer en hom in My Naam nie dankbaar is nie, die eer ook nie vir My, die Heer en Leraar nie en is My ook nie dankbaar vir die barmhartigheid wat aan hom bewys is nie. 

[15] Want as Ek leerlinge en profete opwek, dan gebeur dit nie net ter wille van die leerlinge en profete nie, maar ter wille van alle mense; en daarom moet die leerlinge en profete ook gewaardeer word as dit waartoe julle deur My geroep is. Wie dus `n leerling of `n profeet in My Naam met liefde en egte dankbaarheid sal opneem, sal Ek ook aanreken asof hy Myself opgeneem het, en hy sal dan ook eenmaal die loon van `n leerling of profeet ontvang. En hulle loon sal beslis nie gering wees nie!

[16] Maar wee die valse leerlinge en profete wat hulle net soos die Fariseërs en Hoëpriesters deur die mense sal laat eer en dit selfs wetlik van die mense sal verlang! Waarlik, hulle sal as diewe en rowers beskou word en eenmaal voor die oë van alle engele tot skande gemaak word! Hoe meer eer hulle vir hulself in hierdie wêreld sal opeis, soveel te meer van die ergste skande sal hulle eenmaal kan verwag.

[17] Dit moet julle almal ook goed onthou, en dit kan julle ook maklik doen; want as julle My gebod van die ware en suiwer naasteliefde in die korrekte lig bekyk, sal julle baie maklik begryp dat elke egte en waaragtige mens die meeste gekwets word deur die stinkende hoogmoed van sy medemens!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205