|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 174
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die maaltyd by die herbergier
174 Toe Ek uitgepraat was, kom daar vanuit die kombuis berig dat die gastemaaltyd klaar was en ook opgedien kon word. Die herbergier gee die teken om die spyse op te dien. En daar word `n groot hoeveelheid baie goeie toebereide spyse op die tafel geplaas, deels op Griekse wyse en deels op Judese wyse, in silwer skinkborde klaargemaak, en op My tafel in goue skinkborde. Die herbergier en die seun en sy vrou en kinders, net soos sy moeder en tuiswonende jonger susters, vra My nadruklik om aan die aandete, wat `n ware feesmaal sou wees, deel te neem, omdat Ek, toe die spyse opgedien word, aanstaltes gemaak het om Myself, saam met My leerlinge, van die tafel te verwyder. Omdat soveel dit vra, bly Ek toe saam met die leerlinge aan tafel, en elkeen in die hele huis word buitengewoon bly en opgewek daaroor. Ons eet en drink wel ongeveer `n uur lank.
[2] Daar word vir My `n besonder goeie vis voorgesit, wat in hierdie streek baie seldsaam en kosbaar was, en Ek eet dit ook op, waaroor Kado sy groot vreugde te kenne gee. Maar omdat enkele leerlinge, wat ook vissers was, min of meer met die waterende monde onder mekaar opmerkings maak oor die feit dat die vis wat Ek geëet het, so kosbaar was, en Kado die opmerkings hoor, spyt dit hom dat hy nie ook vir die leerlinge nog `n paar sulke edele visse in voorraad gehad het nie, en hy sê dat hy môre wel daarvoor sou sorg.
[3] Ek sê: “Vriend, dit is tog nie nodig nie! Die leerlinge, wat merendeels vissers aan die meer van Galilea is, het so onder mekaar gespreek oor die waarde van die vis wat aan My voorgesit is; want dergelike visse is seldsaam en daarom ook kosbaar.”
[4] Hierdie woorde stel Kado en ook sy vader weer gerus en die leerlinge maak daarna ook geen opmerkings meer in die rigting nie, maar prys ook die voortreflikheid van die ander spyse, waarvan nie eens `n derde deel opgeëet kon word nie.
[5] Toe ons klaar was met die gastemaaltyd, kom daar verskeie arm mense van Jerigo, wat gehoor het wat hier gebeur het, en vra of mense hulle nie iets van die oorgeblewe voedsel sou wou gee nie, aangesien hulle baie honger en dorstig was.
[6] Kado vra My of die sogenaamde arm mense ook die waarheid spreek.
[7] Ek sê: “Die meeste wel; daar is wel `n paar by wat meer deur nuuskierigheid en begerigheid hierheen gedrywe word as deur een of ander nood. Maar weerhou ook niks van hulle nie; want ook die Vader in die hemel laat Sy son immers oor sowel onregverdiges as regverdiges skyn!
[8] Wie iets goeds vir sy vriende doen, doen goed daaraan, want dit is immers `n vanselfsprekende plig dat mense iets goed doen vir diegene wat ook maar net aan ons wil goeddoen. Maar dit is van meer waarde om ook vir sy vyande iets goeds te doen. Wie dit doen, sal eendag `n groot vergelding in die hemel kan verwag en op hierdie aarde sal hy daardeur gloeiende kole op die hoofde van sy vyande opstapel, hulle daardeur eers hulle skuld aantoon sonder regter en regbank en hulle tot sy vriende maak.
[9] Sien, almal wat nou hier is, wat kom vra vir wat oorgebly het, is geen vriende van die huis nie, omdat hulle dit as baie ryk, maar tewens as hardvogtig ken! Voldoen nou dan ook aan hulle begeerte, dan sal hulle môre en in die vervolg anders oor julle oordeel!”
[10] Kado en sy vader bedank My vir die advies en die vader gee opdrag om die reste in `n groot mandjie te versamel en dit so aan die smekelinge uit te deel en gee elkeen ook `n aansienlike kruikie met goeie wyn.
[11] Toe die smekelinge so goed voorsien was, begin hulle die goedheid en regverdigheid van die herbergier ook baie gou te roem, en verskeie van hulle vra hom bowendien nog vrywillig om vergewing, as hulle hulleself ooit misprysend oor hom mag uitgelaat het. Maar die herbergier laat hulle vriendelik gaan, terwyl hy hulle die versekering gee dat hy vir niemand meer een of ander grief koester nie. Almal gaan nou rustig weg en vanaf die straat was in die kamer nog die een loftuiting na die ander oor die herbergier en sy seun Kado te hoor.
[12] Toe sê die herbergier vir My: “O, hoeveel dank is ek nou nogmaals verskuldig, vir die feit dat U My nou in één oomblik van baie vyande bevry het, deur U baie wyse raad, wat ek egter van nou af aan ook steeds streng in ag sal neem! Maar nou wil ek U iets anders voorlê, en ook daarin sal U my beslis die beste raad gee!
[13] Kyk, Heer en Leraar, soos aan U ook maar al te goed bekend is, is ons almal Grieke, en dus heidene! Maar tog hou ons julle ou geloofsleer steeds meer in ere, hoe meer ons Moses en die profete deurblaai. Ons het dan ook al verskeie kere die besluit geneem om ons vas en onverbreeklik by julle geloof aan te sluit en sodoende dan ook volgens die grondbeginsels en wette daarvan te lewe en te handel. Maar dit gaan nie so maklik soos ons dit vir ons voorgestel het nie.
[14] Wat die suiwer leer self betref, sou vir ons alles wel in orde gewees het, en ons het dan ook al meermale met `n plaaslike rabbi daaroor gespreek. Maar hierdie klets teenoor ons oor `n hele spul lastige oorgangseremonies, wat volgens my idee, heeltemal oorbodig is en elke beter en verstandige betekenis mis, en, indien ons dit nie aan ons laat voltrek nie, oor `n groot ontheffingsom, volgens die wette van die tempel, laat blootstel. En daarom het ons tot op die oomblik nog Grieke gebly, en des te meer omdat ons van julle priesters werklik nog nooit enige besondere opbouende en aanloklike getuienis gehoor het nie.
[15] Wat dink U nou daarvan? Is die oorgangseremonies of die groot ontheffingsom absoluut noodsaaklik om in die hart, in die wil en in die verstand `n goeie Judeër te word, en kan mens op geen enkele ander manier volkome Judees word nie?”
|
|
|
|
|