|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 61
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die belangrikste taak van die mens
61 Ek sê: “Vriend en broeder Markus, seun van Aurelia, die mees deugsame en welopgevoede patrisiërs vrou, jy het die onderrig wat Ek jou gegee het, nie net by benadering korrek en goed begryp nie, maar jy het die spyker presies op die kop geslaan, en Ek sê hier nogmaals: so sal die lig van die Judeërs afgeneem word en aan die baie wyser heidene gegee word. Want die lang nag van die heidene is verander in die dag, en die dag van die Judeërs gaan onder in die donkerste nag.
[2] Bring hulle almal hier na My uit geheel Jerusalem en uit dit hele Judese land, en daar sal nie één by wees wat hulle in die ware wysheid kan meet met hierdie Markus van My nie!
[3] Ek sê vir jou volgens waarheid dat jy met jou goeie verstand nou in My hart `n groot vreugde berei het; want My woorde het lewend geword in jou hart! En daarom sal jy en ook jou metgeselle binne `n baie kort tydjie in julleself die volledige wedergeboorte in My Gees bereik.
[4] Jy, Markus, staan nou al by die ingang van die nou lewenspoortjie van jou werklike lewenskamertjie; want as dit nie die geval sou wees nie, sou jy die diepgang van My woorde nie so helder begryp het soos wat jy nou gedoen het nie. Want so iets kan die vlees die mens nie skenk nie, maar slegs My Gees, wat reeds vir sy siel in hom ontwaak het.
[5] Daaraan kan julle nou almal duidelik sien, hoe diepgaande die waarheid en wysheid van diegene sal wees wat hulle kan verheug in die volledige wedergeboorte van hulle siel in My Gees. Ek sê julle hier nogeens wat Ek julle al herhaalde kere gesê het, naamlik dat geen menslike oog ooit gesien, geen menslike oor ooit gehoor en geen menslike bewussyn ooit ervaar het, wat se eindelose en onuitspreeklike saligheid God berei het vir diegene wat Hom werklik, dit wil sê, met daad liefhet!
[6] In Myself is Ek sedert ewigheid natuurlik in die hoogste en volle genot van die allerhoogste saligheid; want My Liefde, My Wysheid en My oneindige groot mag bied My in Myself ewig die onnoemlike allersaligste genot van My goddelike, in alle opsigte volmaakte lewe, en as julle Vader sê Ek vir julle: wat Ek het, moet julle as My liefste kinders ook hê! Want waar is daar op hierdie aarde `n vader wat nie graag al sy vreugde sou wil deel met sy kinders nie, wat hy meer liefhet as homself, en uiteindelik self eers die grootste vreugde beleef, wanneer hy sy geliefde kinders vol vreugde om Hom heen versamel het?
[7] Dink julle dalk dat die Vader in die hemel Hom minder verheug oor Sy kinders, wat Hom bo alles liefhet? O inteendeel, nog eindeloos baie meer! Maar daarom sal Hy hulle ook eindeloos baie groter vreugde berei, as `n aardse vader van ganser harte vir sy kinders doen of kan doen; want julle Vader in die hemel het werklik die oneindigste en ewig wonderbaarlikste verskeidenheid metodes.
[8] Maar doen daarom dan ook dikwels en met groot ywer dit wat Ek julle nie beveel het nie, maar slegs as Vader aangeraai het, dan sal julle in julleself spoedig gewaar word watter loon vir julle te wagte staan!
[9] “Sê nou self, en dink goed daaroor na: Sou `n koopman, as hy geweet het dat hy vir `n aanneemlike prys een van die allergrootste pêrels van beslis onskatbare waarde sou kon koop, nie `n groot dwaas wees, as hy nie, ook al sou hy nie soveel geld besit het nie, nie dadelik al sy goedere van mindere waarde sou verkoop en in plek daarvan, die onskatbare pêrel sou koop nie? Want die onskatbare pêrel is in die oë van die mens tog onuitspreeklik baie meer werd as al sy voormalige goedere te same.
[10] Kyk, so is dit nou ook gestel met die waarde van die wedergeboorte van die menslike siel in haar oerlewensgees vanuit My! Is dit nie werd dat `n goeie mens afsien van alle wêreldse skatte en met al sy krag maar net streef na die grootste lewenspêrel nie, naamlik die wedergeboorte van die siel in die oerlewensgees? Of is dit nie beter om sorg te dra vir die ewige lewe van die siel, as om besorg te wees oor alle verganklike skatte van die wêreld, wat vergaan en verrot, en waarskynlik nooit meer volledig sal terugkeer na die ewige, heldere lewe van hulle siele nie?
[11] Dit is wel waar dat die siel haar tydens haar lewe op hierdie aarde dit toe-eien wat in haar vlees aan haar verwant is en dit na haar wese transformeer. En wanneer die liggaam heeltemal afgeval het, eien sy dit ook nog stukkie vir stukkie uit die ontbindingseter toe, wat met haar ooreenstem, om haar daarmee te beklee; maar daarom is dit nog geen lewenskat van `n siel nie, maar enkel in My orde `n vasgelegde lewenseienskap van elke siel, wat haar nooit as verdienste aangereken kan word nie, omdat dit iets is waarvoor net Ek gesorg het.
[12] Maar julle kan ook as seker en waar aanneem, dat by `n suiwer siel, wat volgens My wil geleef het, meer van haar aardse liggaam in haar sal oorgaan as by `n onsuiwer en sondige siel; want as `n kuis liggaam reeds hier `n sieraad van die siel was, dan sal dit in `n verheerlikte geestelike toestand sekerlik nog baie beter wees.
[13] Maar ook dit behoort selfs nie tot die eintlike lewensverdienste van die siel nie, maar is eweneens `n instelling van My wat die siel beloon, en dit sou selfs `n ydel dwaasheid van die siel wees as sy haarself ook maar één oomblik sorg sou wou maak oor hierdie aardse skat wat ook aan ander kant vir haar bly bestaan, omdat dit immers by haar “ek” hoort. Ja, die besorgdheid sou heeltemal te vergelyk wees met die van baie dwase ouers, wat hulle maar net daaroor bekommer of hulle kinders wel `n baie mooi en bekoorlike gestalte sal kry en hoe hulle daarvoor moet sorg dat hulle ydele dwase wens in vervulling gaan, maar nie daarby bedink dat die groei en die uiterlike gestalte enkel en alleen afhang van God se wil en dat geen mens iets daaraan kan verander nie.
[14] Vir elke siel is dit daarom maar net noodsaaklik dat sy My lewensryk in haarself sal soek in die klein hartkamertjie van die oorspronklike lewe en dit ook vind; al die ander sal immers tog al as `n vrye toegif van My ontvang word.
[15] Daarom het Ek julle ook al verskeie kere gesê dat julle nie angstig besorg moet wees oor wat en waar julle iets te ete en te drinke sal kry en waarmee julle julle liggaam sal klee nie, maar dat julle veral My ryk en sy ware geregtigheid in julleself moet soek! Al die ander sal somaar vir julle daarby gegee word; want die Vader in die hemel weet wat julle vir julle aardse lewensonderhoud nodig het.
[16] As julle vandag werk en eet en drink, het julle voldoende gesorg vir die moeite van die dag. Dit sou daarom nutteloos wees om julle op die dag waarop julle werk, ook al sorg te maak vir die dag van môre; wanneer julle dit sal belewe, sal dit sy eie sorg wel met hom saambring. Want slegs die dag waarop julle nog lewe en werk, is deur My op julle rekening geskrywe; die komende rus nog in My hand en daarvoor dra julle nog nie die verantwoordelikheid nie. En daarom is dit dwaas om julle in aardse opsig vandag al sorg te maak vir môre; want dit is immers heeltemal net aan My te danke, of Ek `n mens die komende dag sal laat meemaak of nie.
[17] So was daar ook eens `n Heer van die huis, wat groot landerye en kuddes besit het, wat hom van vooraf sodanig besorg gemaak het dat hy, om sy aardse rykdom te vergroot en veilig te stel, nuwe skure, stalle en groot, stewige graanskure laat bou het en bowendien nog, vir groter beveiliging, `n sterk, hoë muur om die nuwe geboue laat optrek het. En toe alles klaar was, sê hy: “Hei, nou word dit ligter in my sorglike hart; want van nou af aan sal ek met my groot besittings sonder sorge en onbekommerd rustig kan verder lewe!” Maar terwyl hy nog so, homself troostend, deurpraat, weerklink daar `n stem soos `n donderslag, wat sê: “O jou aardse ydele dwaas! Jy prys en troos jouself asof jy self meester is oor jou siel en jou lewe! Kyk, nog in hierdie nag sal jou siel geskei word van jou vlees, waaroor jy so besorg was. Wat se nut sal al jou groot sorg, inspanning en werk vir jou siel hê?” Toe skrik die man en sien dat hy nog baie weinig vir sy siel gesorg het, en spoedig na die berig sterf hy.
[18] Vra jouself nou af wat vir die mens eintlik die nut was van sy groot besorgdheid in die wêreld oor die wêreldse dinge! Sou dit nie verstandiger gewees het, as hy liewer sy siel waar en goed versorg het en in homself God se ryk gevind het nie, soos ook in die vroeë tye toe mense dit ook in hulself gevind het en selfs ook die heidene, soos wat julle dit ook duidelik by die sewe Egiptenare kan merk?
[19] Daarmee wil Ek egter nie sê dat `n goeie mens volgens My wil heeltemal geen aardse arbeid hoef te verrig nie! O, inteendeel; want liggaamlike niksdoen verwek en voed alle sonde! Daarenteen moet elke mens waarlik aktief en besig wees en in die sweet van sy aangesig sy brood eet.
[20] Dit kom hierby maar net aan met watter intensiteit `n mens aktief en werksaam is. Wie sorgsaam, aktief en werksaam is, soos My vriend en broeder Lasarus dit ook is, die soek ook kragtig en doeltreffend in homself na My ryk en die geregtigheid daarvan en sal dit ook vind, net soos hy ook, en jy ook, My beste Markus, dit al vir die grootste deel gevind het. Wees daarom nou vrolik en opgewek; want julle het julle die groot pêrel al toegeëien en sal vir julle broeders `n gedugte steun wees.
[21] Maar laat ons nou `n bietjie uitrus, want daar, langs die weg wat vanuit die weste hierheen lei, sien Ek sommige van die leerlinge terugkom wat Ek na Emmaus uitgestuur het; hulle sal weldra hier wees, en dan sal ons hoor hoe dit met hulle gegaan het.”
|
|
|
|
|