Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 131

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die vraag na die persoonlikheid van RafaEl

131 Toe die hoofman dit van My gehoor het, wend hy hom dadelik na die vermeende jongman en sê vir hom: “Luister, my jong en baie bevallige vriend! Hoe is dit eintlik dat jy jou in jou jong jare in die eet en drink wel haas met `n reus sou kan meet en dit jou geen skade toebring nie?”

[2] RafaEl sê: “Maar wat my krag betref is ek ook `n reus, ook al lyk ek nie daarna, wat my gestalte betref nie! As jy wil, kan ek jou dadelik `n staaltjie laat sien!”

[3] Die hoofman sê: “As jy so iets kan doen, laat my dan iets van jou reusekrag sien!”

[4] Daarop sê RafaEl: “Baie goed! Kyk, daar by die muur tussen die twee groot vensters staan `n ysterpilaar, wat dien om tydens feeste as `n offeraltaar gebruik te word; dit is naamlik `n huisofferaltaar, en in vroeëre tye was daar baie offers daarop verbrand. Nou is hierdie byna manshoogte pilaar natuurlik maar net suiwer `n sieraad van hierdie eetsaal. Hoe swaar skat jy hierdie pilaar, wat behalwe sy hoogte ook `n baie aansienlike omvang het?”

[5] Die hoofman staan op en ondersoek en bekyk die pilaar eers goed en sê toe: “Ja, my beste jong vriend, die gewig van hierdie pilaar is nouliks te skat; Ek dink dat ons huisheer Lasarus ons meer daaroor sou kan vertel.”

[6] Hierop sê Lasarus: “Hierdie pilaar is geskat op twintig duisend pond en is al tweehonderd jaar gelede met baie moeite en koste uit Korinte hierheen gebring.”

[7] Die hoofman sê: “Ja, so swaar het ek hom ook op sy minste geskat! En wat gaan jy, my beste jong vriend, nou met hierdie geweldige sware pilaar doen?”

[81 RafaEl sê: “Ek gaan hom optel en baie rustig en sonder enige inspanning neersit waar jy hom maar wil hê!”

[9] Die hoofman sê: “Jy het dit gesê en wil dit ook doen; beproef jou reusekrag dus maar op hierdie pilaar en plaas hom by die volgende venster!

[10] Toe die hoofman dit gesê het, staan RafaEl op, loop na die pilaar, gryp hom met beide hande vas, tel hom vinnig in die hoogte met so `n groot gemak op asof dit `n donsveertjie was en sit hom met dieselfde gemak op die aangegewe plek, laat hom daar enkele oomblikke staan en sit hom toe op Lasarus se versoek weer terug op die ou plek.

[11] Toe hy klaar was met hierdie kragproef, sê hy (RafaEl), vriendelik glimlaggend, vir die buitengewone verbaasde hoofman: “Wel nou, my vriend, begryp jy nou waarom ek ietwat meer eet as `n ander mens?!”

[12] Die hoofman sê: “My mooi jong vriend, wanneer jou reusekrag sou afhang van die feit dat jy ongeveer vier keer soveel eet as een van ons, sou jy nog lank nie so met hierdie swaar pilaar kan speel asof jy met die gewig van `n veertjie te make het nie; want dan sou jy wel vir honderd mense moet kan eet, omdat daar na my mening wel die krag van honderd mense nodig is om hierdie pilaar baas te raak. Jou reusekrag blyk dus `n baie ander oorsaak te hê! En ek sal waarskynlik nie al te ver daarnaas sit nie, as ek sê dat agter jou ongehoorde reusekrag hierdie Heer van alle meesters, `n ware God der elohim sit! Wat dink jy van hierdie mening van My?”

[13] RafaEl sê: “Ja, ja, dit het jy baie waar geantwoord; maar hierdie Heer skuil ook agter elke mens en agter alles, wat bestaan, en dus ook agter jou, en tog kry jy hierdie pilaar nie van sy plek nie! Hoe is dit dan moontlik, volgens jou?”

[14] Die hoofman sê: “Dit is volgens my oordeel baie maklik te begryp! Die een aan wie Hy by die een of by die ander meer krag wil gee, hetsy vir altyd of ook vir `n oomblik, het die krag dan ook; Ek en ook baie ander mense het Hy egter slegs soveel krag gegee as wat vir my as gewone mens nodig is.

[15] Wel nou, waarom Hy nou juis vir jou met so `n buitengewone groot krag toegerus het, is `n ander vraag, wat niemand, behalwe Hy en jy sekerlik ook, sal kan beantwoord nie!”

[16] Daarop sê RafaEl: “Op grond van die saak het jy wel gelyk, hoewel hier behalwe jy, jou metgeselle en die herbergier uit die omgewing van Bethlehem, waarskynlik niemand is wat nie weet met wie hy in my persoon te make het nie. Maar ek het gehoor dat jy benede by die herbergier in die dal die Heer en Leraar stewig toegespreek het oor die feit dat God Hom weinig oor die ontwikkeling van die mens bekommer en sal ten slotte al die innerlike lewenslig sou moet verloor. Bowendien verlang jy dat die siele van die liggaamlik gestorwe mense hulle hier aan die lewendiges sou moes toon, sodat hulle daaruit kon uitmaak en eg glo dat daar na die dood van die liggaam `n voortlewe van die siel bestaan en hoe dit dan daar uitsien.

[17] Die Heer het jou goed daaroor onderrig en jy het die les ook begryp, hoewel jy self nog nooit `n siel gesien het wat reeds die liggaam verlaat het nie. Die Heer kon al daar by die herbergier in die dal jou oë geopen het, sodat jy onmiddellik sigbare kontak kon kry met die siele van gestorwenes; maar dit het Sy wysheid behaag om jou eers hier te laat sien wat jou egte geloof nog ontbreek. En die taak het die Heer my nou in my hande gegee en ek het my dan ook reeds by die ete sodanig gedra dat dit jou wel moes opval. Ek kan jou behalwe my kragproef nou ook nog wel ander bewyse gee, as jy dit verlang!”   

[18] Nou dink die hoofman daaroor na wat hy RafaEl sou vra.

[19] Maar nou meng ook die leerlinge van Johannes in die gesprek in en sê vir RafaEl: “Luister, jong Simson, jy het maar `n paar mense genoem wat jou nie sou ken nie; maar ons ken jou ook nie! Openbaar jou daarom ook aan ons; want wat die voortlewe van die siel na die dood van die liggaam betref, het ons ook nog geen helder geloof nie!

[20] Toe Johannes in die gevangenis onthoof was, het `n groot angs en droefheid ons oorval, en ons het sterk daarna verlang dat sy gees na ons toe sou kom om ons te sê, wat ons nou verder moes doen. Maar ons verlange bly tot nou toe onvervuld en toe kom ons so onder mekaar tot die opvatting van die Sadduseërs, wat nie glo in `n voortlewe van die siel na die dood van die liggaam nie.

[21] Ons oordeel as volg: as die siel, in die besonder die van so `n vroom leraar, voortleef en dus ook voel en dink, kan dit haar tog ook aan die ander kant nie onverskillig laat wat haar lewende leerlinge hier doen en in watter troostelose toestand hulle hulleself bevind nie! Maar as hierdie leerlinge nou al dikwels onder trane die gees van die afgestorwene gesmeek het, of hy aan hulle sou wil verskyn en hulle tenminste in soverre sou wil troos deur te laat weet dat hy na die dood gelukkig voortleef in die wêreld van die geeste, maar hy het al die dringende smeekbedes onverhoord gelaat, wat moet jy dan anders dink as: die geloof in die voortlewe van die siel na die dood van die liggaam is niks anders as `n algemene gedagte en uitgesproke vroom wens, maar geen waarheid wat ooit volkome aangetoon kan word nie!

[22] Maar hierdie opvatting is werklik absoluut nie troosvol vir mense wat iets dieper dink as wat dit die geval by die gewone, lughartige, liggelowige mense is nie, wat hulle om iets hoërs bekommer; en wel des te minder, omdat die meeste mense ten slotte die dood, wat hulle vernietig, dikwels met die grootste leed en die onverdraaglikste pyne moet tegemoet gaan. Jy, jong Simson, sal goed daaruit begryp dat ook ons alle rede het om jou van naderby te leer ken!” 

[23] RafaEl sê: “Die mening is ek weliswaar ook toegedaan, maar dit sal met julle wel enigsins moeilik te bespreek wees, omdat die geloof, wat die lewenslig van die siel is, nog nooit `n stewige basis by julle gehad het nie! Maar `n leerling van die Heer het tog al iets oor my in julle oor gefluister en daarom kon ek julle dan ook nie heeltemal reken tot diegene wat heeltemal niks oor my sou weet nie! Maar julle sê: “Ag, hou op met dergelike praatjies! Hoe kan dit nou, en wie kan so iets glo?!” Ja, vriende, wanneer julle die leerling, wat my baie goed ken, nie glo nie, hoe sal julle my dan glo? Sal julle dan nie by julleself sê: “O, dit oortref alles! Die jong magiër verstaan baie goed die kuns om ons verstand met allerlei towerkunste te verbyster!” Wat sal ek dan verder nog vir julle kan doen, om julle in julle geloof te versterk?” 

[24] Eén van die leerlinge sê: “Maak jou maar nie daaroor bekommerd nie, jong Simson; want soveel beoordelingsvermoë besit ons wel dat ons die waarheid van iets vals kan onderskei, anders sou ons nooit leerlinge van iemand soos Johannes geword het nie!”

[25] RafaEl sê: “Nou goed dan, kyk en luister julle dan ook!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205