Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 110

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die Heer bevry gevange kinders uit die hande van Romeinse soldate

110 Vandaar loop ons nog so `n drie duisend treë swygsaam voort en sien die troep soldate met hulle wapens die heerweg opkom, wat hier oor `n hoogte voer. Hulle maak baie lawaai, soos dit ook by hulle gebruiklik was, en woel met hulle voete die stof van die weg soseer omhoog dat daar ook `n regte wolk van stof met hulle saamtrek.

[2] Agricola meen dat ons maar liefs `n ent van die weg af moes gaan, omdat dergelike ruwe krygsknegte, wat tydens sulke marse dikwels dronk was, nie al te vriendelik omgaan met reisigers wat hulle op die pad teëkom nie.

[3] Ek sê: “Daarin het jy seker gelyk; maar dit is wel die skuld van julle Romeine self dat julle krygsknegte sulke ruwe en woeste mense is! Leer hulle, behalwe hoe hulle die wapen moet gebruik ook om mens te wees, dan sal hulle hulleself ook as sodanig gedra!”

[4] Agricola en ook die ander Romeine onthou hierdie opmerking van My, en toe die wilde troepe in die omgewing kom, gaan ons dan ook `n paar tree van die weg af. Maar dit help ons nie baie nie; want die aanvoerders gee die krygsknegte opdrag om te halt, en kom vervolgens baie brutaal op ons af en vra ons, wie ons was en waar ons heengaan en vir watter sake en aangeleenthede.

[5] Toe tree Agricola na vore en sê vir die hoofaanvoerder: “Kan jy lees?”

[6] Hierdie (die aanvoerder) sê: “Ja, anders sou ek geen hoofman gewees het nie!”

[7] Agricola haal nou `n rol perkament uit `n tas wat hy by hom dra, en laat die brutale aanvoerder dit sien. Toe hy sien wat daar op die rol staan, skrik hy en verontskuldig hom.

[8] Maar Agricola waarsku hom en berispe hom met skerp en baie indringende woorde vanweë sy rumoerige gedrag.

[9] Toe trek die aanvoerder die troepe dadelik in alle rus en orde terug.

[10] Maar Agricola en die ander Romeine loop daarop na die groep soldate en ondersoek hoe dit by hulle verder met die orde gestel was. Hy ontdek te midde van die groep `n paar jong meisies en twee jongmanne, van wie die hande agter die rug vasgebind was.

[11] Toe die Romeine dit met groot verontwaardiging ontdek, vra hulle onmiddellik aan die aanvoerders wat dit beteken, of hierdie mense skuldig was aan die een of ander misdaad en watter nasionaliteit hulle is.

[12] Die aanvoerder raak in groot verleentheid en weet nie wat se antwoord hy die streng en hoë Romein moes gee nie. 

[13] Toe begin die meisies en beide die jongmanne vir Agricola huilend in Hebreeus te vra of hy hulle nie uit die mag van hierdie ruwe en wrede soldate wil bevry nie; want hulle is kinders van baie eerlike ouers in die omgewing van Bethlehem, het hierdie soldate geen enkele kwaad aangedoen nie, en hulle ouers, wat `n herberg daar het, het al hierdie soldate goed bedien met alles wat hulle verlang het, naamlik tien sakke wyn en dertig brode en het ten slotte vir die verlangde nie meer as sewentig muntstukke gevra nie. 

[14] (Die gevangenes): “Maar toe word hierdie soldate so kwaad en betaal nie net niks nie, maar verlang van die ouers nog meer as duisend muntstukke, as straf vir die feit dat die ouers dit gewaag het om sewentig muntstukke van die soldate te vra. Soveel geld het die ouers egter nie en hulle smeek hierdie soldate om vergewing en welwillendheid. Maar daar help geen bid en smeek nie; die ouers word in hulle eie huis stewig aan die deurposte met toue vasgebind. Daarop gryp die soldate ons sewe kinders saam, bind ons hande agter die rug en dryf ons met hulle voort op die manier soos julle hoë menere ons nou ook sien. Ons weet absoluut nie wat hulle van plan is om met ons te doen nie; maar dat hulle niks goeds met ons bedoel nie, is baie duidelik. O goeie en groot menere! Bevry ons tog, terwille van JaHWeH, van hierdie woestelinge!” 

[15] Nou word Agricola heeltemal rooi van woede, beveel dat die sewe kinders oombliklik vrygelaat moes word - wat ook onmiddellik gebeur - en sê toe vir die aanvoerders: “Beskerm julle as Romeine so die regte van ons onderdane? Weet julle nie hoe die hoofreël lui nie, waarop elke soldaat moet sweer? Die lui: “Leef opreg, beledig niemand sonder rede nie; maar wie jou beledig terwyl jy volgens die wet handel, moet voor die gereg gebring word!” En tot slotsom: “Gee en laat elkeen wat syne is!” Het julle nou volgens hierdie ou hoofreël gehandel? Wie het julle die reg gegee om onderweg van die een plek na die ander die herberg te beroof, waarvan die eienaars ons onderdane is en wat onder die beskerming van ons wette staan?”

[16] Die aanvoerder verbleek, want hy ken die onverbiddelike strengheid van die aan hulle reeds lank bekende staatsman en vra hom om barmhartigheid.

[17] Maar Agricola sê: “Hierdie kinders en hulle ouers het julle ook om barmhartigheid en erbarming gevra! As julle die onskuldiges geen barmhartigheid en geen erbarming betoon het nie, hoe verwag julle, brutale ellendelinge, om barmhartigheid dan nou van my te smeek! Ek sal julle as gewone rowers en moordenaars laat behandel en hierdie krygsknegte tot gewone galeislawe maak! Keer nou om en gaan voor ons uit na Bethlehem! Ek sal die owerste aanwysings gee wat daar met julle ellendelinge moet gebeur!”

[18] Hierop gaan Ek na Agricola toe en sê vir hom: “Vriend, jy het baie goed daaraan gedoen, dat jy ten eerste die kinders bevry het, en ten tweede hierdie dronk soldate met jou vonnis volkome nugter gemaak het. Maar die eintlike skuld van hulle grofheid dra hulle nie soseer self nie, as wel die een wat hulle na Galilea gestuur het. Hy het die geld van die keiser, wat as reisgeld vir hierdie groep bestem was, vir homself gehou en het hulle toegestaan om hulle onderweg in die herberg en ook by die landliede goedskiks of kwaadskiks te verskaf wat hulle nodig het. En jy weet dat julle soldate, as hulle van hulle seniors toestemming kry om te plunder, niks ontsien nie en soos leeus, tiers en hiënas optree; daarom is die oortreding van hierdie soldate baie geringer as wat dit op die eerste oogopslag skyn te wees.

[19] Die vernaamste fout en die eintlike oorsaak van dergelike vergrype lê egter in julle onvoorwaardelike vertroue in julle veldhere en owerstes. Julle voorsien hulle van alle moontlike generale volmagte, met die gevolg dat elkeen in sy ampsgebied gewoonlik keiser speel en doen wat hy wil, sonder om hulle teveel oor die algemene wette van Rome te bekommer, aangesien hyself in sy ampsgebied, na gelang van sy stemming, willekeur wette kan en mag uitvaardig.

[20] As daar so nou en dan `n owerste is wat van nature `n goeie en regverdige mens is, dan sal mens in die ondergeskikte ampsgebiede onder hom, ook goed kan lewe en handel; maar as die owerste te veel op sy persoonlike voordeel uit is, wee dan al diegene wat onder die mag van sy swaard staan! En kyk, dit is nou hier in die groot ampsgebied van Bethlehem die geval!

[21] Die huidige hoofman, wat deur julle die hoogste mag in die hande het en heeltemal handel soos ook deur Rome aan hom toegestaan is, is op sy eie voordeel uit en stel dan ook sulke verordeninge op dat hy beslis nooit tekort kom nie; maar die volk weeklaag en vervloek in hulle hart die Romeinse oorheersing en tirannie. Die saak sit presies so inmekaar soos wat Ek jou nou uiteengesit het, en nou is die vraag wie daar by hierdie handeling eintlik tot `n straf veroordeel moet word.

[22] Sien, Ek weet baie goed dat dit hier in die omgewing van Bethlehem sou gebeur en het om die rede dan ook met julle hierheen gereis, sodat die kwaad hier verhelp sou word; maar dit moet daar verhelp word waar die eintlike fout is! Want deur hierdie soldate hier te bestraf, sal niemand gehelp word nie; gee hulle `n teregwysing, `n ware voorskrif hoe hulle hulleself in die vervolg moet gedra en gee hulle reisgeld vir die reis na Galilea, dan sal hulle, heeltemal soos dit ook hoort, op die plek van hulle bestemming kom!

[23] Maar van die hoofman wat ons vanmiddag in dieselfde herberg sal aantref as waar die kinders vandaan kom, moet jy die generale volmag afneem en jy moet hom wette gee, dan sal alles in orde wees!”

[24] Nou sê Agricola: “Ja, ja, Heer en Leraar, U het ook nou weer in alle opsigte volkome gelyk, en ek sal die reëlings ook geheel volgens U woorde tref! Maar boonop moet ons onsself nou haas om na die herberg te gaan en die ouers van hierdie liewe kinders uit hulle kwelling en nood te bevry.

[25] Ek sê: “Daarvoor is al gesorg; want hulle bure was so goed gewees om na die stad te gaan, na die hoofman, om aangifte te doen vanweë hulle kinders, in die hoop dat hulle weer teruggegee sal word. As ons in die herberg aankom, sal ook die ouers van hierdie kinders terugkom.

[26] Die hoofman sal `n regte wil ervaar en sal `n ruiter agter hierdie groep aanstuur, aan wie hulle die kinders ongedeerd moet oorhandig, en ons hoef nou nie meer lank te wag totdat die ruiter aankom nie; gee hom dan die instruksie vir die hoofman dat hy rondom die middaguur by jou in die herberg moet verskyn, dan sal ons hom ook wel in die herberg aantref as ons daar kom. Maar die kinders sal ons met ons saamneem.”

[27] Die aanvoerder hoor egter wat Ek met Agricola bespreek het en sien dat hy hom na My woorde rig, en hy wil hom voor My op die grond werp om My te bedank.

[28] Maar Ek sê vir hom: “Slegs hierdie keer het Ek julle gered; wanneer julle julleself egter op `n ander plek nogmaals so sal gedra soos julle julleself in die herberg gedra het, dan sal julle nie meer gered word nie. Maar wag nou hier, totdat julle opdrag kry om te vertrek, en reis dan ook rustig verder soos dit hoort!”

[29] Vir hierdie woorde bedank hulle My en hulle noem My `n groot wyse, wie se woord magtiger was as die anders so onverbiddelike strengheid van die hoë en magtige Agricola; maar hulle noem My ook die regverdigste van alle regverdiges, en ook die hele troep loof My hardop.

[30] Daarop gee Agricola hulle die instruksie om in Bethanië te bly totdat hy sou terugkom, en dat hulle soveel brood en wyn kon kry as wat hulle redelikerwys nodig gehad het, wat hy dan sou betaal, en dat hy ook vir die verdere reisgeld sou sorg; tegelykertyd gebied hy hulle ook ten strengste om hulle goed en behoorlik te gedra, wat hulle hom dan ook plegtig beloof. Daarop beveel hy hulle om verder te trek. Hulle stel hulleself ordelik op, bedank My nogeens en sit hulleself in beweging.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205