|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 73
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die twee laaste ontwikkelingsperiodes van die aarde
73 (Die Heer:) “In die tyd van Adam, waarmee die sesde periode begin het, moes die aarde weer vir `n deel groot veranderinge deur vuur en water deurmaak, en met hierdie geleentheid gaan die beskrewe pre-adamitiese geslag saam met hulle huisdiere nagenoeg heeltemal ten gronde, net soos die baie bosse en ander diere daarin, en die wat nie tot die huisdiere gereken kan word nie; slegs enkele voëlsoorte bly bestaan, net soos die diere op die berge en in die water van die aarde.
[2] Hier en daar het die beskrewe prehistoriese mens nog wel bly bestaan, maar slegs weinig in getal, en het met die Mense tot in die tyd van Noag in Asië geleef; hulle het egter langsamerhand agteruitgegaan, omdat hulle nie voldoende voedsel meer gevind het wat geskik was vir hulle nie. Maar in enkele gebiede diep in Suidelike Afrika en op enkele groter eilande van die uitgestrekte aarde kan nog enkele kwynende nakomelinge van die vyfde periode aangetref word. Hulle is egter nog heeltemal wild; tog het hulle hier en daar, vanaf die nakomelinge van Kaïn, `n ietwat hoër beskawing hul eie gemaak. Hulle kan afgerig word vir verskillende soorte werk, maar in die grond van die saak tog niks uit hulleself bedink nie. Met `n deel van hulle is dit ietwat beter gestel, omdat hulle uit `n vermenging met die Kainiete en later ook die Lamegiete voortgekom het; maar ook hulle is nie geskik vir `n hoër en diepere geestelike ontwikkeling nie.
[3] Die soort mense sal daar, waar hulle nou is, nog lank voortbestaan en hulleself voortplant en geleidelik aan ook nog meer beskawing opneem van die Mense, maar daarby tog nooit `n groot volk word nie. - Dit is nou die pre-mense uit die vyfde voorbereidende ontwikkelingsperiode van die aarde.
[4] By die begin van die periode het die aarde ook die maan gekry as begeleier en reguleerder van haar beweging om die son en om haar eie as; natuurlik het die maan ook nie dadelik die gedaante gehad wat hy nou het nie. Voor hy hierdie gedaante gekry het, moes hy ook vir homself groot stormagtige periodes deurmaak, wat egter nie so lank geduur het soos die van die aarde nie.
[5] Maar vra My nou nie waarom daar vir die ontwikkeling van `n hemelliggaam so `n onvoorstelbare lang tyd nodig is nie, want dit lê in My wysheid en orde se besluit. As die Heer van `n wingerd al die werk in één oomblik sou kon voltooi, wat sou hy dan die hele jaar deur doen? Die verstandige besitter van `n wingerd maak egter vir homself `n indeling van die werk, het elke jaar iets te doen en hierdie daaglikse werksaamheid besorg hom ook steeds `n nuwe saligheid. Kyk, dit is ook die geval by My; want Ek is in die hele oneindigheid ewig die mees aktiefste, en daarom ook die saligste wese.
[6] As die kinders van `n huisvader in die voorjaar die kersies-, pruime-, pere- en appelbome in die tuin sien bloei, dan verheug hulle hulleself weliswaar ook daaroor, maar hulle sou tog liewer dadelik al die ryp vrugte wil sien en proe as om hulle enkel en alleen aan die mooi bloeisels te verlustig. Maar `n wyse vader sê vir sy nog baie ongeduldige kinders: “Wees maar geduldig, my liewe kinders! Alles in hierdie wêreld het sy tyd, volgens God se orde, en daarin kom alles tot rypheid! Wees julle ook dus maar geduldig; hierdie bloeiende bome sal ook nou oor `n paar maande vol hang met ryp en soet vrugte, en ons sal dan met die Vader in die hemel daarvan geniet!” Dit stel die kinders dan gerus.
[7] En so kan julle ook gerusgestel wees, ook al sien julle nie reeds oral op hierdie aarde die volkome ryp vrugte van My leer nie; op die regte tyd sal hulle wel ryp word. Want julle kan julle goed voorstel dat Ek nie verniet en tevergeefs die lewende saad van My woord onder julle uitgestrooi het nie. Van vandag tot môre kan daar egter nog geen volledige ryping plaasvind nie.
[8] Kyk, wat by `n boom reeds volgens My orde `n bepaalde tyd nodig het, dit het volgens dieselfde orde by `n aarde seker dieselfde nog meer nodig! Want dit is nie voldoende dat `n planeet hom as `n hele groot klomp klippe, grond en water in die groot eterruimte bevind nie, want `n dergelike klomp sou volkome dood wees en niks sou daarop kon groei en lewe nie. Maar `n planeet wat lewende dinge moet dra en voed, moet eers self lewend word. En daarvoor is dit weer nodig dat hy eers, net soos `n groot dier, deur middel van allerlei invloede en prosesse inwendig organies volledig ontwikkel word.
[9] Weliswaar is in elke hemelliggaam in wording, net soos in `n embrio in die moederliggaam, alles vir die hele volmaakte dierlike-organiese lewensvorm, reeds in die aanleg aanwesig, maar in die begin van die ontwikkeling lê alles as`t ware chaoties deurmekaar; eers geleidelik kom daar orde en ontstaan daar vervolgens `n organiese lewende geheel. Hoe dit ordelik gebeur, dit weet Ek, omdat Ek as enigste in alles die fundamentele orde aanbring. Wanneer julle egter self in die gees voleindig sal wees, sal julle ook insien hoe dit ordelik gebeur.
[10] Uit die ontwikkelingsperiodes, wat Ek nou so eenvoudig en helder moontlik vir julle uiteengesit het, kan julle egter nog iets aflei, en wel wat die eintlike rede is, waarom die profeet Moses die skepping in ses dae ingedeel het.
[11] Die ses dae is dus die ses periodes wat aan julle getoon is, wat elke geskape wese ten eerste in natuurlike opsig en verder, soos by julle mense ook die geval is, ook vir die ryping en vervolmaking van sy siel en sy gees moet deurmaak.
[12] Eers hierna kom die sewende periode van rus, en dit is die saligste, ewige lewe. Die sewende periode heet egter “rus” omdat daar geen dwang, geen oordeel en geen angstige sorg meer op die voleindigde gees druk nie, maar dat sy bestaan vir ewig oorgaan in die volle mag van kennis, insig en die algehele vrye wil.
[13] En sê jy nou, My beste Markus, hoe jy nou hierdie uitleg van My begryp het!”
|
|
|
|
|