Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 190

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Dit doel van die natuurlike orde

190 Hierop bedank Kado My vir hierdie verklaring en vra My of Ek ook nou die bose natuurgeeste deur middel van My mag sou wil gebied, om buite die slegte plek nóg vir die mens nóg vir die diere skadelik te wees.

[2] Ek sê: “Dit het al lankal gebeur, voordat jy daaraan gedink het om My daarom te vra; wat My Gees, deur die mond van Joshua, verban het, dit bly so! Sover daar gras groei, en sover daar skape, bokke, osse en esels wei, is die land goed; maar daarbuite is dit kwaadaardig.”

[3] Nou sê die herbergier: “Maar dit is tog werklik jammer dat so `n groot stuk land nie vrugbaar gemaak kan word nie; want daar sou vir baie mense brood in oorvloed geoes kan word. Dit sou vir U, o Heer en Leraar, tog baie maklik wees om die stuk land te ontdoen van al sy bose natuurgeeste. U sou maar één woord hoef sê en die land sou goed wees.”

[4] Ek sê: “Vriend, jy het heeltemal gelyk en Ek prys jou geloof - maar Ek kan nie ooreenkomstig jou wens handel nie; want as Ek dit sou doen, sou Ek in stryd met My eenmaal ingestelde orde handel en dit kan en sal heeltemal nooit gebeur nie!

[5] Want waar die aarde berge het, daar moet dit ook wees. Waar daar fonteine, mere, strome, riviere en seë is, daar moet dit ook wees, net soos ook die verskillende sintuie in die menslike liggaam. En waar daar dergelike kwaadaardige plekke is op die oppervlak van die aarde, daar moet dit wees; want die aarde, die lug en die water moet `n bykans eindelose groot aantal van die mees uiteenlopende natuurgeeste in hulle verenig, sodat daaruit allerlei minerale, metale en klippe kan ontstaan en plante en diere, elkeen volgens sy aard, hulle voedsel en hulle bestaan kan vind en kan lewe.

[6] Waar die mens dus sulke plekke op aarde aantref, waar geen enkele plant groei en ook geen diere van watter soort ook voorkom nie, daar moet hulle hulleself ook nie vestig nie; want daar bestaan beslis `n dergelike ondergrondse fontein, via waarvan die baie onsuiwer natuurgeeste na die oppervlak van die aarde gebring word, om hulle met die lug en die water te verenig.

[7] Daar is meer as genoeg gesonde plekke in die dale en op die berge waar die mens, wanneer hulle beskeie is, ruimskoots in hulle lewensonderhoud kan voorsien, en dit is vir hulle nie nodig dat hulle ook die slegte woeste vlakte bewoon en ontgin nie.

[8] Kyk, die see bedek baie groot stukke van die aarde, net soos die mere en riviere, en `n groot gedeelte van die aardoppervlak word gevorm deur die hoë berge, wat maar nie net kaal daarby staan nie, maar waarvan bowendien nog hulle dikwels uitgestrekte hooggeleë dale en vlaktes met ewige sneeu en ys bedek is! Sou jy dan ook nie vir My wil sê: “Heer en Leraar, aangesien niks vir U onmoontlik is en die mens op aarde voortdurend geweldig in aantal toeneem en uiteindelik miskien te min goeie land sou hê om dit vir hulle voeding en noodsaaklike brood te wen, maak nou die wye watervlaktes en die onvrugbare hoë berge tot vaste, goeie en vrugbare land, dan sal die mens ruimskoots voldoende vrugbare grond besit, al sou dit daar ook duisendmaal duisend meer wees!” En daarop sou Ek jou moet antwoord: “As Ek dit sou doen, sou daar weliswaar baie vaste land ontstaan; maar op so `n droë vasteland sou niks meer groei nie.”

[9] Alles moet dus wel wees soos dit ook is, sodat daar op aarde vrugbare grond kan wees. Wanneer die mens volgens die wil van God, wat aan hulle geopenbaar is, sou lewe en handel, sou hulle meer, ja baie meer as genoeg vrugte hê om hulle liggame te voed. Want die af en toe onder die mens se gebrek aan voedsel en hongersnood word maar net deur die mens self veroorsaak deur hulle eieliefde, hebsug, heerssug, traagheid en bowendien deur hulle daaruit voortvloeiende aanhang na `n buitengewone luukse lewe en aardse rykdom.

[10] Kyk maar net na die baie ryk, pronkerige leeglopers in die stede! Hulle het baie goedere en skatte - maar wat gee hulle die arm mense terug vir die feit dat hulle byna dag en nag in die sweet van hulle aanskyn vir hulleself werk? Niks, absoluut niks gee hulle vir hulle nie; want die karige dagloon en die slegte en min voedsel staan in geen enkele verhouding tot wat die arm mense vir die groot, en ryk, pronkerige leeglopers doen nie; en dit het vir My dan ook geen enkele waarde nie.

[11] Wat se goed doen byvoorbeeld `n Herodus vir die mense wat die opgelegde hoë belastings moet betaal en die harde, swaar werk vir hom moet doen? Kyk, van dergelike Herodusse is daar nou baie op die wêreld; en hulle sorg vir die nood en alle ellende onder die mense en veroorsaak deur hulle nooit te bevredigde hebsug, duurte en hongersnood onder die mense; maar daarvoor sal hulle aan die ander kant hulle loon kry, waaroor hulle hulleself werklik nie sal verheug nie. Want waarlik, waarlik, eerder sal `n kameel deur die oog van `n naald gaan, as dat so `n Herodus die hemelryk sal binnegaan!

[12] Daarom moet julle, rykes, vir altyd ook die arm mense ryklik gedenk, dan sal julle ontdek dat daar op aarde meer, ja baie meer as genoeg goeie vrugbare grond is! Het jy, herbergier en besitter van groot goedere en rykdomme, dit nou goed begryp?”

[13] Die herbergier sê: “Ja, Heer en Leraar, nie net het ek dit nou alles baie goed begryp nie, maar ek het ook die vaste onwrikbare besluit geneem om daarvolgens te handel, en ek sal daar ook my beste doen om baie mense, soos ek, ook tot my huidige opvatting oor te haal en om hulle daartoe te bring en daarvolgens te handel.”

[14] Ek sê: “Daaraan sal jy goed doen en die loon uit die hemele sal vir jou nie agterweë bly nie; want wie iemand, veral uit die klasse van die rykes, bekeer tot die lig van die lewe en die vreugdevolle en vriendelike handeling daarna, sal `n baie groot loon van ewige lewe vir sy siel kan verwag.

[15] Maar nou sal die son dadelik heeltemal opgaan; laat ons na die sonsopkoms kyk, dan sal ons siele hulle daaroor verheug en bly word!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205