Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Hoe mens `n einde kan maak aan die heidense priesterdom

23 Nou kom die in Emmaus wonende Romein Agrippa met sy metgesel Laius na My toe en sê: “Heer en Leraar! U het ons nou werklik groot en heerlike dinge meegedeel, en daarmee is dit asof `n swaar klip van ons hart afgeval het; maar één ding, wat ons vriend Agricola ook vermeld het as `n groot hindernis by die verbreiding van U leer, het U nog nie spesiaal aangeroer nie, en dit is die oorwinning van die uitermatig hardnekkige heidense priesterdom, wat baie moeilik sal wees.

[2] Met die Judese priesters hier, wat tog `n idee het van die Een ware God, gaan dit al moeilik; hoeveel moeiliker sal dit dan tog nie gaan met die heidense priesters met hulle verstarde materiële denkbeelde nie, wat geen enkele idee het van één ware God nie, en hulle afgode, wat hulle ten aanskoue van die volk aanbid en waaraan die volk moet offer, dikwels uit die grofste materie, soos ook klip, brons en hout deur beeldhouers laat vervaardig. Dit sou dus wel goed wees, as U ons ook daaroor iets sou sê.”

[3] Ek sê: “Ook daaroor moet julle julle geen nodelose sorg maak nie! Want ten eerste sê Ek julle dat julle eerder honderd heidense priesters vir My leer sal wen as één Fariseër, want die heidense priesters het deur die Griekse- en ook die volgens hulle voorbeeld gevormde Romeinse wysgere ongelooflik baie van hulle ou aansien verloor; en ten tweede het daar deur die baie rondtrekkende magiërs, wat uit alle windstreke na Rome kom, ook die doen van wonderwerke sterk in diskrediet geraak by die volk. Vanweë `n bepaalde fatsoen en aansien doen die volk nog aan baie dinge saam en kyk by wyse van tydverdryf na hulle vertonings; maar hulle heg geen spesiale geloof meer daaraan nie. En dit sal dan ook gebeur dat daar by die volk weldra glad geen heidense priesters meer sal bestaan nie, terwyl die Fariseërdom van die Judeërs hulle nog gedurende `n lang tyd sal handhaaf. Wat egter nog erger sal wees as die ou Fariseërdom, is dat hulle onder My Naam helaas `n nuwe Fariseërdom sal ontwikkel, wat baie slegter sal wees as die huidige!

[4] Toe Ek julle die twee hoofstukke van die profeet Jesaja uitgelê het, het Ek julle ook die nuwe Fariseërdom laat sien, Ek hoef dit nou dus nie nog `n keer vir julle te laat sien en onthul nie.

[5] Wat die heidense priesters egter betref: Hulle eie duisternis begin reeds erg op hulle te druk, en baie verlang na `n moontlike beter en waaragtiger lig. Baie trek daarom van tyd tot tyd na Egipte, om daar van die een of ander wyse meer lig te kry oor die bestemming van die mens. Daarom gaan dit eintlik nie so sleg met dit heidense priesterdom soos wat julle julleself voorstel nie, en vanweë hierdie omstandighede het Ek hulle nie spesiaal vermeld nie; maar omdat julle egter vir julleself onoorkomelike probleme daarmee gesien het, was dit dan ook nodig om julle gedagtes daaroor te reg te stel. 

[6 Ek sê wel vir julle almal met nadruk en lê dit op julle hart om onder geen enkele voorwaarde vir die mens `n dwingende wet te maak van My leer nie, sodat dit tenminste onder enkeles in haar vry suiwerheid sal bly bestaan tot aan die einde van die tyd van hierdie aarde, en Ek daardeur in die gees ook steeds so onder julle werksaam sal bly.

[7] Mettertyd sal daar verseker `n groot aantal gedeeltelik of heeltemal valse profete opstaan, sogenaamd in My Naam, en die één sal dit en die ander dat beweer; die siendes in die suiwer leer sal hulle egter verseker met alle sagmoedigheid en geduld teenwerk en uiteindelik die oorwinning aan hulle kant hê.

[8] Maar die aantal heeltemal suiweres sal ten opsigte van die aantal onsuiweres steeds maar klein wees; en sien, dit kan Ek nie voorkom nie - tensy Ek deur My magswoord alle vry mense tot dierlike masjiene maak - en julle sal dit oor die algemeen nog baie minder kan doen!

[9] As Ek dit by die mens deur My almagtige wil wou voorkom het, was dit vir My nie nodig gewees om My ooit in die vlees op hierdie aarde te begewe nie; want alle ander skepsele kon Ek ook ewig vanuit My hemele deur My almagtige wil lei en regeer, soos wat Ek dit ook nou doen en julle om die rede beslis geen verandering by alle skepsele, hoe gering ook, kan bespeur nie. Want dit is waarlik nie ter wille van die klippe, die plante en die diere dat Ek nou Self as liggaamlike mens op hierdie aarde gekom het nie, maar slegs ter wille van die mens, wat in sy wil en insig volledig vry is! En dan kan Ekself hom geen goddelike “moet” nie, maar slegs die volledige goddelike vryheid gee as `n ware evangelie uit die hemele, en die mens vry daarvoor laat kies en handel.

[10] Dat daar egter ook volgens My orde gesorg is dat die nie inagneming van My leer ook steeds die ou bose gevolge met hom sal saambring, daarvan kan julle volledig verseker wees, en dit is voldoende om die mens aan bande te lê, aan wie My suiwer leer duidelik verkondig word, maar dat hulle vervolgens tog weer na die wêreld sal terugkeer. 

[11] Op `n sekere oomblik sal Ek egter, wanneer die ellende te groot word, weet om die aarde te reinig van die ou vuilheid! Ek het julle al laat sien wat vir die siel liggaamlik en moreel die bose gevolge van die sonde is: Die liggaam sal verval in allerlei vreeslike siektes en die siel in allerlei vertwyfeling, deur ongeloof of verkeerde geloof en die daaruit voortvloeiende dom en slegte handelinge.

[12] Aan dit alles sal iemand wat in die suiwer lig van die lewe staan, maklik kan herken in watter geestelike lig die fisieke en moreel gekwelde mens hom bevind. Wanneer julle sulke mense sien, gaan daar dan heen en sê: “Vrede sy met julle! Julle bevind julle op `n dwaalweg, en ons het na julle toe gekom, gelei deur die Gees van die Heer, om julle die ware evangelie te verkondig, die weë na die lig van die lewe dat dit die ware heil van die siel in God is!”

[13] As mense julle sal opneem, bly dan daar, leer hulle die waarheid insien en handel volgens die maklik te begrypte beginsels daarvan! As hulle dit blymoedig aangeneem het en weldra ook bereidwillig begin om daarvolgens te handel, spreek dan `n gebed oor hulle uit en lê vir die siekes julle hande op, sodat hulle genees kan word van hulle kwale, en doop hulle dan op die waaragtige wyse, wat Ek julle al vroeër aangegee het; dan sal julle daardeur volgens My wil vir My `n welgevallige werk verrig het, en julle loon in die hemel sal daardeur sterk vermeerder word.

[14] Waar en wanneer julle so `n gemeente bekeer en gedoop en in My Naam bevestig het, stel dan die beste onderrigte en mees getroue medeburger uit haar midde as `n welwillende hoeder en opsigter oor die gemeente aan. Skenk hom in die besonder die gawes van die Heilige Gees, sodat hy `n ware weldoener vir die gemeente wat aan hom toevertrou is, kan wees. Maar lê ook vir hom geen dwingende wet op nie - iets waarvoor ook hy teenoor die lede van die gemeente moet waak, met uitsondering van die kinders, waarvoor Ek julle al `n aanwysing gegee het.

[15] Maar hoewel `n dergelike hoeder deur julle in My Naam aangestel moet word, moet hy daarom tog geen aardse aansien geniet nie, maar hy moet net soos julle, `n deemoedige en baie eenvoudige dienaar wees van die broeders en susters wat aan hom toevertrou is, en moet hom nie deur hulle laat eer of hom selfs vir sy dienste laat beloon nie; want wat hy verniet ontvang het, moet hy in alle liefde verniet teruggee aan sy broeders en susters, wat in een of ander opsig minder begaafd is.

[16] Wat die liefde van sy gemeente hom egter in vryheid sal bied, kan hy ook aanneem op dieselfde manier soos wat Ek dit ook vir julle toegestaan het; want wie aan iemand wat deur My gestuur is iets goeds doen, sal ook die loon van `n gestuurde ontvang. En daarmee weet julle nou alles wat nodig is om te weet; baie ander dinge sal julle op die korrekte tyd daarvoor te wete kom.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205