|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 219
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
By die pleegkinders van die Essene
219 Eers toe gaan ons die inwendige ruimtes binne, wat in elke opsig, wêrelds beskou, pragtig was. Ons kom dus ook by die kinders, wat ons vriendelik tegemoet hardloop, om ons te begroet, soos dit ook onder hulle hier deur die opvoeders bygebring was, en Ek vra sommiges van hulle hoe dit hulle hier beval.
[2] Toe antwoord verskeie jong seuns: “O baie goeie Heer, hier gaan dit met ons goed; maar af en toe gebeur dit dat die een of ander, wat ons liefhet, uit ons midde weggeneem word - en hy kom dan nooit weer terug nie - en dit maak ons altyd baie verdrietig, omdat ons van niemand te wete kan kom wat daar met hom gebeur het nie. Is hy omgebring of verkoop, of het daar iets anders met hom gebeur? Kortom, dit gee ons ouer kinders, wat ook reeds kan dink, baie dikwels `n ongeruste gevoel in ons hart, en dan is ons toestand soos `n marteling. Maar sê U tog vir ons wat daar met die kinders gebeur, wat vir altyd by ons weggeneem word!”
[3] Ek sê: “Liewe kleintjie, wees nie bang nie! Met alle kinders wat hier weggeneem word, gaan dit in aardse opsig goed; want hulle is uitstekend versorg en word deur diegene wat hulle opgeneem het, soos kinders bemin en versorg. Maar in geestelike opsig gaan dit met die meeste minder goed, omdat hulle vir die merendeels aan ryk heidene uitgegee word.
[4] Dit grootste geluk van die mense bestaan egter enkel en alleen daaruit dat hulle reeds in hulle vroeë kinderjare die een en enige ware God geken het en Hom as die mees ware en beste Vader van alle mense bo alles leer liefkry het. Maar die heidene ken hierdie Vader nie, omdat hulle van ouers afstam wat Hom ook nie geken het nie. En kyk, sulke kinders, wat uit julle midde aan die duistere heidene meegegee is, is in geestelike opsig sleg daaraan toe, omdat hulle onder die heidene hulle ware Vader in die hemel, wat `n ewige Gees vol goedheid, Liefde, Wysheid en eindelose Mag is, nie kan leer ken en bo alles liefhê nie.
[5] Maar van nou af aan, My liefste kinders, hoef julle geen angs meer te hê nie; want voortaan sal niemand meer uit julle midde weggegee word nie, maar julle sal almal hier bly en die ware Vader van alle mense leer ken en bo alles liefhê, en julle sal daarna as vry en wyse mense onder die ander mense baie goed en bowendien iets baie nuttig kan verrig. Wees nou dus almal opgewek en vrolik en volgsaam teenoor julle leraars, dan sal die Vader in die hemel vir julle sorg, sodat julle tydelik en ewig in die ryk van die Vader in die hemel buitengewoon gelukkig word! Dat dit so met julle sal gaan, sal julle owerste Roclus julle ook self vertel. - Wees julle, My liewe kinders, nou daarmee tevrede?”
[6] Een jong seun, wat baie verstandig was, sê: “O goeie Heer, met U sou ons wel baie tevrede wees; maar wat U nou gesê het, het die streng owerste nog nie gesê nie, en solank hy swyg, is ons nog nie veilig nie. Sê vir hom dat hy ook ons getrou en waaragtig so `n troos moet gee, dan eers sal ons heeltemal bly kan wees!”
[7] Ek sê: “Hy sal dit wel vir julle op die korrekte oomblik sê. Maar Ek is immers `n Heer, wat baie mag het, ook oor julle owerste, en wat Ek sê en wil, sal hy ook doen. Daarvan kan julle in volle vertroue seker wees.”
[8] Die jong seun sê: “Is U dalk die keiser van Rome, omdat U as Heer ook seggenskap oor ons meester het?”
[9] Ek sê: “Ja, My liewe kinders, Ek is nog `n geweldig baie groter Heer as die keiser van Rome; maar die grootheid van My heerlikheid sal julle nou nog nie kan begryp nie! Roclus self sal julle op die korrekte tyd alles baie duidelik toon, en dan sal julle goed verstaan hoe Ek `n egte Heer oor julle owerste en ook oor die keiser van Rome is, en dan eers sal julle My egter loof en prys en `n groot vreugde voel, omdat Ek julle nou Self besoek het.”
[10] Hierop verseker Roclus hulle ook, terwyl hy hulle vriendelik aankyk dat hy alles baie presies sou doen soos wat Ek hulle nou net beloof het.
[11] Eers na hierdie belofte van Roclus word die kinders heeltemal rustig en glo dat dit so sou gebeur.
[12] Daarop seën Ek die kinders en druk hulle aan My hart en liefkoos hulle, en wil toe gaan; maar die kinders, wat liefde en vertroue vir My voel, omring My en vra of Ek nie nog `n tydjie by hulle wou bly nie.
[13] En Ek sê: “Ja, hierdie vraers kan Ek niks weier nie en wil daarom nog `n halfuur by hulle bly.”
[14] Toe die kinders dit van My hoor, was hulle opgetoë, en die jong seun vra My vol vertroue: “O liewe en baie goeie, groot Heer! U het ons nou net iets gesê oor die goeie geestelike Vader in die hemel dat ons Hom moet leer ken en bo alles leer liefhê. Ja, dit sal ons ook baie verseker doen, as ons Hom maar eenmaal gesien het! Maar hoe sal ons Hom leer ken, wie sal Hom aan ons toon? Ken u Hom dalk baie goed? As u Hom ken, beskryf Hom dan vir ons, dan sal ons Hom ook dadelik bo alles liefhê, ook al ken ons Hom Self nog nie!”
[15] Ek sê: “Ja, My liewe kinders, dit is nou nog wel `n bietjie moeilik, omdat julle nog heeltemal niks van Hom af weet nie; maar Ek sal tog probeer om julle iets oor Hom te vertel, luister dus baie aandagtig na My!
[16] Die Vader in die hemel is die suiwerste, mees volmaakte en ewige, meer as lewende Gees, wat nooit `n begin gehad het en ook nooit `n einde sal hê nie. Hy het al sedert ewigheid uit Homself hemel en aarde en alles wat daarop is, deur middel van Sy almag geskape.
[17] Wanneer `n mens op hierdie aarde iets wil maak, moet hy daarvoor materie en allerlei gereedskap hê; maar as die Vader in die hemel iets skep, het Hy geen reeds bestaande materie nodig nie, en ook geen gereedskap om met behulp daarvan iets van die ruwe materie te maak nie - Sy gereedskap is Sy almagtige wil.
[18] Hy het dan ook die mens geskape sodat hulle Hom kan leer ken en bo alles liefhê, sodat hulle die ewige lewe van Hom kan ontvang.
[19] Maar sodat die mens sou weet hoe hulle onder mekaar moet lewe, het die Vader in die hemel Sy wil aan hulle, deur middel van bepaalde profete geopenbaar. Wie daarvolgens sal leef en handel, sal die ewige lewe ontvang.
[20] Mense wat baie vroom is en die Vader bo alles liefhet en volgens Sy gebooie lewe, kry reeds in hierdie wêreld die stem van die Vader te hore en ook Sy aangesig te sien. My liewe kinders, wees daarom maar baie vroom, dan sal julle ook op hierdie wêreld al die baie groot geluk smaak!”
[21] Die kinders beloof om alles te doen wat Ek hulle aangeraai het, as hulle die Vader in die hemel maar één keer sou kan hoor en sien, en vra My of Ek die Vader in die hemel alreeds gehoor en gesien het, en hoe Hy daar uitsien.
[22] Ek kyk hulle vriendelik aan en sê: “My liewe kinders! Ek hoor en sien die Vader altyd, en Hy sien presies so daaruit soos Ek, en Sy stem klink ook net soos die van My; wie My dus sien en hoor, sien en hoor ook die Vader in die hemel. Kyk My dus maar baie goed aan, dan kan julle sê dat julle al die Vader in die hemel gesien en gehoor het!”
[23] Nou kyk die kinders My lank aan en sê na `n rukkie: “As die vader in die hemel net so daar uitsien soos U, moet Hy baie goed wees, en ons het Hom nou al bo alles lief! As U, as baie hoë Heer op hierdie aarde net so almagtig sou wees as die Vader in die hemel, sou daar dan miskien heeltemal geen verskil wees tussen U en Hom nie?”
[24] Ek sê: “Ja, verseker, dit sou dan so wees - en wie weet of Ek af en toe ook nie `n bietjie almagtig is nie?”
[25] Die jong seun sê: “O allerbeste, grootste Heer op die wêreld! Sou U ons dan nie iets van U klein almag wil laat sien nie?”
[26] Ek sê: “O ja, My liefste kinders; maar dan moet ons na buite in die groot tuin gaan!”
[27] Dit vind die kinders goed, en ons gaan die groot tuin in, wat baie oop plekke gehad het waar niks aangeplant was nie.
[28] Toe ons in die tuin kom, vra Ek aan die kinders: “Luister, sou julle op die baie oop plekke, waar niks geplant is nie, nie allerlei bome met soet vrugte wil hê nie?”
[29] Die kinders sê: “Ja, as dit moontlik is om dit te doen, sou dit wel baie goed wees! O ons vra U daarom, as u dit kan doen!”
[30] Ek sê: “Gaan dan maar daarheen en nog voordat julle daar sal wees, sal die bome wat julle wens, op alle oop plekke, vol belaai met vrugte, al klaar voor julle staan!”
[31] Die kinders haas hulle daarop dadelik na die oop plekke, wat al vol geplant was met allerlei vrugtebome, waaroor die kinders hulle baie verheug en ook dadelik die vrugte, wat op die grond lê, opraap en beproef; en omdat die vrugte so voortreflik smaak, begin hulle daarom ook flink daarvan te eet.
[32] Maar by hierdie geleentheid verlaat ons die tuin en omdat dit al na die aand se kant begin te loop, begewe ons onsself, onopgemerk deur die kinders, na ons herberg.
|
|
|
|
|