|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 63
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Een Skrifgeleerde stel die Heer op die proef
63 Onder diegene wat met die meer as sewentig leerlinge saam na Bethanië gekom het, is ook `n Skrifgeleerde. Hy vererg hom vir My woorde.
[2] Hy kom na My toe met die bedoeling om My op die proef te stel, en sê: “Heer, ek het uit U woorde afgelei dat U goed tuis is in die Skrif en `n ware oordeel gee; sê dan nou ook vir my wat ek moet doen, om net soos U leerlinge salig te word!”
[3] Ek sê: “Wat staan daaroor geskrywe in die wet van God, en hoe lees jy, as Skrifgeleerde, wat daar geskrywe staan?”
[4] Die Skrifgeleerde sê: “Jy moet JaHWeH, jou God, liefhê met jou volle hart, met jou siel en al jou krag en met jou hele gemoed, en jou naaste soos jouself!”
[5] Daarop sê Ek vir die Skrifgeleerde: “Jy het volkome waar geantwoord. Doen dit, dan sal jy lewe! Want om die korrekte te weet, bring op sigself vir niemand die ewige lewe nie. Kennis is baie seker noodsaaklik, omdat mens sonder kennis soos `n blinde sonder geleide langs die weg sou staan; as die blinde egter deur die kennis siende geword het, maar vervolgens nie verder wil gaan op die weg nie, dan is sy lig vir hom weinig of tot geen nut nie. Wie nie weet wat hy moet doen en dit dus ook nie kan doen nie, het ook geen sonde as hy die goeie nie doen nie; maar wie die goeie ken en nie doen nie, hoewel hy weet dat dit goed is, die het sonde begaan!”
[6] Hierop kyk die Skrifgeleerde My verbaas aan en sê, asof hy hom teenoor My wil regverdig: “Heer, ek sien dat u baie goed tuis is in die waarheid, en ek weet ook dat dit vir die ware, aan God welgevallige lewe nie voldoende is om die wette maar net te ken nie, maar mens moet daarvolgens lewe en handel! God bo alles liefhê kan mens beslis maar net deur al Sy gebooie presies na te volg; maar as mens sy naaste moet liefhê soos homself, dan moet mens tog eers weet wie die naaste eintlik is, wat mens moet liefhê soos homself. Wie moet ek as my naaste beskou?”
[7] Daarop sê Ek: “Dit is tog werklik nie te glo dat jy as Skrifgeleerde nie weet wie jou naaste is nie. Ek sal jou `n kort verhaal vertel om jou duidelik te maak wie jy as jou naaste moet beskou.
[8] Daar was eens `n man, wat vir sake van Jerusalem na Jerigo gereis het, maar onderweg deur rowers oorval was. Hulle ontklee hom totaal, slaan hom vervolgens byna dood, gaan daar met hulle buit vandaar en laat die man halfdood lê.
[9] Nou gebeur dit egter toevallig dat ook `n priester uit Jerusalem langs dieselfde weg reis. Hy sien die man, wat die rowers lelik toegetakel het, langs die weg lê, maar loop daar verby, sonder om hom daaroor te bekommer. Na die priester kom daar weldra ook `n Leviet en doen dieselfde as die priester.
[10] Kort daarna kom daar ook `n Samaritaan langs dieselfde plek, en toe hy die man daar sien lê, kry hy medelye met die half doodgeslane man. Hy gaan na hom toe, verbind sy wonde, giet olie en wyn daarop, tel hom op sy lasdier en bring hom so na `n herberg waar hy hom die hele dag en nag self versorg. Toe hy die volgende dag sien dat dit met die regte versorging wel beter sou gaan met die gewonde, roep hy die herbergier, gee hom twee silwerstukke en sê vir hom: “Aangesien ek dringende sake te doen het, vertrek ek nou; verpleeg hom, tot ek oor enkele dae terugkom! Wat jy meer nodig sal hê, sal ek jou dan getrou vergoed!” Daarna vertrek hy, en toe hy na enkele dae terugkeer, tref hy die man oor wie hy hom ontferm het, goed versorg en in soverre genees, dat hy hom na Jerusalem kon terugbring; hy betaal die herbergier nogmaals twee silwerstukke en gee die geneesde man bowendien nog klere.
[11] Wat dink jy nou? Wie van die drie was nou die naaste van die een wat deur die rowers en moordenaars oorval was?”
[12] Die Skrifgeleerde sê: “Ongetwyfeld die een wat hom barmhartigheid bewys het!”
[13] Ek sê: “Goed, gaan dan heen en doen dieselfde! Elke mens, wat op hierdie manier ook jou hulp nodig het, is jou naaste; en as jy hom help, dan is jy ook sy naaste. En as jy hom gehelp het, het jy hom as jou naaste ook liefgehad soos jouself; want die ware naasteliefde is dat julle vir julle medemens alles doen wat julle redelikerwys kan verlang dat in geval van nood hulle ook vir julle sou gedoen het. - Weet jy nou wie jou naaste is?”
[14] Hierop durf die Skrifgeleerde My niks meer te vra nie, trek hom terug en sê vir sy metgeselle: “Werklik, in hierdie Galileër leef `n magtige gees van waarheid! Dit is die moeite werd om na Hom te luister!”
[15] Daarop sê één van die leerlinge: “Dit is egter nog meer die moeite werd om te lewe en te handel volgens dit wat Hy leer; want Hy is die Heer en dra alle mag oor lewe en dood in Hom. Wie Sy leer doen, sal van Hom die lewe ontvang!”
[16] Die Skrifgeleerde sê: “As hy die Messias van die Judeërs is, dan het julle heeltemal gelyk; maar as hy dit is en alle mag en gesag in die hemel en op aarde besit, dan kan hy dit tog vir die hoëpriesters sê; en as hulle hulleself daarteen versit om dit aan te neem en te glo, laat hy hulle dan verwerp en hulle met vuur uit die hemele tugtig, soos ook God eens vir Sodom en Gomorra getugtig het!”
[17] Die leerling sê: “Jy spreek volgens die wese van die mens; ons spreek egter volgens die wese van Sy gees! Ons weet al van Hom wat Hy nog alles sal doen en ken Sy mag, en ons is getuie van alles wat Hy in Jerusalem gedoen en onderrig het; en so kan ons ook spreek, en weet ons waaraan ons toe is en wat daar nog alles sal gebeur.
[18] Het alle hoëpriesters nie die tekens aan die hemel gesien, wat hulle duidelik aangegee het wat hulle deur hulle verstoktheid kan verwag nie? Maar dit het geen indruk op hulle gemaak nie, afgesien van die haat vir Hom, en pleeg steeds keer op keer intensiewer oorleg met mekaar hoe hulle Hom gegryp sou kon kry om te dood! Maar tog wandel Hy nog vry rond in die hele Judese land en het geen vrees vir Sy baie vyande, wat hulle oppermagtig waan nie. As Hy nie die Heer van alle mag en gesag in hemel en op aarde was nie, dan sou Hy al lankal die land uitgevlug het. Maar omdat Hy baie goed weet, watter mag en watter gesag Hy het, vlug Hy nie vir Sy vyande nie, maar gaan Hy sonder enige skroom of vrees die tempel binne en onderrig die volk oor die koms van God se ryk op aarde en bedreig Hy die Fariseërs en Jode met alle skerptes van Sy woorde. Wie anders as alleen Hy, as Heer van alle mag en krag, sou dit durf waag? Dit sal tog vir elke verstandige mens meer as voldoende bewys wees dat alleen Hy en niemand anders die ware Messias en bygevolg ook die Heer is nie!
[19] Ons het Sy dade en Sy wondertekens gesien en het die ewige waarheid van Sy woorde gehoor, en glo daarom ook werklik in Hom; julle het dieselfde gesien en gehoor en glo tog nie dat Hy die beloofde Messias is nie, wat nou tot ons in hierdie wêreld gekom het!
[20] Wat sou eintlik die rede kan wees van julle ongeloof? Kyk, die rede daarvan is die groot blindheid en verstoktheid van julle harte! Julle is tog Skrifgeleerdes en weet uit die Skrif onder watter tekens en voorwaardes die Messias in hierdie wêreld sal kom. Wel nou, dit is alles tot in dit kleinste detail op Hom van toepassing! As dit nou onteenseglik die geval is, hoe kan julle dan nog twyfel en iemand anders verwag?
[21] Ja, julle sal in julle blindheid wel `n ander verwag; hy sal egter nie kom, voor aan die einde van die wêreld en haar tye nie! `n Paar dae gelede het julle ons in Bethlehem en ook in ander plekke so hoor spreek en ons het julle die Skrif uitgelê, hoewel ons as eenvoudige mense nooit geleer lees en skryf het nie, en ons het voor julle oë tekens gedoen tot heil en nut van die mens waaroor julle julleself baie verbaas het; maar ek vra julle nou: Van wie het ons dan wel sulke wonderbaarlike vermoëns gekry, of op watter skool kon ons alle dergelike dinge dan geleer het?
[22] O, as daar êrens op die wêreld so `n skool sou bestaan, dan sou julle sekerlik daarvan geweet het en dit ook al vir julle voordeel besoek het! Maar so `n skool bestaan nie op die wêreld nie, behalwe alleen nou onder hierdie Heer en Leraar van die ewigheid, wat weliswaar as `n sigbare mens van vlees en bloed onder ons vertoef, maar in Sy gees Die Een is deur wie se liefde, wysheid, woord en wil alle hemele, hierdie aarde en alles wat daarop is, geskape is.
[23] Wie dit nou nie van Hom leer nie, ontvang dit ook nie, al sou hy alle hoë wêreldse wysheidskole besoek. En wie dit nie van Hom geleer het nie, kom ook nie tot die ewige lewe en nie tot Hom nie; want daar staan geskrywe: “In die tyd word almal, wat dit wil, deur God onderrig; die Gees van die Vader sal hulle opvoed!” En wie nie deur die Vader getrek word nie, sal nie tot die Seun kom nie, in wie die Vader woon, wat julle nie ken nie en nog nooit geken het nie, en dus ook die Seun nie ken en nie weet wie Hy is nie, soos Hy dit ook Self vir julle gesê het.
[24] Ons ken nou egter die Seun en die Vader in Hom, omdat Hy dit Self aan ons geopenbaar het; en Hy het dit aan ons geopenbaar, omdat ons dadelik in Hom geglo het. Hy het ook openlik gesê en laat sien, wie Hy is. Maar julle het nie geglo nie en glo nou nog nie; daarom sal julle ook in julle nag van julle sonde bly en sterf in die dood daarvan. Onthou dit goed! Want ons, wat nou Sy waaragtige getuies is, het dit al in Bethlehem vir julle gesê, toe julle ons bedreig het, en ons het geen vrees vir julle nie; en nou sê ons dit nog eens sonder enige vrees of skroom in Sy aanwesigheid, sodat Hy julle Self kan uitlê of ons waar of onwaar gespreek het.
[25] Julle het ons weliswaar agterna gereis, asof julle die waarheid uit Sy eie mond wou hoor; maar eintlik het julle maar net met ons saam hierheen gekom om die Heer van God se heerlikheid te beproef. Maar Hy het julle laat sien hoe onsinnig dit is om as swak, sterflike mense die Heer van die lewe en dood op die proef te wil stel. En daarom is julle dan ook stil en het julle verder niks meer om Hom nog eens te beproef nie. Daarom is dit vir julle wel die verstandigste om hierdie heilige plek weldra te verlaat en julle in julle ou sondeneste terug te trek, sodat julle nie iets nog erger oorkom as wat julle al oorgekom het nie!”
|
|
|
|
|