Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die verhandeling van die Heer oor die toekoms van Sy leer

14 Daarop sê Ek: “Dit het jy verseker wel, en Ek weet ook dat dit grotendeels so sal gaan, maar dit maak nietemin in die geheel nie saak nie, want in My skepping is daar vir die siele nog `n groot aantal skoolgeboue. Wie dit nie in Jerusalem leer nie, sal elders onderrig word!

[2] Ja, Ek weet en sien, hoedat daar na My `n groot aantal valse leraars sal opstaan en aan die mens sal sê: “Sien, hier is die Messias!” of “Daar is Hy!” Maar Ek sê julle nou, en sê julle dit vir julle naastes en kinders dat `n mense sulke valse leraars nie moet glo nie, want hulle sal maklik te herken wees aan hulle werke!

[3] Hoe `n egte leerling van My egter volgens My woord moet wees, het julle gister in Emmaus op die berg van Nikodemus gehoor, toe Ek die sewentig leerlinge uitgestuur het om My leer te verbreed.

[4] Wanneer julle dus leraars sal aantref, wat op hierdie wyse, volgens My wil, die leer van die koms van die ryk van God onder die mense sal verbreed, kan julle en elkeen hulle as egte en volledig waaragtige leraars beskou; waar leraars wat egter, weliswaar in My Naam, uit My leer munt wil slaan, en dit wil doen vir geld en ander skatte, beskou hulle dan as valse en nooit deur My geroepte verbreiders van My leer nie! Want My ware leerlinge en verbreiders van My suiwer leer sal in aardse opsig steeds arm wees, net soos Ek, maar daarom in geestelike opsig meer as ryk; want hulle sal dit nie nodig hê om vir hulle My leer en My woorde deur die tydrowende leer van `n voorganger hulle eie te maak nie, maar Ek sal My leer en My wil in hulle hart en in hulle mond lê.

[5] Maar die valse leerlinge sal deur die langdurige bestudering van hulle netso valse leerstellinge, vir hulleself allerlei tekste, woorde en spreuke hulle eie moet maak en word eers dan, wanneer hulle alles moeisaam geleer het, deur hulle opgeblase en praalsiek leraars en leiers onder allerlei losse en blinde seremonies tot leerlinge gewei, soos wat ook nou in die tempel gebeur met die Fariseërs, Skrifgeleerdes en oudstes en ook by julle heidene, waar die priesterstand `n ware kaste vorm wat van vader na seun oorgaan, en waarin iemand uit die volk maar net opgeneem word wanneer die een of ander priester geen kinders het nie, en selfs dan maar net as `n kind, wat daarna eers tot priester opgevoed word.

[6] Hoe `n ware, deur My geroepe, leraar en verbreider van My suiwer leer derhalwe te onderskei sal wees van `n valse, dit het Ek julle almal nou helder uiteengesit, en elkeen sal hom dus maklik teen die valse leraars en profete kan beskut; wie hulle egter sal aanhang en glo, hulle sal eer en hulle ook nog in alles behulpsaam sal wees, sal dit dan slegs aan homself te wyte wees as hy vervolgens deur hulle verslind word.

[7] Ja, dit sal selfs gebeur dat die valse profete hulle op goue trone sal verhef en die ware deur My uitverkore en geroepe in alleryl sal vervolg. Wanneer dit egter sal plaasvind, dan sal hulle oordeel en hulle einde ook oor hulle kom, en My leer sal desondanks voortbestaan onder die mense op aarde; maar dit sal steeds net as `n vrye besit onder die mense in stilte glans, straal en troos, egter nooit as `n heerseres op `n heerserstroon wat met kroon, staf en septer oor hele volkere gebied nie.

[8] Waar dit in My Naam die geval sal wees, is Ekself ver te soek, en in plaas van My liefde sal hebsug, gierigheid, afguns en vervolging van allerlei aard onder die mense huishou, en die een bedrog sal die ander die hand reik. Wanneer julle sulke vrugte onder die mense sien, sal julle wel gewaar word wat se mentaliteit die profete het wat op trone heers en vanwaar hulle valse leer afkomstig is!

[9] As julle egter altyd die korrekte en ware sal kan hê, wanneer julle maar `n verlange daarna het, sal julle julle hart tog nie na die valse toe keer nie? En so weet julle nou dat, ondanks alle valse profete en leraars wat later sal opstaan, My suiwer leer in stilte en sonder pralende vertoon tot aan die einde van die tyd onder die mense sal voortbestaan.

[10] Dat hierdie leer van My egter eers langsaam onder alle volkere van die aarde verbrei sal word, daarvan het Ek julle die redes al meer as een keer duidelik laat sien; want Ek weet immers die beste, wanneer `n volk ryp is om My leer aan te neem!

[11] Wat egter as `n vinnige verbreiding van My leer op alle enigsins ryp plekke op aarde kon plaasvind, het ook gebeur en daar sal weldra nog baie meer plaasvind; en daarom kan ons die onderwerp nou ook sonder verdere opmerkings te ruste lê, aangesien ons nog baie belangriker dinge te bespreek het.”

[12] Nou sê Agricola weer: “Dit sal ongetwyfeld so wees, want U alleen weet die beste wat daar op hierdie ellendige aarde nog alles moet gebeur; maar iemand soos ons, wat geen blik in die toekoms kan werp en nie kan sien hoe die dinge hulle sal ontwikkel nie, aan wie U maar net vergun het om sy aardse lewe ter beproewing van die vrye wil volgens U leer so goed moontlik te deurstaan, en daarby nog die baie hindernisse op die weg van die lig geplaas sien, hulle word ondanks alles so baie met sorg vervul dat hulle hulleself afvra: “Wat sal daar mettertyd met alles gebeur?”

[13] Sal U heilige suiwer leer nou so tot alle mense kom, en wanneer? Of sal dit steeds maar net `n eksklusiewe besit van die weinige uitverkorenes bly? Volgens U gespreekte woorde skyn die laaste die geval te wees! Nou ja, ook goed; want wat vir U, o Heer en Leraar, waar is, dit moet ook vir ons mense waar wees, aangesien ons dit nie sonder U kan verander nie; maar omdat dit U behaag het om ons mense, U skepsele, behalwe die vrye wil, ook `n ewe vrye verstand te gee, het U ons daardeur ook `n vrye oordeel verleen, en sodoende het ek dan ook gespreek, soos ek ook gespreek het!

[14] Maar ek het uit U teenwoord begryp dat U tog wel baie buitengewone planne en bedoelinge met die mens het, anders sou U nie toegelaat het dat daar, behalwe die suiwer leer wat U nou gegee het, en behalwe U goeie onderrigte leerlinge dat daar nog ander, valses, sal opstaan en die mens weer opnuut mislei en in `n goddelose duisternis sal laat beland; so kan ek egter nie meer verder spreek nie en sal ek my nou weer heeltemal op die luister toelê.”

[15] Ek sê: “Vriend, daaraan sal jy goed doen! Dit is beter om te luister as om te praat, solank mens die regte rede daarvoor nog veels te min ken.

[16] Glo My: om wêrelde te skep is maklik; maar vry mense tot lewe te roep en hulle hulself te laat vervolmaak, waarby die Goddelike almag kragtens die orde van Haar Liefde en Wysheid moet swyg en toesien, dit bly uiteindelik ook vir My `n saak wat nie maklik is nie! Daarby help slegs My onbegrensde geduld en oorgrote sagmoedigheid My.

[17] Daarom moet die mens deur hulle hoogseie geloof en dade in allerlei goeie en slegte situasies geplaas word, sodat hulle dan deur die gevolge van hulle geloof en hulle handel verstandig kan word en ten slotte uit eie wil die korrekte lig gaan soek.

[18] Soos ook alle skepsele op hierdie aarde hulle materieel ontwikkel tussen dag en nag en tussen somer en winter, so doen die mens dit ook geestelik.

[19] Toe die oermens van hierdie aarde geestelik in die helder daglig gewandel het, het die lig hulle ten slotte gewoonweg tot `n las geword; toe die geestelike nag egter daarna by hulle sy intrede maak, begin hulle eers die waarde van die geestelike dag te begryp en na waarde te skat, en die beteres het angsvallig na die verlore paradys gesoek.

[20] Vervolgens word dit weer aan weiniges gegee om die geestelike dag te vind, en baie hardloop na die gelukkiges wat die geestelike dag teruggevind het en laat hulle na die lig lei. Maar ook baie, verblind deur die wêreld, begryp nie meer wat `n geestelike dag is nie en bly in hulle nag, daartoe genoodsaak deur hulle eie traagheid. Hulle geniet dan ook niks van die geluk van `n geestelike dag nie en bevind hulle in groot nood; die nood was egter `n goeie bewaker vir die gelukkiges, omdat hulle goed gesien het watter vrugte die mens pluk van sy geestelike nag.

[21] Kyk, so gebeur dit dan dat hulle naas die verligtes ook steeds nie-verligtes sal vind en sal voortplant! Maar daarom sal dit nooit aan die waarlik verligte mense op hierdie aarde ontbreek nie, en hulle sal steeds die geleentheid gebied word om die nie-verligtes te verlig met hulle ware lewenslig; en die loon van die verligtes, wat dit in My Naam sal doen, sal later groot wees in My ryk!

[22] Om self verlig te wees deur My barmhartigheid is `n grootse en onskatbare geluk vir die mens; maar nog duisendmaal waardevoller is dit om met sy lewenslig ook ander te verlig wat in die duisternis wandel, dit wil sê, wanneer hulle die lig wil aanneem. Maar dit is aan julle ook steeds weer opnuut gesê: Dat julle die pêrels van My leer nie voor varke van mense moet werp nie! Want die mens wat eenmaal `n egte vark geword het, die bly ook `n vark! Want ook al luister so `n mens op `n goeie oomblik met welgevalle na `n ware en goeie woord en neem hy dit ook op, dan gaan hy tog by die volgende geleentheid na sy ou poel terug en spring daar met welbehae in, en bly nog steeds `n vark. Aan sulke mense kan dus geen evangelie verkondig word nie, en vir dergelike mense het Ek `n ander evangelie, wat hulle eie natuur hulle sal verkondig onder baie pyn, gehuil en tandegekners!

[23] En nou het ons weer `n belangrike punt bespreek en kan ons getroos na iets baie anders oorgaan. Wie van julle nog twyfel oor die een of ander, laat hy opstaan en praat; want Ek wil dat julle môre hierdie Olyfberg goed verlig saam met My sal verlaat! Daarom staan dit nou elkeen van julle vry om te praat, soos sy verstand hom dit ingee.”

[24] Daarop sê die meeste: “Heer, ons twyfel glad nie meer nie en is baie gelukkig daarmee!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205