|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 189
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Oor die plek van die ou stad Jerigo
189 Nou vra Petrus My: “Heer, die ou Jerigo lê tog aan die oostekant van die rivier, die Jordaan, en ek weet nie of en waar ons gister op ons reis hierheen die rivier oorgesteek het nie; want die nuwe Jerigo lê tog beslis oosteliker van die rivier as waar die oue lê, aangesien U ons nou die plek van die ou Jerigo getoon het, wat van hieruit na die weste lê. Ons het gister weliswaar `n baie breë klipbrug oorgegaan, maar benede in die rivierbedding was daar, na my mening, tog nie so baie water dat `n mens dit as die water van die Jordaan kon beskou nie.”
[2] Hierop neem Kado die woord en sê vir Petrus: “En tog was dit die Jordaan! In hierdie tyd het dit steeds baie min water en op die plek waar daar `n brug gebou is, is hy ook vanweë die engte van die dal op sy smalste; maar `n halfuur verder na die suide word die rivier alweer baie breër en in die omgewing van die Dooie See, nie ver van hier nie, word hy selfs baie breed.”
[3] Deur hierdie woorde van Kado was Petrus, en ook die ander leerlinge, wat gister ook nie opgemerk het waar en wanneer ons die Jordaan oorgesteek het nie, heeltemal gerusgestel.
[4] Daarop bekyk Petrus soos die ander leerlinge ook die klip waarop Ek staan, ietwat noukeuriger en sê, nadat hulle `n tydjie gehad het om na te dink: “Maar hoe het die twaalf priesters hierdie groot en baie swaar klippe uit die rivier kon optel en dit vervolgens oor die groot afstand hierheen bring? Was die twaalf priesters dan dalk reuse, soos wat Simson ook was?”
[5] Nou sê Ek: “Hoe kan julle nou nog so iets vra, terwyl julle aan My sy tog soveel tekens van die krag van God se Gees gesien het?! Het julle dalk vergeet wat julle alles by ou Markus in die omgewing van Caesarea Filippi gesien het, en weet julle nie meer hoe RafaEl nog maar `n paar dae gelede in die huis van Lasarus die ou, ysterpilaar opgetel het, en nog duisend ander tekens?! Hoe kan julle dan nog vra, terwyl julle al die dinge gesien het, hoe die twaalf priesters van Joshua hierdie klippe uit die Jordaan hierheen kon gebring het? Was God se krag ten tyde van Joshua dalk kleiner as nou? Dink eers daaroor na en vra My verder geen dinge meer wat `n gewillige kind in die wieg al kan begryp nie!”
[6] Na hierdie opmerking van My begryp almal nou hoe die twaalf priesters hierdie klippe baie maklik uit die rivier hierheen kon gebring het.
[7] Daarop kom Kado na My toe en sê: “O goeie Heer en Leraar, as U nie kwaad vir my sou word nie, sou my weetgierigheid met betrekking tot die ou en die nuwe Jerigo nog `n vraag hê, wat U bykans al sekerlik goed ken.”
[8] Ek sê: “Hoewel Ek al weet wat jy wil vra, kan jy jou vraag egter vanweë die ander tog hardop uitspreek!”
[9] Hierop vra Kado: “Uit die boek Joshua is bekend, en ook U self het dit nou baie in kort aangeroer, dat Joshua op God se bevel elkeen met `n onontkombare harde straf bedreig het, wat dit sou waag om die verwoeste ou stad weer opnuut op te bou - en kyk, tog woon ons in die nuwe Jerigo! Hoe kom dit dan dat daar in hierdie tyd tog `n stad Jerigo staan, op byna dieselfde plek waar die ou Jerigo eens gestaan het? Het God dalk agterna Sy dreigement ingetrek en tog `n nuwe Jerigo laat ontstaan?”
[10] Ek sê: “Jy vergis jou! God het Sy woord nie teruggeneem nie en derhalwe staan daar op die ruim, woeste plek, waar die ou Jerigo eens gestaan het, tot op hede nog geen enkele huis of ook maar `n baie armsalige hut nie. En waarom het julle, bewoners van die nuwe Jerigo, dan nog nooit geprobeer om êrens op die plek van die ou Jerigo `n huis van die puin te bou of ten minste tog `n hut vir julle skape, bokke en varke nie?”
[11] Kado sê: “Ja, baie goeie Heer en Leraar, dit het so sy eie redes! Die volledig woeste plek, wat `n omtrek het van byna twee uur deurgaans, vertoon `n sterk ooreenkoms met die Dooie See. Daar groei nie eens `n mosplantjie nie, laat staan nog iets anders. Bowendien het die beslis baie groot woeste plek af en toe so `n slegte en aaklige uitwaseming dat die mense en elke soort dier sou doodgaan, veral as hulle hulleself snags daar sou bevind, en dit sou dus erg onverstandig wees om op die plek `n woonhuis of ook maar `n hut te bou.
[12] Maar dit is tog `n opmerklike en wonderlike omstandigheid dat die vreeslike uitwaseming hom nooit uitbrei tot buite die gebied van die woeste plek nie, en dus kan mens hier in die nuwe Jerigo baie gesond lewe, terwyl iemand, wat hom ook maar enkele ure op die woeste plek sou ophou, dit met sy lewe sou moet boet. Vir sover ek weet, het mense hierdie plek vroeër ook wel gebruik om misdadigers, wat volgens die wette die dood verdien het, tydens so `n vreeslike uitwaseming na die plek te bring, waar hulle dan meer as `n uur lank moes bly. Mense sê dat die meeste omgekom het. Van diegene wat egter lewend teruggekom het, sê dat die gode hulle barmhartig was; maar tog bly hulle daarna sieklik en leef nie lank nie. En dit is `n maklik te verstane rede, waarom tot op hede nog geen mens `n woning op die woeste plek gebou het en dit waarskynlik ook nooit sal doen nie - soos dit ook vir geen enkele mens goed is in die omgewing van die Dooie See, om lank aan die baie woeste oewers daarvan te bly nie, veral wanneer `n wind vanaf die watervlakte jou tegemoet waai. Maar tog is die goeie van hierdie woeste plek, dat die wind haar vreeslike uitwaseming nooit buite haar klipgrense kan versprei nie.
[13] Of die bose uitwaseming nou `n gevolg is van die ou dreiging van God met straf, of van iets anders, dit sou ek eintlik nie weet om te verklaar nie; maar tog bly dit opmerklik dat teenswoordig, nie eens slange, adders en ander giftige gediertes hulle armsalige bietjie lewe kan behou op die plek nie, waar in die ou tyd eens so groot en magtige koningstad gestaan het - wat mens uit die baie ruïnes baie goed kan aflei - waar mense gewoon, handel gedrywe en hulle beroep uitgeoefen het. En dit is dus ook merkwaardig dat daar, ondanks die ou goddelike verbod, tog ook al enkele honderde jare gelede `n tweede, nuwe Jerigo gebou is.
[14] O Heer en Leraar! Kyk, dit is van die wonderlike dinge wat menige denker, wat goed tuis is in die Judese Skrif, met betrekking tot die tyd van Joshua onteenseglik enigsins bedenklik moet voorkom, en dit is ook nie so verwonderlik dat menige Judeër daardeur sy geloof en ook sy begrip van die saak verloor het. Hoe kom dit eintlik dat daar nou tog nog `n Jerigo staan?”
[15] Ek sê: “Dit kom, vriend, omdat daar aan die naam niks geleë is nie, maar alleen aan die plek. Waarom dit egter so is, sal Ek julle nou dadelik enigsins toelig.
[16] Kyk, op die aarde is daar bepaalde plekke en dikwels meer uitgestrekte vlaktes, waar dit vir die mens en ook vir diere nie goed is om te woon nie, omdat daar vanuit die inwendige van die aarde - om vir julle Grieke begryplik te spreek - hulle op bepaalde tye bose dampe omhoog werk na die oppervlakte; hierdie dampe is afkomstig van die onderaardse swawel-, steenkool- en giftige metaal bevattende lae. En hierdie ou plek, wat ongeveer `n halfuur hiervandaan lê, is ook so `n plek, en teenswoordig erger as ten tyde van Abraham en Lot, toe terselfdertyd met Sodom en Gomorra, Jerigo en ook nog ander stede gebou was - maar natuurlik deur die voorouers van Lot, wat destyds oor hierdie streek geheers het, tot aan die see!
[17] Reeds was die voorouers van Lot daaroor gewaarsku dat hulle hulleself nie in hierdie streek moes vestig en geen stede daar moes bou nie. Aangesien hulle dit ondanks die waarskuwing tog gedoen het, word hulle aangeraai om so `n kuis en rein moontlike lewe te lei; want slegs `n kuis en daardeur ook lewenskragtige mens met `n sterk, van God se Gees vervulde siel, kan weerstand bied aan alle bose en growwe natuurgeeste, en kan sy liggaam nie skaad nie. Maar die vroeër genoemde mense het hierdie raad ook nie opgevolg nie en gaan binne `n baie kort tyd oor tot allerlei geilheid, word afgodedienaars en lei `n uiterste losbandige en onnatuurlike lewe van brassery.
[18] Tog word daar van tyd tot tyd suiwer en van God se Gees vervulde boodskappers na hulle toe gestuur, wat hulle onderrig en hulle die onontkombare gevolge toon, wat uit hulle gebrek aan boetvaardigheid sou voortkom; maar mense luister nie na die boodskappers nie, bedreig hulle, vervolg hulle en stoot hulle van hulle af.
[19] Ten tye van Lot was die plek egter onder die plekke waar die stede gestaan het, wat ryp geword het om deur te breek; enersyds omdat dit in die inwendige van die aarde al so georden en vasgelê was, maar andersyds - en wel hoofsaaklik - omdat die genoemde mense al hulle geestelike krag kwytgeraak het en die bose geeste van die growwe en geoordeelde natuur dus `n onbeperkte speelruimte gekry het en so steeds erger kon huishou; en dit sou hulle nie so maklik kon doen as daar in één van die stede nog net tien tot twintig geestelike sterk en suiwer mense was nie.
[20] Want waarlik, Ek sê vir julle: `n rein en geestelike sterk mens is Heer oor die natuurgeeste, eweso Heer oor die elemente en ook oor alle diere en alle plante en minerale, van watter aard of soort dit ookal mag wees. Want as sy siel vervul is van God se Gees, waarin alle mag en krag uit God woon, kan hy ook die hele natuur gebied en selfs berge moet hulle dan buig voor die mag van sy wil en sy onwankelbare geloof en vertroue in die een, ware, almagtige God.
[21] In die tyd van Lot bestaan daar, behalwe homself, egter nie één so `n mens meer nie, en daarom kry hy die waarskuwing om te vlug, as hy nie met alle ander ten gronde wil gaan nie. En Lot vlug en word gered; want op dieselfde dag vind die allesvernietigde uitbarsting plaas en die groot Sodom en Gomorra gaan ten gronde op die plek waar die Dooie See nou nog dikwels boosaardig tekere gaan en dit nog baie lank sal doen.
[22] En sien nou, met die ou Jerigo staan dit daar in die tyd van Joshua nie veel beter nie, waar - let wel! - `n hoer nog die suiwerste siel gehad het; sy word dan ook behou, omdat sy na die boodskappers, wat deur Joshua na die stad gestuur was, geluister het, hulle woorde ter harte geneem het en hulle in beskerming geneem het!
[23] Joshua, wat net soos sy priesters `n suiwer en van God se Gees vervulde mens was, kon die inwendige, vernietigende uitbarsting van die plek wel voorkom het; hy het die slegte natuurgeeste vir altyd steeds verder van hierdie plek verban en hulle vir hulle aktiwiteit `n plek onder die bodem van die water van die Dooie See toegewys. Maar desondanks moes hy die mense baie nadruklik verbied om ooit weer `n stad op die gevaarlike plek te bou, wat tot op die dag van vandag ook in ag geneem is en ook in die toekoms in ag geneem sal word.
[24] En so het Ek julle nou die rede getoon, waarom Joshua so baie nadruklik gebied het om nooit meer `n stad op die plek te bou nie - met watter naam dan ook. Maar hierdie plek, waar Jerigo nou staan, is nie sleg nie, alhoewel hy hom in die omgewing van die ou, slegte plek bevind, en daarom kon daar ook `n klein stadjie gebou word; maar die naam beteken heeltemal niks nie.”
|
|
|
|
|