|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 111
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die aankoms in die herberg
111 Toe hulle ongeveer `n paar duisend treë van hierdie plek was, sien ons, wat eweneens verder trek, reeds van ver `n ruiter aan galoppeer. Dit duur nie lank nie of hy was al by ons, bly staan en vra ons haastig of ons nie die groep soldate teëgekom het nie en of hulle nie dalk Judese kinders in hulle midde met hulle saamgeneem het nie.
[2] Agricola toon hom wie hy was, vertel hom alles en toon hom ook die geredde kinders, waaroor die ruiter baie verheug was. En vervolgens gee hy die ruiter ook die instruksie vir die hoofman, soos Ek hom ook vooraf aangeraai het.
[3] Daarop keer die ruiter vinnig om en ry ylings na die stad, wat nog ongeveer anderhalf uur daarvandaan gelê het, en ons trek met die kinders, wat hulle met baie liefde om My heenskaar, verder op ons weg.
[4] Die vyf meisies, van wie die oudste sewentien en die jongste tien jaar was, kla dat hulle pyn aan hulle hande het, omdat dit so sterk vasgebind was; ook beide die jongmanne kla daaroor.
[5] Maar Ek streel met My hande oor die van hulle en vra hulle of hulle nou nog pyn voel.
[6] Toe sê (die kinders) verheug: “O goeie Man, ons voel nou geen pyn meer nie! Maar hoe het u dit nou gedoen dat ons geen pyn meer voel nie? O, u moet wel `n wonderbaarlike Heiland wees! U het immers geen salf en geen olie nie, en tog het ons nou heeltemal geen pyn meer nie! Tuis het ons `n grootmoeder, die is al baie lank siek en geen geneesheer kan haar help nie; sou U haar miskien ook kan help op die manier, soos U ons ook nou gehelp het?”
[7] Ek sê: “Ja, ja, My liewe kinders, as ons daar kom, sal ons eers sien wat ons alles vir julle grootmoeder kan doen! Maar het julle nie nog `n sieke in die huis nie?”
[8] Die kinders sê: “O, wonderbaarlike Heiland, hoe vra U ons daarna, asof U al lankal weet dat één van ons beste knegte ook al meer as `n halfjaar deur `n kwaadaardige koors gepla word? Was U dan al eens in ons herberg gewees en het U daar oornag?”
[9] Ek sê: “My liewe kinders, kyk, Ek was persoonlik weliswaar nog nooit in julle herberg gewees nie, maar met My Gees is Ek oral! En so weet Ek dan ook alles wat daar maar is en gebeur en kan Ek diegene wat sleg en miserabel daaraan toe is, ook help as hulle werklik op God vertrou en volgens God se gebooie lewe en handel!”
[10] Die kinders sê: “Maar hoe is dit dat U Uself oral met U Gees kan heen verplaas en dan alles kan sien en hoor wat daar oral ook maar is en gebeur? Dit is tog net vir God moontlik! Het U dan miskien, net soos die profete, God se Gees van tyd tot tyd in U? Want as die profete voorspellings gedoen het, was hulle, soos ons ook geleer het, met God se Gees vervul. Is U miskien ook `n profeet?”
[11] Ek sê: “Ja, My liewe kinders! Wat Ek in feite egter is, sou julle nou nog nie kan begryp nie, ook al sou Ek dit vir julle sê. Maar dat van God se Gees in My is, dit is waar; want sonder die Gees kan geen enkele mens iets werklik goeds en nuttig doen nie. Maar tuis by julle ouers sal ons mekaar nog wel van naderby leer ken.
[12] Kyk, daar in die verte kom julle ouers ons al tegemoet; want hulle het al van die ruiter gehoor dat julle julleself gesond en wel by ons bevind! As julle wil, kan julle hulle nou tegemoet hardloop en vir hulle sê dat ons almal by hulle ons intrek sal neem.”
[13] Toe die kinders dit van My gehoor het en hulle ouers in die verte herken, hardloop hulle hulle tegemoet en was baie gou by hulle, tot groot vreugde van die ouers. Maar ons neem meer tyd; want die omgewing was mooi hier, omdat dit hoër geleë was, en die Romeine het genoeg te sien en te bewonder en Lasarus en die twee herbergiers, wat met ons saamreis, het genoeg daaroor te vertel.
[14] Toe die ouers van hulle kinders hoor hoe ons hulle uit die hande van die ruwe soldate bevry het en dat ons na hulle herberg toe sou kom, draai hulle om, haas hulle met die kinders na die huis, om voorbereidings daar te tref om ons te ontvang en te bedien en alles so goed moontlik in orde te bring. Daar bly natuurlik nie baie tyd oor nie, omdat dit vanaf die punt waar ons was, nog net `n halfuur se stap was tot by die herberg; maar, soos ook vroeër gesê, het ons tyd geneem, omdat die Romeine hierdie streek in die omgewing van Bethlehem baie besienswaardig gevind het en veelvuldig na die een en ander uitvra.
[15] Daarom was ons tot by die herberg nog ruim `n uur onderweg, sodat die besitters daarvan genoeg tyd gehad het om voor ons aankoms die mees noodsaaklike in orde te bring en voor te berei. Daar word `n vet kalf geslag en goed vir ons gereedgemaak, en nog baie meer.
[16] Toe ons naby die herberg kom, hardloop beide ouers saam met hulle sewe kinders ons tegemoet, begroet ons baie beleefd, verwelkom ons en bedank ons met trane in hulle oë vir die weldaad wat ons hulle bewys het deur hulle kinders te red.
[17] Ook die kinders bedank ons nogeens van ganser harte en sê vir die ouers, na My wysend: “Dit is die wonderbaarlike Heiland, wat ons seer hande genees het deur maar net daaroor te stryk, en ons ook beloof het om ons arme grootmoeder en ook ons kneg heeltemal gesond te maak. Hy moet `n groot en van God se Gees vervulde wyse wees, - want hy weet alles wat daar ter wêreld ook maar is en gebeur!”
[18] Die ouers kom daarop na My toe en sê: “Ons spreek U, onmiskenbare groot mensevriend, nogmaals ons buitengewone hartlike dank uit vir die groot weldaad die U ons kinders bewys het, en ons vra U dan ook, of U ook ons ou moeder, en indien moontlik, ook ons brawe kneg sou wou help; want ons glo vas en sonder enige twyfel wat ons kinders oor U vertel het, en ons word in ons geloof bevestig deur die aanwesigheid van ons welbekende Lasarus uit Bethanië en die twee herbergiers, wat ons ook ken. Want hierdie manne sou nie so maklik na ons toe gekom het, as U hulle nie hierheen gebring het nie. Maar die ander menere ken ons nog nie van naderby nie; ons sien slegs Romeine en Grieke onder hulle, te oordeel na hulle kleding. Hulle het sekerlik ook maar net ter wille van U te voet hierheen gekom; want sulke vername Romeine maak nie gou `n tog van enkele ure te voet nie. Maar hoe dan ook, U is in elke geval meer as wat U blyk te wees! Julle kom seker uit die omgewing van Bethanië en is sekerlik wel moeg; wil julle miskien die huis binnegaan en daar uitrus totdat die middagmaal heeltemal gereed sal wees?”
[19] Ek sê: “Kyk, hier buite onder die skadu van julle vrugtebome is dit aangenamer om te rus, en hier staan immers ook `n hele aantal tafels en banke, wat ons kan gebruik! Bowendien weet Ek dat die hoofman ietwat vroeër as ons te perd uit Bethlehem hierheen gekom het, met wie hierdie staatsliede uit Rome iets te bespreek het. Hy versterk hom nou met sy twee metgeselle met brood en wyn, en ons wil hom nie daarby steur nie; wanneer hy geëet en gedrink het, wil ons graag dat hy na buite kom om met hierdie Romeine te spreek.”
|
|
|
|
|