Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 64

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die klagte van die Skrifgeleerde

64 Hierdie raak woorde van één van die leerlinge skiet die Skrifgeleerde en sy metgeselle in die verkeerde keelgat en daarom kom hulle na My toe en vra My: “Heer, het U U leerlinge die reg gegee om so met ons te praat? Wanneer ons nie onmiddellik wil glo wat ons moet glo nie, maar as geleerdes nog allerlei ander bewyse soek, dan gaan dit hulle tog sekerlik weinig of niks aan nie! As hulle ons goed en sagsinnig tegemoet tree, sal ons ook na hulle luister en hulle woorde welwillend ondersoek; maar as hulle ons tegemoet tree soos ook nou, dan is daar ten slotte tog niks anders as om hulle presies so te bejeën soos wat ons doen nie! As hulle egter van u die reg het om ons geleerdes so te bejeen, dan sal hulle ook weinig met ons kan doen!”

[2] Ek sê: “Elke woord wat die een leerling vir julle gesê het, het Ek hom in die mond gelê, en so het Ek deur sy mond Self met julle gespreek. En daarmee is julle vraag dan ook volkome beantwoord, en dit laat julle sien van wie My leerlinge die reg het om so met julle te spreek. Julle wil maar net nooit die waarheid hoor nie en hou ydele vleiery en huigelary in ere; daarom kom My woorde julle hard en grof voor en vererg julle julleself.

[3] Maar Ek sê vir julle: wie soos julle ook eenmaal in die valse gewortel is, tewens onware dinge onderrig en daarvoor ook nog groot eer verlang van die blinde mense, omdat julle julleself in julle blindheid as iets groots beskou, vind die ligte waarheid steeds hard en kwetsend vir julle vermeende eer en dit maak julle vererg. Ek sê egter vir julle dat so iemand ook nooit toegang tot die waarheid sal vind nie, as hy hom nie in sy valse oortuiging wil laat verdeemoedig deur die groot lig van die waarheid nie, maar hulle sal hulleself voortdurend in hulle duisternis eer laat bewys, en vervolgens ook daarin ten gronde gaan. 

[4] Daar was `n man wat werklik baie gelees het oor alle strate en weë; mense eer die man vanweë sy kennis, en die man het baie waarde geheg aan die eer. Maar hoewel hy baie geweet het van die strate en weë van die wêreld, het hy die weë, wat hy uit die geskrifte van die Romeine en Grieke geken het, nooit bereis nie. 

[5] Nou gebeur dit egter dat `n man van koninklike bloed, wat van plan was om `n ver reis te maak, hierdie weë-deskundige vir `n ruim beloning as gids in diens neem, hoewel hy ook nog `n ander gids by hom gehad het, wat weliswaar net so geleerd was as hy, maar al baie reise gemaak het en die strate en weë dan ook uit ervaring geken het.

[6] Toe gebeur dit op `n reis ver in Egipte dat die man van koninklike afkoms binne enkele dae die ou stad Memphis wou bereik, en hy pleeg oorleg met die reisdeskundige oor wat die kortste en veiligste weg daarheen sou wees. Die ou reisdeskundige gee die raad om die weg langs die rivier te volg, ook al was dit ietwat langer. Maar die geleerde sê: “Julle weet niks, en wat julle geweet het, weet julle nou al lankal nie meer nie; ek het as enigste die strate en weë van die Egiptenare, Grieke en Romeine bestudeer, en ek ken hulle almal baie goed. Ek stel voor dat ons hier die weg regdeur die woestyn neem, sodat ons Memphis so drie dae vroeër kan bereik as wanneer ons langs die rivier sou verder trek!”

[7] Dit voorstel beval die koninklike man, en hy stel die weë-deskundige aan as gids.

[8] Met baie moeite trek die karavaan reeds dae lank deur die sand en begin al gebrek te ly aan water en lewensmiddele.

[9] Toe roep die koninklike man die gidse nogmaals byeen; hy roep die weë-deskundige ter verantwoording en bedreig hom, ingeval hy deur sy halsstarrigheid die karavaan op `n dwaalweg sou gebring het.

[10] Toe sê ook die ou gids: “Heer, as ons nie omkeer en na die ooste reis nie, maar steeds verder na die weste gaan, dan sal ons almal ten gronde gaan!”

[11] Die geleerde gids wil egter nog maak asof hy gelyk het, aangesien hy baie gepla was deur sy wêreldse eer.

[12] Maar toe beveel die koninklike man dat hulle die roete sou neem wat oostwaarts lei. Almal gehoorsaam en bereik binne drie dae gelukkig weer die rivier, en binne sewe dae die ou stad.

[13] Wat se nut het die ingebeelde en eersugtige weë-deskundige nou eintlik gehad vir die karavaan? As hulle hom heeltemal sou gevolg het, sou hulle onteenseglik verlore gegaan het; en deurdat hulle hom slegs `n paar dae gevolg het, het hulle ook baie later en moeër die doel bereik.

[14] Toe die koninklike man in Memphis aankom, sê hy vir die ingebeelde weë-deskundige: “Jy het jou taak sleg volbring; daarom moet jy voortaan die laaste en minste onder my dienare wees! Jy moet in deemoed deur ervaring verstandig en bruikbaar word, anders verdien jy geen loon nie, maar wel `n gepaste straf!”

[15] En wat die koninklike man vir die ingebeelde weë-deskundige gesê het, sê Ek ook vir julle, Skrifgeleerdes en teoloë. Ook julle lei in julle eersugtige eiedunk die mens na die sekerste ondergang van die innerlike lewe, in plaas van na die opgang daarvan; en as iemand dit vir julle sê, raak julle vervul van ergernis en boosheid, omdat julle in julle kop wel die dooie letters van die Skrif met julle saamdra, maar die lewendmakende gees, wat daarin aanwesig is, nog nooit ontdek het nie; want julle harte was steeds vervul met hoogmoed en `n wêreldse instelling en die gees, wat slegs in die ware deemoed van die hart woon, het nog nooit kon ontwaak tot die heldere lewe vol lig nie.

[16] Omdat julle in die vervolg nie meer deug vir die lei van My karavane nie, het Ek op die ou en eerste manier weer nie-geleerde gidse aangestel, wat egter baie deskundig en ervare is op die weë van die deemoed van die hart en die naasteliefde, en hulle sal My karavane, wat deur julle in die woestyn beland het, weer na die rivier van die lewe teruglei; maar julle sal die loon, wat op hoogmoed volg, nie ontkom nie, as julle nog langer volhard in julle hoogmoed! Want Ek sê vir julle: die suiwer letter van die Skrif maak dood, slegs die gees maak lewend. Die gees ontvang egter slegs diegene wat My in deemoed en liefde navolg.

[17] Solank `n goeie bedoelde woord van waarheid uit die mond van julle medemens julle nog kan krenk en beledig, is julle nog ver verwyderd van God se ryk! Wie egter My ware leerling en volgeling wil wees, moet selfs sy ware en daadwerklike vyande vergewe, bid vir diegene wat hom vervloek en diegene seën wat hom haat en verwens, en netso goed doen aan diegene wat hom skade berokken het; so sal hy eerder gloeiende kole van berou op die hoof van sy vyande opstapel, as wanneer hy kwaad met kwaad vergeld.

[18] As julle julle halsstarrigheid en hoogmoedige verstoktheid nie laat vaar nie, sal die lig van julle afgeneem en aan die heidene gegee word, wat al lankal voorsien is, en met die bedoeling bevind julle julleself nou onder die juk van die heidene en moet julle hulle harde wette laat welgeval, omdat julle die ligte wette van God met die voete vertrap het.

[19] Ek het nou gekom om julle weer te versamel en op te rig, en Ek wil julle deur die mag van die waarheid werklik vry maak. As julle egter in julle selfgeskape slawerny wil bly, bly dan, dan sal Ek My lig aan die heidene gee; maar julle sal in die nag van julle sonde gelaat word, en die heidene sal voortaan oor julle heers. Die land wat aan julle beloof is, word deur die vyande vertrap en sal voortaan woes en leeg bly. Dit is aan julle as waarskuwing gesê!

[20] Wanneer dit alles aan julle sal voltrek wees, sal julle My wel ken en uitroep: “Heer, Heer!”; dan sal Ek julle egter nie ken nie, maar vir julle sê: “Ek het julle nooit geken nie; gaan daarom weg van My, vyande van die waarheid!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205