Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 115

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die goddelike leiding van die Judese volk

115 Hierop wend Agricola hom tot My en sê: “O Heer en Leraar! Gee ons Romeine raad volgens U liefde, barmhartigheid en geregtigheid, wat daar in hierdie werklik baie kwade saak gedoen kan word vir die heil van hierdie mense!”

[2] Ek sê: “Daar is nou nie baie daaraan te doen nie; want volgens julle wette moet `n verdrag gehandhaaf word en geldig bly vir die vasgestelde tyd, wanneer die besitter van die verdrag hom hou by die voorwaardes. Maar daar staan nie in die verdrag dat Herodus die belastings van diegene wat hulle vrygekoop het, en Romeinse burgers geword het, na die vrygekooptes kan verleng nie, en daarom kan julle hom dit wel verbied. Weliswaar het die landvoog Pilatus dit al vir `n deel gedoen en het Herodus daardeur tot sy vyand gemaak, maar dit het nie baie verander nie, en Herodus doen nog steeds wat hy wil en bekommer hom weinig oor die landvoog; want in die verdrag van die keiser het hy immers die duidelik geformuleerde bevoegdheid, om hulle in die land van alle regte van `n koning te bedien, vir sover dit nie in stryd en onverenigbaar is met die wette van Rome nie. 

[3] Wel nou, na `n dergelike aan hom verleende bevoegdheid, waar duidelik nie diep oor nagedink is nie, kan hy baie ten hemel skreiende onregverdighede bedryf en julle kan hom nie kragtens julle verdrag ter verantwoording roep nie.

[4] Maar dat hy nou so inhalig is en die volk in `n sterk mate onderdruk, lê in die omstandigheid dat hy soveel geld wil vergader dat hy daarmee vir sy eie nut en doeleindes die hele land vir altyd van julle Romeine kan afkoop, om so in geheel onafhanklik van julle, heerser oor die hele Judea te wees. Hy sal dit weliswaar nie sover bring nie, maar aangesien dit nou eenmaal sy bedoeling en plan is, handel hy nou ook so, om dit volgens sy idee met `n gunstige wind uit Rome ten uitvoer te bring.

[5] Ek sou dit alles, soos dit ook nou bestaan, wel met één enkele gedagte kan verander, sodat die hele huis van Herodus tot aan sy verste verwyderde verwante nie meer sou bestaan nie; maar tog doen ek dit nie, omdat hy toegelaat is as `n tugroede vir die gierigheid en die hovaardigheid van die volk van God.

[6] Want toe die Judeërs onder die rigters gestaan het, het hulle, buiten die tiendes, geen belastings betaal nie en was hulle ryker en magtiger as enige ander volk op aarde. Toe word hulle oormoedig in hulle glans en wou `n koning hê, wat in skittering, prag en mag alle konings van die aarde sou oortref. En daar word `n koning aan hulle gegee. Maar met hom kom ook alle ellende oor die volk, wat ontevrede geword het met God se regering.

[7] Toe murmureer en kla die mense nog erger as nou en baie vra God om hulp; maar God is nie `n wese wat net soos `n mens sy eenmaal geneemde besluit van vandag teen môre verander nie - want as Hy dit sou doen, sou daar al lankal geen aarde en geen son meer bestaan het nie! En so laat Hy die Judeërs dan ook onder die konings. En die konings was wys en lei die volk regverdig, so lank die volk self goed en wys en regverdig gebly het volgens die wette van God. Maar toe die volk hulle te buite begin gaan en hoerery en allerlei onregverdighede begin bedryf, word daar ook nie wyse nie, maar harde en onregverdige konings oor hulle aangestel.

[8] En toe die hele Judese volk, op slegs weiniges na, byna tot die heidendom oorgegaan het, kom hulle dan ook in die gevangenskap van die Babiloniërs, om te ervaar hoe dit is om onder die heerskappy van duistere heidene te lewe. Toe eers keer die volk weer terug na sy ou en enige ware God, en God maak hulle weer tot `n selfstandige volk en gee hulle wyse en regverdige leiers.

[9] Maar dit duur weer nie lank nie, of die volk verval in sy ou sonde en kwaad, en God plaas hulle geleidelik in die omstandighede waarin hulle nou, soos hulle ook dit verdien het, sit en sug en kla.

[10] En God het nou Self in die vlees na die volk toe gekom op die wyse wat die profete voorspel het, en Hy wil hulle verlos en gelukkig maak vir tyd en ewigheid; maar die groot massa glo dit nie as hulle daarvan hoor en dit self met oop oë sien nie, en vervolg die almagtige Helper en wil niks van Hom hoor nie. Maar daarom laat God ook toe dat die blinde en sleg geworde volk in alle opsigte gepla word en steeds meer gepla sal word, en dit sal nog gebeur dat hulle onder alle volkere van die aarde verstrooi sal word en hulle sal geen land hulle s`n kan noem nie.

[11] Omdat die volk nou so is, moet hulle nou ook deur die Romeine en nog sterker deur hulle leenvorste gepla word. Maar wie nog wys en regverdig is en die gebooie van God in ag neem en hulle daarby hou, sal ook geregtigheid, barmhartigheid en hulp vind by God en by die mense, en die hebsug en heerssug van Herodus sal hom nie kan aanraak nie, waarvan Lasarus en baie ander kan getuig.

[12] Maar wie nog verdruk word, moet hulle eers waaragtig tot God wend en Hom in sy hart om hulp vra, dan sal hy geholpe word as hy hom weerhou van al die baie sondes wat nou onder die Judeërs, meer as onder die heidene, gebruiklik is!

[13] Kyk, vriend Agricola, so staan die sake, en uit wat Ek gesê het, sal jy goed kan uitmaak wat jou met betrekking tot Herodus te doen staan!”

[14] Agricola sê: “Ja, Heer en Leraar, enige Waaragtige en Getroue, nou weet ek baie duidelik wat op my rus om te doen; wat vir U, o Heer, waar is, dit is ook vir my waar!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205