Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 201

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die genesing van die siekes van die owerste van die Essene

201 Toe die owerste dit van My gehoor het, bedank hy My van ganser harte; want daardeur het daar `n swaar klip van hom afgeval. Terwyl ons die belangrike gesprek met mekaar voer, bereik ons ook ons herberg, waar `n ryklike en welbereide oggendmaal reeds op ons gewag het. Ons gaan dan ook dadelik aan die groot tafel, wat vir ons gedek is, sit, wat vol staan met voedsel en drank. Ek dank, en seën die spyse en die wyn, en vervolgens neem ons in `n opgewekte stemming die oggendmaal met mate tot ons, waaroor die herbergier en sy vrou, wat die maal vir ons berei het, hulle baie verheug.

[2] Ook enkeles van die vernaamste Essene, met die owerste aan die hoof, sit aan ons tafel en eet en drink met baie genoeë en blydskap; en van die enkele vreemdelinge, wat ook aan ander tafels sit om te ontbyt, dit sodanig opval dat hulle onder mekaar (die vreemdelinge) sê: “Daar moet wel iets baie besonders aan die gang wees, omdat die baie hoë Heiland, wat andersins so ernstig daar uitsien, nou so opgewek is soos niemand Hom ooit gesien het nie!” 

[3] Hierdie woorde het die owerste egter goed gehoor en hy sê vir die vreemdelinge: “Luister, julle, wat nou sulke beskouinge aan ons wy! Dit is voldoende as sterflike mense, wat die dood voor oë het, met treurige en ernstige gesigte op aarde rondloop en daardeur te kenne gee dat hulle vriende is van die lewe en nie van die dood nie. Maar as `n sterflike mens, soos ons dit ook is, van die dood tot die lewe deurgedring het en die kleed van die algehele onsterflikheid aangetrek het, dan kan hy ook op aarde al vol vreugde en opgewektheid wees, asof hy al in God se hemele was; maar julle sal dit nou natuurlik nog nie insien en begryp nie. Maar ook vir julle kan die tyd kom dat julle dit sal insien en begryp!”

[4] Daarop sê die vreemdelinge niks meer nie, en ons eet en drink verder.

[5] Toe ons die eetmaal beëindig het, kom die jong Arabier uit Egipte, wat die aand deur My genees is, saam met nog `n ander een, wat verlam en erg kreupel was. Hy loop na My toe en vra My of Ek hom ook sou wil genees; want, so vertel hy, hy was ook uit sy streek en was vir homself en sy medemens tot las, wat hulle baie verdriet aandoen, omdat hy in sy ellendige toestand vir niemand iets goeds kon doen en hom voortdurend moes laat help en onderhou deur diegene wat medelye met hom het.  

[6] Ek sê vir die Arabier: “Ek het jou weliswaar gesê dat jy, en ook diegene wat gister by jou was, nie teenoor die vreemdelinge moes praat oor wat Ek aan jou gedoen het nie. Nou het jy dit in die algemeen wel in ag geneem en het dit uit barmhartigheid alleen, aan hierdie paar siekes vertel, waar en hoe jy self gehelp is; nou het jy hulle saamgebring en in hulle plek self die versoek gedoen, wat My oor jou hart `n goeie getuienis gee, en daarom sal jou teregte versoek ook nie by My onverhoord bly nie! Want die korrekte, suiwer en onbaatsugtige liefde en erbarming van `n mens vir sy lydende broeders, sal ook by My altyd liefde, erbarming en verhoring vind; daar staan immers geskrywe: “God verhoor die gebed van `n goeie, rein, gelowige en vroom hart te alle tye.”

[7] Maar sodat julle in die toekoms, as julle sal glo wat die Essene julle sal leer, ook by hulle hulp kan kry, het Ek ook aan hulle die mag en krag verleen om die kwale in My Naam net so te kan genees soos wat Ek jou gisteraand genees het; en nou moet die owerste die lammes en kreupeles die hande oplê, dan sal hulle geholpe wees!”

[8] Toe die owerste dit van My hoor, vra hy My om hierdie keer tog self die gebreklikes te help; want vir so `n werk voel hy nog baie onwaardig en in sy gemoed ook nog te magteloos.

[9] Ek sê: “Doen nou maar soos wat Ek jou ook gesê het! Want `n egte leerling moet immers steeds onder die oë van die meester met `n werk begin, sodat die meester, as die leerling met iets misluk, hom op die tekortkominge en die rede van die mislukking kan wys. Want geen enkele leerling is net so volmaak as sy meester nie maar as hy deur sy vlyt en ywer soos sy meester sal wees, sal vir hom ook, net soos die meester, niks meer misluk nie. Doen nou dus maar wat Ek gesê het, dan sal alles wel regkom en heeltemal goed gaan!”

[10] Toe eers vermaan die owerste homself en sê: “O Heer en Leraar, dan geskied nou en altyd enkel en alleen U wil!” Na hierdie woorde staan hy op, gaan met groot bewoënheid tussen die gebreklikes staan en sê: “In die Naam van Die Een wat as enige almagtig, meer as gewyd en eindeloos goed, liefdevol en barmhartig is, lê ek julle my swak hande op, en mag die groot Heer en Leraar julle daardeur help!” 

[11] Toe die owerste onder die uitspreek van hierdie spreuk, wat al My leerlinge naderhand ook by die genees van siekes gebruik het, die kreupeles die hande oplê, word elkeen van hulle oombliklik so genees, asof hulle nog nooit iets makeer het nie.

[12] Slegs één van hulle, wat deur `n val beide onderarms verloor het en tewens aan sy voete verlam was, word, wat die laaste betref, weliswaar genees, maar hy kry nie sy arms terug nie en hy sê vir die owerste: “Aangesien jy my deur die wil van die enige almagtige Heer van al my ander kwale bevry het, glo ek nou ook vas en seker dat jy my ook my verlore hande kan teruggee!”

[13] Die owerste sê, enigsins verleë: “Ja, my vriend, dit sal die Heer en Leraar self wel kan doen, aangesien Sy mag uit die niks wêrelde in die lewe kan roep - maar ek is maar `n swak leerling en kan dit nie doen nie; want daar is `n groot verskil tussen genees en skep.

[14] Wanneer `n plant in die tuin verwelk en daar siek by staan, kan mens hom water gee, dan sal hy weer fris en gesond word; en dit heet genees. Maar as daar in die tuin geen enkele plantjie staan nie, het die besproeiing van die kaal grond geen enkele sin nie; want ons mense kan selfs met die beste wil en met die sterkste geloof selfs die kleinste mosplantjie nie in die lewe roep nie. Dit kan maar net God se almagtige wil doen!

[15] Jy, vriend, sal nou dan ook duidelik insien dat ek as mens, deur die barmhartigheid van die Heer en Leraar wel jou nog bestaande, en ook verlamde ledemate kon genees - maar jou geheel en al verlore arms kan ek nie weer opnuut skep nie!”

[16] Dit sien die man sonder arms wel in, maar tog sê hy vir die owerste: “As die groot Heer en Leraar jou soveel mag verleen het om sulke kreupeles, soos wat ons eers was, deur jou woord en deur die oplê van jou hande skielik en wonderbaarlik te genees, wat eintlik tog ook ooreenkom met `n volledige nuwe skepping, dan sou dit tog ook moontlik wees om vir my my verlore hande terug te gee; dit sou waarskynlik vir jou en die Heer net so goed moontlik wees as die baie skielike genees van ons verlamde en geheel en al kreupel geworde ledemate, sintuie en siek ingewande! Want kyk, ek voel beide my verlore hande nog steeds asof ek hulle nog het, en selfs voel ek af en toe nog as`t ware `n brandende pyn in beide my verlore arms; en sodoende glo ek dat my siel die hande nie kwytgeraak het nie, ook al het my liggaam hulle verloor.

[17] Verder is ek van mening dat deur die mag van `n ware en almagtige God ook `n verlore gegane liggaamsdeel aan `n mens teruggee sou kan word, net soos `n olifant ook sy afgewerpte tande terugkry, die skaap sy wol, die krap sy knypers en selfs ons mense ons afgeskeerde hare en afgeknipte naels. Daarby sou dit tog immers maar net neerkom op die wil van God, op die korrekte geloof van `n egte leerling van God en op die sieke!”

[18] Na hierdie baie betekenisvolle woorde van die man sonder hande, wat `n uitgeweke Judeër was, weet die owerste nie wat hy op die oomblik moes doen nie. Moes hy die man sonder hande nog `n keer in baie vaste geloof hande oplê, of moes hy eers met My oorleg pleeg, of en hoe die verlange van die man sonder hande uiteindelik ingewillig sou kan word? Hy gee die voorkeur aan die tweede en kom met hierdie saak na My toe.

[19] En Ek sê vir hom: “Sien nou hoe goed dit was dat jy onder My oë jou eerste taak verrig het en daarby op `n klein gebrek aan geloof en vertroue in God se Liefde, Wysheid en Krag gestoot het! As jy sonder om te twyfel ook die teruggee van die arms van die Egiptiese Judeër in jou geloof betrek het, dan sou hy al sy hande gehad het; maar jy het daarvoor teruggeskrik en dit as onmoontlik beskou, en daarom het die man dan ook nie sy kwytgeraakte hande teruggekry nie. Maar gaan nou en glo vas dat alle dinge by My moontlik is; lê hom nog `n keer jou hande op, dan sal hy ook sy hande weer vernuwe kry!” 

[20] Na hierdie woorde van My gaan die owerste, wat Roclus heet, vol vaste geloof nogmaals na die man sonder hande toe en sê: “Omdat jy self glo en as Judeër die almag van die enige ware God ken, geskied dit in die Naam van die groot Heer en Leraar, in wie die volheid van God se gees liggaamlik woon, volgens jou verlange en geloof!”

[21] Toe die owerste dit oor die man sonder hande uitgespreek het, kry hy ook onmiddellik sy verlore hande weer terug.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205