Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die huigelary van die Skrifgeleerde

65 Toe die Skrifgeleerde en sy metgeselle dit van My gehoor het, kon hulle niks meer vind om teen My in te bring nie.

[2] Maar die Skrifgeleerde dink na en sê vir My: “Heer, Ek sien wel dat U `n waaragtige en wyse leraar is; U leer God se woord op die korrekte wyse en let nie op die aansien van `n persoon of die van `n volk nie. Ons weet ook wat daar in die profete geskrywe staan oor die koms van die Messias, en ons is ook al half op pad om te glo dat u die beloofde Messias kan wees; want ons het baie oor U onderrig en dade gehoor en baie ook self meegemaak, aangesien ons U al meer as tien jaar ken as `n opmerklike Nasarener en ons destyds al baie onbegryplike dinge van U meegemaak het, soos ook byvoorbeeld wonderbaarlik vinnig geboude huise, genesing van siekes, ryk visvangste en selfs `n onmiskenbare opwekking van iemand wat deur `n swaar val om die lewe gekom het. Sulke en nog ander dinge het ons van U verborge werksaamheid verneem, hoewel U self en ook U vader Josef egter onder die mense geen rugbaarheid daaraan wou gee nie.

[3] Maar destyds was nooit ook maar in die verste verte aan U te merk dat U `n profeet en nog minder die beloofde groot Messias van die Judeërs en alle mense op aarde is nie. Eers sedert ongeveer twee jaar en `n paar maande is oral rugbaar en algemeen bekend geword dat U onder die volk opgestaan het en deur middel van woorde en dade van Uself getuig dat U die beloofde Messias is.

[4] Ons het dan ook nie hierheen gekom om een of ander wonderteken van U te verlang nie, maar alleen om die woorde uit U mond te hoor; want tuis was U allesbehalwe `n redenaar, sodat selfs U welsprekende vader Josef teenoor ons sy nood bekla het; hy was bang dat U mettertyd nog heeltemal stom en onnosel sou kon word, omdat daar dikwels weke lank geen woord uit U te kry was nie. En nou het U `n leraar van die volk geword vir wie mense, soos ook vir elke groot profeet, die allergrootste agting moet hê. 

[5] Dat U, as die aan ons reeds lank bekende seun van Josef die timmerman, self werklik die Messias is, ja, dit kon ons tog eintlik net sonder meer glo, ondanks alles wat ons oor U gehoor het. En as ons nou uit Bethlehem en nog van vêr hierheen gekom het, aangespoor deur U leerlinge wat na ons toe gekom het, om ons self van naderby te oortuig van hierdie hoogs belangrike saak, kan U ons dit tog nie kwalik neem nie; want as U van die hoogste Gees van die Wysheid deurdring en vervul is, soos ook U leerlinge sê en nou ook U self, dan sal U tog goed kan insien dat ons nie met bose bedoelinge hierheen gekom het nie.

[6] Daar staan immers in die ou spreuke van die wysheid dat mense alles goed moet ondersoek en vervolgens die goeie moet aanneem en behou! Wanneer ons as mens dit nou ook by U doen, dan hoef U ons om die rede tog nog nie as vervloekte sondaars te beskou nie! U het die leerlinge, wat vooraf heeltemal geen geleerde mense was nie, tog so `n innerlike lig gegee, waardeur hulle U dadelik kon herken as die beloofde Messias; waarom gee U ons dan nie so `n lig nie? Moet ons dan, omdat ons ietwat bedagsamer is by die aanneem van die geloof in U, deur U veroordeel word tot die ewige duisternis? Kyk, kort tevore het U ons `n baie goeie verhaaltjie vertel oor wie ons naaste is! Ons is egter ook arm aan lig, en ons het dan ook baie harder `n barmhartige Samaritaan nodig as die man wat half doodgeslaan was voor Jerigo; maar blyk asof U ons nie ter wille wil wees nie. Wat is U antwoord hierop, wyse Heer?”

[7] Ek sê: “As die woorde uit julle mond, ook die van julle hart sou gewees het, sou julle vir die genesing van julle neergeslane siele ook méér gevind het as `n barmhartige Samaritaan! Maar solank julle in julle hart baie anders voel as wat julle gladde tonge uitspreek, sal julle ook nie by My die vermeende barmhartige Samaritaan vind nie. Nietemin het Ek julle My barmhartigheid betoon deur julle te sê wat Ek so flussies gesê het! As julle dit ter harte wil neem, waartoe Ek julle nooit sal dwing nie, sal dit ook in julle lig en helder word.

[8] Dat julle My in julle blinde oordeel goed ken as seun van die timmerman, dit weet Ek wel; maar julle het self toegegee dat julle af en toe oor My gehoor het dat Ek dade verrig het, waartoe geen enkele mens in staat is nie. Dan kon julle tog in die Skrif gaan kyk het, dan sou julle met `n bietjie moeite gevind het, wie daar agter die timmermanseun geskuil het, wat selfs baie heidene in die tyd ontdek het. Maar dit het julle nooit gedoen nie, en wanneer julle deur iemand met `n beter en helderder uitkyk, daarop gewys was, dink julle nie net nooit verder daaroor na nie, maar bedreig julle elkeen wat `n dergelike mening koester. Julle beskou My deels as `n besetene en, as dit goed gaan, deels ook as `n getalenteerde magiër, wat sy geheime kunste hier en daar by `n goeie geleentheid geleer het, om in die toekoms by die heidene groot skatte daarmee te verdien.

[9] Maar toe julle weer berigte oor My ontvang het, gaan julle in julle boosaardige vergadering oor My te kere: “Aha, nou is alles oor die man vir ons duidelik! Sy vader Josef sou in regte lyn van Dawid afstam?! Die ou het in sy seun talente ontdek en het hom êrens in die geheim laat onderrig in allerlei towery, wat by die heidene as iets goddelik beskou word. Daardeur het hy al baie aansienlike heidene tot sy vriende gemaak; en omdat hulle ons vyande is, het hy die idee opgeneem om deur hulle goedgunstigheid sy towenaar van `n seun op die troon van Dawid te gaan plaas en ons, as vyande van die heidene, vervolgens met één klap ten gronde te bring en met die hulp van die Essene, wat by die Romeine ook in hoë aansien staan, ten gronde te rig. Maar dit moet tot elke prys voorkom word, deur hom by `n gunstige geleentheid te gryp en hom van die lewe te beroof, waarna dit dan seker vir altyd met hom gedaan sal wees. Want as hy maar net `n slegte towenaar is en ons ten gronde wil rig, dan is dit baie goed dat ons hom ten gronde rig, voordat hy ons op een of ander wyse skade kan berokken; en mag hy egter die Messias wees, dan sal ons hom niks kan maak en kan dan agterna nog vroeg genoeg glo dat hy die Messias is. Hy sal ons dit nie kwalik kan neem dat ons eers alles by hom moes ondersoek, alvorens ons hom as die beloofde Messias aanneem nie, en vervolgens sal hy ons as yweraars vir die waarheid bowendien selfs nog moet prys en `n hoë beloning moet gee.”

[10] Kyk, so dink julle in julle hart, terwyl ook die hele tempel in Jerusalem op dieselfde manier dink, en nie één van julle het ook maar in die verste verte dit verlang dat Ek dalk tog die Messias kan wees nie, maar net dat Ek, eenmaal deur julle gewurg, vir ewig dood sal bly!

[11] As dit en niks anders julle liefste wens is, wat se wens sou Ek dan vir julle, ooreenkomstig die waarheid, in My hart moet dra? Is julle by `n dergelike wens, wat teen My gerig is, My erbarming nog wel werd? Oordeel self daaroor! Ek is eindeloos baie beter as die beste van julle en bewys julle nou tog nog `n groot barmhartigheid deur julle openlik te sê hoe dit daar van binne by julle uitsien, sodat julle julleself kan ken en op baie ander gedagtes sal kom; want dit sou by julle nog moontlik wees! Maar wat vir `n barmhartigheid ten aansien van My stel julle daarteenoor? Sê nou eers eerlik of Ek julle nou iets anders as die suiwer waarheid reg in die gesig gesê het!”

[12] Nou kyk almal My stomverwonderd aan, en geeneen van hulle het die moed om My teen te spreek nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205