Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 137

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

RafaEl maak hom as gees bekend

137 (RafaEl:) “Maar hoe kan `n mens reeds op hierdie wêreld tot die staat van lewe kom? 

[2] Die mens moet die woord van God, waarin Hy aan die mens Sy wil getrou openbaar, op `n gegewe oomblik met `n vreugdevolle, dankbare en gewillige hart en verstand aanneem. Daardeur lê hy reeds die ware lewensgraan in die vrugbare aarde.

[3] Maar daarna moet hy ook onverwyld volgens God se wil begin te handel. Die handel is dan die lewebringende reën, waardeur die goddelike gees daartoe beweeg word om in die siel van die lewensgraan oor te gaan. Nou moet mens dan in die eerste plek in homself keer deur die ware deemoed, deur geduld, sagmoedigheid, deur die ware liefde tot die naaste en deur die egte barmhartigheid. As `n mens van harte en met alle ywer hierdie opgawe aanvaar, gaan hy daardeur ook binne in die diepte van sy eie lewe en grawe hy die geestelike voedende lewenswortels in die aarde van die goddelike krag, wat sulke wortels gretig opsuig om vervolgens die lewenshalm na die goddelike lig te gaan opstu, te ontwikkel en te voltooi. In hierdie toestand gaan die siel dan ook steeds meer oor in die steeds lewendiger wordende liefde tot God, en wel namate haar gees ook steeds werksamer in die siel oorgaan.

[4] Wanneer die lewenshalm van die mens op hierdie wyse tot die aar uitgegroei het en die siel haar geheel in die liefde tot God en in haar lewenslig en lewenswarmte bevind, dan begin sy daarmee ook self in haar gees oor te gaan en daar volledig saam één te word. In hierdie salige toestand word die lewenskoringaar heeltemal boaan die halm sigbaar en gaan nou vinnig in die suiwer goddelike lig bloei; die bloei toon dan egter die volledige liefdes- en lewensvereniging met haar gees en dus ook met God. 

[5] Uit hierdie vereniging ontstaan vervolgens die ware lewensvrug, waarvan die ryping in die volle lewenslig van God bo al wat aards verhewe is. Dat `n mens hom in die geval dan ook in die helderste beskouing en die helderste bewussyn bevind van alles in die hele geesteswêreld, asook in die hele materiële skepping, sal niemand wel betwyfel, wat nou met enige aandag nadink oor wat ek uiteengesit het in `n vergelyking met die orde waarin `n plant groei. - En nou het ek gespreek, en jy het die reg om daarop te reageer.” 

[6] Daarop sê die hoofman, vol verbasing: “Luister, my jong, goeie vriend, jy moet beslis al in die moederliggaam begin het om hierdie lewensweg te gaan, anders is dit nie denkbaar dat `n mens op jou jong leeftyd hom tot so `n lewenshoogte kan ontwikkel nie! Maar hoe dit ookal is, dit is genoeg dat jy jou in `n volkome lewensvoleinding bevind. Maar wanneer jy ook eenmaal die liggaam van jou sal aflê, sal jy dan daarna as `n suiwer gees met die mense van hierdie aarde kan omgaan soos ook nou?”

[7] RafaEl sê: “Baie seker, maar alleen met sulke mense wat deur hulle lewenswandel volgens die leer van die Heer hulleself verhef het tot die staat, waarin hulle bekwaam sal wees daarvoor!”

[8] Die hoofman sê weer: “Het jy nou ook heeltemal geen angs meer vir die dood van die liggaam nie?”

[9] RafaEl sê: “Hoe sou ek dit ook maar enigsins kan hê, aangesien ek immers al heeltemal oorgegaan het in die ewige lewe van die Gees uit God en ek my liggaam dus ook in my mag het! Ek kan dit self verander wanneer ek wil, en kan dit weer herskep hoe en wanneer ek wil - Kan jy dit van my aanneem?”

[10] Die hoofman sê: “Dit sou sterk wees! So iets het ek nog nooit gehoor nie! Kan jy my ook `n tasbare bewys daarvan gee, dan sal ek jou daarom baie prys.”

[11] RafaEl sê, vriendelik glimlaggend: “O, daarmee kan ek jou wel van diens wees! Gryp my arm maar net vas en voel, of dit vlees en been het!”

[12] Die hoofman doen dit en sê: “My jong vriend, jou arm is sterk en heel en so sterk as die van `n volwasse man. Jy het stewige spiere en sterk bene.”

[13] Daarop sê RafaEl weer: “Maar om jou nou te laat sien en ervaar dat `n mens, wat op die hoogste en ligste vlak van aanskouing staan, ook volkome Heer is oor sy eie liggaam, moet jy my nou nog eens aan my arm gryp en my sê of my spiere nog so stewig en my bene nog so hard is as vroeër!”

[14] Dit doen die hoofman, maar hy gryp as`t ware heeltemal deur die arm van RafaEl heen, asof dit heeltemal lug was.

[15] Toe skrik die hoofman en sê: “Luister eens, jy is `n seldsame skepsel! Ek begin my nou werklik baie onbehaaglik te voel! Ek sien jou nog net soos vroeër en jy het geen liggaam meer nie, maar jy is nou `n vorm uit suiwer lug en staan as `n geesteswese voor my. Ag, dit is sterk - dit is ongehoord! Mens het al wel eens gehoor dat daar in `n bepaalde tyd magiërs was wat hulleself onsigbaar kon maak, maar daarby tog hulle liggaamlike stewigheid behou het; want in hulle onsigbaarheid sou hulle tog swaar dinge van die een plek na die ander kon verplaas. Maar jy is nou nog steeds sigbaar as `n volkome mens en tog is jy dit in `n sekere sin nie, en nou is dit wel baie erg die vraag of jy nou as `n suiwer lugvorm die pilaar nog sou kan optel!”

[16] RafaEl sê: Net so goed en feilloos as voorheen! Maar om jou te laat sien dat ek nou tot nog meer in staat is as voorheen, sal ek die pilaar gladnie meer met my arms aanraak nie, maar ek sal hom slegs met my wil optel, en hom `n tyd lank vry in die lug hou en hom dan weer op sy plek neersit.” 

[17] RafaEl het dit nog maar nouliks gesê, of daar sweef die pilaar al vry in die lug, en die hoofman word nou nog angstiger. Hy weet nie meer wat hy moes sê nie, kyk vol verbasing - eers na die in die lug swewende pilaar en dan weer na RafaEl.

[18] Eers toe RafaEl die pilaar weer op sy ou vaste plek terugplaas, herstel die hoofman en ook sy metgeselle weer van hulle verbasing, en hy sê: Nee, nou staan ek met my mond vol tande! Want waar alle natuurlike gedagtes en voorstellings van `n mens tekortskiet, daar ontbreek dit ook aan woorde en verstandige taal. As jy jou nou ook nog heeltemal onsigbaar sou kan maak, sou ek beslis volkome gek word!”

[19] Nou sê RafaEl: “Ook dit sou ek kan doen, as ek dit sou wil; maar om jou nie gek te laat word nie, sal ek weer `n liggaamlike mens bly. Maar ek wou jou maar net toon dat `n mens, wat hom eenmaal in die derde en hoogste graad van aanskouing bevind, geen dood meer te wagte staan nie, maar `n geheel volmaakte en in alle opsigte vry selfstandige meester oor sy lewe en derhalwe ook oor sy liggaam en die dood daarvan is. Maar in die mate, waarin ek dit nou is, kan die mens op hierdie aarde dit weliswaar hoogs selde en baie moeilik word; want die meeste is reeds te veel verwêreldlik en het dus ook te min vaste en volhardende wil en lewende onwankelbare geloof. Maar wanneer hulle eenmaal hulle ongeloof afgelê het, dan sal hulle as suiwer en voleindigde geeste, dit net soos ek kan doen en tot stand kan bring, wat ek doen en tot stand bring!”

[20] Nou sê die hoofman vinnig: “Is jy dan al `n suiwer en voleindigde gees?”

[21] RafaEl sê: “Baie verseker, want `n onvoleindigde gees kan nie doen en tot stand bring, wat ek doen en tot stand bring nie.”

[22] Die hoofman, wat nou al heeltemal in die war was, sê weer: “Ja, kan die geheel suiwer en voleindigde geeste dan ook almal net so eet en drink soos jy? Waarvoor is dit nodig, wanneer jy met geen liggaam die aardse kos in stand hoef te hou nie?” 

[23] RafaEl sê: “Woon die allerhoogste Gees van God nie volkome in ons Heer en Leraar nie, en Hy neem tog ook die voedsel van hierdie aarde tot Hom? Wanneer dit vir jou moontlik is om aardse voedsel tot jou te neem, waarom sou dit vir `n voleindigde gees, wat beslis ook `n mens is, nie moontlik of sinloos wees om ook die voedsel van hierdie aarde tot hom te neem en dit in homself in sy elemente om te sit nie?

[24] Is alles wat die mens tot voeding dien, dan nie God se woord en God se wil nie? As jy, wat nog `n natuurlike mens is, jou liggaam met natuurlike kos versadig, neem die siel daarvan ook die substansieel geestelike deel in haarself op en gebruik dit om haar vorm te verstewig; en as die onvolmaakte siel dit doen, al gebeur dit ook onbewus, dan sal `n van homself baie helder bewuste voleindigde gees dit des te meer kan doen, aangesien hy in staat is om alle materie dadelik op te los en dit in haar oorspronklike geestelike toestand te verander. - Begryp jy dit?”

[25] Die hoofman sê: “O my baie buitengewone en misterieuse vriend, om dit alles te kan begryp is daar meer nodig as die verstand van `n Romeinse hoofman! Maar vir my is dit al voldoende dat ek nou eenmaal volkome daarvan oortuig is dat die siel van die mens na die dood van die liggaam voortleef, en dat ek nou die weg ken waarlangs mens stellig die steeds helderder geestelike voleinding tegemoet gaan; al die ander het vir My nou minder waarde.

[26] Jy kan nou nog `n liggaamlike of ook `n reeds lang suiwer, magtige gees sonder liggaam wees, dit is vir my verder van weinige belang. Maar vir my is van belang dat ek deur `n regte lewenswandel ook eenmaal dit word wat jy nou is en wat jy aan die sy van die Heer en Leraar seker ook makliker kon word as wat ek dit sal kan doen; maar ek wil ook nie na jou hoogte opklim nie en sal al heeltemal tevrede wees met baie minder. Want stellig is dit nie van God uit vir elke mens gegee om hulle tot jou hoogte te kan opwerk nie; maar elkeen moet God dank vir wat Hy hom gegee het. 

[27] En ek dank jou nou ook vir jou liefde, geduld en moeite wat jy jou getroos het om My te leer, en baie vol dankbaarheid gee ek jou die volle versekering dat ek met dit wat ek van jou ontvang het, meer as volkome tevrede is.”

[28] Nou sê RafaEl: “En ek is ook met jou nou baie tevrede en wil jou en jou metgeselle my dienste aanbied, as iemand nog iets verlang. As iemand nog iets het, laat hy dan na vore kom en dit in alle bewussyn vertel!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205