Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 114

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die klagte oor Herodus

114 Toe eers begewe die hoofman hom vol deemoed na Agncola, begroet hom en vra hom of hy hom sy hoë en magtige wil bekend wil maak.

[2] Agricola kyk hom ernstig aan en sê: “Soos ek ook op my reis deur Palestina helaas meermale gemerk het, maak julle hoofmanne, wat van ons alle geregtelike mag gekry het, `n buitengewoon ergerlike misbruik daarvan! Vandag het ek iets dergeliks oor jou verneem, wat vir My buitengewoon onaangenaam was. Hoe sal jy jou nou teenoor My regverdig? Want jy is aangekla deur die soldate en feitlik ook deur hierdie eerlike en brawe burger. Ek weet net so goed as jy self dat jy geheel en al skuldig is, en hoef jou dit nie voor te hou nie; praat dus nou en regverdig jouself!”

[3] Die hoofman sê: “Magtige gesagsdraer van die keiser en hoogste uitvaardiger en beskikker van die wyse wette van Rome! Regverdig kan ek my nie teenoor u nie, hoewel ek streng genome nie regtig in stryd met die inhoud van die verleende volmag, wat in Rome aan my gegee is, gehandel het nie; maar uit menslike oorweginge kon ek natuurlik ook anders gehandel het, omdat dit my ook vrystaan om toegeeflik te wees indien ek dit nodig ag. In hierdie geval bestaan daar weliswaar geen rede om die soldate met teveel vryhede na `n ander provinsie te laat trek nie, maar ek wou `n bietjie besuinig deur hulle reisgeld agter te hou, maar ek het hulle in plaas daarvan toegestaan om hulle vir die noodsaaklike voorraad met mate skadeloos te stel by die groot herberg onderweg. En daarin bestaan in die geval my eintlike skuld, wat ek volledig, en wel tienvoudig, wil vergoed.

[4] Maar dat die soldate saam met hulle goed opgeleide aanvoerders reeds van hier af grof misbruik gemaak het van die verleende vryheid wat hulle slegs met mate geskenk was, sou ek nie kon verwag of voorsien het nie, omdat hulle hulleself nou al gedurende drie volle jare in Bethlehem steeds sodanig gedra het dat daar nog geen enkele klag deur iemand oor hulle ingedien is nie. Bowendien was hulle op vry dae beurtelings al dikwels hier gewees, het geëet en betaal, wat die herbergier goed sal weet. Maar dat hulle hulleself reeds hier by hulle vertrek al so gedra het asof hulle in `n vyandelike land was, daaraan kan ek werklik niks doen nie; want daarvoor het ek hulle geen instruksie gegee nie. 

[5] Maar omdat ek tog die skuld dra van die feit dat daar deur die soldate so `n ongepastheid begaan het, wil ek ook, soos ook reeds gesê, elke skade tienvoudig vergoed. Ek het gespreek.”

[6] Daarop sê Agricola: “Dit is nou meer as waar en billik; maar as daar in die toekoms nog so iets sal voorkom, en ek hoor dit in Rome, dan sal my oordeel baie anders daaruit sien! Want wat deur ons, in die naam van die keiser, aan julle verleende volmagte gegee is, reik nie sover dat jy geheel en al na eie willekeur die soldate mag onthou wat hulle toekom en dit vir jouself hou nie. Slegs in dringende gevalle, as daar in `n land byvoorbeeld onrus en opstande heers, sou so `n middel desnoods aangewend kan word, sodat die soldate die opstandelinge strenger en onverbiddelik bejeën. Maar selfs dan verdien `n wyse matiging van `n te groot strengheid steeds die voorkeur, solank dit maar enigsins moontlik is; want `n te veel gekwelde volk sal vir `n regering nooit liefde en lojaliteit aan die dag lê nie. Die verborge vuur van woede sal in so `n volk bly gloei; en sodra dit lug van êrens vandaan sal kry, sal dit in allesvernietigende vlamme uitbreek, waarteen `n dam dan moeilik opgewerp sal kan word. Dit dien nou aan jou as altyd geldende instruksie en om vir julle verdere ampsuitoefening streng in ag te neem.  

[7] Maar nou kom dit op die herbergier neer, dat hy getrou en waaragtig aangee hoeveel die soldate by hom verteer het en hoeveel hy eis vir die mishandeling van homself, sy vrou en in die besonder sy kinders. En ten slotte moet hy aan Lasarus, `n troue herbergier uit Bethanië, wat hom hier regs van My bevind, vandag nog die reisgeld vir die soldate betaal. Spreek jy nou, herbergier van hierdie herberg!” 

[8] Die herbergier sê: “Luister, hoë gebieder! Deur die toedoen van hierdie baie wyse en wonderbaarlike magtige Heiland het `n onskatbare groot weldaad my ten deel geval, en ek staan daar as burger met my vermoë – JaHWeH God alle lof! - nog sodanig voor dat ek die skade wat die soldate aan my berokken het, maklik kan dra, en daarom maak ek geen enkele aanspraak op enige skadevergoeding nie. Maar as die hoofman en gebieder oor Bethlehem en hierdie hele streek, wat my origens steeds vriendelik gesind was, die arm mense `n weldaad wil bewys, dan is dit aan hom en sy vrye wil oorgelaat! Maar wat u saak en die van Lasarus is, daaroor kan ek niks sê nie.”

[9] Agricola sê, ontroer deur die edelmoedigheid van die herbergier: “Werklik, so `n edelmoedigheid het ek maar baie selde ontmoet en die hoofman sal ook weet om dit volgens waarde te skat!”

[10] Die hoofman sê: “Ja, by alle magte van die hemel, dit sal ek ook! Ek sal nooit nalaat om `n dergelike edelmoedigheid nie slegs tienvoudig nie, maar duisendvoudig te beloon, met alle metodes wat my ter beskikking staan. Wat dit wat ek aan Lasarus moet betaal egter aangaan, die geld sal binne `n uur hierheen gebring word; Ek sal my geheime skrywer en penningmeester onmiddellik daarop uitstuur. Maar staan My dan toe dat ek, as bekeerde sondaar, in julle geselskap mag bly; want ook ek sou die wonderbaarlike Heiland van naderby wil leer ken en aan Hom dank betuig vir die feit dat Hy hierdie edele herbergier al vooraf vergoed het, wat ek hom moes vergoed het!” 

[11] Agricola sê: “Jy mag nou wel bly as ons vriend, en dat jy nader kennis kan maak met ons grootste Heilsman, sal jou van baie groot nut wees; jy sal weldra nog meer aan Hom te danke hê as wat jy nou aan Hom te danke het. Maar sien nou dat jy dit met Lasarus reël; want onderweg het ek met sy toestemming die aanvoerders van die soldate die instruksie gegee dat jy hulle daar op jou koste met mate sal laat versorg en hulle ook die reisgeld, wat jy van hulle weerhou het, sal uitbetaal!”

[12] Nou sê Lasarus: “Laat my nou ook iets sê! Aangesien hierdie hoofman nou so edelmoedig geword het en my tien jaar gelede ook `n onmiskenbare groot vriendskap bewys het by my besitting, wat hier in die omgewing is, doen ek dieselfde as ons edele herbergier, sodat die vriendelike hoofman my ook niks meer skuldig is nie! Mag hy in ruil daarvoor steeds die regte van die arm mense en verdruktes beskerm en hulle ook beskerm teen die vergrype en groot willekeur van Herodus; want in hierdie omgewing laat hy hulle nog meer bontstaan as in Jerusalem.”  

[13] Nou neem die herbergier nogmaals die woord en sê: “Ja, Herodus is ons grootste kwelling! Ons sou die keiser met `n groter liefde aangehang het as wat die geval nou is, wanneer hy ons, wat sekerlik maklik sou gaan, maar van hierdie kwelling sou wil bevry. Ons weet wel dat Herodus as leenvors `n groot skatplig aan Rome betaal het; maar daarteenoor stel hy hom tienvoudig skadeloos deur die afpers van meer as hoë belastings en hy ontsien niemand nie. Wanneer sy belastingafpersers kom, is daar niks anders as om gewillig te betaal wat en hoeveel hy verlang nie. Daar word geen uitstel verleen nie, maar wat mens te hore kry is: Betaal! Van die een wat die geld nie het nie, word alles afgeneem, vee en graan en, as dit alles nie genoeg is nie, ook vrouens en kinders. Wanneer die beroofde man van alles, vervolgens die verlangde belasting, nie binne `n gestelde termyn kan betaal nie, dan word sy vee, graan, vrou en kinders op openbare markte verkoop. Ja, dit is tog werklik iets verskriklik! Dan kan mens sy klagte by die Romeinse regbanke indien soveel as wat mens wil, mens vind geen beskerming daar nie; en dit is tog wel `n ten hemel skreiende onreg!   

[14] As ons die keiser die jaarlikse belastingpenning betaal, dan doen ons dit graag - want ten eerste is dit nie baie nie, en ten tweede weet ons waarom ons die klein belasting betaal; want die keiser gee ons wyse wette daarvoor en sorg deur middel van sy regbank en sy soldate vir die instandhouding van die goeie orde in die land; maar Herodus, as leenvors wat louter deur Rome begunstig word, eis dit tienvoudig, ja dikwels selfs die honderdvoudig en doen en gee ons niks daarvoor terug nie. Ons het natuurlik van die keiser die reg om ons van Herodus vry te koop; maar dit is verbonde met baie omhaal en koste. Ons rykes van hierdie streek en ook in ander plekke het dit ook gedoen en ons voel baie goed daarby; maar die armer besitters, wat dit nie kan bekostig nie en bang is vir die dreigemente van die priesters, wat die kant van Herodus kies, is ellendiger daaraan toe, omdat hierdie ware tiran dan, hoewel hy die vrykoop som ontvang het, die belasting dermate by die ander verhoog, en hulle dus ook dit, wat ons vooraf betaal het, vir die vrygekoopte moet betaal,. 

[15] So het ek byvoorbeeld jaarliks minstens honderd silwerstukke aan Herodus moes betaal. Maar toe ek my reeds tien jaar gelede vir duisend silwerstukke vrygekoop het, was Herodus tog volkome skadeloos gestel, aangesien hy die duisend silwerstukke vir tien persent op die wisselbank geplaas het. Maar dit was vir die groot swelger nie genoeg nie: hy lê die honderd silwerstukke, wat hy nie meer van my gekry het nie, op aan twintig ander skatpligtige onderdane, sodat elkeen nou ongeveer vyf silwerstukke meer moet betaal as voorheen. En as jy hom aankla by die Romeine, vind jy maar selde beskerming daar, maar mense raai hulle aan om hulle ook vry te koop. Ja, dit sou alles wel geklop het, as diegene wat dit die swaarste moes verduur, maar die middele daarvoor sou gehad het! En dan is daar die wat hulle vrykoop van die willekeurige en onbeheerste gedrag van Herodus, ook nog eens werklik in `n gewetenskwessie en `n vergryp teen die naasteliefde; want ek het my lot wel verbeter, maar tegelykertyd die van tien en twintig ander verswaar. 

[16] Hoë en wyse gesagsdraers van die keiser, ek het julle die saak nou beskrywe soos dit ook is; hou dus in die oog dat die groot kwaad eindelik eendag `n halt toegeroep moet word! Elkeen sou die keiser graag `n tienvoudige belasting betaal, as hy maar van die kwelling van Herodus bevry sou wees, en die keiser sou bowendien seker meer as die helfte meer ontvang as wat Herodus nou aan hom betaal; want ons weet immers hoeveel Herodus moet betaal, en dit is nog nie `n honderdste deel van dit wat die onderdane aan Herodus moet betaal nie.”

[17] Agricola sê: “Ja, ek sien maar al te goed en duidelik in waarmee Herodus besig is, en daar is op hom ook al baie beperkinge opgelê; en daar sal na aanleiding van jou klag weldra nog groter beperkinge opgelê word! Maar vir die oomblik is daar nou niks aan te verander nie; want hy het die land opnuut vir tien jaar as leenpag laat gee en het die geseëlde verdrag deur die keiser daarvoor in sy hande. Maar desondanks sal ons wel by die keiser bewerkstellig dat daar aan die boosaardige gedrag van die groot swelger op korrekte en effektiewe wyse paal en perk gestel sal word. Maar voordat ek hier nou al in die naam van die keiser iets beveel, sal ek ook hierdie mees wyse Heer en Leraar hier vir ware advies vra, en Hy sal My sê wat daar boonop nodig is.”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205