Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 129

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die onsterflikheid van die menslike siel

129 (Die Heer:) “Maar dat die siele van alle mense, goed of sleg, na die dood van die liggaam voortlewe, daarvan het bepaalde meer in homself gekeerde mense by alle volkere op aarde meer as duisendmaal duisende van die mees sprekende en oortuigende voorbeelde meegemaak, deurdat hulle dikwels jarelank kontak en leersame omgang het met die siele van liggaamlik gestorwe mense. 

[2] Maar as suiwer en geheel materiële wêreldse mense nie daarin wil glo nie, omdat hulle nog nooit iets dergeliks gesien het nie, kan die skuld dan dalk aan God gegee word? Hierdie wêreldse mense soek dit immers nooit en dus vind hulle dit ook nie; maar as hulle dit soek, vind hulle dit ook onder alle volkere op aarde.

[3] Hierdie Romeine het Myself oor dergelike verskynsels vertel, wat hulle self meegemaak het! Is dit vir jou dan onwaar, omdat jy iets dergeliks nog nie gesien en waargeneem het nie?

[4] Agter die hoogste berge van Asië in die verre ooste bestaan `n groot keiserryk, wat Sihna of Sjina heet. Bestaan dit dalk nie, omdat jy dit nog nooit gesien het nie? En nog verder na die ooste, heeltemal omspoel deur die groot wêreldsee, bestaan nog `n groot keiserryk met die naam Jhipon (Japan). Bestaan dit miskien ook nie, omdat jy tot nou toe nog nooit iets daarvan gehoor het nie? Ja vriend, op hierdie aarde bestaan nog baie groot ryke en wêrelde buite die aan jou bekende drie wêrelde, ook al ken jy dit nie; maar Ek ken hulle en kan jou sê dat hulle bestaan en in die toekoms ook deur die mens ontdek sal word. 

[5] Oral lewe baie mense en hulle is nie verstok van die openbaring van bo en van die kant van geeste wat ook in die vlees geleef het. Dat sulke siele van mense hulle egter nie onmiddellik by die oorgang na die ryk van die geeste in `n volmaakte lewenslig kan bevind nie, is tog seker maklik te verklaar uit die feit dat hierdie mense, van wie die siele erg wêreldliewend geword het, ook maar moeilik en moeisaam op die korrekte weg van die lewenslig te bring is. Die liggaam van die mens kan nie iets glo of wil nie; dit dien die siel slegs `n kort tydjie tot instrument vir die werksaamheid na buite toe en sodoende ook vir haar ontwikkeling. Die dink, liefhê, wil en handel volgens die waarhede wat die mens leer ken het, is `n saak van die siel.

[6] Hoe moeilik en moeisaam `n wêreldliewende en tot traagheid geneigde siel egter dikwels die suiwer goeie en ware begryp en besluit om daarvolgens te handel, kan julle aan julle eie kinders bemerk; en so gaan dit met `n siel wat hier verwaarloos is verseker nog baie erger in die groot wêreld aan die ander kant, omdat sy tydens die lewe in die liggaam geleef het, op die basis van allerlei verkeerde opvattinge en van daaruit in die valse en bose. `n Dergelike lewensbasis is egter dieselfde as `n verharding van die liefde en van die wil van die siel, wat beide egter die lewe en die individuele bestaan uitmaak. Wanneer Ek dan van so `n siel haar liefde en haar wil op één slag sou wegvat, sou ook die hele siel immers daardeur weggeneem wees! 

[7] Daarom moet daar met sulke siele baie behoedsaam te werk gegaan word, om hulle geleidelik aan, sonder dat hulle iets daarvan merk, op die korrekte weg te bring. Maar daarvoor is `n allerhoogste goddelike liefde, wysheid en geduld nodig; want mens moet met `n dergelike siel, steeds maar net as`t ware van buite af op haar inwerk, deur haar wil, strewe en handel steeds in sulke situasies laat beland, waarin sy vir haarself begin bewus word van die feit dat sy haar in groot dwalinge bevind. As `n siel dit in haarself begin waar te neem, word die wens ook in haar wakker om te wete te kom waarom sy, by wyse van spreke, nie op groen gras nie, maar slegs op taamlik duistere en onvrugbare woestyne beland het.  

[8] Wel nou, in so `n toestand is dit dan eers die oomblik om so `n siel `n wyse gees te laat ontmoet, wat as gelykwaardig daaruit sien en wat vervolgens met haar oor een en ander kan spreek; daardeur word dit dan in so `n verdwaalde siel ook al ligter en begin sy nou as`t ware heeltemal uit haarself in te sien dat sy haarself in `n groot dwaling bevind, en begin sy steeds meer en meer na die ware lig te verlang.

[9] Jy sien nou baie maklik in dat `n siel in `n dergelike reeds beter toestand al anders begin te dink, en haar liefde en haar wil, as haar eintlike ek, lewe en bestaan, uit haarself `n ander rigting inslaan; wanneer dit gebeur, kom `n siel, ook al het sy voorheen nog so in die duister gewandel, ook weldra sonder baie moeite tot die ware lewenslig. 

[10] Maar `n baie skielike verandering van die siel volgens jou mening, sou nagenoeg haar algehele vernietiging beteken. Ek sou tog ook, in plaas van hier by die Judeërs, by julle Romeine of ook by `n ander heidense volk kon optree as dit wat Ek hier is; maar wat sou dit by die blinde en baie bygelowige volk as uitwerking gehad het, waarteen ook die mees wyse leer niks sou gehelp het nie? Kyk, die volk sou My as die een of ander God beskou het en sou begin het om My te aanbid en groot offers vir My te bring, en My leerlinge, wat ook al baie in My Naam kan doen, sou hulle vol verbasing as halfgode beskou het en vir hulle ook offeraltare en selfs tempels gebou het, en so sou Ek by `n heidense volk die afgodedom nie net nie ten gronde gerig het nie, maar dit net versterk het.

[11] Maar die Judeërs, wat veral in hierdie tyd vir die grootste deel totaal ongelowig geword het, hoewel hulle die Skrif en die belofte van My koms na hierdie aarde het en deur die oorlewering tog nog weet hoe God die volk gelei het, ook al twyfel hulle daaraan, is hulle nog die mees geskikste om My persoonlike aanwesigheid te verdra, omdat hulle geen afgodery met My kan bedryf nie. Want diegene wat My ken, weet ook uit die korrekte bron wie Ek is; maar die ongelowiges beskou My as `n magiër en die middelklasse beskou My as `n profeet. Sodoende is daar, deur My aanwesigheid, geen enkele siel se  persoonlikheid en haar vrye wil in gevaar nie en daarom moet die lig dan ook van die Judese volk na die hele wêreld uitgaan.  

[12] Wanneer jy met jou skerp verstand dit wat Ek jou nou gesê het, noukeurig sal ondersoek, sal jy wel bewus word daarvan dat jy My met `n baie verkeerde mening benader het. 

[13] Wanneer God die mens nie nodig sou gehad het vir `n steeds groter versadiging van Sy liefde nie, sou Hy hulle ook nooit geskape het nie; maar aangesien Hy hulle geskape het, bekommer Hy Hom ook oor hulle en om hulle ewig te behou en laat daarmee sien wat vir Hom alles aan die mens geleë is. Daarom sou die mens ook alles aan God geleë moet wees! Het jy, My vriend, dit nou goed begryp?” 

[14] Die hoofman, wat vol verbasing en deur diep ontsag gegryp, na hierdie les van My geluister het, sê: “Heer en Leraar, soos U ook nou gespreek het, het nog geen wyse ooit vir `n mens gespreek nie! U het My nou eers volkome getoon wie U is. Ek dank U vir die groot barmhartigheid wat U My nou bewys het, maar ek vra U ook van ganser harte om vergewing vir die feit dat ek so brutaal en dom voor U durf praat het.”

[15] Ek sê: “Wie praat, soos jy ook gepraat het, neem die waarheid ernstig op en Ek gee hom dan graag `n egte lig; maar wie nóg koud nóg warm, maar lou is, hy is My lewenslig ook nie werd nie en sal dit ook nie ontvang solank hy ook nie in volle erns daarna soek nie. Maar Ek weet dat die baie heidene onder julle al lankal ernstig is om dit te doen, terwyl die Judeërs steeds louer en louer word; - daarom sal die lig nou ook van die Judeërs afgeneem word en in alle oorvloed aan julle heidene gegee word. Maar sorg en waak daarvoor dat dit nie daarna by julle tot `n nuwe heidendom oorgaan nie; want dit sou nog erger wees as julle huidige heidendom! Julle sal weliswaar daarvoor sorg, maar sal die optrede van valse profete uiteindelik tog nie kan verhinder nie. Waak dus almal en pasop vir die valse profete, wat julle maklik aan hulle werke sal herken!” 

[16] Toe kom daar `n bode uit Bethanië om te sê dat alles tuis gereed was om ons te ontvang.

[17] Daarop sê Ek: “Ons ruspouse is nou verby en ons sal dan ook verder reis. Wie My wil volg, volg My!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205