|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 66
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Vergewing van sonde
66 Weldra kom die Romein, Agricola, egter met `n ernstige gesig na My toe en sê: “O, Heer en Leraar, is dit moontlik dat daar onder die Judeërs selfs sulke armsalige skepsele bestaan, dat hulle in die geheim so iets teen U kan beraam? Aan U, grote God! Het U dan geen verterende vuur meer vir hulle nie? Elkeen van sulke armsalige skepsele verdien dit tog om duisendmaal gekruisig te word! Werklik, ek het al baie slegte dinge gehoor oor die vyandige gesindheid van die tempeldienare ten aansien van U, maar dit het ek nog nooit gehoor nie!”
[2] Ek sê: “Vriend, verwonder jou nie al te veel daaroor nie; want daar sal spoedig `n tyd kom dat jy nog baie ander dinge oor My sal hoor van die slegste soort! Want hierdie soort mense sal nie rus vind in hulle heimlike woede vir My voordat Ekself, soos Ek julle ook al vroeër aangedui het, sal toelaat dat hulle die maat van hulle gruwels aan Myself sal volmaak nie; dan sal die groot oordeel egter ook oor hulle kom, wat die profeet Daniël voorspel het toe hy op die heilige plek gestaan het en wat Ek jou ook al vroeër vertel het!”
[3] Agricola sê: “O Heer en Leraar, dit is baie goed dat U My dit geopenbaar het; want daardeur sal ons Romeine dan die duidelikste weet wat ons later te doen staan!”
[4] Ek sê: “Julle sal optree wanneer julle daartoe geroep sal word! - Maar nou laat ons dit met rus; daar sal weldra iets anders na vore kom!”
[5] Toe die Skrifgeleerde dit alles gehoor het, begin hy by homself na te dink en sê na `n rukkie: “Heer en Leraar, nou sien ek in dat U meer is as die seun van Josef die timmerman, wat drie jaar gelede die tydelike met die ewige verwissel het! Want as U weet wat daar in die hart van `n mens omgaan, moet U `n God wees! En kyk, omdat U dit helder en volkome volgens die waarheid in ons gesig kon sê, wat geen sterflike mens ooit sou kon doen nie, begin ek nou te glo dat U vas en seker die Messias is! Heer en Leraar, versterk My in my geloof!”
[6] Ek sê: “Die geloof alleen sal jou nie salig maak nie, maar die daad volgens die lig van die geloof, sodat die geloof lewend kan word. Maak egter ook die onreg wat jy dikwels teenoor jou medemens begaan het, soveel moontlik weer goed, dan sal jou sonde jou vergewe word; want solank iemand nie die laaste onregmatige stater (klein geldstukkie) aan sy medemens vergoed het nie, sal hy God se ryk nie binnegaan nie!”
[7] Die Skrifgeleerde sê: “Heer en Leraar, dan sal daar maar weiniges wees wat God se ryk binnegaan! Want hoe dikwels is dit die geval dat mens selfs met die beste wil die onreg wat mens iemand bewustelik aangedoen het, gladnie meer kan goedmaak nie, en sulke gevalle waarin dit verhinder word is daar baie. Wat moet mens dan doen om vergewing van die sonde te verkry?”
[8] Ek sê: “Wanneer `n mens, wat sy onreg ingesien en betreur het, onmoontlik meer aan sy medemens kan goedmaak wat hy hom aangedoen het, dan moet hy sy onreg berouvol en opreg in sy hart voor God beken en Hom om vergewing vra, en hy moet Hom vra of Hy, vir wie alle dinge moontlik is, die betrokke skade aan die benadeelde wil goedmaak; dan sal God so `n opregte gebed ook altyd sekerlik verhoor en die een wat Hom ernstig en vol goeie wil en berou daarom vra, sy sonde vergewe, in die besonder wanneer iemand hom inspan om deur werke van liefde aan ander weer goed te maak, wat hy aan diegene wat nie meer vir hom daar is nie, moet goedmaak.
[9] Maar wie ook dit nie meer kan doen nie, word deur God gehelp, wanneer hy egter berou het en sy wil werklik goed is. Maar solank daar nog geleentheid is om die onreg, wat jy jou medemens aangedoen het, self nog goed te maak, help suiwer goeie wil, berou en bid weinig of niks, maar alleen die daad. Eers na die daad moet jy ook vir God om vergewing van jou sondes bid, dan sal jy ook deur God vergewe word, as jy jou egter waaragtig en ernstig voorgeneem het om geen sonde meer te begaan nie, en jy ook aan die voorneme vashou met al jou lewenskrag, wat onder die heerskappy van jou vrye wil staan.
[10] As jy egter weer opnuut in jou ou sonde verval, dan bly ook alle reeds begane sonde op jou rekening. Want as jy eenmaal aan jou naaste `n begane onreg goedgemaak het, sodat julle dan vriende geword het, maar jy begaan spoedig daarna oftewel teenoor dieselfde vriend of teenoor `n ander `n nuwe onreg, dan kom ook die reeds goedgemaakte onreg vir die oordeel as `n beswarende bewys ten laste van jou opnuut begane sonde, en jy sal deur die oordeel ook dubbel so swaar gestraf word as wat jy vir jou eerste wandaad gestraf sou gewees het. Maar as die wêreldse regters reeds so hulle oordeel vel, en met reg ook, dan sal God nie ligter omgaan met `n verstokte sondaar nie, wat sy lewe weliswaar dalk verbeter het en sy onreg goedgemaak het, maar weldra weer opnuut begin om te sondig.
[11] Die mens kan dus maar net egte en volledige vergewing van sy sondes verkry, deur ten eerste in te sien dat sy sondes `n onreg teenoor sy medemens was, berou daaroor te hê en hy dit vir sover moontlik weer goedmaak, en ten tweede daarna ook vir God om vergewing te vra met die ernstige voorneme, om die sondes nie meer te begaan nie en ook trou te bly aan die goeie voorneme wat hy vir hom daargestel het. As julle dit getrou en waaragtig vir julleself in julle harte voorneem en vervolgens ook volgens die voorneme handel, dan sê Ek vir julle nou al hier: julle sondes sal julle deur My vergewe word!”
[12] Die Skrifgeleerde sê: “Heer en Leraar! U leer is skerp, maar waar, en ek sal na beste probeer om dit met daad na te volg. Maar U sê dat U ons sondes by voorbaat sal vergewe, as ons U leer sal navolg. Het U dan ook in die plek van God die reg en die mag om die mens hulle sondes te vergewe?”
[13] Ek sê: “Met julle blindes is dit moeilik om oor die prag van kleure te spreek! Het Ek dan nie al vroeër gesê dat alle mag en gesag in die hemel en op aarde My toekom nie?”
|
|
|
|
|