Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 162

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die ordening in God se huishouding

162 Simon Juda sê: “Heer, wanneer sal dit, in tyd gesien, op aarde gebeur?”

[2] Ek sê: “Simon Juda, Ek het jou vanweë jou magtige geloof die sleutels tot die ryk van God gegee en het jou `n rots genoem, waarop Ek My gemeente sal bou, wat nie deur die poorte van die hel oorwin sal word nie. Jy sou `n nuwe Aäron wees en op sy stoel sit. Ja, jy sal dit ook wees deurdat jy met jou ander broeders `n verspreider van My woord sal wees. 

[3] Maar wanneer die mense by die heidene oor `n paar honderd jare daarmee bekend sal raak, sal die mense in Rome beweer dat jy die stoel daar gevestig het. En die volkere, wat te vuur en te swaard daartoe gedwing sal word, sal van die valse profete ook glo dat jy as `n eerste vors van die geloof die stoel in Rome geplaas het en van daaruit in My Naam die hele aarde en haar vorste en volkere regeer. Maar sien, dit sal `n valse stoel wees, van waaruit baie onheil oor die wye aarde versprei sal word en bykans niemand sal dan meer weet waar jy die egte stoel, die stoel van liefde, waarheid, lewende geloof en van die lewe geplaas het nie, en wie jou egte opvolger is.

[4] Die valse stoel sal weliswaar lank standhou, baie meer as duisend jaar, maar sal die leeftyd van tweeduisend jaar nie bereik nie! Reken nou maar, as jy kan reken!

[5] Wanneer die valse stoel vermuf geraak het en geen stewigheid meer sal hê nie, sal Ek weer kom en My ryk met My. Dan sal julle ook met My saam na die aarde kom en My getuienis wees teenoor diegene by wie ons nog die ware en suiwer geloof sal vind.

[6] Maar daar sal in die tyd ook `n groot suiwering nodig wees, sodat die mense My weer sal ken en slegs in My sal glo. Maar oor wat Ek julle nou in vertroue geopenbaar het, moet julle nou nog oor swyg! Die tyd sal wel kom, waarin dit hardop van alle dakke verkondig sal word.”

[7] Die ander leerlinge sê: “Heer, kan so iets nie vermy word nie?”

[8] Ek sê: “O ja wel, maar dan sou die mens tot suiwer masjiene omgebou moet word! Julle sê ook: “Maar waarom steeds sulke hewige winde en storms op see?” Goed, sê Ek, dan vat ons dit weg, dan sal die see geen gevaarlike golwe en branders meer voortbring nie en sal die skippers die see in alle rus en vry van elke gevaar kan bevaar. Maar die baie kalm see sal dan vuil word en oor alle dele van die aarde epidemies veroorsaak, en daarby sal daar absoluut geen natuurlik lewe meer moontlik wees nie, nie op die droë land nie en ewemin in die see self.

[9] Of mens sou al die water in klip moet verander! Maar waar sal in die geval alle lewende skepsele, soos ook plante en diere, hulle belangrikste en allernoodsaaklikste voeding dan vandaan kry? Soos die see egter moet bly soos hy ook is, net soos alle ander waters, moet ook die winde en die storms bly, waardeur die see konstant in onrus en die daaruit voortvloeiende werksaamheid in stand gehou word, sodat haar lewensout nie na die bodem sak en vuil word en gaan stink soos die pes nie.

[10] Wat egter vir die see, die winde en storms is, dit is vir die mense die toegelate geestelike beproewinge en stryd, wat elke mens op hierdie aarde in meerdere of mindere mate moet deurstaan om die ware lewe daardeur te beveg. 

[11] Wat egter vir elke mens op hierdie aarde vir die duur van sy lewe op klein skaal geld, dit geld vir `n langer tyd ook vir hele volkstamme.

[12] `n Klein stroompie stroom slegs oor `n kort trajek, totdat dit homself verenig met `n groter stroom, wat vervolgens al oor `n baie groter afstand moet stroom voordat hy in `n groot rivier uitstroom; maar die rivier moet daarna al deur wye en groot gebiede stroom, voordat hy één word met die see, en dit omstroom en omspoel vervolgens die hele aarde. Met haar sout, wat deur die werking van die winde en storms in `n baie fyn dampvorm opgelos word en so die hele lug van die aarde vervul, doen die see ook met die vasteland en alle natuurlike skepsele daarin en wat daarop lewe.

[13] In die groot wêreldsee stort daar wel duisende soorte water, suiwer en onsuiwer, soet, suur, bitter en heilsaam en onheilsame, maar in die see word hulle almal één en het hulle dieselfde sout, en daaruit kry die tallose soorte organiese natuurlike lewe hulle grondstof en verwerk dit in hulleself, na gelang van hulle soort.

[14] En soos die groot wêreldsee is in verhouding tot alle skepsele van die hele aarde, so is die groot geesteryk in verhouding tot die verskillende aardse lewensomstandighede van die mens op hierdie aarde. Elke individuele mens is soos `n klein stroompie, `n gemeente is `n groter stroom, `n groot stroom is reeds soos `n nasie, die rivier is `n volk, en die see stel in die eerste plek, en in die besonder met haar uitgestrekte oewers, alle volkere van die aarde voor, wat in die see in dieselfde elemente oorgaan. Die oseaan, wat op sigself oewerloos is, staan vir die mens in die geesteryk, wat die eindelose in homself dra en sodoende deur sy algehele lewende hoedanigheid die oergrond is van al wat daar is.

[15] Van die voortdurende beweging van die wêreldsee is, soos reeds ook getoon, al die geskape natuurlike lewe afhanklik; hoe meer die see deur hewige storms en strominge tot groter aktiwiteit kom, soveel meer lewensaktiwiteit wek sy op by alle skepsele van die vaste aarde en bring bygevolg ook `n beter gedying daarvan teweeg.

[16] Wanneer, ooreenkomstig hiermee, die mense wat hulle innerlike lewensaktiwiteit betref lou, traag, slaperig en listeloser word, dan ontstaan daar in die eindelose groot geesteswêreld dadelik groot bewegings, en dit veroorsaak deur hulle invloed vervolgens ook allerlei bewegings en golwings onder die mense wat nog op hierdie aarde lewe. Dan staan die een volk teen die ander op, die een leer bestry die ander leer, en dit gaan dan vir `n lang tyd so deur, totdat die mense daardeur tot so `n groot moontlike lewensaktiwiteit gebring word.

[17] Daardeur word dit dan ook helderder en ligter onder hulle. Die skynbare nood maak hulle vindingryk en dwing hulle op die manier tot `n steeds groter en meer geordende werksaamheid. Deur sulke dinge leer volkere mekaar ken, wat vooraf nouliks iets van mekaar geweet het, en mettertyd word hulle nuttig vir mekaar, en met verloop van tyd neem die lig onder hulle steeds meer toe en bring in die eerste plek `n groter behoefte aan `n byna konkrete bewese lewenswaarheid met hulle saam.

[18] Wanneer die behoefte ten slotte steeds algemener word waar die mens geen genoeë meer neem met die suiwer outoriteitsgeloof nie, wat altyd `n oorsaak van die duistere en tragiese bygeloof is, dan het die tyd ook gekom om hulle `n groot en tasbare lewenslig vol helderheid en waarheid te gee.

[19] En sien, die baie mense op die hele aarde, wat teenswoordig deur allerlei traagheid en lewensduisternis sit asof hulle deur `n diep slaap bevange is, moet dus in `n hewige, stormagtige beweging gebring word, totdat hulle na `n lang reeks periodes sover opgewek word dat hulle in die wakker staat eindelik begin te voel waaraan dit hulle ontbreek!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205