Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 166

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die Heer en die ryk owerste

(Lukas 18: 18-27) 

166 Toe ons die brood en die wyn daar genuttig het en enkeles van My leerlinge begin uit te vra hoe ver dit nog was na die volgende plekkie, en ons ook aanstaltes maak om verder te reis, kom daar `n owerste na My toe en sê: “Luister, werklik groot en goeie Heer op U terrein! Aangesien U een van God se Gees vervulde manne is en die hemelryk beter skyn te ken as ons, sê my wat ek moet doen om die ewige lewe in die hemelryk te verkry!”

[2] Ek sê: “Aangesien jy My as `n mens beskou wat aan jou gelyk is, hoe kan jy My dan as `n goeie meester beskou? Niemand is goed behalwe God nie!

[3] Omdat jy `n Judeër en bowendien `n owerste van die sinagoge is, sal jy tog goed weet wat Moses se gebooie is! Behalwe baie ander dinge staan daar geskrywe: “Jy sal nie egbreek nie; jy sal nie doodmaak nie; jy sal nie steel nie; jy sal geen valse getuienis aflê nie, en jy sal jou vader en moeder eer!” Wie dit in ag neem, sal ook die ewige lewe ontvang.”

[4] Hierop sê die owerste: “Beste Heer, aan dit alles het ek my vanaf my jeug gehou, en wel noukeurig en stip; maar desondanks het ek nog niks duidelik aan myself waargeneem wat my die versekering sou gee dat ek, na die dood van die liggaam, die ewige lewe in die hemelryk sal ontvang nie.

[5] Verskeie welingeligte mense het vir my gesê dat mense, wie se siele hulle waardig gemaak het vir die hemelryk, vooraf al tydens hulle liggaamlike lewe verskynsels gesien het, waardeur hulle kan weet dat hulle na die afval van die liggaam spoedig onder die skare engele in die hemelryk opgeneem sal word. Maar ek het nou al taamlik oud geword en het my vanaf my jeug voorbeeldig aan alle wette van Moses gehou - maar `n dergelike verskynsel, wat my die vroeër genoemde versekering van die ewige lewe van die siel sou kon gee, het werklik nog nooit by my voorgekom nie! En dus glo ek wel, maar in `n sekere sin blindelings, wat Moses en die profete geleer het; maar van `n versekerde vooraf weet daarby, is nog lank geen sprake nie! 

[6] En kyk, beste Heer, om hierdie rede het ek U die vraag gestel; want U, wat geheel van God se Gees vervul is, sal ook wel haas die beste weet hoe en of ek vir `n toekomstige ewige lewe van die siel in God se hemelryk reeds in die lewe waaragtige en betroubare vooraankondiginge en waarborge kan kry! Want net deur geloof, volgens die geskrewe woorde, is `n swak steunpilaar om die ware deugde van die mens doeltreffend te hou. Dus, beste Heer, sê vir My iets waaragtig daaroor!

[7] Ek sê: “Ja, vriend, wat jy oor die waarborge en baie duidelike vooraankondiginge gesê het, dit is wel heeltemal waar! Almal wat waaragtig volgens die goddelike leer lewe en deugsaam en vroom is, ontvang sulke troostende en versterkende waarborge, en kragtens jou lewenswandel, wat origens volgens die wet regverdig is, sou jy dit ook al moes ontvang het; maar daar ontbreek by jou nog één ding daarvoor, en wel iets wat vir hierdie doel van die grootste belang is! 

[8] Kyk, jy is `n baie ryk man en, hoewel jy egter nie gierig is nie, is jy tog `n spaarsame herbergier, wat steeds met die naasteliefde suinig is! Jou hart en jou siel hang nog baie sterk aan die dooie skatte van hierdie wêreld en die sagte lewenslig van die hemele kan nie daardeur dring nie. Solank jou siel bevange is deur haar liefde vir die dooie skatte en bekoringe van hierdie wêreld, is jy as`t ware ook dood; want ook op die dooie dinge en geoordeelde liefde is die dood, solank die liefde so sterk aan die dooie goedere van hierdie wêreld geheg is.

[9] Solank dit so met jou lewe daar staan, kan van die innerlike lewensverskynsels natuurlik nooit sprake wees nie! Maar Ek wil jou advies gee; wanneer jy dit opvolg, sal jy alles kry wat jy tot nou toe onmoontlik kon ontvang het.

[10] Gaan heen, verkoop al jou goedere en verdeel die opbrengs op `n wyse manier onder die arm mense, dan sal jy daardeur vir jouself `n skat in die hemelryk besorg, waaruit jy `n egte lewenslig sal kry; kom daarna na My toe en volg My, dan sal jy die mees waaragtige waarborge vir `n ewige lewe in oorvloed vind! - Het jy My verstaan?”

[11] Toe die owerste, wat baie ryk was en baie goedere besit het, dit van My hoor, word hy verdrietig, keer My sy rug toe en gaan weg.

[12] Toe die herbergier en ook die ander wat nog aanwesig was, dit sien, sê hulle: “Ja, ja, beste en wonderbaarlike wyse Heer, U het ook daar weer presies die spyker op die kop geslaan! Hierdie owerste is volgens die wet weliswaar `n regverdige man en mens kan hom in geen enkele opsig van onregverdigheid betig nie; maar mens het hom nog nooit tot die vrygewigste mens kon reken nie, en selfs al sy dienare kry `n baie karige loon en min kos. Wie iets vir hom doen, het selfs by die vra van die mees redelike betaling vir die gelewerde arbeid, stellig probleme. Hy ontdek oral foute en verminder daarom die bedingde betaling dan ook dikwels met meer as die helfte. Maar daarom wil ook byna geen enkele handwerksman meer iets met hom te make hê nie.

[13] Hy en die ou Fariseër, wat hom nou saam uit die voete gemaak het, omdat U, beste Heer, hom ook erg geraak het, is presies dieselfde, die één is net so skelm soos die ander; maar wanneer hulle oor hulle goeie werke praat, wat hulle in die verborgene vir die behoeftiges sou doen, dan sou jy glo dat daar eintlik op die hele aarde geen liefdadiger mense is nie. En ons is nou baie bly daaroor, o beste Heer dat U beide die volle waarheid vertel het.”

[14] Ek sê: “Ja, Ek het hulle altwee die volle waarheid vertel, maar daarmee ook die enigste weg getoon waarlangs hulle tot die ewige lewe kan kom; maar Ek sê julle almal bowendien ook, soos `n altyd geldende waarheid: O, hoe moeilik sal sulke ryk mense in die ryk van God kan kom, wat die ware, ewige lewe is! Ek sê vir julle: `n Kameel gaan makliker deur die oog van `n naald as dat so `n ryke die ryk van God sal binnegaan!

[15] Want elke siel neem na die afval van haar liggaam niks anders met haar saam as haar liefde nie, en die werke daarvan volg haar as produkte van haar wil. As die liefde van die siel nou so sterk aan die dooie dinge van hierdie wêreld hang, dat sy volkome één daarmee geword het, dan is sy eweneens dood; en omdat haar wil gelyk is aan die veroordeelde, dooie dinge van hierdie wêreld, mis die wil ook die volledige vryheid, is dus ook geoordeel en derhalwe as dood te beskou - en dit is nou wat mens die hel en die ewige dood noem!  

[16] Pas dus veral daarvoor op dat die liefde vir die wêreld, haar skatte en bekoringe julle siele nie gevange neem nie; want wie eenmaal deur die wêreld gevange geneem is, sal hom uiters moeilik uit haar mag kan bevry.”

[17] Daarop sê almal wat dit gehoor het: “O beste en mees waaragtige Heer! Wie sal, wanneer die sake so staan, dan salig word? Want alle mense wat ons ken, is merendeels vol van eieliefde en wêreldse liefde, en ons ly self aan hierdie kwaal.”

[18] Ek sê: “Ja, ja, helaas is dit wel so, en die mens sou homself ook ewig nooit kan help nie! Maar wat nou, soos ook altyd, by die mens onmoontlik is, dit is by God tog wel moontlik, en Ek het juis as mens in hierdie wêreld gekom om die mens die hulp te bring, wat hulle ewig nooit aan hulleself sou kon verskaf nie. Wie nou in My glo en volgens My leer handel, sal die ewige lewe ook verkry; want Ekself is die weg, die waarheid en die ewige lewe.” 

[19] Vir hierdie woorde van My staan almal verstom, en die herbergier sê: “Beste en wonderbare Heer! Dat daar meer agter U skuil as by een of ander profeet, dit het ek dadelik stilletjies in myself gewaar geword, hoewel ek dit nie hardop durf uitspreek nie; maar aangesien U nou Self `n grootse en betekenisvolle woord oor Uself uitgespreek het, kan ek nou niks anders meer doen nie as om te sê: Heer, ek is dit nie werd om my oë na U op te slaan nie, maar wees my, arme sondaar, barmhartig en betoon medelye!”

[20] Ek sê: wees getroos, My vriend! Ek het juis na jou toe gekom, omdat jou werke My baie beter geval as die van die ryk owerste en Fariseër. Jy moet God nou maar net verder liefhê bo alles en jou naaste, dit is alle mense, ongeag hulle maatskaplike posisie of hulle geloof, soos jouself en doen vir hulle, waarvan jy redelikerwys ook verlang dat hulle dit ook vir jou sou doen, dan vervul jy daardeur die hele wet en ook alles wat die profete geleer het! En as jy dit doen, is al jou sonde vergewe, al sou die aantal daarvan wees soos die sand in die see of die gras op die aarde! So is by God alles wel moontlik, wat by die mens onmoontlik is.”

[21] Vir hierdie les bedank die tollenaar My, net soos alle ander aanwesiges.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205