|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 203
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die poging van die rykes
203 Maar nou vra ook baie rykes, wat ook al hier sedert maande op hulp gewag het en baie onkoste aangegaan het, vir die baie arm mense, wat geheel en al genees was, en sê: “Waarom is julle arm mense, wat hier deur ons onderhou word, eintlik vroeër gehelp as ons?”
[2] Die arm mense sê: “Dit weet ons nie! Ons is egter nie in die kasteel genees nie, maar buite voor die laaste en onaansienlikste herberg van die dorp, en ons het in die groot wonderkasteel dus geen voorrang op julle gehad nie! Maar ons glo dat die ware wonderkasteel hom nou daar in die herberg bevind. Gaan maar self daarheen en vra daar, dan sal julle beslis meer te hore kry!”
[3] Toe die rykes dit van die arm mense hoor, weet hulle nie wat hulle op daardie oomblik moes doen of onderneem nie. Nadat hulle `n rukkie nagedink het, neem hulle tog `n besluit en `n taamlike groot aantal van hulle begewe hulle na ons herberg en vra daar by die personeel. Maar die verwys hulle na ons in die eetsaal.
[4] Die rykes sê egter vir die personeel: “Luister! Ons is beskaafde en ontwikkelde mense en kan en wil nie dadelik met die deur in huis val nie. Laat een van julle tog na binne gaan en ons berig of dit toegestaan is dat ons nou by die Heiland kan binnekom, dan sal ons die een wat `n goeie berig bring, ook `n goeie beloning gee! Want ons weet al jare dat mense die Heiland van hier, en veral hulle owerste, moeilik te sien en nog moeiliker te spreek kry. As ons nou onaangekondig na hulle toe sou gaan en hulle bewoonde kamers sou binnekom, sou hulle ons dit wel kan kwalik neem en dan sou ons nog langer moet wag voordat ons by hulle toegelaat word. Daarom vra ons julle, omdat julle hier in diens is, om ons vooraf aan te kondig en ook, soos gesê vir `n goeie beloning, te sorg dat ons by hulle mag inkom.”
[5] Eén van die dienare sê: “Die Heiland is met Sy tafelgaste bymekaar in die eetsaal en daar kan elkeen vry binnegaan, of hy nou ryk of arm is, en hulle iets ter versterking van sy liggaam laat gee; want ons wyn is goed, net soos ons brood en ook ons ander spyse, en in hierdie herberg van ons word ook nooit van iemand teveel geld gevra nie. As die arm mense onaangekondig die eetsaal kon binnegegaan het en hulle versoek spoedig verhoor is, waarom moet dit vir julle, vername mense, dan verkeerd voorkom om dieselfde te doen? Gaan na binne en doen ook wat die arm mense vóór julle gedoen het.”
[6] Na hierdie woorde laat die huisdienare die rykes staan en gaan aan met hulle werk.
[7] Toe die rykes sien dat hulle by sulke onbaatsugtige dienare niks kon bereik nie, begin hulle onder mekaar te loot, wie van hulle as eerste die saal sou binnegaan. Dit val egter so uit dat die lot op die een val wat die minste moed gehad het.
[8] Hy begin homself te verontskuldig en vra die ander om tog eerste die saal binne te gaan, omdat hy baie te min moed daarvoor gehad het. En toe stoot een die ander na vore, en niemand durf sy hand op die deurgrendel te lê en die deur oop te maak nie.
[9] En één van hulle (hulle was dertig manne) sê: “Dit is tog eienaardig! Ek het al baie moedig met die swaard gestry teenoor die mees verbitterde vyande en het in myself geen vrees of angs gevoel nie - en hier het ek vrees en angs! Hoe is dit dan so?”
[10] Terwyl die dertig rykes so nog met mekaar praat, sê Ek vir Roclus dat hy vir die dertig vername manne die deur moet oopmaak en hulle die saal moes laat binnekom.
[11] Roclus doen dit dadelik. Maar toe die dertig die owerste, wat hulle goed geken het en byna as `n god beskou het, in die oog kry, skrik hulle, buig voor hom tot op die grond en geeneen van hulle het die moed om hom aan te spreek nie.
[12] Maar Roclus sê: “Vriende! Deemoed en beskeidenheid pas die mens weliswaar; maar hier is dit nie op sy plek nie. Ek is `n mens soos julle en kan uit myself net so min as één van julle doen. As God, die Een en Waaragtige, in wie die Judeërs glo, deur my woord en gebed iemand `n barmhartigheid bewys, kom ook alleen aan Hom alle eer toe en nie aan My nie, wat magteloos is en uit myself niks kan doen nie. Wees so moedig om by ons in die saal te kom en julle versoek na vore te bring!”
[13] Toe eers rig die dertig die hoofde op en kom ook met hulle liggame weer orent, en gaan nou heelwat moediger en vasberadener die saal binne, waar die vriendelike herbergier hulle dadelik `n tafel aanwys en hulle ook vra of hulle brood en wyn wou gehad het. En hulle vra dadelik om beide, omdat hulle hierdie oggend nog niks tot hulle geneem het nie.
[14] Hierdie dertig manne kom uit Kaïro in Egipte en behoort ook tot die Judese stam; maar hulle voorouers het al in die tyd van die Babiloniese ballingskap na Egipte gevlug, en sodoende het hierdie dertig manne nog ietwat kennis van Moses en enkele profete gehad en hou die dag van Moses, as hulle hulleself onder Judeërs bevind het - maar self glo hulle meer in die priesters van Egipte, in hulle misterieë en wette. Omdat hulle gedink het dat hulle hulleself hier onder baie Judeërs bevind, wou hulle die dag van Moses dan ook eer en gedurende die hele dag vas; maar toe hulle sien dat op ons tafel brood, wyn en allerlei ander spyse staan, laat hulle hulleself ook onmiddellik brood en wyn gee en eet en drink met baie smaak.
[15] Toe hulle hulleself weldra voldoende versterk het, skep hulle ook moed, en één van die vernaamstes van hulle staan van sy sitplek af op, gaan met baie ontsag voor Roclus staan en sê: “Vergifnis, opperste heiland van hierdie kasteel, wat in die hele wêreld roemvol bekend staan! Ons en nog baie mense met ons wag al byna twee maande lank hier met ons dooie kinders, wat in yster doodskiste bewaar word. Ons het ons versoek, of dit miskien nog moontlik sou wees om ons kinders weer tot lewe te wek, al lankal graag na vore wou bring, en het ons wagkamp dan ook baie naby die hoofingang van die wonderkasteel opgeslaan. Die dienare van die kasteel het ons weliswaar die versekering gegee dat ons spoedig die geluk sou hê om aan die beurt te kom, - maar tot nou toe was dit vergeefse hoop.
[16] Ver benede ons bly `n groot groep allerlei soorte arm bedelaars en kreupeles, aan wie ons daagliks aalmoese skenk. Wel nou, hulle het vir hulself tog beslis baie minder hoop as ons om spoedig in die wonderkasteel binnegelaat te word! En kyk net, nouliks `n uur gelede staan al die mense op, aangesien hulle natuurlik vóór ons hierheen geroep was, en spoedig daarna sien ons dat al die verskillende gebreklikes, wat ons al goed ken, volkome genees was van al hulle kwale! Hulle prys God bo alles, gaan die herberg binne en versterk hulle met brood en wyn. Toe ons hulle vra waar hulle so `n buitengewone barmhartigheid ten deel geval het, noem hulle hierdie herberg die nuwe en ware wonderkasteel en sê dat ons ook hierheen moes kom om onsself van alles te oortuig. En so is ons dan ook hier, om eindelik eens ons bede en versoeke met die diepste respek aan u voor te lê, omdat u as owerste van die Essene in staat is om wonderwerke te doen.”
[17] Daarop sê Roclus: “Maar vriende, wat makeer julle dan? Vir sover ek sien is julle gesond en julle kleding gee aan dat julle ook baie ryk mense is. Wat ontbreek julle dan en waarmee moet julle dan gehelp word?”
[18] Eén van die ander uit die groep van dertig manne sê: “Alle dank aan die ou en enig ware God van die Judeërs, die God van Abraham, Isak en Jakob dat ons nog wel gesond is, en ook geen gebrek het aan allerlei rykdomme nie; maar ons kinders het gesterwe, en nou is ons byna heeltemal kinderloos en het dus geen nakomelinge en geen erfgename nie. Ons weet egter dat gestorwe kinders al baie kere weer hier tot lewe gewek is, en dus het ons, soos ook u al goed sal weet, ons dooie kinders in goed afgeslote doodskiste hier na Essea gebring, om hulle, indien moontlik, in ruil vir `n offer weer deur julle tot lewe te laat wek. Die doodskiste bevind hulle in die wederopwekkingskrippe wat julle daarvoor bestem het waar ons hulle al `n paar maande gelede afgegee het; ook het ons die gevraagde heffing al aan die daarvoor aangestelde wagters betaal. En nou is ons hier om u te vra of u ons die barmhartigheid wil bewys om ons kinders die lewe terug te gee, en daarvoor wil ons elke gewenste offer aan u voete lê.”
[19] Nou sê Roclus: “Luister nou na my, vriende! Ek weet dat julle julle kinders, byna tweehonderd in totaal, hierheen gebring het, ondanks die feit dat ek reeds een jaar gelede my bodes na alle bekende plekke op aarde gestuur het, om oral aan die mense hardop en duidelik te verkondig dat ons hier geen dooie kinders meer tot lewe mag wek nie en dit ook nie sal doen nie. Ons bodes sou dit ook in Kaïro verkondig het, soos hulle dit ook in baie ander plekke gedoen het, soos ons ook baie seker weet. Maar as julle daarvan geweet het, waarom het julle dan die vergeefse moeite gedoen en die groot onkostes gemaak?”
[20] Die dertig sê: “Opperste meester, ons het weliswaar die berig ontvang, maar ons groot droefnis oor ons kinders, wat aan `n besmetlike kindersiekte gesterwe het, soos daar ook sedert menseheugenis nog nooit één in ons stad en streek om hulle heen gegryp het nie, het ons genoodsaak om tog nog eens te probeer of ons vir betaling van groot offers by julle miskien tog nog, wel vir die laaste keer, verhoring en erbarming kon vind. Maar as dit ondanks al ons smeekbedes, wag en offer tog nie meer sou kan gebeur nie, het ons besluit om ons dooie kinders na Galilea te bring, na die nuwe groot profeet, oor wie ons uit die mond van reisigers gehoor het dat hy deur sy woord en deur die mag van sy wil nie net alle siektes genees nie, maar ook dooies opwek. Maar tog vra ons u nou eers om die barmhartigheid - verhoor ons, en gee ons kinders lewend aan ons terug!”
|
|
|
|
|