|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 191
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die vliegproef van die Griek
191 Toe Ek dit gesê het, word alle aanwesiges stil en rig hulle blik na die sonsopkoms; slegs die ou dienaar van Kado hou sy oë onafgewend op My gerig en kyk slegs na My en bekommer hom nie oor die opgang van die wêreldse son nie.
[2] Kado sien dit en hy vra stilletjies aan die ou dienaar: “Waarom draai jy nie jou gesig na die sonsopkoms nie, soos die Heer en Leraar van ewigheid ons ook aangeraai het?”
[3] Die ou dienaar sê: “Omdat die Heer en Leraar van ewigheid vir My `n eindelose baie groter en heiliger lewenson is as wat daar in die verre ooste, wat ek immers al baie goed op en onder sien gaan het en wat ek hopelik nog meer kere sal sien. Die wêreldse son sal vir my spoedig vir altyd heeltemal ondergaan; maar hierdie mees heilige son, wat vir ons nou eenmaal so heerlik opgegaan het, sal ons siele vir ewig verlig soos op die ligste oomblik van die dag en sal nooit meer ondergaan nie. Wee egter diegene vir wie hierdie son sal ondergaan! Hulle sal lank moet wag voordat hy weer opnuut sal opgaan! Kyk, daarom sien ek nou liewer hierdie lewende en mees heilige Son as die wêreldse son in die verre ooste, want dit is Sy werk net soos hierdie aarde en alles wat daar in, op en bo is!”
[4] Toe Kado dit van sy ou dienaar gehoor het, prys hy hom en keer sy gesig ook na My en let nie meer op waar die son opkom nie.
[5] Hierdie keer was die sonsopkoms egter buitengewoon pragtig, omdat die horison baie suiwer was; net in die weste dryf daar ligte skaapwolkies hoog in die lug, wat die blou van die uitspansel lewendig maak. Ook kom daar verskillende trekvoëls uit die noorde, hoog in die lug oor ons heen gevlieg, wat hulle koers na die suidwestelike rigting en die omgewing van die Dooie See kry. Sodoende was die oggend baie helder en lewendig en alle aanwesiges word daardeur vrolik en opgewek en prys My, omdat Ek hulle so `n mooi oggend gegee het.
[6] Toe die son hom al enkele handbreedtes bo die horison bevind, vra die herbergier aan My: “O Heer en Leraar, U ken alle dinge in en op en bo die aarde baie goed; U sal daarom ook goed weet waar die son hom snags verberg en waar hy in die oggende vandaan kom. Volgens ons fabelagtige leer sou hy in die see sink en smorens aan die anderkant weer opstyg uit die groot see, waarop die hele aarde dryf. Vir die oog blyk dit ook wel so, maar in werklikheid sal dit verseker baie anders wees.”
[7] Ek sê: “Beslis baie anders - maar dit is nie nou die oomblik om julle dit goed en verstaanbaar uit te lê nie! Maar weldra sal daar enkele Essene na julle toe kom; vra hulle maar daarna, dan sal hulle dit vir julle uitlê, want hulle het al van oudsher die korrekte kennis daarvan. Na hulle sal My leerlinge ook na julle toe kom en julle versterk in My Naam. Dan sal My Gees julle siele vervul en julle in velerlei wysheid binne lei. Tot daardie tyd laat ons dit daarom nog rus!”
[8] Daarmee was die herbergier ook weer tevrede en vra My nie verder oor hierdie saak nie.
[9] `n Ander Griek, wat ons agterna gekom het, kyk veral na die vlug van die voëls en sê daaroor: “O, hoe goed het hierdie diere dit tog! Vinnig en lig vlieg hulle deur die lug na die verste vertes, waar hulle die voedsel van hulle onderhoud oorvloedig vind. Maar die mens is, wat die beweging aanbetref, die allerslegste daaraan toe en moet gebruik maak van die pote van verskillende diere, om op `n langer reis tog vinniger vooruit te kom; want met sy eie bene kom hy steeds maar langsaam vooruit. As God ook maar aan die mens so `n paar vlerke gegee het, sodat hy net soos die mooi voëls deur die lug kon vlieg, hoe sou dit nie vir die mens `n saligheid gewees het nie!”
[10] Ek sê: “Dank God dat Hy die mens geen vlerke gegee het om te vlieg nie; want as die mens ook nog sou kon vlieg, sou daar niks meer vir hom veilig gewees het nie! Met `n dergelike vermoë sou hy die aarde binne `n kort tyd nog erger mishandel het as `n leër Egiptiese sprinkane wat klaarspeel met `n weiding en `n veld, waarop dit neerstryk. Beny die voëls dus nie oor hulle vermoë om te vlieg nie en wens dit die mens nie toe nie! Vir hulle is die bewegingsmoontlikheid wat hulle het voldoende; want hulle kom nog vinnig genoeg vooruit om oorlog met mekaar te voer. Slegs om sy naaste te hulp te kom sou dit goed wees as hulle hulleself vinniger sou beweeg; maar by sulke geleenthede neem die mens ruim die tyd en verlang hulle nie na die vermoë om te vlieg soos die voëls nie. Die mens kan egter vlieg met sy verstand en vrye wil, en die geestelike vlieg is meer werd as die materiële vlieg van die voëls. - Is julle dit met My eens?”
[11] Die Griek sê: “Baie verseker, Heer en Leraar, maar die profeet Elia sou dit tog baie salig gevind het, toe hy hom in die vurige wa vry in die lug verhef en na die hoë hemele gesweef het - vooropgestel dat dit egter so gebeur het soos dit in die boeke van die Judeërs beskryf is.”
[12] Ek sê: “Ja, ja, vir die oë van sy leerlinge het dit vir hulle weliswaar so gelyk, maar die betekenis van die seldsame gebeurtenis is diep geestelik, en dit kan jy nie begryp nie. Maar as jy soveel sin het om te vlieg, glo dan nou, dan sal Ek toelaat dat jy jouself in die vrye lug kan verhef! Maar as jy in die lug sweef, sorg dan dat jy jou ewewig bewaar en dat die oggendwindjie nie jou baas word nie!”
[13] Toe die Griek dit uit My mond hoor, glo en wil hy, en vinnig verhef hy hom enkele manslengtes hoog in die vrye lug. Maar omdat hy geen steun het nie, was die ligte oggendwindjie hom dadelik die baas en draai hom nou eens na regs en links en dan weer met sy hoof na benede en weer na bo, en die wind dra hom so `n behoorlike end weg van die heuwel; en hy, die Griek, skreeu om hulp omdat hy anders ten gronde wil gaan. Toe wil Ek dat die wind hom weer na die heuwel bring; en so kom die vlieglustige Griek weer bo ons te swewe.
[14] Ek sê vir hom daar bo: “Glo en wil nou dat jy weer op die vaste aarde te staan kom, dan sal gebeur wat jy glo en wil!”
[15] En die Griek glo en wil en daal kalmpies weer na die aarde.
[16] Toe hy weer vaste grond onder die voete het, vra die ander hom hoe hy gevoel het in die lug.
[17] Toe sê die Griek: “In ons ou boeke staan geskrywe dat die swak mens die gode nie moet versoek nie! Maar tog het ek nou die enig ware God versoek en dit was dan ook volkome tereg dat ek my dwaasheid duur in die lug gekoop het. Vir die mens, wat nie so gebou is soos die voëls in die lug nie, wat nie kan beheers nie, is dit iets verskriklik as hy van elke vaste steun losgemaak word en die wind geen verskil meer maak tussen hom en `n donsveertjie nie, soos wat julle ook by my gemerk het. O Heer en Leraar, ek dank U dat U My weer op die liewe, vaste aarde gehelp het! Laat die liewe voëls in die lug geniet wat hulle kan en wil; in my sal nooit meer die begeerte ontwaak om my ooit weer in die vrye lug te bevind en die genoeë van die vlieg met die voëls te deel nie. Laat ons dus maar op die vaste aardbodem bly, wat ons dra en voed!”
[18] Terwyl die Griek nog so sy ervaringe aan sy metgeselle vertel, vra My enkele leerlinge, wat Ek in My eerste jaar as leraar ook eens deur die lug na My op die berg Kis laat kom het, hoe dit eintlik met hulle gegaan het, omdat hulle regop in die lug gehou was.
[19] Ek sê: “Toe was slegs My wil werksaam; maar vir die vliegsugtige Griek sê Ek: “Glo en wil self, dan sal dit gebeur wat jy glo en wil!” En kyk, die Griek glo sonder enige twyfel en wil dit ook egter hê, en so het sy geloof en sy wil hom die lug ingetel en nie My wil nie! Maar toe hy homself sonder enige steun vry in die lug bevind, word hy weldra bang en dink hy nie daaraan dat hy deur middel van sy geloof en sy wil weer na die aarde toe kan terugkom nie; toe eers wil Ek dat die wind hom weer hierheen dra, waar Ek hom vervolgens sê wat hy moes doen om weer terug te kom na die aarde toe. Hy sou homself ook deur sy geloof in die lug regop kon gehou het en die wind kon gebied, soos bepaalde mense ver in die hoogland van Indië ook baie goed kan doen op oomblikke van buitengewone geestesvervoering; maar dergelike dinge het geen waarde vir die siel van die mens nie.
[20] Maar dat `n mens deur middel van `n sterk en onwankelbare geloof en `n baie vaste wil alles tot stand kan bring, selfs berge versit, dit het Ek julle al verskeie kere gesê en getoon, en daarom sal die verskynsel vir julle dus wel nie nuut of vreemd gewees het nie. Maar die beste wat hier tydens die sonsopkoms deur die Griek gesê is, was die woorde van die ou dienaar van Kado; Ek sal hom daarom opwek en hy sal spoedig `n bekwame arbeider in My wingerd word.”
[21] Toe My leerlinge dit van My gehoor het, was hulle tevrede gestel en vra op die heuwel verder niks nie.
[22] Daarna kom `n dienaar van die herberg ons uitnooi vir die oggendmaal, wat al gereed gestaan het; ons verlaat dan ook vinnig die heuwel, gaan die herberg binne en gebruik die oggendmaal.
[23] Daarby word nog baie bespreek. Ek spreek egter nie baie nie, slegs met die ou dienaar van Kado; na die ete lê Ek hom die hande op en versterk hom, en Ek wek hom op tot leerling en verbreider van die evangelie. Sy naam was Apollon. Hy word toe baie gou die stigter van `n gemeente, wat sy naam aanneem.
[24] Daarop vervolg ons reis, nadat Ek eers nog op versoek van Kado die hele huis seën en ook beloof dat Ek die derde dag weer hierlangs sou reis om met hulle te praat.
|
|
|
|
|