|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 118
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221. |
|
|
Die herbergier vertel oor sy herberg
118 Maar nou kom die kinders ook en nooi ons uit vir die middagmaal, waaraan ons gehoor gee. Die herberghuis is wel een van die mooiste en indrukwekkendste in die hele wye omtrek, was in sy geheel opgebou uit lieflike afgewerkte kwartsklippe* en het bo die onderste verdieping nog twee gewelfde verdiepings gehad. Op elke verdieping was daar drie groot sale, en in elk daarvan kon ongeveer sewehonderd mense eet. Maar buiten die drie eetsale, was daar op elke verdieping ook dertig woonkamers, elk voorsien van twee vensters, wat natuurlik nie met glas ruite toegemaak was nie, soos ook (nota bene) in hierdie tyd in Europa; maar destyds was daar in Damaskus fabrieke wat `n volledige deursigtige perkament geproduseer het, net soos die huidige glas, en met dergelike stukke perkament was die baie vensterrame baie sierlik afgerond, en die wind en die dikwels groot hitte van die dag kon die sale en die kamers nie binnedring nie. Die soort venstervoorsiening was iets seldsaam, omdat dit te kosbaar was, en mens het in plaas daarvan, verskillende kleure gordyne aan die binnekant van die venstertralies gebruik. *(vlak gekapte sandsteen)
[2] Ons word via gemaklike en breë marmertrappe na die tweede verdieping gebring en na die middelste hoofsaal, waar `n groot, lang tafel vir ons gedek was. Daar staan `n groot hoeveelheid van die fynste brood en groot bekers silwer en goud, vol van die beste wyn. Die goed bereide kalf lê al in stukke gesny op die baie bakke, wat ook van die suiwerste silwer gemaak was. Verder was daar nog `n aantal goed bereide bygeregte, soos ook goed bereide visse, en ook hoenders, duiwe en lammertjies en allerlei goeie vrugte, soos ook allerlei soorte groente en soet bessies.
[3] Die Romeine se oë rek groot en Agricola sê: “Werklik, so `n prag en so `n rykdom het ek lank nie meer teëgekom nie, en so `n goeie en ryklik gevulde tafel ook nie, en die eetsaal van die keiser in Rome oortref hierdie nie in sierlike prag nie!”
[4] Toe die Romeine enigsins bygekom het van hulle verbasing, gaan ons aan tafel en begin te eet en te drink; almal verkwik hulle en geniet intens van die voortreflike bereide middagmaal; maar hulle kon natuurlik nog nie die helfte van wat daar klaargemaak was, opeet nie, omdat dit in te groot hoeveelhede aanwesig was.
[5] Onder die etery word min gepraat. Eers toe die wyn die tonge van die gaste meer en meer losgemaak het, begin die Romeine as eerstes spraaksaam te word, en Agricola vra aan die vergenoegde en daarby tog baie vroom gestemde herbergier: “Maar sê My eers: lewer `n so `n herberg eintlik soveel wins op dat jou voorouers reeds so `n indrukwekkende pragtige gebou kon gebou het?”
[6] Die herbergier sê: “Regverdige en magtige meester, so `n herberg maak in die loop van een jaar natuurlik `n aardige wins; maar al sou ek die winste van `n honderd jaar bymekaar tel, dan sou dit tog nog nie moontlik wees om so `n huis daarmee te bou nie.
[7] Kyk, die vensterbedekking is weliswaar deur my vader, en gedeeltelik ook deur my aangebring; maar die huis en die mure is al baie oud en ouer as die stad Bethlehem, wat Dawid, die groot koning van die Judeërs, laat bou het, daarom dat dit nog steeds die stad van Dawid heet!
[8] `n Deel van die huis was reeds deur Saul, die eerste koning van die Judeërs, gebou; en toe na hom deur Dawid wat deur God se raadsbesluit tot koning gesalf was, en hy het dit eers voltooi, nog voordat hy die stad begin bou het, en hy het dit naderhand ook vir `n lang tyd bewoon. In die huis het hy baie van sy Psalms geskrywe, waarvan daar nog enkele in die wit marmerstene te sien is en vir iemand wat in die ou Skrif tuis is, ook gelees en verstaan kan word.
[9] Ook die bakke en die bekers, wat ek vir die Heer en Leraar, wat die aanbidding en die hoogste verering werd is, voorgesit het, moet nog uit die tyd van Dawid, as eiendom van die ou huis gewees het. Maar Hy alleen sal die beste weet of iets daarvan waar is.
[10] So sal ek en my voorouers ook langs `n sylyn van Dawid afstam. Maar tenminste is daar sekerheid dat in ons huiskroniek, wat enkele eeue teruggaan, dit nie voorkom dat iemand ooit die huis en die landgoed êrens deur koop tot eiendom verkry het nie. Maar hoe dit ookal sy, tog is dit verseker en waar dat ten eerste nie my grootvader nie, nóg my vader, nóg ekself die huis gebou het, en ten tweede dat alles wat aan die huis behoort en wat in die huis is, my volledige en regmatig eiendom is en ek niemand op die wêreld iets skuldig is nie.
[11] Die silwer en goue voorwerpe is wel vir die grootste deel deur my voorouers, wat vir my uit ons huiskroniek meer bekend is, steeds redelik en eerlik aangeskaf. Ek het tot nou toe nog niks van dergelike kosbaarhede die huis binnegebring nie; want ten eerste is die huis tog al baie ryklik daarvan voorsien, en ten tweede is ek werklik nie so erg geheg aan al die soort dinge nie, omdat dit, hoe pragtig hulle ookal is, tog na `n kort tyd alles agtergelaat moet word, en in die oë van die ewige Regter sal dit dan alleen die skatwaarde hê, wat ons ons eie gemaak het deur die opvolg van Sy baie heilige wil, wat aan ons geopenbaar is deur Moses en Sy profete.
[12] Dit is my innerlike oortuiging, waaraan ek ook steeds tot by die graf trou sal bly, en van nou af aan soveel sterker, aangesien daar deur die nooit verwagte koms van die Heer en God my so `n eindelose groot heil oorgekom het. Maar nou wend ek my vol eerbied tot die Heer Self.”
|
|
|
|
|