Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 72

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die ontwikkeling van die aarde tot by die pre-mense

72 (Die Heer:) “Die tweede prehistoriese ontwikkelings­periode, in huidige aardse jare gereken, het weer vir julle `n onuitspreeklike lang tyd geduur. Maar die aarde was nog lank nie geskik om warmbloedige diere te dra nie, laat staan nog mense van `n lae soort; daarom het dit ook ten gronde gegaan, net soos die eerste, en daarna het dit weer lank geduur voordat daar `n derde voorbereidende ontwikkelingsperiode aangebeek het.

[2] Natuurlik was daar tussen die een en die ander prehistoriese hoofperiode `n aantal eweneens baie stormagtige tussenperiodes, waarvan aanvanklik alleen Ek as Skepper die betekenis die beste ken en ten slotte ook die gees aan wie Ek dit wil openbaar. 

[3] Uit die baie noodsaaklike ontwikkelingsprosesse het daar weer `n derde periode ontstaan. Nou kom daar al baie groot lande uit die see na bo, gedrywe deur die inwendige vuur van die aarde, natuurlik volgens My wil; die plantegroei word nog baie ryker in verskeidenheid en is nog steeds reusagtig van aard; en met die diere is dit net so. Maar ook hierdie periode, wat eweneens buitengewoon lank geduur het, en die mens in sekere sin met die bloeisel van `n boom sou kan vergelyk, was net soos beide voorgaande periodes nog lank nie geskik om die mens tot woonplek te dien nie; daarom gaan hierdie fase ook ten gronde en begrawe haar voortbrengsels, net soos die eerste en tweede periode, sowel in die plantaardige as in die dierlike sfeer, net nie so diep soos die eerste nie.

[4] Daarop was daar weer `n groot aantal tussenperiodes en na `n lang tyd breek daar `n vierde voorbereidende ontwikkelingsperiode aan. Die stukke land word weer baie groter, die plantegroei word ook opnuut baie weelderiger, en in die water, op die reeds droër lande en ook in die lug begin dit baie lewendig te word met allerlei klein en daarnaas ook groter diere; daar was selfs al warmbloedige soogdiere by, wat nie meer deur middel van eiers in hierdie wêreld gekom het nie, maar langs die weg van die natuurlike verwekking en het bygevolg ook lewende jongelinge ter wêreld gebring, met uitsondering van die waterdiere, etlike groot amfibieë, die voëls, wurms en insekte.

[5] Hierdie vierde prehistoriese hoofperiode duur ongewoon lank; die bodem van die aarde word toe reeds van tyd tot tyd deur die strale van die son beskyn, en aan enkele bome word daar al `n vrug sigbaar, wat vir julle origens nog nie so goed sou gesmaak het nie; maar vir die toenmalige dierewêreld dien dit tog as goeie voedsel.

[6] Ook in hierdie vierde prehistoriese ontwikkelingsperiode het daar nog niks op hierdie aarde bestaan wat soos `n mens gelyk het nie.

[7] Weer kom daar groot omwentelinge van die aarde en sy begrawe vir die grootste deel alles wat julle in hierdie tyd `n skepsel sou genoem het, en julle vind uit hierdie periode ook baie begrawe in die bodem van die aarde, maar baie daarvan verskil op sommige punte wesenlik van die produkte van die eerste drie periodes.

[8] Na `n baie lang tyd, in die verloop waarvan daar op die aarde reeds `n groter rus en orde ingetree het, en na nog baie groot storms op die aarde sien ons nou `n vyfde periode intree waarin die aarde voorberei word. Uit die diepte van die see verhef groot stukke land hulleself opnuut, wat hulle aansluit by die stukke land wat al uit die voorgaande periode bestaan het, en vorm so al hele kontinente.

[9] In hierdie vyfde periode ontstaan die meeste en hoogste berge op aarde. Hulle baie hoë toppe word deur bliksems stukkend geslaan en vervolgens deur geweldige aardbewings en waterstrome, ontstaan deur magtige wolkbreuke, word hulle in die diep dale en klowe van die aarde geskuif. Daardeur word uitgestrekte vlaktes en minder breë dale en plat stukke land gevorm, waarop alles dan beter kan groei.

[10] Met die begin van hierdie periode word die aarde ook in `n gereëlde baan om die son gebring. Dag en nag en ook die jaargetye verwissel al reëlmatig, hoewel nog met allerlei afwykings, omdat die skommeling van die aardpole nog steeds aansienlik was en in hierdie periode ook nog moet wees.

[11] In hierdie periode, waarin daar reeds `n bestendige kontinent gevorm is, begin die reëlmatige seestrominge van 14 000 tot 14 000 aardse jare. Deur hierdie strominge word aan die suidelike helfte van die aarde en daarna weer die noordelik helfte langsaam deur die see oorspoel, vir die vorming van vrugbare aarde oor die dikwels baie uitgestrekte woestyne van rolstene. Want na ongeveer 14 000 jaar het die see soveel vrugbare slik op die woeste rolsteenvlaktes en dale gelê dat dit daarna, toe die see homself weer terugtrek en die agtergelate modder tot `n stewiger bodem word, buitengewoon vrugbaar was. 

[12] Vir hierdie vyfde periode was daar wel meer as duisendmaal duisend jaar nodig, voordat alle gunstig geleë dele van die aardbodem volledig geskik was vir `n nuwe skepping van `n groot aantal van die mees uiteenlopende plante, soos ook grasse, kruie, struike en bome, en vervolgens ook vir allerlei diere en pre-adamitiese mense.

[13] In hierdie periode sien ons reeds `n groot verskeidenheid vrugtebome en ander vrugdraende gewasse van allerlei soorte vir diere en vir die toenmalige prehistoriese mens. Maar van akkerbou was daar nog geen sprake nie, hoewel die prehistoriese mens reeds kuddes van bepaalde diere benut het en `n ruwe nomade bestaan gelei het, geen kleding gehad het en geen huise of hutte gebou het nie; maar op dik boomtakke het hulle gebou, net soos wat die voëls, bepaalde stewige woon- en rusnesse het en hulle het voorrade voedsel aangelê, waarvan hulle telkens iets geëet het. Wanneer die voorraad op was, het hulle opnuut in groepe op jag na voedsel gegaan. Wanneer dit erg koud geword het, omdat die sneeu ook in aansienlike hoeveelhede in hierdie periode verskyn het, het hierdie mense na warmer streke getrek, saam met hulle huisdiere, wat bestaan het uit mammoete, groot herte, koeie, bokke en skape - en ook die olifant, die neushoring en die eenhoring, allerlei ape en ook voëls wat daarby hoort.  

[14] Meer teen die einde van hierdie periode het ook die esel, die kameel, die perd en die vark verskyn, en hierdie prehistoriese mens kon hierdie diere ook beheers het. Want hulle het soveel instinktiewe verstand besit, dat hulle seggenskap gehad het oor die genoemde diere en het hulle ook kon gebruik, deels as lasdiere, deels vir die jag en deels vir die verkryging van melk en wol, waarmee hulle hulle neste goed beklee het en so vir hulself `n sagte lêplek gemaak het.

[15] Taal, op die manier soos dit ook huidiglik onder mense gebruiklik is, het hulle nie eintlik gehad nie; maar tog het hulle, uiters volmaakte diere wat hulle was, bepaalde geartikuleerde klanke, tekens en gebare gehad en kon mekaar oor en weer duidelik maak wat hulle nodig gehad het, en hulle het mekaar dan ook te hulp gekom. As iemand siek geword het, gewoonlik vanweë `n hoë leeftyd, dan het hulle wel die krui geken wat hom sou help; as hy dit nie meer kon gaan soek nie, het die ander dit vir hom gedoen.

[16] Slegs vuurmaak en die gebruik daarvan, dit kon hulle nie gedoen het nie; as hulle egter kon gesien het hoe die Mense dit later* gedoen het, sou hulle dit kon nadoen, omdat die drang tot nabootsing `n groot rol by hulle gespeel het en hulle intelligensie met `n bepaalde mate van vrye wil al ver uitgesteek het bo die intelligensie van `n aap, hoe volmaak dit ookal was. Hulle sou dus ook op ons manier kon leer praat, maar sou nooit uit hulleself wyse woorde kon bedink nie. *”Later” is toegevoeg “ (Nota van die uitgewer)

[17] As mens was hulle egter reusagtig groot en buitengewoon sterk en hulle het ook so `n sterk gebit gehad dat hulle dit kon gebruik in plaas van snywerktuie. So het hulle ook `n baie sterk ontwikkelde reuksin en gevoel gehad en het hulle al van ver af gewaar geword as daar iets vyandig op hulle sou afkom; met hulle oë en hulle wil het hulle die diere en so nou en dan ook die natuurgeeste beteuel.  

[18] Hoewel hierdie vyfde prehistoriese ontwikkelingsperiode baie duisendmaal duisend jare geduur het, was daar onder hierdie mense tog in geen enkele opsig vooruitgang in hulle beskawing merkbaar nie, maar hulle leef hulle eentonige nomadelewe verder en was derhalwe slegs `n voorbemesting van die aarde vir die huidige menslike ras, wat in alle opsigte volkome na My lyk.

[19] Die kleur van hulle nog taamlik dig behaarde vel het tussen donker en liggrys gelê; slegs in die suide het daar ook stamme sonder hare bestaan. Hulle uiterlike vorm het `n sterk ooreenkoms gehad met die van die More uit ons tyd. Tot by Adam het hulle hulleself voortgeplant en het hulle in die laagvlaktes en digte bosse versprei; maar op die berge het hulle hulleself nooit gevestig nie. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205