Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 142

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oorsaak en gevolg van die onweersbui

142 Toe hulle egter buite kom, hou hulle `n wyle hulle oë en ore toe; want één stryk deur skiet die een bliksem na die ander met hewige geknetter en gedonder vanuit die swart wolke na die aarde.

[2] Toe vermaan RafaEl hulle en sê: “Maar hou julle oë en ore tog nie so dig toe nie; want dan sal julle baie min sien van die geweldige storm tafereel, en niks hoor van die gehuil, wat van tyd tot tyd selfs vanuit Jerusalem hierdie heuwel bereik nie!”

[3] Uiteindelik skep die aanwesiges meer moed, open hulle oë en ore, en kon hulle nie genoeg verbaas oor die hewigheid van die wind nie; RafaEl gebied dit egter om om die heuwel heen te gaan en daarom word dit op die heuwel ook skielik volkome windstil. Ook mog daar geen bliksem in die omgewing van die heuwel kom nie, maar meer op `n afstand van enkele morge*; en daar lyk dit soos `n ware stroom van vuur, wat hom in die wilde omtrek met dreunende gebulder en geknetter vanuit die wolke op die aarde stort. *(Ou landmaat, per streek sterk verskillend. Eintlik soveel land as wat in `n môre geploeg kon word.)

[4] Nou vra Agricola: “Maar sê ons tog hoe dit eintlik gebeur het dat hierdie ware vuursee, wat aaneen deur op aarde neerstort, vir sover mens kan sien, nêrens huise en bome en ook geen bosse laat vlam vat en aan die brand steek nie! Ek het eens `n soortgelyke baie droë onweer met bliksem en wind meegemaak in Hispania (Spanje), ook ongeveer rondom hierdie tyd. Maar daar het dit groot en werklik verskriklike vernielinge aangerig; hier sien mens egter weinig of eintlik heeltemal niks van `n besondere brand nie. - Hoe is dit te verklaar?”

[5] RafaEl sê: “Dit sal julle baie maklik begryp as die hele storm straks sal ophou. Die konstante, baie fel lig van die bliksems sorg daarvoor dat die swak skynsel van verskeie brande nou nie waarneembaar is nie; maar wanneer die bliksems meer en meer sal ophou, sal julle ook wel enkele woedende brande opmerk, en wel in die besonder bo die gebied rondom Jerusalem. Maar daar is ook nie soveel daaraan geleë nie, en as julle `n brand opmerk, moet julle nie bang word daarvoor nie; want waar dit toegelaat word dat `n bliksem `n huis of `n hut in vlamme sit, of ook `n dorp of `n droë bos van die een of ander gierigaard, wat sy hout liewer laat verrot as dat hy `n arme ook maar `n paar droë takkies laat neem om te gebruik, daar kry die goeie mense werklik geen skade nie! En so is dit ook met die hutte, huise en dorpe gestel; kortom: alles wat julle nou sien en later nog sal sien, gebeur nie tot skade nie, maar slegs tot groot voordeel van die mens, wat julle later nog duideliker sal begryp.

[6] Maar nou het ook die oomblik aangebreek waarop die onweer moet ophou; en daarom wil ek vanuit die wil van God die Heer in my dat die onweer gaan lê - en kyk, die bliksems het opgehou en die wind het gaan lê! Maar kyk nou eers om julle heen, dan sal julle baie sien wat julle aandag sal trek!”

[7] Nou kyk die aanwesiges na alle kante toe en tel, alles bymekaar wel meer as twintig brande, waaronder `n bosbrand, wat daar buitengewoon vernietigend uitsien; hy woed in `n groot bos op `n berg agter Emmaus en behoort aan `n vrek uit Jerusalem, wat nog nooit `n arme `n droë takkie geskenk het nie. Dit weet die aanwesiges en hulle prys die Heer, omdat Hy die slegte vrek nou eens met die tugroede oorval het. Maar ook suidoostelik van Jerusalem was `n groot brand te sien en Lasarus vra aan RafaEl wie die meeste deur die brand getref was en die meeste skade gekry het.

[8] RafaEl sê: “Dit is `n dorp wat vir die grootste deel aan die vrek behoort, van wie die brandende bos is. Hy het alles vir `n byna onbetaalbare bedrag aan arm pagters verpag. Om hulle pagheer tevrede te stel, is hulle dan ook genoodsaak om hulle bure te bedrieg, en hulle laat met hulle dogters allerlei hoerery bedryf vir geld en allerlei ander geskenke, waardeur die dorp tot `n ware Sodom verval het, en dit in die kort tydjie van nouliks twintig jaar, en dit alles as gevolg van die handelswyse van `n ryk vrek. Dat so `n dorp dan ook eens `n tugtiging moet kry, sal tog seker niemand van julle onbillik vind nie?”

[9] Lasarus sê: “Wat die Heer doen, is goed gedoen! Die gierigaard, wat ek maar al te goed ken, het ek self al verskeie kere `n aansienlike straf toegewens vir sy ten hemel skreiende onregverdighede, wat hy meestal teenoor arm mense begaan het, en nou het, vanweë sy skandelike besigheid, ook eens `n einde aan die geduld van die Heer gekom - en daarom aan Hom alleen alle lof! In die dorp is daar natuurlik ook nog wel `n paar, wat nog nie voor Gog en Magog op die knieë gegaan het nie - maar hulle sal die Heer ook seker beskerm!”

[10] RafaEl sê: “Julle kan wel van daardie standpunt uitgaan en hulle sal na die brand spoedig beter af wees as voorheen.”

[11] Verder na die suide was ook `n sterk vuurgloed te sien en die herbergier uit Bethlehem sê, met `n vraag aan RafaEl: “O alwetende vriend, wat word daar dan wel deur die vuur vernietig? Tog nie Bethlehem nie?”

[12] RafaEl sê: “O nee, dit is `n dorp van die Grieke en die Sadduseërs, wat `n oneerlike handel bedrywe met varke en bowendien die mense met hulle welsprekendheid heeltemal van God afvallig maak! En omdat hulle dit nou te moeilik gaan maak, deurdat hulle die verbreiding van die leer van die Heer gaan belemmer en dit by die wêreldse mense soveel moontlik verdag maak, het die Heer by hierdie geleentheid nou ook vir hulle `n grens gestel. Hulle sal nou jarelank druk besig wees om weer hulle ongeluk te bowe te kom en sal geen tyd hê om daaraan te dink hoe hulle die verbreiding van die leer van die Heer kan verhinder nie. Kyk, my vriend, so staan die sake nou daar en ek glo dan ook dat aan die godloënende woekeraars geen onreg geskiet het nie!” 

[13] Die herbergier sê: “O, verseker nie, en aan die Heer nou weer alle lof, omdat Hy oor die godloënaars, wat ek goed ken, so `n teenspoed laat oorkom het - want dit het hulle ook al lankal verdien; en so sal ook die ander klein brande, wat ons van hier gesien het, nie sonder instemming van die Heer ontstaan het nie!”

[14] RafaEl sê: “Inderdaad; wees dus nie bang nie! Maar kyk nou eens na die takke van die bome en die gras op die aarde!”

[15] Nou kyk almal na die takke van die bome en die gras en alles glans soos ook die verrottende hout in `n bos; ook die hare op hulle hoofde gee `n swak skynsel af. Nou kry die aanwesiges dit benoud en hulle begin te vra wat dit was.

[16] Maar RafaEl sê: “Nou gaan ons weer na binne en in die saal sal ek julle die rede van die verskynsel verklaar!”

[17] Daarop gaan almal weer die huis binne.

[18] Toe diegene wat met RafaEl na buite gegaan het en nou in die saal terugkom, hulle plekke weer ingeneem het, vra die hoofman dadelik aan RafaEl, wat die werklike rede en betekenis nou eintlik kan wees van die verligting van die bome, die gras en selfs die hare van die mense.

[19] En RafaEl, wat ook op sy ou plek gaan sit het, sê: “Beste vriende, hierdie saak sou weliswaar ook die beste in die oggend verklaar kan word, maar omdat julle baie weetgierig is, kan ek dit nou ook netsowel vir julle uitlê! Maar ek sê julle dat dit heeltemal nie so belangrik is as wat julle julleself nou waarskynlik voorstel nie en van die volledig korrekte kennis daarvan en soortgelyke verskynsels is die heil van die siel nie afhanklik nie; maar omdat daar uit onwetendheid, ten aansien van dergelike verskynsels, maklik allerlei duister bygeloof voortkom, is ek in `n sekere sin dan ook genoodsaak om aan julle ook hierdie verskynsel vanuit die korrekte gesigspunt te verklaar, sodat julle dit kan begryp.

[20] Maar voordat julle die verskynsel in die eerste plek vanuit die natuurlike gesigspunt kan begryp, is dit noodsaaklik om julle eers te laat begryp hoe dit is met die bliksems, sodat julle Romeine, veral nie naas die leer van die Heer, ook nog dink aan die bekende bliksemfabrikant Vulcanus en aan die groot uitdeler daarvan, Jupiter nie. Let dus goed op wat ek julle nou sal laat sien en sal uitlê!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205