OPENBARINGE 1 TOT 200 AAN BERTUS HANEKOM
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 84

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200.

Openbaring 84
Mens, Ek is lief vir jou.
18 Desember 2007 om 11h50
Om graag mense te sien, beteken om vir mense My glimlag te gee, jou vriendelike gesig in dae van vreugde ... in ure van nood: jou hart en jou hand, jou stem en jou troos. Mense het nood aan mekaar! Suiwer jou oë en suiwer jou hart.
Mense is ‘n daaglikse avontuur, wanneer jy eg met hulle omgaan, welwillend en met oorgawe. ‘n Avontuur wat jou verwonderd laat. Natuurlik is daar die glasmense in die lewe deur wie jy moeiteloos kan sien en natuurlik is daar die gesigloses wat by jou verby haas asof hulle aangetrek word deur ‘n geheimsinnige mag wat hulle geen rus meer laat nie. Dit is mense sonder geskiedenis, sonder diepte in hulle lewe. Van hulle begryp Ek waarskynlik baie min, en tog ken Ek hulle en sou Ek hulle nie kon ontbeer nie. Hulle is mense. Hulle het My nodig en Ek het hulle nodig.
Mense met vraende oë en gespanne gesigte. Mense wat ly. Mense wat wanhopig is, wat verbitterd is tot in die murg van hul gebeente. Mense wat nie meer in staat is om van enigiets in die lewe te geniet nie. Mense wat nie meer lewe nie. Maar hulle bly deel van My leefwêreld. Ek probeer hulle help, Ek probeer hulle losmaak uit die gebondenheid van ‘n selfopgelegde gevangenskap.
Niemand is so sleg in sy slegste oomblikke nie. Niemand is so goed in sy beste oomblikke nie. Die gevaar bestaan dat jy ‘n mens lewenslank kan takseer op grond van een enkele fout wat hy begaan het. Mense word inderdaad vasgespyker op grond van ‘n verkeerde houding of ‘n verkeerde daad. En tog: ‘n slegte eienskap is nog geen slegte mens nie. Een slegte dag is nog nie ‘n slegte lewe nie.
As jy die kwade bedink, sal jy die kwade doen en jy sal ander afstoot en slegmaak. As jy die goeie bedink, sal jy jou medemens waardeer en sê: “Jy is welkom, jy is die moeite werd!”
Met goeie mensE word alles weer goed.
Goeie mense is ‘n seën vir hierdie wêreld.
‘n Goeie mens is jy
wanneer jy gee sonder om aan jouself te dink,
sonder om te wonder oor wat jy daaruit gaan kry,
sonder om te wag op die dankie-sê woord.
Mens: jy is nie gemaak om slagoffer te wees van die nywerheid, van produksie, van bankrekening, of inkoopsentrum nie. Jy is gemaak om mens te wees! Jy is geskape vir die lig, vir die vreugde, om te lag en te sing, om in liefde te lewe, om vir jou medemens tot geluk en blydskap te wees. Mens: Jy is geskape na My beeld wat liefde is. Met hande om te gee, ‘n hart om mee lief te hê en twee arms, net lank genoeg om ‘n ander te omhels!
Jy is besig met iets. Jy kom net nie klaar nie. En dan langs ‘n onsigbare antenne kry iemand êrens ‘n ingewing, ‘n soort bevel (opdrag) om na jou toe te kom en jou te help, vir jou ‘n steun te wees, jou ‘n stoot te gee of om jou te troos. “Jy is ‘n engel,” sê jy dan. Jy sê dit vir ‘n man, ‘n vrou, ‘n seun of ‘n meisie. Geslag en leeftyd speel geen rol nie! Daar kom iets goeds, iets wonderliks oor jou! Die lewe word lig en alle pyn is weg!
Maar engele kry jy nie op bestelling nie. Hulle kom dikwels heel onverwags, is soms onopvallend teenwoordig, wys vir jou die weg en verdwyn weer! Ek het al baie engele ontmoet. Soms kom hulle uit die massa na vore, duik op uit die straat, vat jou by die hand en los jou probleem op en verdwyn weer in die straat of in die massa. Naamloos sonder om te wag op die dankie sê. Daar is nog steeds engele in die wêreld! Maar daar is te min engele, daarom is daar nog soveel duisternis en ellende. Ek is op soek na engele onder die mense van ons dag. Maar te veel mense sien My nie meer nie, hoor My nie meer nie.
Hoe is dit dat sommige mense met suur gesigte na die son sit en kyk terwyl ander fluit in die reën? Hoe is dit dat daar mense is wat, as hulle hul oë oopmaak, altyd iets verkeerds sien? Dit is omdat hulle verkeerd dink oor die sin van die lewe en van dinge. Ja, hulle het My nodig, nie as ‘n onpersoonlike wasige wese êrens in die verte nie, maar as ‘n persoonlike Vriend, as ‘n Vader, baie naby. In ‘n intieme omgang met My kry ‘n mens ander oë vir die dinge en kry jy elke môre ‘n nuwe hart.
As jy moeg geloop is na die sterre om vir mense in die nag ‘n bietjie lig te soek, gaan sit dan ‘n oomblik in die stilte en luister na die bron daarvan! As jy diep genoeg deurdring tot die kern van die dinge, kry jou oë om onsigbare dinge te sien en ore om onhoorbare dinge te hoor!
Oral waar mense liefhet, is Ek werksaam teenwoordig. Waar liefde woon in die harte van mense is dit moontlik dat hulle sinvol oor My kan praat en mekaar verstaan. Vir wie moet jy as mens dankie sê? Nie ‘n president of generaal nie, geen professor of tegnokraat nie! Nee jy moet jou liewe Vader in die hemele dank!
Met duisend hande streel Ek jou!
Met duisend monde kus Ek jou!
Met duisend vrugte voed Ek jou!
Op duisend vleuels dra Ek jou!
Ek is jou Vader! Jy is My kind aan huis by My!
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205