OPENBARINGE 1 TOT 200 AAN BERTUS HANEKOM
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 111

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200.

Openbaring 111
Jou geloof sal getoets word.
31/12/2007 om 02h18
Hoe sal die mens die toekoms sonder geloof kan aandurf? Om te glo, is om seker te wees van die ding wat julle hoop, om oortuig te wees van die dinge wat julle nie sien nie.
Die toets van jou geloof is die hoeveelheid liefde wat dit teenoor jou medemens gaan genereer, veral hulle wat ‘n ander gesigspunt as jy het. So ‘n liefde kan alleen sy wortels vind, nie in die ignorering van die leer of tradisie van hulle wat anders as jy dink nie, maar deur so naby aan My, die Messias, te lewe dat My liefde deur jou sal vloei.
Ja, baie dinge is in die sterwensdae van die ou millennium gesê en geskrywe oor die wêreld van vandag. Geweld ontplof en tekens van permissiwiteit, wetteloosheid en anargie word alledaags. Julle hoor dikwels die wekroep dat julle in die laaste dae leef en dat die wederkoms van My, die Messias, op hande is. Daar is sowaar waarheid aan hierdie voorspellings, en ten spyte van die feit dat chaos hoogty vier, mag julle nie My standaarde laat vaar nie. Die feit dat die wêreld in ‘n desperate toestand is, gee nie aan die gelowige die reg of verskoning om die stryd teen die magte van die bose gewonne te gee nie.
Julle Christelike oorgawe is vir ‘n leeftyd en dissipelskap moet beoefen word in mooi weer en in stormweer. Dit is jou plig om My Naam hoog te hou; om deur My krag vas te hou aan alles wat Ek jou geleer het en waarvoor my Naam staan, sodat wanneer Ek, jou Messias, weer kom, jy uit My Heilige Mond die woorde sal hoor: ”...Mooi so!... Oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel. Kom in en deel in My vreugde!’ ”
Ja, in tye van stres en spanning hunker julle na meer geloof. Die feit is dat jy geloof het en dat jou behoefte nie aan meer geloof is nie, maar aan ‘n verandering in die kwaliteit van die geloof wat jy reeds het. Miskien het jy vir ‘n te lang tydperk geloof gehad in verkeerde dinge. Moontlik het jy meer geloof gehad in mislukkings as in sukses. Kyk, net die persoon wat vertroue en geloof in My, jou Elohim en in My plan vir die finale verlossing van die menslike geslag het, kan die toekoms met moed en kalmte van gees tegemoetgaan.
Om alles te ontvang wat geloof bied, moet jy dit as ‘n voltydse taak en ‘n toegewyde lewenswyse beskou en nie as ‘n addendum om gerieflikheidshalwe te gebruik nie. ‘n Toegewyde Christen moet ook ‘n skrifgebonde Christen wees. Die gehalte van toewyding wat vereis word om ‘n lewe van Christelike liefde te leef, vereis die krag wat alleen van die Heilige Gees verkry kan word en wat aan alle ware gelowiges geskenk word. Hierdie gesindheid word lewendig gehou deur gebed en bepeinsing en ‘n konstante hunkering na ‘n dieper ervaring met My, julle Elohim.
Dikwels verwar en ontstel jou lewensomstandighede jou en kan jy ‘n besonderse situasie net nie verstaan nie. Jou gemoedsrus word skielik versteur deur vrees, siekte, dood en so baie ander negatiewe dinge. Dit kan so maklik gebeur dat jou geloof geskud word en die liefde van My, jou Elohim en die doel van jou geloof bevraagteken.
Dit is dan nou die tyd om jou persoonlike gedagtes opsy te skuif en jou vertroue volkome op My te plaas. Aanvaar dat Ek, jou Vader alle dinge ten goede laat meewerk vir julle wat My liefhet. Goed word vir die gelowige uit kwaad gebore. Uit die boosheid van Golgota het die oorwinning van die opstanding voortgevloei. Ek, jou Elohim, het ‘n heilige doel met alles wat in jou lewe gebeur en op My geleë tyd sal dit aan jou openbaar word, ja dit sal aan jou geopenbaar word.
Geloof is die begin en die einde van liefde en Ek het besluit om by die liefde te bly. Kennis is ‘n waarheid wat in die verstand gehandhaaf word; geloof is ‘n vuur wat in die hart brand.
Wanneer die dae van toetsing kom, sal Ek, jou Elohim jou geloof versterk, sodat jy nie sal misluk om waarlik ‘n getroue getuie vir My te wees nie.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205