|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 99
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Die Heer oor Die Onse Vader. Stryd om `n plek aan die vaderbors. Helena oor God se liefde en broederliefde
249 Ek sê vir Mathilde en die offisier: “So is dit goed; so `n gebed geval My, want daarin is alles na vore gebring wat elke mens, netsoos elke gees en elke nog so volmaakte engel, nodig het. Kom hier, Mathilde, aan My bors en versterk daar jou lewe! Want kyk, uit hierdie hart het alles voortgekom wat die oneindige heelal vul. Kom jy ook hier, My dogtertjie, en drink met volle teue van die ewige lewe vol Liefde, Wysheid en Mag!
[2] Sien jy, My seun Peter, Mathilde het ten opsigte van My die beste gepraat en het daarom ook die verste gekom, maar jy wou wys word, nog voordat jou hart in staat was om die egte wysheid te verdra. Daarom bly jy nou taamlik ver agter by Mathilde, hoewel jy eers verder was. Sorg daarvoor dat jou liefde vir My gelyk word aan haar magtige liefde, dan sal ook jy daar kom waar Mathilde nou is.
[3] Maar jy, My liewe dogter, wees nie bang vir My omdat ek die allerhoogste Godswese is nie, want juis daarom is Ek die sagmoedigste, deemoedigste, vriendelikste, liefdevolste en allerbeste gees en mens tegelyk. Kom nou maar en wees nie bang nie!”
[4] Mathilde bewe van soete vrees en brandende liefde, maar kan tog nie die moed skep om aan My bors wat vir haar te heilig lyk, val nie. Daarom roep Ek vir Helena en vra haar om aan hierdie Mathilde te toon, hoe die uitverkorenes in die hemel dit doen.
[5] Helena val dadelik met oop arms aan My bors en sê: “O, my liefste Vader, dit het ek al ongelooflik gemis! O, liewe Vader, my enige liefde! O, hoe salig is dit om aan U bors te rus en die hoogste lewenskragte in my op te neem!” Na hierdie woorde val Helena opnuut aan My bors en byt haarself, om so te sê, letterlik uit liefde daarin vas.
[6] Toe Mathilde dit sien, sê sy: “My God en Vader, sy het moed wat die aartsengel Migael nog nie besit nie! Met welke heftigheid maak sy nou asof sy heeltemal in U allerheiligste bors sou wil binnegaan. O, dit is tog ietwat al te kras! Ek sou dit ook graag wou doen, as ek maar net die moed daarvoor gehad het. Nee maar, sy gaan darem kwaai tekere.”
[7] Ek sê: Nou, Mathilde, kom tog en doen soos sy!” Nou laat Mathilde haar geen tweede keer roep nie en val eweneens aan My bors. Aangesien Helena haar egter byna oor My hele bors uitgestrek het, vind Mathilde bietjie te min plek en sê vriendelik vir Helena: “Sê, liewe suster, laat vir my tog ook `n plekkie oor! Ek is tog ook netsoos jy hierheen geroep.”
[8] Daarop sê Helena: “Kyk, wie eerste kom, die sal die eerste maal! As mens vir so-iets goeds geroep word, mag mens hom deur niks daarvan laat afhou nie, maar ontbreek die moed daartoe vir iemand, dan moet mens dit maar êrens vandaan kry. Kom maar hier, ons sal wel saam `n plekkie vind! Want kyk, aan hierdie bors vind baie wel deeglik `n plekkie!”
[9] Mathilde, wat nou haar hoof teen die linkerkant van My bors gelê het, sê: “Nou is dit goed! O God, o God, wat `n salige rus! Ja, wie werklik wil rus, die rus in God! O heilige bors! Og, my hart is ver te klein om die rykdom van hierdie heilige, grootse ervaring te kan vat! Wie sou egter die diepte van so `n genade en liefde ooit kan begryp en deurgrond?”
[10] Helena sê: “Dit is ook gladnie nodig nie, want die egte liefde wil niks tot op die bodem ondersoek nie. As ons sou wil deurgrond hoe heilig en verhewe hierdie bors is, dan sou ons ewighede besig wees! Dit sou `n dwaser besigheid wees as die van die filosoof, wat sy brood eers tot in atome wil ontleed voordat hy sy honger daarmee begin te stil... maar daarby verhonger. Wie hom afvra wat die liefde tog is, die het beslis nog nie op die regte manier lief nie. Egte liefde praat nie baie nie, maar pak die voorwerp van haar keuse beet soos `n poliep sy buit. Eers daarna kom die filosofie weer. Daarom moet jy, noudat jy die geleentheid gebied word, dit slegs geniet, anders sal jy, vergeleke by my, `n bietjie tekort kom.”
[11] Mathilde sê: “Wees maar nie meer besorg daaroor nie, ek weet ook goed hoe `n mens moet liefhê. Kyk maar net dat jy uiteindelik nie tekort kom nie. Ek was op aarde op `n baie merkwaardige manier deur sowel suiwer as onsuiwer liefde gepla, maar het nêrens egte voldoening kon vind nie. Maar nou voel ek my geheel en al voldaan en my hart ly geen honger meer nie. As ek aan tafel is, weet ek goed hoe ek moet eet en in die besonder aan hierdie, waaraan tallose miljarde hulle voed met lewegewende nektar!”
[12] Helena sê: “Wees nie so poëties nie, liewe suster. Kyk, ek is maar `n gewone mens wat my aardse afkoms betref en het geen verstand met sulke verhewe maniere, om dit uit te druk nie, en die Heer vereis dit nie so graag nie. Hoe eenvoudiger, hoe liewer het Hy dit, omdat daar dikwels aan so `n verhewe taal, ook `n soort ydelheid ten grondslag lê. Wees daarom maar baie gewoon, liewe suster, dit het die Heer die liefste!”
[13] Mathilde sê: “Ja, jy het volkome gelyk, maar gee my net ietwat meer plek!” Helena sê: “Haai, liewe suster, het jy dan nog nie genoeg plek nie? Ek glo dat jy hierdie hele heilige en salige bors alleen in besit wil neem? Wel, omdat jy so lief en goedhartig daar uitsien, skuif ek nog `n klein bietjie op, maar dan moet jy my nie meer steur in my saligheid nie, liewe, beminlike suster!”
[14] Mathilde sê: “Nee, nee, nou het ons albei genoeg plek. Ek is jou selfs baie dank verskuldig, omdat jy my die moed gegee en die weg gewys het. Ek kon my nooit `n korrekte voorstelling daarvan gemaak het, hoe mens God eintlik waardig sou moet liefhê nie. Daarom was ek ook so verbaas, toe ons Heer en Vader my roep om aan Sy salige bors te kom lê. Ek kon my so `n toenadering nooit as te nimmer voorstel nie, maar nou sien ek duidelik in hoe alle dinge dan tog by God moontlik is. Aan Hom daarom vir ewig al my liefde!”
[15] Helena sê: “Dus niks meer vir jou Peter nie? Wat sal hy daarvan dink? Of sou, op die punt, by God dalk ook alle dinge moontlik wees? Mathilde sê; “Maar mooi suster, waarom moet jy tog steeds nog ietwat `n steek onder water gee; het jy plesier daarin? Ek hoop dat Peter my voorbeeld sal volg, want hy sal sekerlik insien dat mens God, die enige ware Vader, meer moet liefhê as alle skepsele, al is hulle hoe volmaak. As mens die ware, ewige oorsprong van die liefde, ja die suiwerste en waaragtigste Liefde Self gevind het, dan is dit vir ewig gedaan met die liefde vir die skepsele! Begryp jy my?”
[16] Helena sê: “O ja, dit begryp ek verseker, maar so heeltemal gedaan is dit tog nie daarmee nie, want die naasteliefde, die broeder- en susterliefde hou daarom nie op nie, omdat juis die naasteliefde `n belangrike voorwaarde is vir die liefde tot God. Net so min as mens God kan liefhê, as mens sy broeder haat, kan mens sy broeder waaragtig liefhê wanneer `n mens vir God geen, of maar net `n stompsinnige liefde het, soos wat by soveel bekrompe dwepers die geval is.
[17] Eens was ek self so dom en het ek geglo dat `n priester iemand in die hemel kon bring. Toe ek my egter later daarvan oortuig het wat se mentaliteit die priesters het, het my denke ook verander. In 1848 het ekself goed bewapen op die barrikade teenoor die vyande van die waarheid en die vryheid gestaan en het ook daar die liggaamlike dood gevind.
[18] Dus, my lieflike suster, dit is baie waar dat jy God die Heer, ons heiligste Vader, nou so liefhet dat jy daardeur gespeen is van alle liefde vir die skepsele, maar jy moet jou daarby tog wel van bewus bly, dat jy naas so `n liefde ook jou arme broeders en susters nie mag vergeet nie, wat nog lank nie die geluk het om aan die bron van liefde, die leweskenkende saligheid te geniet nie.”
[19] Mathilde sê: “Jy het werklik gelyk en het al baie wys geword. Ek hoop dat ook ek spoedig so wys mag word, maar nou is my hart te vol van liefde vir die Heer en daarom kan die wysheid, wat my betref, nou ewe rus.”
|
|
|
|
|